Zara deur Valda Jansen: ’n resensie

  • 0

Zara
Valda Jansen
Human & Rousseau
ISBN: 9780798186308

Valda Jansen, of dan haar karakter Klara Thomas, gaan op soek na Zara Schmelen, ’n Namavrou wat in die vroeë 1800’s die vier evangelies uit Hollands in Nama vertaal het, saam met haar man, die Duitse sendeling Hinrich Schmelen, wat Hollands gepraat het. Dit was die eerste opteken van die klanke van die Namataal. Natuurlik het Hinrich omtrent al die erkenning vir die vertaling ontvang, terwyl sy hom Nama probeer leer het deur haar vingers in sy mond te sit en te wys waar die tong moet klik.

Van Zara is daar min spore oor, soos van die Namataal. Klara bring dae in argiewe en biblioteke deur en gebruik haar fyn intuïsie om Zara se stem te hoor:

Die storie van ’n bokkie lê in sy voetspore. Of hy besig was om te wei. Of hy geskrik het, of hy van jou geweet het. Al is hy nie meer hier nie. Hier is sy spore. Lees dit, dan sal jy weet wie hy is.

Dis benewens ’n spoorsnytog na Zara Schmelen ’n spoorsnytog na ’n taal. Behalwe vir ’n handvol oorgeblewe Namawoorde, is daar lieflike Namakwalandse uitdrukkings, soos “varkoor gooi” (om af te luister) en “omtaal”, wat ’n veel beter woord is as “vertaal”. Soos “gefalfater” – om iets of iemand reg te maak, op te knap, of af te rammel / ’n pak slae te gee (afhangende van die konteks).

Dis ’n fyn studie van biografieskryf. Soms is die feite skamel en moet die biografis improviseer. Wat voorheen neergeskryf en oorvertel is, is in elk geval nie evangelie nie: “Wat geskryf staan, is nie altyd die volle waarheid nie. Vér, vér van hier is sy. Sy sit met die veerpen.”

In die strate van hedendaagse Kaapstad word Klara ’n stapper, soos Zara was. Sy stap en luister; sy kanaliseer Zara – wat die naam is wat haar man aan haar gegee het.

Wat van Zara oorgebly het, benewens die Nama-evangelies, is haar nageslag. Klara se nie-binêre kind Noa, wat nou “hulle” is, is ’n nasaat van Zara. Die nasate gaan op soek na Zara se graf: Sy is tydens een van haar en Schmelen se reise op ’n plaas dood aan tuberkulose. “Hulle soek haar graf tussen toegegroeide bossies, maar sy is nie te vinde nie. Zara is lankal nie meer daar nie. Sy is in Noa se oë. Sy lag met haar mond.”

Die kringloop van tyd word meesterlik uitgebeeld:

Voëls vlieg in formasie in mekaar se volgstroom. So swem visse ook. So leef mense. Of dit trauma is of sondes of bevoorregting, dit word altyd aan die kinders oorgedra, van geslag tot geslag. Ons almal se DNS swem in formasie in ’n glipstroom.

Klara vind Zara in die sand, in die wind, op ’n klip, in die danse wat behoue gebly het: “Die verhale dans saam met voete wat stoftrap op die maat van hande wat klap-klap soos die taal uit die monde.”

Merkwaardig is die wyse waarop Jansen die verre verlede nadertrek en laat sing en dans:

Dis alles daar, ons beleef dit weer: duisende jare van stilte, duisende seisoene van son en hitte en koue en rondtrek en water en droogte. Dit was daar. Dit is alles daar. Die herinneringe aan hierdie dinge. Duisende kere van vuurmaak en kos oorhang en pap roer en veldkos uitdeel en lag en huil en stories en dans dans dans rondom vure.

Zara se nasate trek saam, in Duitsland en weer in Kaapstad. Hulle kom van oraloor: Komaggas, wat haar komvandaan was, Duitsland, Namibië, Finland. Hulle kom omdat hulle na hulself soek: “Omdat ons wil weet wie ons is. En hoekom ons van belang is.”

Die roman handel ook oor oorloë, wat Klara mooi netjies in die middel van haar boek wou groepeer, maar wat oor alles gebloei het: “Maar dit het oorgespoel soos water uit ’n skottel wasgoed wat mens probeer skoonwas.” Ons lees hoedat die Duitsers eers op die Namas geoefen het voordat hulle die ses miljoen uitgewis het. Hoedat oorlog met woorde begin: “Die taal oefen solank die woorde. Onderonsie en proteste. Goedgelowigheid en vals beloftes. Om die bos lei, baklei. Oorlog. Massaslagting. Konsentrasiekampe.”

Dis duidelik dat Jansen haar inspirasie en onthou in die natuur gevind het. Daar is liriese passasies soos:

’n Kiewiet, die pik en prik van ’n harpsnaar. Sonbesies, die samesang van ’n koor. Asof van nêrens, asof van agter ’n berg af, kom die gedrae vlerkgeklap van viole.

Die opkoms van die son is die hoogtepunt van die simfonie. Die rede vir die bestaan van die musiek. Zara slaan dit alles gade. Alles rondom haar ruis. Sy is die konstante.

Zara se passie was die voortleef van haar taal, wat sy vir haar kinders en haar man geleer het, waarmee sy die evangelies omtaal het: “Dat Nama nie verdring en uitgeskuif sal word nie. Dat die taal nie soos die grond verkeerd hanteer sal word nie, nie ingeneem en oorgevat word nie. Wreed en gewelddadig.”

En later, uit Klara se mond: “Die Namataal het nie ’n natuurlike dood gesterf nie. Die mense is sistematies en konsekwent en meedoënloos uitgewis.”

Terwyl Klara haar sintuie en intuïsie inspan om die verre verlede op te rakel, word haar motor se truspieëltjies een nag in die straat in Kaapstad afgesteel:

Toe eers, toe sy in die truspieëls aan weerskante wil kyk om te sien wat agter haar aangaan, om uit te vind of dit veilig is om terug te stoot, het sy besef daar hang niks behalwe los draadjies nie. ’n Blindekol aan weerskante van haar visie.

Mooi is ook die snarse van vertedering tussen Hinrich en Zara, soos bewaar in sy briewe en in dié van ’n ander sendeling. Op haar begrafnis het hy gesê: “Ek het in hierdie land gewoond geraak aan die lewe sonder water, maar sy was my waterbron.”

Waarin Jansen slaag, is iets uitsonderliks, iets ragfyn en breekbaar: Sy konstrueer – uit, spore, vere, ’n tongklap, ’n dans, stof in die wind – ’n huis van takke, ’n skuiling, ’n vuurmaakplek, ’n blywende monument aan ’n merkwaardige vrou.

Lees ook:

Valda Jansen (1965–)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top