Yolanda Wessels vertel meer oor haar boek Smag

  • 0

Smag
Yolanda Wessels
Uitgewer: Sarane Publishers
ISBN: 9780620830690

Yolanda Wessels praat met Naomi Meyer oor Yolanda se boek Smag.

Yolanda, jy het 'n boek geskryf oor wie jy is: Smag. Dis my beskrywing van jou boek; hoe sou jy dit beskryf?

Smag gaan oor wie ’n mens is, wat jy wil hê, en bowenal wat jy verdien. Elke mens smag om iewers te hoort en behoort; elke mens smag na liefde en aanvaarding. Dus ’n woord wat elke mens begrip voor het en mee kan identifiseer.

Die boek is geskryf in dagboekstyl. Is dit wel outobiografies? En dink jy dat iets nog die waarheid is, of is soos wat dit gebeur het, as mens dit neerskryf?

Ek dink nie vandag hou mense juis meer dagboek nie, wat tog ’n jammerte is, want soveel herinneringe sal verlore gaan. Dit is dagboekstyl geskryf om makliker die hoofkarakter se reis uit te beeld sodat lesers dit kan volg en hopenlik kan identifiseer met haar emosies. Ek dink in die meeste skrywers se boeke is daar feite sowel as fiksie. Daar is iets van myself in die karakter; ek het sommige van die situasies en emosies wel beleef en ervaar en ek hoop dié ervarings versterk die karakter en dien tog as inspirasie vir ander vroue.

Die hoofkarakter in jou verhaal se naam is Nika. Vertel my van haar.

Nika is ’n sterk vrou met ’n klein hartjie, gevorm en verhard deur baie seer. Sy bereik wel ’n punt waar sy besef sy moet haar verlede verwerk om ’n nuwe toekoms te kan tegemoet stap, een waar sy skoon begin en haar volle potensiaal bereik. Dis ’n reis van ontbloting, erkenning, aanvaarding en die besef dat sy genoeg is.

Die boek handel onder meer oor 'n klein dogtertjie wat seksueel misbruik is. En jare later haar stem gevind het. Hoe is dit vir 'n klein dogtertjie om as groot vrou daaroor te praat?

Ek dink as volwassene is dit (meestal) makliker om situasies en seer te verwoord en soms sterkter daaruit te tree omdat sy geforseer is om op ’n jong ouderdom emosies te ervaar en tromp-op te hanteer (wat eers later verwerk kan word) en dikwels alleen hierdie stryd aan te pak. Die gesegde sê nie verniet “met grysheid kom wysheid” nie. Die seer in die lewe dien meestal ook as leerskool, en al maak alles nie altyd sin nie, bied dit ’n geleentheid om iemand anders te help omdat ervaring en kennis ingespan kan word.

Die boek handel ook oor 'n volwasse vrou wat nie weer seergemaak wil word nie. Die boek gee vir lesers 'n kykie op dinge soos die verloofde man op Tinder (wat soek hy daar?), of die man wat troos soek omdat hy sy vrou verloor het. Wil jy nog uitbrei op jou karakter se belewenisse oor mans wat op webwerwe soos Tinder kuier? Kan mens iemand hier of aanlyn ontmoet wat mens kan vertrou om te wees wie hy sê hy is, dink jy?

Ek dink dis ’n moeilike tyd waarin ons leef om mense nie net te ontmoet nie, maar ook te vertrou. Dit sluit getroudes in. Sosiale media kan ’n euwel wees en ’n maklik begaanbare deur oopmaak, soos mens alte dikwels van hoor. Die deursnee-man op ’n dating app soos Tinder is daar vir ’n rede: hy is op soek na (bandelose) vermaak en plesier, of hy is met rede (vir ’n lang tyd) enkellopend, of hy soek werklik ’n pasmaat. Laasgenoemde is ongelukkig in die aansienlike minderheid. Dit is so bitter maklik om daar iets voor te gee wat jy nie is nie, maar graag wil wees. Dit bly maar ‘n “catch-22” om iemand betroubaar daar te ontmoet. Tog is daar suksesverhale wat mens hoop gee, maar dis beslis iets wat met handskoene en wyd oop oë benader moet word.

Het jy die film When Harry met Sally gesien? Dink jy mans en vroue kan net vriende wees?

Uit ’n vroulike perspektief dink ek beslis so ja; uit ’n manlike perspektief dink ek die antwoord gaan oorwegend nee wees. Ek dink wel vrouens slaag daarin om veel makliker platoniese vriendskappe te hê sonder om intimiteit daaraan te moet koppel. Ek dink in sommige gevalle kan sulke vriendskappe sterkter wees en meer ondersteuning bied as tussen twee persone van dieselfde geslag of selfs iemand in ’n vaste verhouding.

Vertel my van wie jy is: jou werk, jou kinders, die dorp waar jy woon. En van jou joernalistieke agtergrond, en jou boek oor katte. Dalk ook oor jou nuwe werk.

Ek is in murg en been ’n joernalis en om te skryf is my suurstof. Ek moet skryf – ek’t nie regtig ’n keuse nie; dit is net wie ek is. Ek skryf al van skooldae af en ervaar dit as terapeuties en ’n uitstekende manier om myself en my emosies dikwels te verwoord en te verwerk en sodoende perspektief te verkry.

Ek werk by ons plaaslike drukkers, waar ek ons koerant set en advertensies ontwerp. My seuns is my groot rede om elke dag ten volle aan te gryp en die beste ouer en voorbeeld te wees wat ek kan. Die liefde vir my katte en die plesier wat hul my verskaf, is eindeloos, ook die rede waarom die skryf van Katte – ’n Handleiding vir verantwoordelike kateienaars in Suid-Afrika so ’n plesier was. Dit was nie werk nie, dis my passie.

Ek woon in Bredasdorp in die hartjie van die Overberg. Ek mis die see geweldig, maar is tog gelukkig hier. In ’n neutedop: woorde, musiek, my kinders, katte en die see. Dít is wie ék is.

Jy het die boek binne 38 dae geskryf, staan in die inleiding. Soos vir enige fiksieskrywer wil ek jou vra: Wat was die sneller vir hierdie verhaal, die prikkel wat veroorsaak het dat jy dit uiteindelik geskryf het?

Ek is al ’n wyle geskei en weens die realiteit dat ek op ’n klein dorpie woon, voltyds werk en kinders het, moes ek tot die nare besef kom dat ’n mens dikwels ’n wolf in skaapsklere ontmoet. Ek is ’n vurige feminis en het sommer een aand net in opstand gekom ná ek vir die soveelste maal gedink, gelees, gesien, gehoor en ervaar het hoe seer vrouens kan kry aan die hand van mans. Dit het my genoop om ’n storie te vertel wat hier in my binneste geborrel en geskop het om gebore te word.

Het jy die boek beplan, of dit net organies laat ontwikkel? Wat was jou skryfroetine?

Dit was net iets wat na my toe gekom het en die woorde het in ’n stortvloed gekom. Ek het daagliks en dikwels snags geskryf – ook die rede hoekom ek besluit het om op dag 38 klaar te maak. My gedagtes het net aanhou kom, maar ek het besef ek het ’n slag ’n goeie nagrus nodig!

Wie is jou ideale leser?

Alhoewel mans dit sekerlik ook kan lees, is dit oorwegend vir die vroulike mark geskryf. Ek glo veral vroue wat self ’n vorm van verwerping, seer, smagting en soeke na haarself ervaar het, sal kan identifiseer; dus dink ek ieder en elk van ons.

Vir wie het jy die boek geskryf, indien enigiemand spesifiek?

Die boek is geskryf vir elke vrou daar buite wat besluit het om nié ’n slagoffer te wees nie, maar ’n oorwinnaar. Elke vrou het nodig om te weet hoe spesiaal sy is, hoe sterk sy is en dat sy alleen genoeg is.

Hoe gereeld spandeer jy tyd aan die suidpunt van Afrika, die ware suidpunt? Wat is lekker of moeilik van die omgewing waar jy bly?

Ek vind ongelooflike vryheid en berusting in die see, maar sal eerder permanent daar wil woon (soos ek het as kind) as om nou 30 km te moet ry! So, beslis nie genoeg nie! Die stilte, natuur, kleure en kalmte van ons omgewing is ’n vertroosting vir die mens wie ek is, maar ja, dit raak ook eensaam hier omdat hier nie tientalle klubs, organisasies, funksies, geleenthede ens is om te sosialiseer nie.

Jy skryf ook vir talle tydskrifte. Watter stories is vir jou die lekkerste om te moet navors, of wat geniet jy die meeste?

My liefde is inspirasiestories: om mense se stories te vertel en aan hul erkenning te gee. Dit bemagtig en inspireer hopenlik nie net die leser nie, maar dikwels ook die persoon oor wie daar geskryf word, asook myself.

Waarom het jy besluit om self die boek te publiseer? Wat was die lekkerte daarvan en wat was die uitdagings?

Ek het ’n groot uitgewer oorweeg, maar as gevolg van ’n moontlike tydsverloop om ’n geskikte uitgewer te vind het ek daarteen besluit, omdat die storie wel tydsgebonde is. Ek is baie dankbaar dat Lorette van Sarane Uitgewers sonder enige huiwering my manuskrip aanvaar en aan my eerste fiksie vlerke gegee het.

Waar kan mense die boek koop en wat kos dit?

Die koste is R100 en kan by die uitgewer, http://sarane.co.za, of by www.takealot.co.za bestel word.

Vir meer inligting oor die boek besoek die Facebook-blad @SmagRoman.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top