Yesterday: ’n filmresensie

  • 1

Yesterday
Draaiboek: Richard Curtis, gebaseer op die storie deur Jack Barth en Richard Curtis
Regie: Danny Boyle
Akteurs: Himesh Patel, Lily James, Ed Sheeran, Kate McKinnon, Joel Fry

Die Britte het van die beste musiek van die twintigste eeu opgelewer, daarvan getuig die films Bohemian Rhapsody (Queen) en Rocketman (Elton John). En dan was daar natuurlik die Beatles – in hierdie era van musiekfilms sou dit ondenkbaar wees om hulle uit te laat. Yesterday sorg vir ’n besonder oorspronklike huldeblyk aan dié supergroep.  

Jack Malik (Himesh Patel) probeer al van skooldae af om ’n suksesvolle sanger te word, met Ellie (Lily James) as die een mens wat onvoorwaardelik in hom glo. Ná ’n fratsongeluk, toe die hele aarde se elektrisiteit vir 12 sekondes uitgeflikker het, is Jack sy voortande kwyt en die res van die wêreld hul kennis oor wie die Beatles was. Dit lyk asof net Jack nog hul musiek ken, en toe hy “Yesterday” vir sy vriende speel, glo hulle hý het hierdie pragtige song geskryf.

Kort voor lank haal Jack die radio en word deur Ed Sheeran (dié Ed Sheeran) raakgehoor. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Jack is bestem vir supersterroem en -rykdom – solank niemand uitvind dat sy liedjies nie sy eie is nie.

Net so bekend soos Britse musiek is Britse humor, en hierdie film sprankel daarvan. Voeg daarby die egte vertolkings van Patel (wat self sing en die instrumente bespeel), James en Sheeran, terwyl die Amerikaanse komediant Kate McKinnon as Sheeran se bestuurder onverdunde plesier is.

Hierdie film móés vier sterre gekry het, as dit nie was vir die ongelyke kwaliteit van die draaiboek nie. Veral die magies-realistiese aspekte rondom die kragonderbreking word slordig hanteer, sowel as met die ontknoping.

Nogtans en desnieteenstaande bied Yesterday hope kykgenot en ’n geleentheid om die Beatles se musiek van voor af te waardeer.

Sterre:

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top