
Grafika-erkenning: © 2018 José Augusto, prent gepubliseer op April 4, 2018, onder gratis lisensievoorwaardes van Pixabay: https://pixabay.com/service/license-summary/. José Augusto Camargo op Pixabay
Twee keer sedert 1990 het die geliefde land op die afgrond van anargie, bloedvergieting en selfs ‘n staatsgreep gestaan, en baie Suid-Afrikaners hou die hart vas dat Suid-Afrika heelhuids uit die troebele moontlikhede van 30 Junie – volgende Dinsdag – sal tree.
Die eerste groot onheilsdag was op 10 April 1993, toe ’n man wat met ’n hart vol haat na ons land gekom het, vir Chris Hani doodgeskiet het in Boksburg met ’n vuurwapen wat deur ’n parlementslid van die verregse Konserwatiewe Party (KP) verskaf is.
Op daardie dag het ’n Afrikanervrou, Retha Harmse (wat het tog van haar geword?), die registrasienommer van die geweldenaar, Janusz Walus, se rooi motor neergeskryf en die polisie het hom spoedig aangekeer.
Die grootmoedige pres FW de Klerk het die landsbelang bo sy eie gestel en die ANC-leier, Nelson Mandela, toegelaat om die land se mense tydens ’n regstreekse TV-uitsending tot kalmte te maan. ’n Rasseburgeroorlog is bes moontlik verhoed.
Die tweede onheilstyd was van 9 tot 18 Julie 2021 in reaksie op die tronkstraf wat oudpres Jacob Zuma opgelê is. Die volle waarheid sal hopelik eendag oopgevlek word, maar daar is aanduidings dat dit ’n beplande staatsgreep was wat te vroeg ryp gedruk is deur die onverwags streng hofuitspraak.
Indien wel, het die voortydigheid tot gevolg gehad dat die wetteloosheid grootliks tot sommige Zoeloesprekende dele van die land beperk is. Maar 354 mense is dood in die anargie.
Daar is positiewe en negatiewe aanduidings in die aanloop tot Dinsdag, wanneer die populistiese groep March and March se ultimatum dat ongedokumenteerde immigrante die land moet verlaat, verstryk.
Die twee positiefste aspekte is eerstens dat March and March hul planne openlik uitvoer, en ons dus nie op ons land se peperduur, vrot-tot-aan-die-stingel teenmisdaad-intelligensiedienste en spioenasiedienste aangewese is om te weet wat aangaan, soos in 2021 nie. Dankie tog.
Tweedens is daar van al die politieke partye in ons nasionale parlement net twee – uMkhonto we Sizwe (MK) en Action SA – wat ten gunste van March and March se pogings is. Die pan-Afrikanisme van die ANC en die EFF plaas hulle saam met verantwoordelike partye soos die DA, IVP, VF Plus en ACDP teen die beplande anargisme.
Derdens het die minister van verdediging, Angie Motshekga, en die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, sterk oorgekom in hul waarskuwings teen potensiële onrussaaiers, en in hul mandaat aan die polisie en weermag om sterk, selfs kragdadig, op te tree.
’n Vierde, minder direkte positiewe faktor is die ou gesegde – toegeskryf aan oudpremier Jan Smuts, wat self tot bloedvergieting geneig was – dat die beste en die slegste nooit in Suid-Afrika gebeur nie. Wanneer puntjie by paaltjie gekom het, wou Suid-Afrikaners nog nooit die land oor die rand van die afgrond stoot, soos al in baie ander lande gebeur het nie. Hopelik is dit hierdie keer weer so.
Maar daar is ook belangrike negatiewe tekens. Die eerste en mees onmiddellike is dat daar wel dele van die land is waar xenofobiese geweld dreig, en nogmaals is die grootste risiko in KwaZulu-Natal.
My beste bronne aldaar is ten diepste bekommerd. Daar is ’n politieke lossigheid in die lug met die regerende provinsiale koalisie wat wankel. Dit is voorts die hartland van MK-aanhitsery onder Zuma se eties wankelmoedige leiding. En die een man wat orde daar kan handhaaf, provinsiale polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi, is tydelik vir diens in Pretoria opgeroep. Hy moet dadelik teruggestuur word Durban toe – dadelik.
........
Maar daar is ook belangrike negatiewe tekens. Die eerste en mees onmiddellike is dat daar wel dele van die land is waar xenofobiese geweld dreig, en nogmaals is die grootste risiko in KwaZulu-Natal.
My beste bronne aldaar is ten diepste bekommerd. Daar is ’n politieke lossigheid in die lug met die regerende provinsiale koalisie wat wankel. Dit is voorts die hartland van MK-aanhitsery onder Zuma se eties wankelmoedige leiding. En die een man wat orde daar kan handhaaf, provinsiale polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi, is tydelik vir diens in Pretoria opgeroep. Hy moet dadelik teruggestuur word Durban toe – dadelik.
........
Die ander verhewende in KwaZulu-Natal is die soms wispelturige Zoeloekoning, Misuzulu. Tydens die 2021-onluste het dit die nasionale ANC-regering verskriklik lank geneem om te erken dat hulle beheer oor die situasie verloor het en aan die Zoeloekoning en sy destydse tradisionele eerste minister, wyle prins Mangosuthu Buthelezi, kans te gee om die orde te herstel.
Kort nadat die oproepe van hierdie tradisionele leiers om kalmte eindelik op televisie uitgesaai is, het die situasie inderdaad verbeter. Van al die ANC-stommiteite van daardie verskriklike tyd was die politici se balhorige en kleinlike versuim om koninklike en Buthelezi-hulp in te roep, vir my die alleronnoselste.
Hierdie keer het selfs ons stomme regering duidelik uit hul destydse fout geleer, en Misuzulu het reeds ’n week voor die veronderstelde onheilsdag sy gesag in sterk taal geplaas aan die kant van die vredemakers – interessant genoeg, dus, téén Zuma en sy party.
Dis goed en reg so (dink nou net as hy die teenoorgestelde sou gedoen het), maar dit wys ook hoe senuagtig die owerhede oor die situasie in die land se Zoeloesprekende dele is. ’n Verdere aanduiding is dat selfs daardie deurtrapte populis, premier Panyaza Lesufi van Gauteng, vir ’n slag byna soos ’n deurdagte volwassene lyk met sy uitsprake teen xenofobie.
Die tweede bron tot kommer is dat dit net Motshekga en Cachalia was wat by die mediakonferensie opgetree het waar hulle so uitgesproke was. ’n Ander portefeulje wat sentraal staan tot die immigrantekwessie, is die Departement van Binnelandse Sake. Mens hoop werklik dat minister Leon Schreiber nie uitgesluit word uit politieke hardgebakerdheid omdat hy van ’n ander party is in ’n veelpartykabinet ingebind deur gesamentlike verantwoordelikheid nie.
Hoewel Motshekga en Cachalia se sterk uitsprake as positief uitgelig is, bring dit as derde bron van kommer ’n groot gevaar mee. Ons land se polisiediens en weermag se vermoë om skarebeheer uit te oefen sonder menseslagting, is bepaald nie bo alle twyfel bewys nie. Mens hoop hulle word nie die volgende in die bittere Suid-Afrikaanse tradisie om kragdadigheid in moorddadigheid om te sit nie.
Die vierde bron van kommer is die feit dat March and March se ontevredenheid ten diepste gegrond is, hoewel hul opruiery en die potensieel gewelddadige gevolge van hul gedrag heeltemal onaanvaarbaar is.
Waar March and March reg is, is dat die landswette betreffend onwettige immigrante pateties toegepas word, met die ministers van polisie en van binnelandse sake wat die politieke verantwoordelikheid moet neem as politieke hoofde van die twee tersaaklikste departemente.
Uiteraard sou beide tereg aanvoer dat hulle twee bankrot boedels geërf het. Maar wat is in die afgelope twee jaar gedoen, en – absoluut noodsaaklik – wat gaan prakties en suksesvol gedoen word, om verskriklik baie Suid-Afrikaners (bepaald ook baie van ons wat Dinsdag se beplande optrede totaal teenstaan) se legitieme ontevredenheid oor onwettige immigrante onnodig te maak?
Wat is die planne, wat is die meetbare doelwitte, hoe gaan dit bereik word en wie gaan op watter punt mislukking erken en eerbaar bedank as daardie doelwitte – om watter redes ook al – nie bereik word nie? Hierdie is nie retoriese vrae nie. Om onwettige immigrasie hok te slaan is moeilik, maar dis die mandaat waaraan ministers gemeet word.
Die laaste punt is die mees fundamentele. Dit is die soveelste keer dat vandalisme en geweld, of die moontlikheid daarvan, die enigste manier is om ‘n slap Suid-Afrikaanse owerheid so ver te kry om hul werk te doen. So hoort dit nie.
Op die keper beskou is dit altyd onwys om in Suid-Afrika die toekoms te voorspel. Mens hoop Dinsdag sal so vreedsaam moontlik verloop. Hierin kan godsdiensleiers Sondag ’n groot rol speel om gelowiges aan te moedig om hulle te gedra en vir die beste te bid.
Die hemel weet, ons land het dit nodig.
- Jan-Jan Joubert werk tans aan ’n PhD in geskiedenis aan die Universiteit Leiden.
Lees ook:

