Wreed én mooi is die dood: ’n onderhoud met Tobie Wiese

  • 11

Wreed én mooi is die dood
Tobie Wiese
Jonathan Ball
ISBN: 9781868429431

Tobie Wiese praat met Naomi Meyer oor die bundel wat Tobie onlangs saamgestel het, Wreed én mooi is die dood.

Tobie, geluk met Wreed én mooi is die dood. Op LitNet het jy ’n huldeblyk geskryf aan Karel Schoeman, wie se manier van sterf steeds in die nuus bly. Watter ander mense het jou al laat nadink oor die dood? Mense naby aan jou, of ook andersins ̶ ̶  mense wat jy nie geken het nie?

Dankie. Die gelukwense kom eintlik die bydraers toe. Sonder hulle was daar geen boek nie.

Die dood van my pa, veral sy afwagting, het my diep geraak. Dit was duidelik dat die einde naby is en ek het hom in die hospitaal op Parys in die Vrystaat gaan groet. Hy het dit klaarblyklik nie só ervaar nie. Ná sowat twee weke wou die dokter van my susters weet of daar nog ʼn lid van die gesin is van wie my pa moontlik wil afskeid neem. Ek is weer vir ʼn paar dae Parys toe en hoewel hy reeds baie swak was, het hy telkens my teenwoordigheid erken. Toe het hy, met die res van ons gesin langs sy bed, sy laaste asem uitgeblaas.

Waar het hierdie boek begin? 

Vir my het dit begin met ʼn oproep van Annie Olivier van Jonathan Ball. Die lof vir wat nou blyk ʼn uitstekende idee te gewees het, kom haar dus toe.

Vir Annie, so vertel sy my, het dit begin by haar gewaarwordinge met die dood van haar ouma, aan wie sy baie geheg was. Verder is dit juis dié onderwerpe waarvan mense dikwels wegskram wat haar die meeste aantrek. Al het daar die afgelope paar jaar heelwat internasionale boeke oor sterflikheid en die dood verskyn, was daar min in Afrikaans en sy’t gevoel dié leemte moet gevul word.

Die titel, van Van Wyk Louw se gedig. Vertel my asseblief jou eie gedagtes hieroor, en sommer oor die hele gedig, as jy wil.

Ons het natuurlik begin met ʼn voorlopige werkstitel wat ons nie werklik bevredig het nie, maar toe die frase “mooi is die lewe en die dood is mooi” in een of twee van die stukke voorkom, het dit dadelik ʼn snaar aangeroer. Nie net omdat dit so klinkend is nie, maar ook omdat dit ʼn kerngedagte in een van die sleutelessays treffend weergee. (Later meer daaroor.) Ons kon uiteraard nie net die “mooiheid” van die dood uitlig nie, want die dood het ook ʼn aaklige gesig.

Dis opvallend dat Van Wyk Louw die woordorde omkeer om dié twee mooihede te beskryf; sintaktiese inversie, noem die letterkundiges dit. Daarmee maak hy dit duidelik dat hoewel die lewe en die dood albei ʼn sekere skoonheid (kan) besit, dit nie van dieselfde orde is nie.

Wat ʼn mens verder opval van die gedig, is die idee, en die digter se ervaring, van ʼn voltooide lewe: “Dán weet ek het jou hand / my jeug se oopgelate kring voltooi: / mooi is die lewe en die dood is mooi.” Dis betekenisvol dat die laaste versreël direk volg op die gedagte van ʼn volledige verwesenliking en afsluiting van ʼn lewe: “voltooi” rym letterlik met “mooi”.

Karel Schoeman gebruik ook verskeie kere dié begrip om sy lewe te bestempel, waarskynlik in navolging van Van Wyk Louw. Interessant genoeg verwys ook die sterwensbegeleier Peter Fox na die ervaring van voltooidheid om die ingesteldheid te beskryf van diegene wat gereed is om te sterf.

Die afdelings in die boek laat mens reeds besef jy gaan die boek, wat jy dalk nie maklik opgetel het nie, ook nie maklik kan neersit nie: “Wreed en mooi is die dood”, “Vroeg al ontmoet”, “Om die dood in die oë te kyk”, ens. Hoe het julle geweet watter afdelings daar alles moes wees? 

Ons het nie vooraf alles geweet nie; die boek het organies gegroei en vorm aangeneem. Ek en Annie het koppe bymekaar gesit en gedink uit watter hoeke ʼn mens na die dood kan kyk en wie die mees geskikte mense sou wees om oor elke aspek te skryf. Dit was dus nie ʼn eenmalige dinkskrum nie, eerder ʼn beginpunt. Namate die proses gevorder het, in gereelde gesprekke met Annie en vriende en uit boeke wat ek te lese gekry het, het nog idees na vore gekom.

Gelukkig het nie een van die elemente van die boek wat ons as belangrike boustene beskou het, soos die vertellings van bekende skrywers, skipbreuk gely nie. Trouens, hulle het ons verwagtinge hemelhoog oortref. Die boek het vermoedelik ook gebaat by ons joernalistieke ingesteldheid van never say die. Dit geld nie net my vermetele aandrang wanneer ʼn medewerker gehuiwer het nie, maar ook wat dinge soos die spertyd betref.

Dit was al diep in die Desembervakansie toe ons op die strand met vriende gesels wat hul lieflingperd met die naam Othello verloor het. Toe ons later die aand tuis weer daaroor praat, sê ʼn diereliefhebber-vriendin: “Dis mos ʼn storie vir jou boek.” Maar die boek was so te sê klaar en Annie met vakansie, in daardie stadium al met een voet op die vliegtuig op pad Rusland toe. Dis Saterdagaand, maar ek stuur nogtans ʼn dringende WhatsApp: Wat van ʼn essay oor die dood van ʼn perd? Kan ons die deadline nóg rek?

Annie het versigtig-entoesiasties gereageer. Die uiteinde is ʼn pragtige skets deur Surine Bezuidenhout van Upington se wêreld.

Daar is wonderlike skrywers wat hulle harte oopmaak en roerend oor die dood skryf: Marita van der Vyver, Karin Brynard, Kerneels Breytenbach, Valda Jansen, Willa Boezak, Ingrid Winterbach. Hoe het jy geweet vir wie om te vra om te skryf? 

Dit is een van die elemente van die boek wat organies gegroei het. Jy begin met ʼn lysie, ʼn soort wenslys eintlik, van mense wat jy weet goed kan skryf. Wanneer so iemand ook ʼn geliefde aan die dood afgestaan het, al is dit 30 jaar gelede, soos in Marita se geval, is die kanse goed dat sy ʼn besonderse stuk daaroor sal skryf. Mits sy natuurlik geneë is of tyd daarvoor het.

Dit was die ongemaklikste taak met die boek – om vir so iemand te vra: “Jy het hierdie traumatiese en intens persoonlike ding beleef en jy worstel waarskynlik steeds daarmee … maar wil jy nie vir ʼn boek oor die dood daaroor skryf nie?” Wat dit effens makliker gemaak het, is dat talle van die bydraers vriende of goeie kennisse is. Daar was dus sprake van vertroudheid en vertroue.

Dis nietemin ʼn wenslys, want jy kan nie verwag dat almal sal instem nie. Sommige het, maar het lateraan die handdoek ingegooi. Dan verg dit fyn en vinnige oordeel om te besluit: Is dit ʼn geval dat die persoon se selfvertroue hom in die steek laat en hy net die regte aanmoediging nodig het om deur te druk, of is dit iemand wat reeds al sy emosionele energie ingespan het en eenvoudig nie kan voortgaan nie?

Soms was daar ook ander beroepsgevare, soos iemand wat ʼn aangrypende stuk – met ʼn paar gebreke – aangebied het. Ek betuig my ingenomenheid en hy sy diepe waardering. Die gebreke moet nogtans reggestel word. Dit lei tot meer as 50 e-posse heen en weer en etlike telefoongesprekke, later met stygende temperature aan beide kante. Uiteindelik weier dié potensiële debutant enige wesenlike veranderinge (wat neerkom op verbeteringe) aan sy werk. Ek het, met die instemming van die uitgewer, nie ʼn ander keuse gehad nie as om die stuk van die hand te wys. Ironies genoeg was dit die ervare en bewese skrywers wat kritiek en wenke verwelkom en geakkommodeer het. Vir die meer informatiewe stukke was die interaksie met die skrywers uiteraard veel gemakliker, want hul bydraes was minder persoonlik.

Nog ʼn beroepsgevaar het opgeduik: Terwyl ek aan die boek werk en met my seun Merwe daaroor gesels, vertel hy terloops dat sy fassinasie met die dood  ̶ ̶  waarvan ek onbewus was ̶ ̶  een van die redes is hoekom hy van loopbaan verander het en hom nou as ʼn paramedikus bekwaam. Vanselfsprekend duik die moontlikheid van ʼn skryfstuk op. Maar ek het ʼn broertjie dood aan nepotisme – maar daar is ʼn uitweg: dat ek nie oor die meriete van sy stuk sal besluit nie. Dit het ek aan Annie en die doyenne van boeke, Hettie Scholtz, oorgelaat. Die resultaat is ʼn aangrypende stuk, al moet ek dit self sê, wat deur ʼn resensent hoog aangeslaan is.

Hierdie boek se ideale leser is: almal wat sterflik is. Maar hoe keer mens dat dit nie sentimenteel word nie?

Dit was gelukkig nie nodig om enigiemand in dié opsig te keer nie. Afgesien van die paar debutante is almal ervare en bedrewe skrywers. Moontlik was daar in van hulle se vroeë (waarskynlik ongepubliseerde) werk spore van sentimentaliteit; indien wel, het hulle dit lankal agtergelaat.

Tweedens was ek daarop bedag dat die boek nie eenselwig, more of the same, raak nie. Dit kan dalk die indruk wees van iemand wat dit nog nie ter hand geneem het nie, omdat die element van bekende-skrywers-se-essays (tereg) soveel aandag kry, maar die boek is méér as dit. Daar is byvoorbeeld vir die eerste keer die volledige korrespondensie tussen Karel Schoeman en Willem Landman oor Schoeman se soeke na ʼn geskikte wyse van sterwe; ʼn fassinerende onderhoud met ʼn sterwensbegeleier; ʼn paramedikus se belewing van sy gereelde interaksies met die dood; ʼn beknopte geskiedenis van ons houding jeens die dood; raad met verlies en die hantering van trauma; ʼn stuk oor die belangrikheid van rituele, oud en nuut, rondom die dood; verskillende geloofsgroepe, asook ʼn niegelowige, se siening van die dood en wat daarop volg; die verslae van drie mense wat nadoodse ervarings beleef het; ʼn “disseksie van die dood” deur ʼn patoloog; drie humoristiese sketse ...

Ook danksy dié diversiteit sou die boek in sy geheel nie maklik in sentimentaliteit kon verval het nie. Daarby het Annie die vermoë om met die rangskikking van die stukke die gepaste stemming te skep, dit af te wissel én te sorg dat die boek as iets met ʼn aanvang, middelgedeelte en afloop beleef word.

ʼn Groter uitdaging as sentimentaliteit was die gevaar van ʼn neerdrukkende boek. Uit die reaksie van resensente en lesers lei ek af dat ons dié strik vermy het. Ek vermoed lesers waardeer die boek se eerlikheid: dat die verskrikking wat die dood dikwels bring, nie versuiker word nie; dat dit nie maklike antwoorde op komplekse vrae probeer gee nie, terwyl veral die persoonlike vertellinge tog ʼn onderliggende toon van hoop dra.

Op die ou end kan mens net opteken wat diegene wat lewe omtrent die dood gedeel het. Die dooies se stemme word nie gehoor nie. Of tog? Dit klink nou heeltemal esoteries, maar wat ek bedoel, is: Wat laat diegene wat dood is agter, ook in diegene wat agterbly (as lewendes)?

Ja, in ʼn sekere sin swyg hulle soos die graf. Terselfdertyd verneem ʼn mens gereeld van iemand wat ʼn geliefde verloor het, dat hulle voortdurend met dié persoon in gesprek is en ek is redelik seker hy of sy praat ook terug – al is dit dan by monde van die lewende.

Insgelyks verseker ons onsself dat die oorledene voortleef in ons gedagtes en dus steeds ons denkwyse en optrede beïnvloed. So iemand is nie dood nie! Soms, in ʼn siniese oomblik, dink ek dis dalk selfmisleidend en ydele troosgedagtes om te reken daardie persoon leef steeds voort ondanks sy fisieke afwesigheid. Maar dan hoor of sien ʼn mens – of beleef dit self – dat ʼn afgestorwene, selfs iemand wat jy nie persoonlik geken het nie, jou inspireer en dat jy dié persoon se voorbeeld probeer naleef. In dié opsig leef die oorledene voort, dikwels meer energiek en invloedryk as die lewendes. Talle godsdienste bied voorbeelde hiervan.

Aan die negatiewe kant is daar natuurlik derduisende mense, slagoffers van een of ander wandaad, wat voortdurend ʼn stryd voer om die destruktiewe invloed dood te leef van mense, sedertdien afgestorwe, wat hulle misbruik het.

Waarom so ’n boek skryf?

Waarom nie? Die dood is, of word, immers deel van ons almal se lewe.

Die uitgewer se voorneme met die boek was om “die stilte oor die dood te verbreek”. Dat so ʼn stilte inderdaad bestaan, is nie ʼn wilde aanname nie. Afgesien van ʼn mens se persoonlike ervaring van waaroor gepraat word en waaroor nie, het die filosoof Anton van Niekerk die rede vir sy boek Die dood en die sin van die lewe (Tafelberg, 2017) in dieselfde trant verklaar: “Die tyd het aangebreek dat die werklikheid van die dood ʼn meer sentrale plek in ons onderlinge gesprekke en openbare debatte begin inneem.”

Die vraag is waarom daar, veral in Afrikaans, maar ook wyd in die Westerse wêreld, ʼn swye oor die dood bewaar word wat ʼn duidelike simptoon van ontwyking is. Hiervoor is daar klaarblyklik verskeie redes wat ook in Wreed én mooi bespreek word. (Sien onder meer Marius Brand se insigryke essay “Afskeid van ontkenning”.)

Die Amerikaanse kultuurantropoloog Ernest Becker het dit pront gestel: Nie seksuele drif en die drang tot voortplanting is (soos Sigmund Freud beweer het) ons mees basiese dryfveer nie, maar ʼn vrees vir die dood: “[T]he idea of death, the fear of it, haunts the human animal like nothing else; it is the mainspring of human activity – actively designed largely to avoid the fatality of death, to overcome it by denying in some way that it is the final destiny for man … This is the terror: to have emerged from nothing, to have a name, consciousness of self, deep inner feelings, an excruciating inner yearning for life and self-expression – and with all this yet to die” (aangehaal in the way we die now, Seamus O’Mahony; Head of Zeus, 2017).

Baie sal natuurlik vra: Hoekom sal ek my moeg maak oor iets waaraan ek niks kan verander nie?

Die veronderstelling in dié vraag is egter ongegrond. Ons kan wel iets omtrent die dood doen wat die impak daarvan verminder, naamlik deur ʼn gesonde bewustheid van en ʼn natuurliker saamleef met die dood te kweek. Dis vanselfsprekend dat ʼn ontwyking van die dood asof ontwyking op die duur moontlik is, nie deel van ʼn gesonde lewensingesteldheid kan wees nie. (By die laaste vraag meer hieroor.)

Die besonder goeie verkope van die boek – die eerste oplaag het binne die eerste maand uitverkoop – opper ʼn interessante waarneming: Ja, daar is ʼn stilte oor die dood, maar klaarblyklik soek mense na die taal en verhale om wel daaroor te dink en te praat.

Wat het jy vooraf gedink, toe jy die projek aangepak het? En by die ontvangs van die tekste, en agterna: Wat was die effek op jou, as mens?

Ek het nie tyd nodig gehad om na te dink oor die aanbod om die boek saam te stel nie. Die feit dat ek en Annie oor die afgelope tien jaar saamgewerk het aan verskeie boeke en dat ek dadelik haar oordeel vertrou het, was sekerlik ʼn belangrike faktor.

En ook: Niks is seker toevallig nie. In die vorige jaar is prostaatkanker by my gediagnoseer en die jaar voor dit het my oudste seun ʼn byna noodlottige geweldsaanval oorleef. En hoewel ek soms gedink het dis ʼn administratiewe fout, staan dit steeds op my geboortesertifikaat: 1953. Hoeveel langer wil ʼn mens dit nou nog uitstel? Om eerlik te wees: Voor hierdie dinge het ek selde aan die dood gedink en indien wel, was dit dié van ander mense.

Ná dese is ek beter voorberei  ̶ ̶  sover dit moontlik is  ̶ ̶  en minder besorg.

Ek wil nie onregverdig vra nie, want ek sien elkeen wat hier bydra, het kosbare en intieme herinneringe gedeel. Maar wat bly jou by, as jy ’n paar dinge wil uitlig? Dit hoef nie een van die skrywers se stories in sy geheel te wees nie.

Dis vir my haas onmoontlik om ʼn paar dinge uit te sonder. Sien daarvoor liefs die inleiding tot die boek. As samesteller sou dit onvanpas wees om enige stuk op grond van gehalte uit te sonder.

Op grond van persoonlike ervaring wil ek egter wel een stuk noem: “Vertrek met ʼn ligte las”, ʼn onderhoud wat ek met die sterwensbegeleier Peter Fox gevoer het. Aanvanklik het ek Peter met alle geweld vermy, hoewel ek sterk aangeraai is om met hom te gesels. Dit was niks persoonliks nie, meer wel die feit dat ʼn onderhoud in Engels vanweë die vertaling heelwat ekstra werk en tyd sou verg. My soektog na ʼn Afrikaanse sterwensbegeleier het egter telkens voor ʼn toe deur gestuit. Heel vroeg het ek besluit ʼn skryfstuk oor die ervarings en werk van ʼn sterwensbegeleier sou, anders as die ander stukke, die resultaat van ʼn gesprek moes wees. ʼn Mens kon met ʼn stok aanvoel dat dít beter resultate sou oplewer vergeleke met die situasie waar dieselfde persoon voor sy rekenaar sit en deurentyd ingeskakel probeer bly by wat die samesteller verlang – indien dié self wel weet! Want vir die onderhoudvoerder is dit nie altyd nodig om vooraf presies te weet wat hy wil hê nie; dit kan selfs teenproduktief wees. Spontaneïteit en aanpasbaarheid wat ruimte skep vir verrassings, is altyd verkieslik bo versmorende rigiditeit.

Die belangrikste ding wat ek van Peter verneem het? Ek kan dit nie losmaak van hóé ek dit gehoor het nie, want Peter is ʼn woordkunstenaar, en om teenoor hom, by geleentheid in die kerk met reën teen die ruite, te kon sit en luister na sy meesterlike gebruik van Engels, was ʼn voorreg. Boonop is hy ʼn beskeie, innemende en denkende mens  ̶ iets wat uit elke sin en gedagte geblyk het.

Inhoudelik? The idea that you can have a beautiful death. Dit gebeur in sy ervaring veral wanneer ʼn mens jou lewe as sinvol en voltooi beleef, met al jou sake so ver as moontlik afgehandel. Daarmee is ons is terug by Van Wyk Louw  ̶ ook dié sirkel is voltooi.

Kan jy iets skryf oor verlies en hoe dit verband hou met hunkering en heling? Of staan dit los van mekaar? 

Dié drie woorde vorm natuurlik die kern van die boek se subtitel, en hul betekenis daar is die betekenis wat in die algemene omgang daaraan geheg word. Oor die moontlik dieperliggende verband tussen dié begrippe wil ek my nie uitlaat nie, aangesien ek geen sielkundige is nie. Oor heling het ek wel iets te vertel.

ʼn Vriendin wat ʼn seun weens selfdood verloor het, het gemaan teen die ligtelike en gerusstellende gebruik van die woord heling, asof almal noodwendig by heling uitkom. Dit sou ook beteken dat daar ʼn plig op elke lydende persoon rus om die eerste prys van heling te behaal. ʼn Mens moet ook in gedagte hou dat dit makliker is om heling te ervaar nadat jy byvoorbeeld van ʼn hoogs bejaarde ouer afskeid geneem het nadat hy of sy ʼn goeie en vol lewe gelei het. Dis egter aansienlik anders wanneer jou seun, ʼn jong man in sy fleur, sy lewe beëindig. Daar is vrae sonder antwoorde, verliese waarvoor daar nie heling is nie, is haar belewing.

Dit is dié gewaarwording waaraan die digter Gwen Flowers (in die boek aangehaal deur Kerneels Breytenbach) uiting gee: “And grief is not something you complete, but rather, you endure. Grief is not a task to finish and move on, but an element of yourself – an alteration of your being.”

Nogtans is die verwerking van trauma ʼn intens persoonlike reis en sommige mense beleef ʼn toestand of plek wat hulle met gemak heling noem.

Die ding van die dood is, dit betrap tog maar meestal diegene wat agterbly onverwags. Hoe is dit egter moontlik, want ons almal weet ons leef nie vir altyd nie?

Inderdaad, maar die alternatief is nog meer skrikwekkend: dat ons van ons geboorte af die dag en uur van ons sterfte weet. Dink net met hoeveel vindingryke planne ons vorendag sou kom om die dood te probeer pypkan! Dit sou die grootste globale kreatiwiteitsoefening van alle tye afgegee het.

Terug by jou vraag oor ons onvoorbereidheid. Dit lyk my daar is veral drie redes wat ek onverdun weergee.

Die eerste is wat Becker hier bo as ons mees basiese dryfveer beskryf. Dit sou goedskiks ook as die mens se hubris bestempel kon word; ons ingenomenheid met onsself en die oorskatting van ons belangrikheid. Dit maak die gedagte aan ʼn verskynsel wat ons dikwels sonder waarskuwing tot stof reduseer, ondraaglik.

Die tweede is ʼn uitloper van onsself: die tegnologie en sy neweprodukte. Terwyl die prestasies van die tegnologie en die wyse waarop die mediese wetenskap die dood “getem” het, inderdaad indrukwekkend is, bly die vermoëns daarvan beperk. Nêrens is dit duideliker nie as in die aangesig van die dood. Dat dit moontlik is, is waarskynlik ons grootste en mees versweë ontnugtering.

Derdens: Waar materialisme  ̶ ̶  sekerlik een van die groot siektes van ons tyd – die septer swaai, sal die geestelike en spirituele sy van ons lewe (waarmee ek beslis nie godsdienstigheid bedoel nie) altyd afgeskeep word. Wanneer dit gebeur, gee ons ons beste gereedskap prys om die groot lewenskwessies, waarvan die dood een is, te hanteer.

Wat sê mens vir iemand wat ’n ander verloor het?

As ek ʼn kort storie kan vertel: ʼn Klompie jare gelede is vriende van ons se jong seun in ʼn motorongeluk dood. Hulle is deel van ʼn bekende familie en ʼn konstante stroom mense het die volgende dag by hulle huis opgedaag. Soos die meeste besoekers, het ook ek nie geweet wat om vir die bedroefde ouers te sê nie. Meer uit verleentheid as enigiets anders het ek van die gaste begin ontvang, help tee aandra en wyn skink en origens die hele middag sonder woorde op die stoep gesit.

Jare later het my vriend my steeds bedank vir my teenwoordigheid en beskikbaarheid daardie dag. As hy aan dié dag dink en dit voor sy geestesoog sien, is die vriend-op-die-stoep altyd deel van dié prentjie.

In die boek is daar nietemin voorbeelde van gepaste én onvanpaste opmerkings teenoor mense wat ʼn terminale tyding ontvang het. Want daar ís ʼn tyd om te praat, maar ook ʼn tyd om stil te bly.

Die dooies se onversetlike stiltes, noem Ingrid Winterbach dit. As jy aan dooies dink, voel jy dis stil en hulle swyg? Of watter soort emosies bewerkstellig die dooies of die dood by jou?

Afgesien van my ouers, wat albei ver gevorderd in jare was, het ek nie werklik mense na aan my al aan die dood afgestaan nie. Daar is dus nie ʼn onlangse sterfte wat my diep geraak het en wat ek moet verwerk nie. (Daarom behoort alles wat ek oor die dood te sê het, met ʼn yslike hap sout geneem te word.)

Op ʼn ander vlak is almal van ons, ook onbewustelik, in ʼn voortdurende gesprek met belangrike afgestorwenes. Dis nie noodwendig ʼn familielid of ʼn lewensmaat of ʼn goeie vriend nie. Dit kan iemand wees wat al dood was toe jy jou verstand gekry het, maar iets in dié persoon se lewe vind jy so aantreklik en inspirerend dat jy jouself dikwels afvra wat hy of sy in jou omstandighede sou gedoen het.

Die sigbaarste voorbeeld hiervan is die armbandjie met die letters “WWJD” (What would Jesus do?) wat veral sommige sportmense dra. Nog ʼn aanduiding van die bestaan en lewenskragtigheid van hierdie gesprekke is die gewildheid van goeie (maw eerlike en insiggewende) biografieë.

Wil jy ten slotte iets oor hierdie boek sê?

Daar is ʼn uitspraak van die skrywer Saul Bellow wat ʼn kerngedagte in die boek treffend saamvat: “Death is the dark backing that a mirror needs if we are to see anything.”

Dus: Sonder daardie donker agtergrond staar ons, metafories gesproke, deur ʼn stuk glas na ʼn oënskynlik eindelose ruimte; na ʼn toekoms sonder einde vir onsself en die wêreld. Wanneer die glas danksy ʼn donker agterkant ʼn spieël word, kry ons ʼn lewensgetroue blik op onsself: ʼn brose mens met ʼn uiters beperkte rakleeftyd en verstommende potensiaal tot goed én kwaad. “… if we are to see anything.” ʼn Lewensgetroue blik sal dus méér as ons fisieke teenwoordigheid insluit; ook ons rol in en verantwoordelikheid teenoor ons medemens en ons planeet, met alles wat dit behels.

Die besef van ons nietigheid en kortstondigheid kan een van hoofsaaklik twee reaksies by ons uitlok: ʼn mengsel van woede en verslaenheid omdat ons magteloos is teen die dood, of volslae dankbaarheid dat ons lewe – ʼn kosbare geskenk waartoe ons niks bygedra het nie. My wens is dat die boek, al is dit in die geringste mate, ons sal help om eerder die tweede reaksie te kies, want hoewel die tema die dood is, gaan dié boek ten diepste oor die lewe.

  • 11

Kommentaar

  • Herman Meulemans

    Over de dood heen reiken naar het leven is oneindig veel moeilijker dan naar de dood kijken als eindpunt van het leven. William Shakespeare wist dit maar al te goed.
    Uit het schitterend vraaggesprek van Naomi Meyer met Tobie Wiese spreekt diezelfde bekommernis om niet de dood centraal te stellen, maar wel wat de dood betekent voor de levenden, de pijn van het afscheid, de vreugde van een vervuld leven.
    Natuurlijk heb ik op dit ogenblik het boek nog niet gelezen, maar wat in het vraaggesprek wordt gezegd kondigt aan dat het lezen van het boek "Wreed én mooi is die dood" een must is.

  • As Christene hoef ons nie die dood te vrees nie want as ons nie sterwe nie, kan ons nie opgewek word nie. Daarom is die opstanding van Jesus uit die dood die belangrikste gebeurtenis in die menslike geskiedenis.
    Miskien moet elkeen wat twyfel weereens 1 Korintiërs 15 en dan veral vers 31 tot 58 aandagtig gaan lees wanneer Paulus aan die mense van sy tyd en ons skryf:

    31My liewe broers en susters, dagin en daguit leef ek in die skaduwee van die dood. Daarvan kan julle net so seker wees as dat ek trots is op wat Christus Jesus, ons Here, vir julle beteken en gedoen het.
    32Waarom sou ek hier in Efese as ’n sterflike mens soos ’n dier teen ander wilde diere geveg het as dit alles vir niks was nie? Dit maak mos nie sin nie. As daar niks anderkant die dood vir ons wag nie, moet ’n mens mos eerder doen wat die spreekwoord sê: “Laat ons nou eet en drink en vrolik wees, want môre is ons dood.”
    33Moenie julle met ’n slap riem laat vang deur mense wat so praat nie. Onthou, as jy heeltyd na sulke mense luister, begin jy dit later self glo.
    34Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen. Julle behoort julle te skaam dat party van julle regtig geen idee het van wie God is, wat Hy kan doen en wat Hy van julle verwag nie.
    Hoe gaan ons lyk wanneer ons uit die dood opstaan?
    35Iemand onder julle wonder dalk: “Hoe op aarde kan iemand wat dood is weer lewendig word en hoe sal sy liggaam daarna lyk?”
    36Dis darem ’n dom vraag. Julle weet mos dat ’n saad wat jy in die grond saai ’n ruk lank eers lyk of dit dood is en dan, na ’n rukkie, kom die lewendige plantjie uit.
    37En verder, as jy byvoorbeeld ’n mielie plant, plant jy tog nie die groot plant met die mieliekop en al nie. Jy plant die mieliepit.
    38God besluit dan self hoe die plant moet lyk - elke soort saad gee mos ’n ander soort plant.
    39Die diere en mense verskil net so. ’n Mens is mos anders gebou as ’n dier of ’n vis.
    40Die sterre en die son lyk ook anders as die aarde. Die sterre en die son is op ’n ander manier mooi as die dinge hier op aarde. Selfs die sterre verskil van mekaar en is elkeen op sy eie manier mooi.
    41Die prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit wees wanneer ons uit die dood lewendig word.
    42Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig sal word, sal nooit vergaan nie.
    43Die liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam sal ons maar net kan oorloop van trots.
    Die oue is swak, maar die nuwe is vol krag.
    44Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam.
    Soos daar ’n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ’n geestelike liggaam.
    45In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ’n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak.
    46Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later.
    47Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom.
    48Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus.
    49Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het.
    50My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: ons, met ons aardse liggame, kan nie in die nuwe wêreld van God ingaan nie. ’n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie.
    51Laat ek julle ’n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggame lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ’n nuwe geestelike liggaam kry.
    52Wanneer daar aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak word met hulle nuwe liggame; dié wat in daardie stadium nog op aarde lewe, sal dadelik ’n nuwe liggaam kry.
    53Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie.
    54Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar.
    55“Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.”
    56Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys.
    57Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak.
    58My liewe broers en susters, dit gee julle alle rede om julle nie ’n duim te laat wegbeweeg van dit waarin julle glo nie. Staan vas. As daar iets is wat julle vir die Here kan doen, doen dit en nog meer, maak nie saak wanneer en waar nie. Julle twyfel mos nie een oomblik daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie."
    Mag dit tot troos en versterking van elke leser wees wat Jesus Christus onvoorwaardelik as hul enigste Verlosser aanvaar het, want Psalm 23 dra ons deur die donkerste tye:
    1 'n PSALM van Dawid.
    Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.
    2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
    3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
    4Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
    5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
    6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

  • Dit sal jou dalk verras om te lees dat die sterwensbegeleier Peter Fox, self 'n Christen, berig dat gelowigheid dit dikwels vir mense juis moeiliker maak om die dood tegemoet te gaan. In geheel probeer die boek dit ook duidelik maak dat simplistiese antwoorde op komplekse lewensvrae soos die dood nie meer deug nie.

  • As jy self reeds by 'n sterwende persoon gestaan het, sal jy besef die worsteling wat dikwels plaasvind dikwels die stuiptrekkings van die biologiese sy van die mens is.
    So het ek dit ook ondervind by die afsterwe van my pa na 'n beroerte. Jy kyk na die groot growwe hande, die hande wat jou versorg het, maar ook op die agterent gebrand het, die vervalle gesig, kunstande is verwyder om versmoring te keer. Die hande is stil maar die liggaam ruk en bewe.
    Sy oë kyk vir jou, maar eintlik deur jou ,asof dit staar na iets ver agter jou. Die ou liggaam ruk vir die laaste keer en dan is dit verby. Jy roep die verpleegster aan diens. Sy kom en bevestig dit.
    Daar was ander soos my skoonpa. Dood aan beroerte. Sy heengaan was anders. Om 'n Christen te wees, dws 'n volgeling van Christus, maak die biologiese afsterwe van 'n mens nie anders nie, veral as daar ernstige siekte by betrokke is. Beide was ouderlinge maar hul geloofslewe en ervaring was totaal verskillend.

  • Die woorde van Paulus herinner ons daaraan dat ons uitgenooi is om uit ’n ander venster te kan kyk as net die van ons sintuie. Die lewe wat ons lei terwyl ons nog asemhaal is net ’n klein deel van die hele prentjie. Soos ek dit verstaan is dit die krag van God se liefde wat die dood oorwin. Vir Christene is dit die oorsprong van hulle Hoop. Die pad na Verligting {Enlightenment} van verskillende ander gelowe beklemtoon soortgelyke oortuigings. Dit is die vak van ’n hele ander boek. Die menslike realiteite, in my opinie, kom voor die geloofsoortuigings. Duidelik is die tyd voor ’n mens se dood, in die geestelike realm, ’n potensiale heilige tyd ,alhoewel dit baie kompleks, moeilik en skrikwekkend kan wees. Die uitdaging is om teenwoordig te wees vir die persoon in die besondere omstandighede waarin hulle hul bevind. Dit gaan nie oor onsself en ons geloofsoortuigings nie ... dit moet van diep in hulle na vore kom. Die gewaarwording van liefde, vergifnis, dankbaarheid en hoop kan gebeur terwyl ons in gesprek met mekaar is.

  • Dankie Peter,
    Dit was nog altyd my oortuiging dat ons nie in waterdigte kompartemente lewe nie, realiteit kan dus nie voor geloofsoortuigings kom nie, maar gaan eerder hand aan hand, want geloof in die lewe en sterwe en opstanding van Christus is ‘n realiteit in enige Christen se lewe, want sonder dit is sy eie opstanding tot ‘n nuwe lewe na sy aardse lewe nie moontlik nie.
    Ek word dus ook gelowig, dws neem Jesus Christus as my enigste Verlosser en Saligmaker aan binne die realiteite van my lewe wat dus ook geboorte en sterwe insluit. Ek sou dus nooit geboorte as natuurlik en afsterwe as onnatuurlik beskryf nie, alhoewel 'n mens op 'n onnatuurlike wyse kan sterf. Slegs Christus is op ‘n bonatuurlike wyse verwek en het so mens geword en het op 'n onnatuurlike wyse gesterf, sodat sy onnatuurlike dood vir ons 'n deurgang na 'n ewige lewe geopen het.
    In Galasiërs 2 tik Paulus vir Petrus oor die vingers omdat hy nog aan ou gewoontes en dus ook ou geloofsoortuigings vasklou met die woorde: Geloof bring ’n mens in die regte verhouding met God
    15Ons is Jode al van ons geboorte af en nie ’n klomp sondaars wat God glad nie ken nie. Tog is ons glad nie God se witbroodjies nie.
    16Want niemand kan in die regte verhouding met God kom deur sy wet te gehoorsaam nie. Dit help niks nie. God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het. Die wet van Moses kon dit nie regkry nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom bloot net deur die wet te probeer gehoorsaam nie.
    17In ons pogings om Christus se vryspraak deelagtig te word, het ons ontdek dat ons sondaars is wat onsself glad nie kan red nie. Beteken dit dan dat Christus nou nog ’n slaaf van die sonde is omdat Hy in ons plek vir ons sondes gesterf het? Nee, natuurlik nie! Hy het mos kant en klaar die prys vir die sonde namens ons betaal.
    18As ek dan nou nog, nadat Christus dood is en weer lewendig geword het, op my eie by God probeer uitkom, wys ek dat ek net mooi niks van die goeie nuus verstaan nie. Dan is ek steeds skuldig voor Hom.
    19Maar gelukkig is ek nou dood vir die wet. Al het die wet my skuldig verklaar omdat ek dit oortree het, leef ek nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom daar vasgespyker. Daarom is ek nou ’n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my.
    20Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer.
    21Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood.

  • @FC Boot: Enkele opmerkings. Daar is geen wetenskaplike bewyse dat daar 'n hiernamaals is of dat “God” mense se sondes afskryf as hulle in “Jesus Christus” glo nie. (1) Wat is die situasie met volwassenes wat geen of beperkte toerekeningsvatbaarheid en kognitiewe kapasiteit/vermoëns het? As hulle nie “kan” glo nie, word hulle sondes nie afgeskryf nie? (2) Waarom “skep” God 'n mensdom vol sonde (wat hy toegelaat het om te gebeur vgl die verhaal vd sondeval), en dwing hulle dan om te glo in Jesus Christus alvorens hy hulle sondes afskryf? Waarom nie net bewys lewer aan die mensdom van sy bestaan nie en so verseker dat almal/meeste in sy bestaan glo? (3) Buite-aardse lewe is waarskynlik moontlik onder dieselfde biologiese omstandighede as hier op aarde. Dink jy daar het vir daardie wesens ook iemand fisies gesterf en word hulle ook gedwing om te glo aan 'n wese alvorens hulle sondes afgeskryf word? (4) Daar is al met redelike groot sekerheid bewys dat mense met 'n areligieuse ingesteldheid wetsgehoorsaam en volgens goeie morele en sedelike waardes kan lewe an funksioneer. Gaan diesulkes se sondes nie afgeskryf word nie omdat hulle nie glo in Jesus Christus nie? Christenskap en hierdie tipe geloof is duidelik nie 'n voorvereiste vir 'n lewe met hoë morele en lewenstandaarde nie.

  • Dankie Werner
    Geloof het niks met die wetenskap te doen nie. In die Bybel A tot Z word geloof soos volg omskryf: ”Geloof behels dat ‘n mens jou vertroue stel op dit wat Christus reeds vir jou gedoen het. Dit behels egter ook dat jy jou hoop vestig op dit wat Hy nog in die toekoms vir jou gaan doen. Geloof werk ten opsigte van God in jou lewe soos ‘n transportakte ten opsigte van eiendom werk: dit waarborg jou dat jy die besitter is van God se beloftes. Soos wat ‘n transportakte geld al het jy die eiendom nog nie gesien nie, so ook God se beloftes oor al die heerlike dinge wat ons nog gesien het nie.”
    Onthou verder die skeppingsverhale soos dit opgeteken is in Genesis word geplaas in vyf boeke ook na verwys as die Boeke van Moses of die ‘Torah’ wat die grondslag van die Judaïsme is. Dit beteken nie dat Moses letterlik al die boeke geskryf het nie.
    So word die Eerste skeppingsverhaal geskryf in die tydperk 586-539 vC, dws tydens die Joodse ballingskap. Die tweede speel af in die landbougemeenskap in die koningstydperk voor die ballingskap. Beide verhale beskryf God se skeppingsaktiwiteite.
    Ons het dus nie hier met ‘n werklike verhaal te doen van hoe alles tot stand gekom het nie, maar wel met die openbaring van die WIE, die Oorsaak waardeur alles tot stand gekom het.
    Die bannelinge tree dus met die mense in wie se land hul bannelinge is in gesprek, net soos ons vandag met mekaar praat. Hulle het waarskynlik begin deur vir die mense te vertel dan daar net een heelal is en Een Skepper. Dus een Oorsaak met een gevolg en nie baie skeppers en baie gevolge soos dit in die Babiloniese skeppingsverhale aangetref word.
    Wat ‘n mens onmiddellik opval dat die mens die laaste op die toneel verskyn en dan as die primêre oorsaak na vore tree hoekom dinge skeefloop. Dit loop skeef omdat die mens die mens in die eerste plek iets vir homself toe-eien wat nie syne is om te besit nie.
    Die mens kyk en begeer. Dit lei later tot sy verbanning en word hy teruggeplaas in die wêreld waaruit hy gevorm en geneem is om in die tuin geplaas te word In die tuin kon hy in noue verbintenis met sy Skepper leef en wandel as hy net gelowig aan sy Skepper se woord gehoorsaam gebly het.
    God het dus mense geskep wat keuses kon uitoefen. Dit is teenstelling met al die diere wat geskep is in die eerste skeppingsverhaal. Hulle word nie verban nie, maar bly voortbestaan in die habitat waarin hul geplaas is.
    Ons weet uit die wetenskap dat dinge anders tot stand gekom en ontstaan het as wat dit in die skeppingsverhale beskryf word. Daar is dus nie ‘n letterlike ses-dae-skepping en 6000 jaar oue aarde nie.
    Daarom is die ou testament die geskiedenis van die Jode en hul verhouding met God en Sy verbond met hulle. Die nuwe testament is die verbond en die geskiedenis van die Christene, volgelinge van Christus wat deur sy lewe, sterwe en opstanding en opvaring die primêre bewys van ‘n lewe in die hiernamaals is.
    Ek neem aan dat jy ‘n ateïs is. Jy kan dus “An Atheist Historian Examines the Evidence for Jesus” op die web opspoor en lees ‘n webblad soos Fact and Faith besoek. Ons weet ook uit die wetenskap dat die heelal wat bestaan in ‘n oneindigheid stadig maar seker al hoe groter uitdy en die maan 2cm per jaar verder van die aarde af weg beweeg en ons ster die son ook net ‘n beperkte leeftyd het. Alles wat dus ‘n begin het het dus ook ‘n einde. In Openbaringe kry ‘n mens ‘n vooruitsig van die einde.
    Om dus na lewe of ‘n ander planeet vir bewoning te soek is dus ‘n futiele oefening, want aan alles kom ‘n einde. Die vraag is en wat dan? Dit word beantwoord in die Bybel.
    Wat is nou eintlik sonde? Bestaan sonde dan net uit dade en word net diegene wat uitgevang word veroordeel en gestraf? Nee sonde begin in ons gedagtes in die onsienbare wêreld. Die mens in die paradys het nie net volgens instink opgetree nie .Nee die mens het eers gesien, gedink en toe gehandel.
    Daarom kan uiterlike lewenswyse waarvan sommige Joodse leraars sulke groot voorstanders van was jou nie red nie. Ek is seker jy het teen hierdie tyd ‘n besluit geneem oor dit wat jy lees.
    Omdat alle omgekeerdes nie waar is kan ‘n mens nie sê dat die uiterlike vertoon die innerlike weerspieël nie. Jesus het hom dikwels die gramskap van die Fariseërs en ander wetsgeleerdes op die hals gehaal omdat hy hulle uiterlike vertoon ontmasker het.
    In God se koninkryk is daar plek vir almal ook vir mense met beperkte denke en insig. Die voorvereiste is die aanvaarding van Jesus Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker.
    Dus al glo jy as ‘n kind sal God jou nooit verwerp nie. Daarom doop ons ook babas want so word hul deel van die nuwe verbond en kan hul later as hul tot hul volle verstand gekom het ‘n besluit oor hul verhouding met Jesus Christus neem.

  • Beste Werner, jy het jou nou in 'n ding gelaat. Verwag binnekort ellelange Bybelse aanhalings van FC Boot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top