
Vanjaar se Toyota US Woordfees-tema was “Borrel” en wat ’n beter manier om te borrel as met borrels in jou glas?
Die wenners van die 2023-Woordtrofees-toekennings is gisteraand by die Oude Libertas-amfiteater bekend gemaak. Die wenners het elkeen ’n oorkonde en ’n bedrag geld ontvang. Gaste is voor die oorhandigings op vonkelwyn en snoepgoed getrakteer, terwyl die klanke van die SU Jazz Band almal vermaak het.

Wat sou die fees sonder borge wees? Marion Dixon (Strauss & Co), Lettie Labuschagne (Toyota SA) en Marlise Serfontein (Woordfees-borgskap en handelsmerkbestuurder).
Rudolf Gouws, voorsitter van die Woordfees Advieskomitee, het die span gelukgewens en gesê: “Dit was ons beste fees nog ooit.”

Frazer Barry (heel regs) wen vanjaar se In Verbondenheid-prys. By hom staan Ricardo Arendse en Deniel Barry, Frazer se vrou.
Hoewel daar ’n lekker feestelike atmosfeer was danksy die kwinkslae van komediant Nik Rabinowitz met pittighede soos: “Ek het nooit gedroom daarvan om ’n seremoniemeester in Afrikaans te word nie. Toe ek 12 was, wou ek ’n Afrikaanse rugbyspeler word”; of: “Sorry for not being woke, young people. We only had three genders in 1988: male, female and Boy George” was die gevoel rondom die fees ’n perd van ’n ander kleur.

Lee-Ann van Rooi was verlede jaar die ontvanger van die In Verbondenheid-toekenning en vanjaar genomineer vir beste akteur (vroulik), vir haar rol in The Woman Who Fed the Dogs, en Lara Hattingh ontvang die Woordtrofee vir beste prestasie (fringe) vir Byster.
Die algehele boodskap van die feesdeelnemers en organiseerders was een van ’n erg onderstebo wêreld. Die rol van die kunste is nou belangriker as ooit, het vele sprekers beklemtoon. Saartjie Botha, Woordfees-direkteur, het onder meer gesê: “Ons moet nou die kunstenaars instuur. Politici het gefaal.”

Frieda le Roux van Penguin Random House en Marchelle van Zyl, wat vereer is met beste prestasie in kunsjoernalistiek (INK-feeskoerant).
Nico Koopman, adjunk-vise-rektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel by die Universiteit Stellenbosch, het die belangrike rol wat kunstenaars in SA en vir transformasie speel, benadruk. “Een van die belangrikste eienskappe van ons demokrasie is dat hierdie land ’n veilige tuiste bied, met regverdigheid, heling, vryheid en gelykheid vir almal.

Die vegetariër en sy teaterspan is in verskeie kategorieë genomineer en in twee kategorieë vereer: Beste prestasie: tegnies – stel, beligting, ontwerp en beste toneelproduksie (Jaco Bouwer). Van links staan Hilton Pelser, Melissa Myburgh (wat genomineer is as beste akteur: vroulik), Jaco Bouwer (wat genomineer is in die kategorie beste regisseur) en Tinarie van Wyk Loots (wat ook genomineer is vir haar rol in dié toneelstuk in die kategorie beste akteur: vroulik).
“Maar ons is ook in ’n baie brose tydperk van gebrokenheid en ons kunstenaars help ons om heling te bewerk. Julle is agente van heling in ’n stukkende tyd. Julle is self gewonde helers. En hoewel julle nie altyd kan kuur nie, kan julle omgee. ‘I cannot always cure but I can care.’”

Matthew Ogden, Emma Kotze (genomineer vir beste ondersteunende akteur: vroulik vir haar rol in Goed wat wag om te gebeur), Louis Viljoen en Barbara Loots.
Gillian Mitchell was die sameroeper van die Woordtrofees-beoordelaarspaneel, wat bestaan het uit Christiaan Boonzaier, Wendy Crowley, Gustav Franzsen, Kobus Hanekom, Robert Hindley, Suzaan Keyter, Barbara Loots, Mannie Manim, Jackie Manyaapelo, Jill Markram, Wayne Muller, Royston Stoffels, Tsholo Tshilwane, Naudé van der Merwe, Herman van der Westhuizen, Brechmari van Wyk en Ina Wichterich.

Graeme Lees, Vasti Zeeman-Knoesen en Gideon Lombard (genomineer vir beste akteur: manlik vir sy rol in Goed wat wag om te gebeur en regisseur van Karatara wat as beste dansproduksie aangewys is).
Sy het vertel dat daar vanjaar 640 unieke produksies by die Woordfees was. Die paneel het 135 produksies in ses genres gesien. “Gewoonlik ry ek op daardie laaste Sondagaand huis toe met ’n vol hart, positief oor die kunste en die lewe. Hierdie jaar was dit egter anders. Die wolk wat oor alles hang, is die konstante skade wat mense aan mekaar doen. Kunstenaars se uitdaging is nou groter as ooit tevore. Julle moet die lig wees wat ons vorentoe lei.”

Eben Genis wen beste byspeler: manlik vir sy rol in Mirakel en by hom staan Gita Fourie.
Een na die ander het ontvangers van die Woordtrofees hierdie woorde ge-eggo. Amanda Strydom praat reguit na Koopman en sê: “Jy het my hart laat breek én sing. Ek is ook ’n gebroke heler. Ek is nie meer hier om die lig te soek nie. Ek wil die lig wees.”

Frank Freeman en Amanda Strydom wat die Woordtrofee ontvang het vir beste prestasie: kontemporêre musiekproduksie – solo/duo vir Amber/Ombré.
Met die oorhandiging van die In Verbondenheid-toekenning aan Frazer Barry het Saartjie gesê die Toyota US Woordfees gee met die In Verbondenheid-prys erkenning aan rolspelers wat in die kunste oor grense, onvermoeid en dikwels vir min of geen vergoeding werk om groter sosiale kohesie te bewerkstellig. “Frazer is ’n kampioen in ons WOW-skole. Dankie vir alles wat jy doen om SA ’n beter plek te maak.”

Jill Levenberg wen die Woordtrofee vir beste byspeler: vroulik vir haar rol in Droomwerk. By haar staan Tania Prince.
Frazer het met die ontvangs gesê: “SA is ’n lekker land. Drie vroue en een man het my gevorm: My enkelma wat my met boeke gevoer het waarin ek kon ontsnap; my ouma was ’n fantastiese storieverteller; my vrou, Deniel, wat net altyd daar is en my ondersteun; en my oupa, die vermaaklikheidsou.
“Die sentiment van vanaand is daar is lig en daar is moontlikhede. My ma het my geleer: Jou geld behoort aan jou, want jy het daarvoor gewerk, maar jou koskaste behoort aan almal.
“Laat ons die koskaste oopmaak vir mekaar.”

Dis net die komediant Nik Rabinowitz wat kan wegkom met grappies wat beslis nie “woke” of polities-korrek is nie. Hy was die aand se seremoniemeester.
Die wenners is...

Gillian Mitchell was die sameroeper van die Woordtrofees-beoordelaarspaneel.
Boeke
- Topverkoper (Nie-fiksie): I Am Ella – Joanne Jowell
- Topverkoper (Leefstyl): Coloured: How Classification Became Culture – Tessa Dooms & Lynsey Chutel
- Topverkoper (Poësie en algeheel): Soekenjin – Bibi Slippers
- Topverkoper (Fiksie): Laaste kans – Marita van der Vyver
Klassieke musiek
- Beste prestasie (Klassieke musiek – Vokaal): As ek… – Minette du Toit-Pearce, Pieter Grobler
- Beste prestasie (Klassieke musiek – Instrumentaal): Variations on Virtuosity – Megan-Geoffrey Prins

Felicia Lesch het die In Verbondenheid-pryserkenning in 2019 ontvang en vanjaar was haar laaste Woordfees verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Musiekdepartement. Die prys vir beste prestasie: kontemporêre musiekproduksie – groep/ensemble het aan Effervescence: Xamisa, iKapa, Kaapstad van die SU Jazz Band gegaan, waarvan sy die dirigent
Kontemporêre musiek
- Beste prestasie (Kontemporêremusiekproduksie – solo/duo): Amber/Ombré – Amanda Strydom
- Beste prestasie (Kontemporêremusiekproduksie – groep/ensemble): Effervescence: Xamisa, iKapa, Kaapstad – SU Jazz Band
Dans
- Beste prestasie (Dans): Karatara – Shaun Oelf, Grant van Ster, Dean John Smith
Beste opkomende kunstenaar
- Beste opkomende kunstenaar (Klassieke musiek): David Cyster – Beethoven Triple Concerto
- Beste opkomende kunstenaar (Kontemporêre musiek): Melisizwe Plaatjie – Effervescence: Xamisa, iKapa, Kaapstad
Spesiale toekennings

Die WOW-skool van die jaar gaan vanjaar aan Bastiaanse Sekondêr (Beaufort-Wes, Noord-Kaap).
- In Verbondenheid-toekenning: Frazer Barry. (Vorige wenners is Simon Witbooi (Hemelbesem) in 2017; Janine Neethling in 2018; Felicia Lesch in 2019; Amelda Brand in 2020; Geen toekenning in 2021 en Lee-Ann van Rooi in 2022.)
- WOW-onderwyser van die jaar: Alicetine Fredericks (Kroneberg Primêr, Oos-Kaap)
- WOW-skool van die jaar: Bastiaanse Sekondêr (Beaufort-Wes, Noord-Kaap)
- Beste prestasie in kunsjoernalistiek (INK-feeskoerant): Marchelle van Zyl
- Feeshelde: Retha Bornmann & Monique Bowes
Toneel
- Beste prestasie (Tegnies): Die vegetariër – Stel, beligting, ontwerp
- Beste prestasie (Fringe): Byster – Lara Hattingh
- Beste prestasie (Kinderteater): The King of Broken Things – Cara Roberts, Michael Taylor-Broderick
- Beste byspeler (Manlik): Eben Genis – Mirakel
- Beste byspeler: (Vroulik): Jill Levenberg – Droomwerk
- Beste speler (Manlik): Mark Elderkin – A Midsummer Night’s Dream
- Beste speler (Vroulik): Sandra Prinsloo – Master Class
- Beste prestasie (Solo): Kim Blanche Adonis – My Fellow South Africans
- Beste ensemble: Droomkraan kronieke – Geselskap
- Beste regie: Geoffrey Hyland – A Midsummer Night’s Dream
- Beste toneelproduksie: Die vegetariër – Jaco Bouwer

’n Jolige klomp van die Magnet Theatre wat die lieflike Stellenbosch-aand geniet.
Foto’s: Clifford Roberts