Woordfees-onderhoud: Pieter Odendaal gesels oor Transkripsie

  • 0

Pieter, vertel ons meer van Transkripsie. Die program beskryf jou collaboration met Bateleur as klankdigte / rap tracks / mondmusiek. Hoe het hierdie gedigte/musiek tot stand gekom, en watter tipe klank kan die gehoor te wagte wees?

Foto: Retha Ferguson

Nadat ek die kortfilm A procura de Pancho gesien het, wat handel oor die Mosambiekse argitek en kunstenaar Pancho Guedes en waarvoor Bateleur die musiek geskryf het, het ek onmiddellik geweet dat ek saam met die band wil werk. Die emosionele landskap van Bateleur se werk resoneer baie mooi met dit wat ek in my gedigte probeer doen, so ek het hulle genader om ’n vertoning saam met my by die Woordfees te doen. Hulle het om ’n tafel van vetkoek en rooiwyn ingestem om deel te wees van Transkripsie, and the rest is history.

Die skeppingsbeginsel wat ons gerig het, is om soveel as moontlik fun te hê en om die musiek en woorde met mekaar te laat praat. In sekere gevalle het die gedigte die musiek voorafgegaan en in ander het die gedigte ontstaan as antwoord op die musiek. Die klanke wat uit hierdie huwelik gebore is, wissel van ’n elektroniese storm op ’n MPDpad tot rock met ’n knippie hip-hop, en tussendeur kan mens ook die ukulele, trompet, kora en darbuka hoor.

Ander kunstenaars het ook intussen deel geword van die show, insluitende Max Basler, Daniel Breiter en Prophecy. Ek en Annel Pieterse gaan ook een of twee van ons vertalings in tandem voordra.
 

Is daar 'n deurlopende tema in die gedigte wat jy gekies het om deel te vorm van die produksie?

In navolging van die Woordfees se groen tema het ek aanvanklik gewerk met die idee dat die gedigte uitsluitlik oor die biologiese wêreld en ons onlosmaaklike verbintenis met alles wat krioel, sou handel. Gedigte wat handel oor mensdiere en hulle klein harte het egter ook intussen hul koppe uitgesteek.


Waar kom die titel vandaan?

In die eerste plek is transkripsie die biochemiese proses waarvolgens die inligting wat in DNA gestoor is, gekopieer word en uiteindelik deur ribosome in elke lewende sel gebruik word om proteïene te vervaardig. Transkripsie is dus die eerste stap in die bouproses wat verantwoordelik is vir die oprigting van die lewende geboue wat ons plante en diere noem.

In die tweede plek is transkripsie ook die oorsetting van ’n musiekstuk van een instrument na ’n ander. In ons geval gaan dit oor die transkripsie van die stempartituur van die gedig op die bladsy na die instrumente op die verhoog.

Is daar invloede van ander skrywers en bands te bespeur?

As jy van Breyten se mondmusiek, The Buckfever Underground, Saul Williams, Bittereinder en Tumi and the volume se rustiger tracks hou, sal jy eggo’s van al hierdie performers in die vertoning kan hoor.

Dink jy dat daar ’n mark vir vertonings soos Transkripsie is?

Vir seker. Baie jongmense wat ek ken, is honger vir poësie, maar vind dit moeilik om ’n ingangspoort tot die (dikwels geslote) wêreld van digbundels te vind. Met Transkripsie hoop ek om gedigte oop te maak en in ’n vorm aan te bied wat tot meer as die handjievol lesers wat nog Afrikaanse digbundels koop, sal spreek. Die wegholsukses van Bittereinder getuig ook van ’n hongerte wat veral jongmense het om poësie te beluister. Dis seker ook so ’n bietjie arrogant om te dink dat ’n ongepubliseerde nuutjie soos ek ’n gehoor sal trek, maar ek maak maar staat op die welwillendheid van my vriende en die fans van Bateleur om die stoele vol te sit. 😉

Lees Pieter Odendaal se gedig "Meiose," wat deel van die Transkripsie-program vorm, hier.

BATELEUR THANKS,INDIA from nicokrijno on Vimeo.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top