Woordfees-onderhoud: Nuwe Stemme 5

  • 0

Loftus  Marais en Heilna du Plooy is die samestellers van Nuwe Stemme 5, die jongste bundel in Tafelberg se reeks wat ’n platform skep vir voorheen-ongepubliseerde digters.  Bibi Slippers het Loftus uitgevra oor die projek, en ook by Chris le Roux, digitale bemarker by NB Uitgewers, gaan uitvind oor die Nuwe Stemme 5 Facebook-groep.

Loftus Marais, samesteller

Loftus, jy was ook eenmaal ’n nuwe stem – hoe het die storie van jou eie digterskap begin?

Ek het maar geskryf in oop tydjies terwyl ek ’n student was. In die koshuiskamer. In Humarga, tussen opstelle. Ek was ook deel van Ronel de Goede se skryflaboratorium in my derde jaar. En toe skryf ek vir Nuwe stemme 3 in. Antjie Krog en Alfred Schaffer (die samestellers) was gewoon fenomenaal. Ek dink die belangrikste ding wat ek met die NS3-proses geleer het, is dat daar niks kosbaars of “heilig” aan ’n mens se (gewoonlik hoogs persoonlike) gedigte is nie – hulle is vormbaar, hulle is veranderbaar, hulle is nét woorde. Daarna het ek my MA in kreatiewe Afrikaanse skryfwerk onder Marlene van Niekerk voltooi.

Jy is een van die groot suksesverhale wat in die Nuwe Stemme-reeks gedebuteer het.  Watter ander digters het ná Nuwe Stemme in regte egte digters ontwikkel? Het jy gunstelinge onder die Nuwe Stemme wat nou al gesoute kunstenaars is?

Ek lees hulle almal: Martjie Bosman, Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais, Ronelda S Kamfer, Jasper van Zyl en Fourie Botha. Maar ek dink gereeld aan Tertius Kapp en Toast Coetzer, en hoe lekker dit sal wees om hulle debute te lees.

Kan jy ons effe meer oor die geskiedenis van die Nuwe Stemme-reeks vertel?

Die eerste een het in 1997 verskyn, met George Weideman en Anastasia de Vries as samestellers. In 2001 was dit Petra Müller en Nèlleke de Jager; 2005 Antjie Krog en Alfred Schaffer. En in 2010 Danie Marais en Ronel Foster. Dalk sal dit ook interessant wees vir voornemende digters om te gaan kyk na vorige samestellers se eie “kunsteoretiese” verse. Soos Petra Müller se fantastiese “Monet en die mied”, of Antjie Krog se “Skryfode”, of Danie se “Wat swak gedigte weet”. En Marlene van Niekerk se “Vir waterplas en sterre” is in die kleine ’n hele kursus in die skryf van die natuurvers. Die lees van poësie is in elk geval die beste manier van jou skryfwerk verbeter.

In die voorwoord tot Nuwe Stemme 4 skryf Danie Marais en Ronel de Goede: "Om in te skryf vir ’n bloemlesing soos die sonder om vertroud te wees met die stand van eietydse digkuns, is om te glo jy kan sinvol bydra tot ’n gesprek wat jy hoegenaamd nie gevolg het nie." Watter boeke sou jy aanbeveel as essensiële leesstof vir digters wat dit oorweeg om in te skryf vir Nuwe Stemme 5?

As jy nie weet wie Ronelda S Kamfer is nie, moet jy ernstig worry oor die moontlike sukses van jou inskrywing. Indien jy nie een of ander uitgawe van Groot verseboek besit nie, moet jy ook worry. Maar sê nou maar jy stel belang daarin om uit te vind hoe gedigte wérk en op soek is na ’n basiese inleiding tot wat dit is wat gedigte eintlik op grondvlak aanvang, lees Brake, Blow, Burn van Camille Paglia, of selfs Ruth Padel se 52 Ways Of Looking At A Poem en die opvolg daarvan. Of AP Grové se Woord en wonder. Of dalk ook iets soos TT Cloete se Gids by DJ Opperman se Senior verseboek.

Waarvoor gaan jy spesifiek op die uitkyk wees wanneer jy jou keuse maak uit die gedigte wat vir Nuwe Stemme 5 voorgelê word? Wat is die eienskappe van ’n uitstaande gedig?

Mens moet natuurlik nie die lees van verse met te veel vooropgestelde idees aanpak nie. Jy kyk dalk net dan die wáre nuwe digter mis. Ek kan nou nie onthou wie dit was wat die volgende gesê het nie, maar dis nogal akkuraat: ’n goeie gedig leer vir jou binne sy eie verloop die reëls vir sy eie poëtika en hy beoefen dan ook daardie poëtika na die letter van sy eie wet. Ek weet dis ’n ietwat retoriese antwoord, maar dit is die naaste wat ek aan een kan kom. Ek voel ook die woord “stemme” in die titel is ’n sleutel: daar moet ’n eie stem hoorbaar wees, trekke van ’n vars poëtiese identiteit of manier van kyk, van skakel met die wêreld se dinge.

Daar is vanjaar ook ’n Nuwe Stemme-Facebook-groep. Kan jy ons meer oor hierdie inisiatief vertel? Gaan julle terugvoer gee aan die digters wat hul verse op Facebook post, of is dit net daar vir kommentaar deur ander digters wat aan die groep behoort?

Die oop Facebook-groep, wat tans aan die gang is, ontvang geen kommentaar van my en Heilna nie. Daar sal egter ná die amptelike inskrywings ’n tweede, geslote groep van 30 genooide digters wees, en ek en Heilna sien uit na die gespreksmoontlikhede wat hierdie tipe platform bied. Ek is nie ’n Facebooker nie. Tog dink ek strook dit met die gees van ’n bloemlesing soos hierdie: om die nuwe, die kontemporêre, te betrek. Iets daarvan te maak.

Chris le Roux, digitale bemarker by NB Uitgewers

Wat was die motivering om vanjaar ’n interaktiewe platform op Facebook te begin vir voornemende deelnemers aan Nuwe Stemme 5?

Ons wou groter blootstelling gee aan dié projek om sodoende ‘n groter groep deelnemers te bereik. Ons wou ook die projek meer deursigtig maak vir voornemende deelnemers. En verder is sosiale media so ‘n geskikte platform om lesers en skrywers se aandag te prikkel en hulle ‘n plek te gee waar hul kan baljaar.

Wat was die reaksie tot dusver? Hoeveel lede het die groep en hoeveel van hierdie lede pos aktief gedigte?

Oorweldigend positief. Ek sou skat ongeveer meer as die helfte van die lede het al gedigte gepos.

Kry die groeplede enige reaksie op die verse wat hulle op Facebook plaas?

Mense kry heelwat kommentaar van ander deelnemers, maar die samestellers raak eers later betrokke. Mense gee mekaar goeie terugvoer en sê as hulle van iets hou.

Hoe vorder die inskrywings tot dusver? Is julle tevrede met die aantal inskrywings wat julle tot op hede ontvang het?

Dit vorder fluks. Die reaksie is bo verwagting tot dusver en sal seker verder toeneem hoe nader dit aan die sluitingsdatum kom.

Hoe klink Nuwe Stemme?  Kom vind uit by die US Woordfees! 

Nuwe stemme 5
Die inskrywings vir Nuwe stemme 5 sluit binnekort. Kom luister na digters wat in dié bekende Tafelberg-reeks gedebuteer het, soos Melt Myburgh, Fourie Botha, Danie Marais, Toast Coetzer en Bibi Slippers. Heilna du Plooy en Loftus Marais, die samestellers van die nuwe bloemlesing, gesels ook oor die opwindende projek wat voorlê.
7 Maart 18:00 | Boektent | 50min | Gratis

Keer terug na die program-indeksblad.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top