Haai Joan. Dankie dat jy ingestem het tot ’n onderhoud. Ek staan telkens verbaas oor hoe verskriklik baie jy gedoen kry – jy publiseer, doseer, resenseer, en ek hoor by heelwat van die studente wat onder jou studeer dat een van die belangrikste dinge wat hulle by jou geleer het, die dissipline is om die digwerk gedoen te kry. Waar kom hierdie geweldige werkdrif van jou vandaan, waar kry jy die energie om dit vol te hou, en tussen alles, wanneer slaap jy?
Dissipline is die wagwoord. Ek staan in die oggende op en oefen vir 40 minute tuis op my oefenfiets, lees e-posse, en terwyl ek oefen, kyk ek ’n Hitchcock-film, of iets wat my interesseer: The pervert’s guide to the cinema van Žižek. Dan gee ek klas, lees en skryf resensies. Artikels. Saans lees ek. Vir my is die grootste sonde om my tyd te mors. Ek werk baie gedissiplineerd. Ek skryf tans ’n lang studie oor die digkuns, en ’n filmboek. Daar is ook ’n boek oor Wallace Stevens en ’n nuwe digbundel waaraan ek werk. Verder lees ek teorie en ander digters. Vroegaande ontmoet ek ’n digter of advokaat, en ek ontspan darem ook.
My mantra is: kom tot die punt, en op my kantoordeur staan: “Klop en wag.” As jy my tyd mors, gaan ek beslis nie sit en toekyk hoe jy dit doen nie. Ek het geweldig baie energie, ja. Dis in die gene.
![]() |
|
Joan Hambidge in Zanzibar
|
Jy gaan vanjaar aan ’n paar items by die Woordfees deelneem. Buiten die gesprek oor jou eie bundel wat binnekort verskyn, gaan jy ook ’n oorsig lewer oor die werk van TT Cloete, een van die groot geeste op wie die Woordfees vanjaar spesiaal gaan fokus. Hoe berei jy jouself voor vir hierdie enorme taak? En kan jy vir ons lesers in ’n neutedop vertel wat jy as Cloete se grootste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde beskou?
Ek ken Cloete se werk goed. Ek het al ’n keur uit sy werk saamgestel (Die baie ryk ure) saam met ander literatore en so pas het ek sy jongste bundel gelees, Onversadig, wat gewoon verbysterend is. Ek kyk na sy “identikit”: hoe lyk sy digterlike handtekening …
Wag, ek wil nie sommer my lesing nou weggee nie!
By verlede jaar se Woordfees het jy ’n gesprek gevoer met Fanie Olivier, en jou respek vir sy digterskap het my daar opgeval en bygebly. Ek het ook onlangs jou artikel oor jou ervarings as student van DJ Opperman gelees en dit baie interessant gevind. Buiten Olivier en Opperman, watter ander Suid-Afrikaanse digters het die grootste impak op jou ontwikkeling as digter gehad? Is daar internasionale digters wat jou ook soveel beïnvloed het?
Ek hou van Breytenbach en Cloete, Opperman en Van Wyk Louw, Pinsky en Auden. Ek dink Robert Lowell is fantasties – en Carol Ann Duffy is meesterlik. Eybers is ’n ewige ikoon. Maar so ook Emily Dickinson.
Veral die Ooskus-Amerikaanse digters het ’n impak op my gehad. Twee bundels het hier hul beslag gekry: Hartskrif en Ruggespraak. Ek sorg vir reisvergunnings, dan doen ek navorsing daar en gedigte is altyd die onverwagse stempel op die poskaart.
Daardie landskap praat met my.
Ek lees tans die jongste Breytenbach-bundel, Die beginsel van stof, en vind dit beeldend sterk.
Die afgelope jaar het jy agt gedigte op LitNet gepubliseer oor plekke waar jy besoek afgelê het “per trein, per boot, per voet en per gedig”. Hoe gereeld reis jy en het jy ’n gunsteling-stad of -bestemming? Inspireer jou reise jou om te skryf, of dryf skryf jou tot ontsnappingsreise?
Ek reis twee keer per jaar oorsee of buitelands. Reis is altyd ’n inspirasie vir my. Soms ontstaan die gedigte lank na die reis, soos my verse oor Kuba. Ander kere gebeur dit in ’n hotelkamer waar die gedig ’n verwerking is van die teenstrydighede wat ek ervaar het. Soos nou onlangs toe ek ’n internasionale Komparatisme-kongres in Seoel bygewoon het. Ek het oor Wallace Stevens gepraat.
’n Gunstelingstad?
Waarskynlik ’n stad wat in jou geheue bly nawerk na jy vertrek het. Beslis New York en Hongkong dan.
En gewis Nagasaki en San Francisco.
Jou jongste bundel, Visums by verstek, verskyn eersdaags by Human & Rousseau en bevat reisgedigte. Wat kan Hambidge-fans van die bundel verwag? Slaan jy enigsins nuwe rigtings in jou digterskap in met hierdie versameling, en is daar ’n aspek van die bundel waaroor jy besonder opgewonde is?
Dit bevat ’n keur uit bestaande reisgedigte wat reeds in bundels verskyn het en ’n handvol splinternuwes.
Tokio æ±äº¬éƒ½
Op ’n oggend staan ek in die vismark,
sien hoe tuna, nori en aji uitgestal lê.
’n Bedrewe visserman, in geel rubberstewels,
vlerk ’n vis bek-oop met een haal.
Uit sy pens tuimel daar binnegoed
en ’n bloederige stank. Ook herinneringe
uit ’n diepsee-bestaan, volledig áfgesluit
van aardbewings of reënende bomme.
Berg Fuji ken hy nie en ’n ligte sneeuval
(nes sagte dons oor die oseaan) bly iets vreemds.
Edu se lugbesoedeling het hom nooit gekwel nie.
Hy was eens soos ’n vis in die water.
Nou word hy op ys gegooi vir sashimi.
Kort voor lank land hy weer in die oseaan,
in ’n opgebreekte vorm – volledig ont-vis –
reisend van die hand na die mond: tot uitskot.
Daar is ook verse wat deur die jare in rubrieke en in koerante verskyn het.
![]() |
|
Die omslag van Visums by verstek. Foto van Machu Picchu deur die digter.
|
Terwyl die Woordfees-tema vanjaar aan die kwessie van identiteit raak, kan jy vir ons lesers vertel wat jou gedagtes rondom reis en die formasie en konstruksie van identiteit is? Is identiteit ʼn belangrike tema in jou werk, en hoe verwoord jy die verband tussen reis en identiteit in Visums by verstek?
Identiteit is ’n belangrike kwessie in my digkuns. Ek dink mense wie se identiteit as jong kinders onderdruk of negeer is, sal altyd daarmee worstel.
Fanie Olivier se bundel Gom uit die sipres het ek as jong kind gelees en sy reisverse het my beïnvloed. Om alleen te reis. Ek het baie in my lewe gereis om weg te vlug van pynlike ervarings. Van die VSA, Suid-Amerika, die Skandinawiese lande, Europa, Rusland, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Japan, Sjina, die Britse Eilande, Kanada, Indië, Korea, onder andere – en later Afrika: Egipte, Marokko, Zanzibar, Kenia.
Reis en identiteit? Die stad word ’n soort “objective correlative” waarteen jy jou emosies afkaats. Om te reis veroorsaak dat jy dikwels meer met jou jy-heid binne ’n vreemde landskap gekonfronteer word en pynlike herinneringe word opgeroep. Jy vlug in jouself in.
By my was reis altyd sterk aan- en wegbeweeg van iets of iemand, gekoppel met ’n onverwagse opvang van iets wat jy verdring of vergeet het. En dit is dáár waar jy die gedig vind.
Jy lei ook ’n gesprek met twee debutante by die Woordfees: Martina Klopper en Andries Samuel het beide onlangs solobundels vrygestel. Waaroor is jy opgewonde in die digterskappe van hierdie twee jong stemme? En waarna kan mense wat die gesprek gaan bywoon, uitsien?
Klopper se tegniese vernuf en haar vermoë om volledig eerlik - sonder om oor jou te bloei - pynlike ervarings te ontgin en in woorde om te sit. Samuel se ambivalensie en konkrete beelde beloof iets goeds.
Die gesprek sal vrae vra oor die gedigte: hoe hulle bewus of onbewus in gesprek tree met ander digters in Afrikaans en ander tale. Ook vrae oor hoekom en hoe hulle skryf.
Martina Klopper is een van die studente wat haar MA-graad in digkuns onder jou leiding behaal het. Uit die onlangse Versindaba-bundel was dit duidelik dat jy ʼn invloed gehad het in die ontwikkeling van ʼn hele handvol van die nuwe stemme wat daarin opklink. Voel jy geroep om by te dra tot skrywerontwikkeling, en is dit iets wat ook betekenisvol is ten opsigte van jou eie skryfproses?
Ek dink ’n mens leer jouself deur ander te leer. Escher se skilderende hande dalk? Die MA in kreatiewe skryfkuns is natuurlik deel van my werk. Dit word by die UK gesien as ’n erkende nagraadse kursus en studente wat aan hierdie program deelneem, word sowel akademies as kreatief opgelei. Met die bedoeling dat die portefeulje publiseerbaar sal wees na voltooiing van die kursus.
Ek probeer die digter binne sy/haar ruimte ontwikkel sodat hulle nie klone word van my nie. Carina Stander dig anders as Martina Klopper of Fourie Botha.
Ek weet dat jy groot respek het vir die werk van Johann de Lange, maar is daar ook ander kontemporêre Suid-Afrikaanse digters wat jy graag lees?
Daar is geen digters nie, alleen ’n digkuns, volgens Pablo Neruda en by ons Sheila Cussons. Ek lees alles en ek het waardering vir vele digters. My leessmaak verander voortdurend, maar ek keer by herhaling terug na klassieke digters in Afrikaans en verlede jaar was ’n besondere goeie oesjaar vir ons digkuns.
Buiten die items waarby jy self betrokke is by die Woordfees, is daar enigiets op die program wat jy vir niks sal mis nie?
Ek het nog nie tyd gehad om die program te beloer nie. Maar ek dink die Gaum-gesprek sal waarskynlik iets wees om na uit te sien!
Joan, baie dankie vir jou tyd!
|
Uit die Woordfees-program: T.T. CLOETE 86 TWEE DIGTERS DEBUTEER ’N REISIGER NA ELDERS: DIGTER JOAN HAMBIDGE PRAAT VERBY GRENSE |



