Woordfees-onderhoud: Bibi Slippers in gesprek met Pierre Lombard

  • 0

Die Kykfees is ’n nuwe inisiatief by die Woordfees en word aangebied in samewerking met Cinemuse. Kan jy ons meer vertel oor die Cinemuse-projek en wat jy daardeur wil bereik?

Bibi, baie dankie vir jou belangstelling in Cinemuse. My doel met Cinemuse is om Suid-Afrikaners bloot te stel aan verrykende films van regoor die wêreld. Dit bring balans aan die ooraanbod van hoofstroom Amerikaanse films, wat in so ’n oormaat die ontwikkeling van ’n eg Suid-Afrikaanse kultuur drasties benadeel.

Waarom is daar besluit om hierdie minifilmfees juis tydens die Woordfees aan te bied? Sluit die films wat vertoon word, enigsins by die "groen" tema aan?

a. Film is ’n vorm van ’n taal, wat hoofsaaklik in prente vertel word eerder as woorde. Dit is ’n taal wat ons almal leer ken van jongs af wanneer ons vir die eerste keer voor ’n TV of YouTube inskuif of die bioskoop besoek. Ons glo die Kykfees is dus ’n natuurlike uitbreiding van wat die Woordfees reeds doen.

b. Nie groen itv die natuur nie, maar wel groen itv “vars”– films waaraan die algemene gehoor nie sommer al blootgestel is nie.

Hoe lyk die Kykfees-program? Watter films sal vertoon word, en waar kan mense die volledige program onder oë kry?

KykNET is ons hoof borg. Hulle het ’n groot verskeidenheid films aan ons beskikbaar gestel, waarvoor hulle die regte besit. Ons is baie opgewonde hieroor, want ons wil hoofsaaklik ’n verskeidenheid ouer Suid-Afrikaanse films wys wat ons glo regtig briljant is. Dit sluit in films van regisseur Jans Rautenbach en Manie van Rensburg. Ons werk nog daaraan om nuwer films in die hande te kry, maar ons hou dinge klein en eenvoudig in 2012 en sal dit uitbrei in die jare wat kom.

Die program sal teen einde Februarie beskikbaar wees op www.kykfees.co.za of op www.cinemuse.co.za. Kaartjies sal ook aanlyn gekoop kan word of by ons kaartjiebesprekingslyn 021 887 6263.

Ek sien die Woorfeesprogram noem ’n werkswinkel met Skoonheid-regisseur Oliver Hermanus. Wat behels die werkswinkel en wat is die koste daaraan verbonde? Moet voornemende deelnemers daarvoor bespreek?

Ons het ongelukkig nog nie bevestigde inligting oor hierdie werkswinkel nie. Oliver Hermanus toer nog die wêreld vol met Skoonheid. Ons sal binnekort bevestig.

Waar dink jy pas film in die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap in, en hoe gaan dit met die bedryf?

a. In die afgelope 20 jaar het film nie werklik bygedra tot die kultuur van Suid-Afrika nie. Ek glo dit is omdat die films wat vervaardig is, hoofsaaklik kopieë van hoofstroom Amerikaanse films is. Ons kine’s het geen moeite gedoen om gehore, en dus filmmakers, bloot te stel aan die films van verskillende lande nie. Die gevolg is dat ons net een styl leer ken het, dié van Hollywood, en dus glo dit is die standaard en norm. Maar wanneer mens konstant ’n balans tussen films van verskillendde lande sien, dan besef mens met tyd dat elke land en regisseur sy eie stem het, sy eie styl, en dat ons as Suid-Afrikaners sekerlik ook ons eie stem het. Hierdie stem is iets wat ontdek moet word en mee geëksperimenteer moet word. Maar solank daar nie gehore is wat nuwe dinge waardeer nie, is daar ook nie ’n mark daarvoor nie. Cinemuse se visie is om die Suid-Afrikaanse gehoor ’n sosiale platform te gee waarbinne hulle hierdie films kan ontdek en stadig maar seker ’n waardering kan ontwikkel vir dit wat eg is.

Daar is jong regisseurs wat ’n verskil begin maak en ons glo Oliver Hermanus gee die pas aan.

Is daar enige films wat tans draai wat jy vir LitNet-lesers wil aanbeveel?

Tydens Februarie:
– 5Ryneveld Cinema (www.cinemuse.co.za):
Die films van die Franse regisseur Eric Rohmer vertoon en dié van die Amerikaanse regisseur Jim Jarmusch. Rohmer was ’n medepionier in die Franse "New Wave" beweging in die 1950’s en 1960’s. Jong filmmakers moet Jarmusch se films wys. Dit sal hulle geloof gee om films te maak. Dat dit nie gaan oor groot budgets en spesiale effekte nie, maar oor storie, style van aanbieding en atmosfeer. Jarmusch is ’n groot gees en pionier in Amerikaanse onafhanklike filmvervaardiging.

– Café Art langs die PJ Olivier (www.cinemuse.co.za):
Klassieke musiekblyspele, insluitend die Beatles, The Sound of Music en The Wizard of Oz.

– By Ster-Kinekor sal ek slegs die volgende aanbeveel:
Lynne Ramsay se We need to talk about Kevin.
Pedro Almadovar se The skin I live in.
Woody Allen se Midnight in Paris vir ligter vermaak.

Ek was nie mal oor Tin Tin nie, want ek voel die effekte en aksie het ’n groter rol gespeel as die storie self. Maar van my vriende het wel daarvan gehou, so dalk wil julle die kans vat.

Laastens: is daar ander items op die Woordfeesprogram waarby jy persoonlik graag sou wou uitkom?

Waarvan ek weet, sal ek Sandra Prinsloo en Antoinette Louw se Nag, Ma wil bywoon. Mbt musiek: Melissa van der Spuy (Ousus). Maar wag, laat ek net eers die program gaan bestudeer!

Dan is daar ’n unieke projek by De Stomme Jonge (3 Ryneveldstraat) genaamd Vasgevang. Dit is ’n iPhone-foto-uitstalling van bekende Stellenbosch-persoonlikhede, gepaardgaande met piepklein kamervertonings deur briljante musikante, insluitend kabaretkunstenaar, Niël Rademan, Melissa van der Spuy en Gerald Clark. Slegs 15 mense in die gehoor. Die uitstalling en vertonings begin Donderdag 16 Februarie en loop tot einde Maart. Lees meer by www.vasgevang.co.za.

 

Ondersteun die Kykfees by die US Woordfees  

Kykfees 2012
Aangebied deur Cinemuse
As al die opwindende items op die Woordfeesprogram jou enkels laat swel en jy wil vir ? wyle van die opwindende gedruis ontsnap, is ’n film uit toeka se dae of ? hedendaagse treffer net die regte medisyne! By Cinemuse se Kykfees kan jy heerlik uitspan met die beste Afrikaanse rolprente op die groot skerm. Besoek www.kykfees.co.za of www.cinemuse.co.za om te kyk wat is op jou fliekspyskaart. Gaan kyk bv. Roepman saam met Jan van Tonder, ’n gas op ons Skrywersfees, of woon ? werkswinkel met Skoonheid se regisseur by. Of daag sommer by een van die volgende rolprent-venues op:

 

5 Ryneveld Cinema | Stellenbosch Drive-In | Neelsie Cinema | AmaZink, Kayamandi.


Keer terug na die program-indeksblad.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top