Woordfees 2020: Willie Esterhuyse en Moeletsi Mbeki praat oor oorlog en vrede

  • 1

...........

“Die uitdaging is hoe om ’n vriend van jou vyand te maak. Mbeki sê hy was oorweldig deur die geskiedenis van geweld oor die eeue heen wat Esterhuyse in sy boek uitlig.”

...........

Suid-Afrika se twee grootste politieke partye, die ANC en die DA, stel albei meer belang in hulle eie belange as in die welsyn van die land.

So sê Moeletsi Mbeki, die politieke kommentator en broer van oudpresident Thabo Mbeki. Hy was in gesprek met Willie Esterhuyse oor sy jongste boek, Oorlog en vrede, wat tydens vanjaar se Woordfees bespreek is.

Willie Esterhuyse (Foto: Naomi Bruwer)

In sy boek ondersoek Esterhuyse die eeue oue strydvraag of die mens (veral mans!) van nature magsugtig en gewelddadig is, en of dit aangeleerde gedrag is. En as die mens van nature gewelddadig is, hoe is dit moontlik om vrede tussen vyande te bewerkstellig? Hy argumenteer die mens het ’n morele verbeelding wat hom die droom van vrede laat bevorder.

Die uitdaging is hoe om ’n vriend van jou vyand te maak. Mbeki sê hy was oorweldig deur die geskiedenis van geweld oor die eeue heen wat Esterhuyse in sy boek uitlig.

Esterhuyse en Mbeki se gesprek was een van talle voorbeelde van hoe voormalige vyande vriende kan word as daardie morele verbeelding waarvan Esterhuyse praat, inskop.

...........

“Esterhuyse sê hy het sy jongste boek doelbewus in Afrikaans geskryf in weerwil daarvan dat sommige mense wou hê hy moet dit in Engels doen. Hy sê Afrikaans het ’n groot intellektuele seggenskap, daarom wou hy die verhaal van oorlog en vrede in Afrikaans vertel.”

...........

Esterhuyse is ’n oud-Broederbonder wat reeds in 1979 die Afrikaner-establishment se fondamente geskud het met sy boek Afskeid van apartheid. Daarin het hy die onafwendbaarheid van apartheid se mislukking uitgewys. Die boek is later ook in Engels uitgegee as Apartheid must die. Dit is grootliks hierdie boek en sy reputasie as verligte en bekwame filosofiese denker wat hom in ’n posisie geplaas het om later ’n groot rol te speel as tussenganger in die sensitiewe onderhandelings vir ’n demokratiese Suid-Afrika. Apartheid must die is in 1982 bekroon met die Sunday Times Award for political writing. Esterhuyse se talle geskrifte hanteer filosofiese kwessies in hoofsaaklik die wysgerige, godsdienstige en politieke milieus. 

Mbeki kom uit ’n gesiene ANC-gesin. Hy is die seun van Govan Mbeki. Sy vakgebied is ekonomie. Hy is bekend daarvoor dat hy nie huiwer om die ANC te kritiseer nie. Hy het ook nie geskroom om sy eie broer, Thabo Mbeki, tydens sy ampstermyn as president dikwels in die openbaar te kritiseer nie.

Tydens vanjaar se Woordfees vertel Mbeki hoe hy Stellenbosch altyd met Hendrik Verwoerd geassosieer het, maar ook hoe die Universiteit Stellenbosch (US) vandag met reg trots kan wees op die knap akademici wat dit opgelewer het.

Esterhuyse sê hy het sy jongste boek doelbewus in Afrikaans geskryf in weerwil daarvan dat sommige mense wou hê hy moet dit in Engels doen. Hy sê Afrikaans het ’n groot intellektuele seggenskap, daarom wou hy die verhaal van oorlog en vrede in Afrikaans vertel.

Die boek is geïnspireer deur ’n kursus wat hy aangebied het binne die bestek van die Thabo Mbeki African Leadership Institute (TMALI) wat by Unisa gehuisves word. Die Engelse materiaal wat hy vir sy lesings gebruik het, moes dus deur hom in Afrikaans vertaal word vir sy boek.

Een van die uitgewers, wie se naam hy nie genoem het nie, wou nie die boek in Afrikaans uitgee nie. Hulle meen die Afrikaanse mark is nie gesofistikeerd genoeg daarvoor nie. Esterhuyse het vasgeskop en gesê as mens oor Afrikaans as taal wil praat, moet mens aanhou om ook oor Afrikaans op intellektuele vlak te praat, want daar lê die krag van ’n taal. Die uitgewer Naledi het wel ingestem om sy boek in Afrikaans uit te gee.

Wat Suid-Afrika se politieke situasie betref, verkies Esterhuyse om van vredebou eerder as versoening te praat. Hy sê die woord vrede is van groot belang, omdat dit die grondslag is waarop mense van uiteenlopende oortuigings met mekaar in gesprek kan tree en wat uiteindelik kan lei tot volhoubare verhoudings van vrede en wedersydse respek.

Mbeki sê die vraag op almal in Suid-Afrika se lippe is hoe die land oor 50 of 100 of 200 jaar gaan lyk. Toe Ramaphosa president word, wou almal by hom weet of hy dink dit is die begin van groot ekonomiese groei.

Anders as sommige optimiste het Mbeki van die begin af gesê nee, hy dink nie Ramaphosa het ’n mandaat om die ekonomie te laat groei nie.

“Die verandering van leierskap in die ANC is nie genoeg om enige verandering in ANC-beleid te laat plaasvind nie,” sê Mbeki.

...........

“Wat Suid-Afrika se politieke situasie betref, verkies Esterhuyse om van vredebou eerder as versoening te praat. Hy sê die woord vrede is van groot belang, omdat dit die grondslag is waarop mense van uiteenlopende oortuigings met mekaar in gesprek kan tree en wat uiteindelik kan lei tot volhoubare verhoudings van vrede en wedersydse respek.”

...........

Mbeki is duidelik bekommerd oor die land se toekoms, maar is nie in sak en as nie. Die land se redding lê volgens hom nie by die ANC of die DA nie. Hy sê die ANC is te vasgevang in sy eie ideologiese kettings, terwyl DA-leiers so onder mekaar baklei dat nie een van die twee partye genoeg erns daarmee maak om landsbelang voor partybelang te plaas ten einde blywende vrede en versoening te bewerkstellig nie.

Die vraag wat gevra moet word, is volgens hom wat gedoen behoort te word om geweld en armoede aan te spreek om uiteindelik ’n vreedsame samelewing te help skep. Hy waarsku dat die uurglas besig is om uit te loop as die land ’n bloedbad wil voorkom, en sê die EFF buit die situasie uit. Om die politieke situasie in Suid-Afrika werklik te verstaan moet mens JM Coetzee se boek Life & times of Michael K lees, sê Mbeki. Dit vertel die verhaal van Michael K se moeilike kinderjare en sy gevaarlike tog van Kaapstad na die plattelandse omgewing waar sy ma tydens ’n fiktiewe burgeroorlog gebore is tydens die apartheidsera.

Esterhuyse se jongste boek, wat deur sommige bestempel word as sy beste werk ooit, beskryf ’n lang reis wat in verre tye en ou beskawings begin het en oor ’n periode van meer as 5 000 jaar strek. Die bestemming waarheen hy die leser wil lei, is hoe die mens, wat tegelykertyd ’n geweldenaar én vredemaker is, deur middel van sy morele verbeelding die lesse van die verlede kan gebruik om blywende vrede te probeer vind.

Kyk ook 

Video: Stellenbosch-bekendstelling van Oorlog en vrede deur Willie Esterhuyse

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Basson

    Vredebou het geen toekoms op enige fondament van ongebreidelde bevolkingsaanwas nie.

    Het die koloniale imperialistiese begrip van ‘n “Suid-Afrikaanse nasie” met sy onnatuurlike verwronge landsgrense nog enigsins ‘n bestaansreg?

    Na my beskeie mening sal alle Suid-Afrikaners spoedig met mekaar openhartig gedagtes moet uitruil oor die uitdaging:

    “All South Africans, define your envisaged South African National Identity, based on consensus.”

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top