Woolworths-debat: Dis nog steeds swart en bruin mense wat kasregisters slaan

  • 6

Solidariteit is oneerlik as hy regstellende aksie en rassediskriminasie met mekaar vergelyk in hul onbeholpe en futiele oefenlopie om Woolworths se werkadvertensies (“slegs vir swart mense”) in die wiele te probeer ry.

’n Storm soos min en ’n boikot-aksie – wat hoofsaaklik gedryf word deur Solidariteit – het onlangs losgebars nadat Woolworths advertensies geplaas het wat dit duidelik maak dat net swart mense (in die breë generiese sin) aansoek kan doen. Met ander woorde: vir poste waar daar nog onderverteenwoordiging is in Woolworths.

Dr Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, het teruggekap en gesê rassediskriminasie word geregverdig as dit regstellende aksie genoem word.

Om rassediskriminasie en regstellende aksie met mekaar te vergelyk, is verregaande. Voor 1994 is apartheidswetgewing ingespan om wit mense bo swart en bruin mense en Indiërs op alle vlakke van die samelewing te verhef. Dit was rassediskriminasie in sy ergste vorm.

Toe het dit Solidariteit – ’n oorblyfsel van die Mynwerkersunie wat onder Arrie Paulus momentum gekry het om vir die belange van wit werkers te veg – gepas. In reaksie op dié rassediskriminasie is regstellende aksie ná 1994 ingestel om die apartheidskade van die verlede te probeer regstel. Om die speelveld gelyk te probeer maak sodat alle vlakke van die samelewing (veral die werkplek) die demografie van die land kan weerspieël.

Nou beroep Solidariteit hom op ’n kunsmatige nierassigheid net om regstellende aksie teen te staan. Dit is ’n skandelose ontkenning van die impak en nalatenskap van 350 jaar se institusionele rassediskriminasie teenoor mense van kleur.

Regstellende aksie is ’n internasionaal aanvaarbare praktyk om reg te stel wat in die verlede verkeerd was.

In die Suid-Afrikaanse konteks beteken dit nie noodwendig dat alle mense van kleur in die nuwe Suid-Afrika vir regstellende aksie kwalifiseer nie. Dit beteken dat daar altyd gepoog moet word om regstellende aksie reg toe te pas.

So, wat is die regte toepassing van regstellende aksie? Dit beteken dat die “aangewese” groepe oor die regte kwalifikasies moet beskik. Ook dat hulle die nodige ervaring moet hê – en indien nie voldoende nie, moet maatskappye die nodige programme in plek kry vir verdere indiensopleiding.

Dit is min of meer presies wat Woolworths verduidelik het.

Die maatskappy het selfs verder gegaan en gesê dat, in gevalle waar hulle nie ’n kandidaat uit die “aangewese” groep kan kry nie, poste oopgestel kan word vir “onaangewese” persone. Ook dat hul gelykheids- en transformasiebeleid in pas is met huidige arbeidswetgewing.

Volgens Hermann het hulle mense regoor die land gevra om een wit kassier in ’n Woolworths-winkel te soek. Nie een kon gevind word nie.

Dit is presies hier waar die knoop lê. Dit illustreer dat Woolworths se studies dat 70% van hul bestuursposte deur hoofsaaklik wit mans beklee word, in die kol is.

Solidariteit moet kennis neem daarvan dat bestuurders hoofsaaklik in raadsale en kantore met lugreëling aangetref word – nie agter kasregisters nie. Dit is nog hoofsaaklik swart en bruin mense en Indiërs wat die kasregisters slaan, terwyl wittes nog van bo af besluite neem.

Dit is onsensitief van Solidariteit om op die gevoelens van wit mense te speel dat Woolworths hulle uitboender of uithou. Woolworths moet eerder gelukgewens word omdat hulle diversiteit in die werkplek bevorder.

  • 6

Kommentaar

  • Kyk ou.

    Jy het ooglopend ’n hekel in vir witmense. Al jou skrywes, hierdie en voriges, bewys dit. Jou dun versluierde verafskuwing van blankes probeer jy met die geskiedenis van die afgelope 350 jaar verbloem, sonder sukses. Wat vandag toegepas word is geensins "regstellende aksie" nie, maar blatante swart ras gedrewe "werksreseveering". In die geval van swart besighede is dit deurgans swart.  Ek het nog nie selfs een blanke in enige swart besigheid gesien waarmee ek te doen het nie. Waar is die demografiese toepassing daar? 

    Wat is jou gevoel toe daar onlangs deur die ;ANC beweer  is dat daar te veel kleurlinge in die Kaap is, met die insinuasie dat swartes ingevoer moet word om aan die nasionale demografie te voldoen, en die rasse demografie daar te versteur?

    Solidariteit het sy eie ondersteuningsbasis wat hy moet bevredig. Sy optrede is daarop gemik om juis dit te doen. Dat dit nou met jou rasse uitkyk indruis, kan ek net sê "sjaaim".

    Onlangs het jy gekla teen die afskeping van kleurlinge deur die swart regering, en vir ’n modern UDF bepleit waarin kleurlinge ’n minderheids drukgroep vorm. Wel dit is presies wat Solidariteit met heel sukses besig is om onder blankes te bewerkstelling. Ek reken jy is daarop jaloers, die jou tirade teenoor hulle.

    Omdat sogenaamde "regstellende" wetgewing bestaan, beteken nie daar mag geensins daarteen geprotesteer word nie, of protesoptredes nie mag plaasvind nie. Indien Woolworths se klandisie merendeels blank is, en hulle wil dit as onbenullig afskryf en agter wetgewing skerm, moet hulle nie oor verliese kla wanneer opgetree word nie.

    In jou vorige brief skryf jy blaam toe aan die swart regering vir kleurling-bendes; dwelmhandel en misbruik; jong kriminele in die tronke; leegleers wat nie skool toe wil gaan nie; moorde; om net ’n paar vanuit jou brief aan te haal. 

    Die enigste regverdige kriteria vir vakante werksposte is dat die persoon met die beste kwalifikasies en ondervinding, ongeag ras, taal, kultuur, geslag, seksuele orientasie, ens. behoort die pos te kry.

    Kom by ou.

    Jaco Fourie

  • Johannes Comestor

    Soos die ANC bepleit Lloyd demografie-gebaseerde sosiale ingenieurswese waarvolgens meer as 90% van poste op alle vlakke deur nie-wittes en 50% daarvan deur vroue gevul moet word. Die uitgangspunt van hierdie beleid is ras en geslag. Daar is geen sprake van nie-rassigheid en nie-seksisme nie. Erger, dit is kwantitatief of statisties gebaseer. Daar is net een manier hoe Suid-Afrika ’n wenland kan word: deur die bekwaamste mense in alle poste aan te stel, dus deur ’n kwalitatiewe norm te gebruik. Hoe hoër die vlak, des te belangriker word dit dat ras en geslag geïgnoreer en die kwaliteit van kandidate deurslaggewend moet wees.  

    Dit kan fataal wees as Lloyd en die ANC se beleid by bv die Koeberg-kernkragsentrale toegepas word. Hierdie beleid is reeds katastrofies weens die mate waarop dit in die kabinet en by bv plaaslike owerhede toegepas word. Dit is gewoon dwaas om apartheid die sondebok te maak. Dwarsoor die wereld presteer wittes en veral wit mans uitstekend en dikwels beter as ander groepe. Dit kan nie sonder meer aan apartheid of ander onbillike bevoordelings- of uitbuitingspraktyke toegeskryf word nie. In die nuwe Suid-Afrika moet hierdie ooglopende waarheid aanvaar word eerder as om die bekwaamste mense sover moontlik uit poste te probeer hou. 

    Onthou, die UDF/ANC en ander sogenaamde bevrydingsbewegings het voorgegee dat hulle ALLE rassediskriminasie wou afskaf. Nou diskrimineer hulle met oorgawe teen wittes en veral wit mans. Dieselfde elemente het geskreeu dat politiek uit sport gehou moet word. Nou bepleit hulle raskwotas. Waarom mag, suiwer op grond van bekwaamheid, die Olimpiese boksspan nie oorwegend of uitsluitlik swart en die swemspan oorwegend of uitsluitlik wit wees nie? Dieselfde geld sokker- en rugbyspanne. Sosiale ingenieurswese is nie in die landsbelang nie. 

    Johannes Comestor   

  • For the sake of perspection,

    Hermann says that according to Woolworths's current racial composition (attached), both coloured en Indian people are, in reality, over-represented at all levels: from top management to unskilled job levels. "Woolworths's approach to the implementation of the Employment Equity Act is nothing less than absurd, as it will have to dismiss 3 420 coloured and 402 Indian employees in order to be consistent in its application of its policy. According to this approach the group will also have to employ an additional 935 white people. Solidarity disagrees with Woolworths's approach."

    Hermann stressed that Solidarity maintains that this obsession with race must be dispensed with and that no one should lose his or her job as a result of race-based policies, or be deprived of the opportunity to apply for a position. "It is clear that Woolworths believes that the entire labour force of the private sector must mirror the racial composition of the economically active population. It seems that large private companies are simply following the state's example regarding the application of affirmative action by implementing quota policies with respect to vacancies."

    Source = mybroadband.co.za/vb/...of-Woolworths-s-racial-policy-Solidarity

    Jaco Fourie

     

     

     

  • Bruggie skryf:

    "Ek sou graag Jason Lloyd se antwoord op Comestor se argument lees".

    Heel onwaarskynlik. Wat ek in die verlede gewaar het, Lloyd is lief om die kat tussen die duiwe te gooi, te kyk na die response, maar nie graag sy debatsvermoë onder die vergrootglas wil blootstel nie.

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top