Woolworths-herrie steek Afrikaner in skande

  • 4

Afriforum, Solidariteit en Praag het die afgelope week of wat afbreuk aan hul goeie reputasies gedoen, asook die Afrikaner in die skande gesteek. Die groepe, wat glo Afrikaners verteenwoordig, se manipulasie en ophitsing van die media en die Afrikaner oor ’n al-klaar-bestaande wet was onverantwoordelik, onnodig en was ook toevallig die ideale rookskerm wat die regering nodig gehad het om die moratorium op die eksplorasie van skaliegas relatief stilletjies te lig.

Indien jy die Afrikaner-groepe sou glo, sal jy heel moontlik dink dat Woolworths laasweek volksmoord op sy webtuiste gepleeg het.

Geen misdaad is egter gepleeg nie, Woolworths het eenvoundig ’n nasionale wet probeer nakom en dit eintlik makliker gemaak vir werksoekers om te weet vir watter werke hul ’n realistiese kans staan om in ag geneem te word in terme van die maatskappy se regstellende aksie teikens. Enigiemand wat al vir werk aansoek gedoen het sal weet dat dit baie frustrerend is as jy vir werke aansoek doen, maar daar geen aanduiding is van watter rasgroepe voorkeur sal geniet nie.

Dit is eintlik ’n voordeel as daar ’n aanduiding in terme van rasvoorkeur is, want dan weet jy darem dat jy nie jou tyd gaan mors om aansoek te doen vir ’n vakature wat jy nie voor oorweeg kan word in terme van die spesifieke maatskappy se nakoming tot wette met betrekking tot regstellende aksie nie. In dieselfde asem was daar ook al in die verlede advertensies in die loopbane bylaes van nasionale koerante wat aangedui het dat net blankes vir sekere poste oorweeg sal word. Het COSATU toe ’n bohaai opgeskop? Nee.

Regstellende aksie is ’n realiteit waarmee Suid-Afrikaners al vir ’n dekade of wat saamleef. Jy moet absoluut bot wees en in ’n tydskapsule woon om nie nou al te weet dat maatskappye van ’n sekere grootte aanstellings moet doen in terme van die streeks- of landsdemografie nie. Dit sluit ras, geslag en gestremdhede in. Almal weet dit. Om nou te maak asof dit ’n skielike gebeurtenis is, is ’n leuen en skep onnodige verdere spanning tussen rasgroepe. As vakbond behoort Solidariteit sekerlik Suid Afrika se wette te ken? Mense het dus eintlik net hulle tyd gemors om trollies vol te pak en te gaan parkeer by kasregisters net om dan weg te loop. Dit is so goed soos om by die parlement te gaan betoog om die doodstraf terug te bring; dit gaan eenvoudig nie gebeur nie. Dit is dus ook nie verbasend dat die DA nie aan hierdie emotiewe saak wou raak nie. Hoekom sou hulle; dit is al jare lank wet!

Asof die belaglikleid van die laaste week se gebeure nie genoeg was nie, kan ons nou sekerlik binnekort soortgelyke optrede van ander vakbonde verwag in terme van die lae vlak van verteenwoordiging van sekere groepe op direkteurs- en bestuursvlak van groot maatskappye. Of dalk net toevallig sal daardie vakbonde en stemmingsmakersgroepe wat daardie rasse verteenwoordig hul planne deeglik smee en nie net sensasie najaag of op emosies speel nie.

  • 4

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Charl Linde

    Daar mag maar teen bestaande wette kapsie gemaak word; des te meer as dit, soos in hierdie geval, vreedsaam gedoen word. Dit is anders en beter as die gewelddadige manier waarop die ANC en sy meelopers teen wette in die ou Suid-Afrika te velde getrek het en die gewelddadige manier waarop hulle dit dikwels steeds doen as enigiets nie na hulle sin is nie.

    Onthou dat hierdie elemente, waarvoor jy klaarblyklik groot waardering het, destyds voorgegee het dat hulle teen rassediskriminasie gekant is. Nou pas hulle blatante rassediskriminasie met oorgawe toe en mense soos jy steun hulle soos nuttige idiote. Demografie is die ANC se manier om alle poste op alle vlakke tot minstens 80% te verswart. Dit is ’n suiwer kwantitatiewe maatstaf gegrondves op swart mag, wat meebring dat van die bekwaamste mense uit poste gehou word. Dit is oppervlakkig beskou in die swartes wat poste kry se belang, daarom steun mense soos jy dit. In werklikheid is dit nie in die belang van die land en sy mense nie. Wat ANC-kornuite weens hulle dwaasheid maai, is die agteruitgang van die land, soos wat duidelik in swak of afwesige dienslewering weerspieel word. 

    Oorweeg ’n slag krities die politiek-korrekte propaganda waarmee ons daagliks oorstroom word. Jy sal dan sien dat jy en nie bv AfriForum nie die Afrikaner in die skande steek.

    Johannes Comestor

  • Johannes:

    Die apartheidswette was nie die papier werd waarop hulle geskryf was nie. Die meerderheid van die land se bevolking het geen seggenskap in daarde bedeling gehad nie.

    Jy kan in elk geval nie hedendaagse SA politiek debateer as jy nog die ou wit regime se onderdrukking van ’n nasie ondersteun nie ...

    PS Stuur gerus jou CV in as jy ’n kassiere by WW wil wees. Ek sal persoonlik die bestuur lobby om ’n plekkie vir jou oop te maak daar.

  • Charl, om te sê iets is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie beteken gewoonlik dat dit nie werk nie.  As die 'apartheidswette' nie gewerk het nie, beteken dit sogenaamde apartheid was nie toegepas nie, iets waarmee jy kennelik nie saamstem nie te oordeel  aan jou opmerkings aan Johannes hierbo.  Iets wat nader aan jou stelling kom, naamlik nie die papier werd te wees nie is die grondwet; wonderlike woorde op papier maar boere word met eentonige reëlmaat afgemaai en Afrikaans word gejag.
    Jy maak die aanname dat Johannes '...die ou wit regime se onderdrukking van 'n nasie ondersteun ..."  Of dit so is of nie, beteken dit dan dat, volgens jou, net die wat saamstem met die huidige regering kan Suid-Afrikaanse politiek debatteer?  Wat is daar dan om te debatteer; almal stem dan mos saam of hoe?
    Buitendien, hoe weet jy daar was 'n 'wit regime'?  Wie het dit vir jou vertel? 
    Jy praat van die meerderheid van die land se bevolking; watter land?
    Jy sê die meerderheid het nie seggenskap in 'daardie bedeling' gehad nie.  Wie was die meerderheid; die Zoeloes?  Die Xhosas? Wie?  Jy kan nie praat van 'die swartes' nie; hulle bestaan uit dien verskillende volke en hulle het buitendien hulle eie outonome lande gehad, soos Swaziland en Lesotho byvoorbeeld.

  • Goeie punt in terme van die feit fat die sogenaamde apartheids'wette' wel toegepas was en dat hul dus die papier werd was waarop hul geskryf was... Die feit dat hulle toegepas was regverdig hulle egter glad nie. Dit getuig meer  van die wit regime se lafhartigheid, wreedaardigheid en onmenslikheid om daardie snert op mense af te dwing.

     
    Die wette was steeds gemaak deur wit ou mans wat op 'n magstoer was  en gedink het hulle kon almal beheer. Mooi vir hulle dat hulle dit kon regkry in daardie jare, maar die hele ou korrupte stelsel wat hulle aan die wêreld probeer verkwansel het as die een of ander meestersplan in sosiale ingeneurswese het gelukkig plat geval.

     
    'n Moord is 'n moord, of dit nou 'n Xhosa tiener in 'n stad is of 'n Afrikaner ouma op 'n plaas. Misdaad is 'n nasionale probleem.
     
    PS Beslis kan jy nie saam redeneer oor hedendaagse politiek as jy nog apartheid ondersteun nie, dit is so goed soos om slawerny op te hemel, of die holocaust en dan met daardie groepe to probeer saamwerk. 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top