Witness to power deur Mathews Phosa: ’n resensie

  • 0

Titel: Witness to power: a political memoir
Skrywer: Mathews Phosa
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776093953

’n Getuie is, volgens die HAT, iemand wat op grond van die feit dat hy teenwoordig was, eerstehandse inligting oor ’n voorval of toedrag van sake kan gee.

Dis die gebruiklike betekenis van die woord. Daar is egter ook ’n ander betekenis van die woord, een wat al meer gebruik word onder oorlewendes van die Joodse Volksmoord aan die hand van Hitler se Nazi’s. Hierdie oorlewendes word al hoe minder, en hulle besef binnekort gaan geeneen van hulle meer daar wees om getuienis te lewer nie. Daarom roep hulle die aanhoorders van hulle getuienis op om ook getuies te word, sodat die boodskap wat uit die Nazi-vergrype te leer is, nie vergete raak en die gevaar loop om herhaal te word nie.

Hoe verder ek deur Witness to power lees, hoe meer wonder ek in watter sin Phosa die woord in sy titel gebruik het. Hy’s ’n regsgeleerde, en ek dink enigeen kan vergewe word indien hulle dink dis die konteks waarin hy homself as getuie beskryf. Maar is hy waarnemer of ook deelnemer? Meer pertinent: Roep hy ander op om ook getuies te wees? Sy voorwoord lees meer soos die openingsrede wat in ’n hofsaak tuishoort as die inleiding tot tradisionele memoires. Hy begin deur te sê waarvan hy getuie is (en daar is heelwat!), dan deel hy sy gevoelens oor wat gebeur het, en hy sluit af met wat hy sal doen: “I will also, repeatedly, express my hope that I will be a witness to a better and brighter future for our beautiful country,” sluit hy sy voorwoord af.

........
Hier het ons die geleentheid om ’n kykie in die binnewerke van die man agter die naam te kry, in sy eie woorde en uit sy eie perspektief. Maar terselfdertyd trek hy ook op besonderse wyse die gordyn weg sodat ons kan sien hoe die organisasie waaraan hy sy lewe gewy het, werk.
........

Mathews Phosa is natuurlik nie ’n onbekende in die Suid-Afrikaanse politiek nie. Ons ken sy gesig, sy naam, sy reputasie, die polemiek waarin hy al betrokke was. Maar ons ken dit vanuit die perspektief van joernaliste wat feite weergee, of in sommige gevalle, ’n politieke agenda probeer bevorder. Hier het ons die geleentheid om ’n kykie in die binnewerke van die man agter die naam te kry, in sy eie woorde en uit sy eie perspektief. Maar terselfdertyd trek hy ook op besonderse wyse die gordyn weg sodat ons kan sien hoe die organisasie waaraan hy sy lewe gewy het, werk.

Hy kyk met ’n nugter, sobere eerlikheid na wat die ANC was en wat dit geword het. Hy probeer nie sy eie aandeel in dinge wat skeefgeloop het, ontken nie, maar hy neem ons met soveel deernis in sy vertroue dat die leser nie anders kan as om empatie te hê met hom en met die rolspelers wat hy beskryf nie.

Geen van die gebeure wat hy beskryf, is onbekend nie, behalwe dalk sy jare as banneling. Alles is alreeds in die openbare domein. Wat hierdie boek besonders maak, is eerstens die wyse waarop hy die denkpatrone en organisatoriese kultuur binne die ANC belig. Besluite wat geneem is wat op die oog af nie sin maak nie, word nou in konteks geplaas.

Maar tweedens is daar die manier waarop hy sy bondgenote en teenstanders met ’n besonder sagte aanslag hanteer.

Watter ander lid van die ANC sou die volgende oor PW Botha sê? “Perhaps one day, when we no longer look at our history through the prisms of apartheid, race and political spin, he will be remembered as one of those pre-liberation leaders who understood that apartheid was dead, and had the courage to act on his conviction” (97).

Selfs van Jacob Zuma, ’n man wat vir vele ’n simbool van korrupsie geword het, praat hy goed. Om die waarheid te sê, die een vraag wat heeltyd terwyl ek lees deur my kop maal, is: Waar het dinge vir Zuma skeefgeloop? Phosa onthou hom as ’n sjarmante man wat altyd gereed was met ’n grappie en wat in ballingskap die organisasie eerste gestel het. Hy onthou hom as ’n man met integriteit. Dalk is daar nie ’n antwoord nie, en Phosa probeer ook nie een gee nie. Tog slaag hy daarin om, deur sy herinneringe van Zuma, ’n mate van empatie vir die man te wek.

In Phosa se veelbewoë politieke loopbaan het sy pad met vele interessante karakters s’n gekruis: Oos-Duitse spioene wat hom opgelei het, Amerikaanse spioene wat inligting uit hom probeer kry het, flinke voetwerk om onder die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie uit te vlug, en later sy betrokkenheid daarby om Dirk Coetzee se veiligheid te verseker sodat hy kon getuig oor die bedrywighede van die moordbende by Vlakplaas.

........
Sentraal in die memoires is egter sy verhoudinge en interaksie met die vyf demokratiese presidente met wie hy saamgewerk het: Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Kgalema Motlanthe, Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa.
........

Hy vertel van ontmoetings met Muammar Ghaddafi, oliemagnate, die Guptas, lede van die CIA, en veel meer. Sentraal in die memoires is egter sy verhoudinge en interaksie met die vyf demokratiese presidente met wie hy saamgewerk het: Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Kgalema Motlanthe, Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa. Met Thabo Mbeki en Jacob Zuma het hy in ballingskap saamgewerk. Cyril Ramaphosa en hy het saam regte studeer. Met drie van die presidente het hy dus ’n lang geskiedenis. Tog is dit duidelik dat Madiba die president was met wie hy die beste saamgewerk het.

Dis dalk te verstane. Mbeki het hom daarvan beskuldig dat hy, saam met Ramaphosa en Tokyo Sexwale, probeer het om die regering omver te werp, ’n aantyging wat hy nou nog ten sterkste ontken. Zuma het hom uitgewerk nadat hy die Guptas se planne om hom te kompromitteer, omseil het.

Phosa was ook ten nouste betrokke by die onderhandeling om ’n demokratiese regering tot stand te bring na die val van apartheid.

Tussen die drama en intrige deur moes ek by tye lag kry, soos die slag nadat Zuma bedank het as president. Phosa word genooi vir ontbyt met Zuma, en hy is agterdogtig, want hulle het nie eintlik meer kontak nie. Hy gee sy kollega wat hy saamneem, die opdrag: Ons skep net wat Zuma skep. As hy iets nie eet nie, eet ons dit ook nie. Dit het gewerk, want hy het oorleef en kan die verhaal vertel!

Elders vertel hy van ’n keer toe hy met Madiba oor iets wou praat. Om redes wat nie duidelik is nie, gaan hy nie voordeur toe nie, maar gaan agter om die huis na waar hy weet Madiba se slaapkamer is. Hy gooi klippies teen die venster, maar niemand maak oop nie. Later begin hy roep, en eers toe maak Madiba oop. By navraag vind hy uit Madiba het in die kamer weggekruip want hy’t gedink die persoon wat teen die venster gooi is daar om hom dood te maak!

Terwyl albei staaltjies lagwekkend is, spreek dit ook van ’n gewelddadige politieke kultuur waarvan die meeste Suid-Afrikaners salig onbewus is.

........
“I am not ashamed to say that this period deepened my love for the beautiful Afrikaans language and contributed to my writing in it.” Die periode waarna hy verwys, is toe hy in Mosambiek spioene opgelei het in Afrikaans sodat hulle kommunikasie van die veiligheidspolisie kon onderskep en lees.
........

Sy liefde vir Afrikaans beklemtoon hy op verskeie plekke. Hy vertel dat hy in Afrikaans gedigte skryf en selfs twee bundels gepubliseer het. Op bl 45 sê hy: “I am not ashamed to say that this period deepened my love for the beautiful Afrikaans language and contributed to my writing in it.” Die periode waarna hy verwys, is toe hy in Mosambiek spioene opgelei het in Afrikaans sodat hulle kommunikasie van die veiligheidspolisie kon onderskep en lees. Van Schaik-boekwinkel sou nooit kon droom dat hulle boeke in teenspioenasie gebruik sou word nie.

Op bl 94, oor die publikasie van sy digbundel Deur die oog van ’n naald (1996, Tafelberg Uitgewers) het hy die volgende te sê: “I hoped that my book would make a small contribution to liberate Afrikaans from the unnatural prison in which it found itself.” Dit laat my wonder hoekom hy nie meer gewild onder Afrikaanssprekendes is nie.

........
Na 30 jaar aan bewind het die ANC teruggekom na waar hulle begin het, maar in ’n swakker posisie.
........

Hy probeer nie die foute wat die ANC gemaak het, toesmeer nie. Hulle moes Malema nooit uitgeskop het nie, reken hy. Hulle moes hom intern onderig het in wat van hom verwag word. Die ANC waarin hy sy politieke volwassenheid bereik het, skryf nie kamerade af nie; hulle vind ’n manier om die situasie aan te spreek, en daarom reken hy dat die opskorting van Malema se lidmaatskap die begin van die einde was vir die ANC. Daarom is hulle in 2024 gedwing om in ’n regering van nasionale eenheid te gaan, terwyl hulle dit in 1994 uit vrye keuse gedoen het. Na 30 jaar aan bewind het die ANC teruggekom na waar hulle begin het, maar in ’n swakker posisie.

Die ANC, sê hy, is waar hulle is as gevolg van hulle eie optrede. Op bl 214 erken hy: “We have not delivered on our election promises, and we will not be able to unless we develop honest and transparent leadership, deeper capacity across all tiers of government, investor friendly leadership, coherent policy agenda that has the buy-in of both private sector and the international community. In a time of rising unemployment and civil anger, populist policies are not the answer, nor will they provide long-term stability and job creation.” Dis ’n les wat ander lande ook kan leer, nie net Suid-Afrika nie. Meer as dit, reken hy dat die uitslae voorsien moes gewees het as die party in voeling was met wat in hul geledere aan die gang is.

Hy spreek die wens uit dat ’n party met integriteit en ’n beginsel dat die burgers eerste kom, na vore sal tree. Ten eerste laat dit die implikasie dat hy nie meen die ANC is in staat om daardie oorskakeling te maak nie.

Dit laat my ook wonder: Is hy besig om homself te posisioneer om so ’n party te lei? Hy is versigtig om homself te posisioneer as ’n lojale gedissiplineerde lid van die ANC. Hierdie boek laat my dink dat ek dalk so ’n party sal ondersteun. Intussen hoop ek dat hy steeds versigtig sal wees oor wat hy eet en met wie, want sy kamerade gaan nie gelukkig wees met waar hy die party sien nie.

........
Is Witness to power Phosa se oproep dat ons almal saam getuies moet wees, want die ANC wat was, is besig om uit te sterf?
........

Witness to power laat my met ’n diep respek vir ’n persoon wat oor taal- en kultuurgrense heen brûe wil bou, ’n man met integriteit en iemand wat, ten spyte van hoe na hy aan die middelpunt van mag was, skynbaar nooit in die versoeking was om mag vir homself aan te gryp nie.

Ek wens net hy het meer oor sy gesin en familie geskryf, maar dan is dit seker nie die doel van politieke memoires nie.

Ek het begin deur te verwys na verskillende tipes getuies. Is Witness to power Phosa se oproep dat ons almal saam getuies moet wees, want die ANC wat was, is besig om uit te sterf? Ek laat dit aan lesers oor om vir hulleself te besluit.

Juis daarom is hierdie die tipe boek wat hoort op die leeslys van elke Suid-Afrikaner wat belangstel in die konteks waarbinne ons ons nou bevind.

Koop die boek.

Lees ook:

Mathews Phosa (1952–)

Oor Mathews Phosa se Damaskus-oomblik

Cyril Ramaphosa se stryd: Is die buffel besig om te struikel?

Malema vs Shivambu

Beyond the age of demagogues

Manifesto: A new vision for South Africa by Songezo Zibi: a review

Zuma: Messiah or populist?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top