![]() |
SêGoed van “Dit bly vir my ironies en pynlik ongemaklik dat ek selfs in die moeilikste dae in Afrikaans gedig het, en diepste, diepste pyn daarin verwoord het.” (Voor in Deur die oog van ‘n naald) ”Poësie is ’n manier om deur ideologiese versperrings te breek en harte te bevry.” “Ek skryf, in Antjie Krog se taal, sonder fênsie leestekens. Ek wil, soos Van Wyk Louw, my siel sonder naakte skrome in alle eenvoud voor julle oopmaak. Ek is nie ’n handboekdigter nie. My taal kom nie uit woordeboeke of belese konferensies nie. My taal is Afrikaans, die taal wat baie tale is, die taal wat plek het vir Opperman, en vir Phosa. Ek het, in Fagan se woorde, ’n huis in Afrikaans.” (Die Burger, 7 September 1996) “Ek en baie van my mede-struggle-vennote sal toi-toi as Afrikaans verneder óf benadeel word.” (Beeld, 7 Maart 2008) “Ons kan nooit genoeg doen vir versoening in hierdie land nie en ons mag dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is nodig dat ons besef ons is een volk, al praat ons verskillende tale.” (Volksblad, 26 Mei 2006) “Afrikaans is my vrou, my minnares, my prostituut. Hierdie Afrika-taal is ’n mooi ding wat ek wil omhels en vertroetel.” (Die Burger, 13 November 1996) “My aunt was die digter van die familie. Sy was ’n role model. Sy’t niks neergeskryf nie, en ek is spyt ek het haar nooit op band gekry nie. Sy was ’n natuurlike digter. By bruilofte en sulke funksies was sy altyd daar. Deel van die kultuur.” "Afrikaans is die taal waarin ek die pyn van my jeug in die mees tasbare vorm kan weergee." (Beeld, 29 Augustus 1996) "Die taalverbintenis van Afrikaans met Europa is 'n realiteit. Ons moet ons nie toesluit nie; kontak met Europa gee Afrikaans die kans om te groei." (Die Burger, 27 Februarie 1998) "Ek is soveel keer gevra: 'Hoekom skryf jy in die taal van die onderdrukker?' Toe sê ek vir die joernaliste: 'Wie is die onderdrukker?' Hulle antwoord: 'Die Afrikaner.' My reaksie was, wat van die twee miljoen bruin mense met Afrikaans as moedertaal? Wat van die swart mense met Afrikaans as moedertaal? Kyk, dit het niks te doen met die taal nie; die stelsel was die onderdrukker. Ongelukkig het '76 gebeur, maar tot vandag toe het dit vir Afrikaans nie saak gemaak nie. Daardie bruin mense ... dis hulle taal. Elke dag word Afrikaans in die townships gepraat. En ek sê vir jou: Gaan maar na ’n sjebien in Soweto. Vyf minute, en jy sal Afrikaans hoor ..." (Die Burger, 8 November 1997) "Omskep Afrikaans in ’n geneestaal. Taal moet aangewend word sodat ons die kleinlike kompartemente waarin ons ons laat klassifiseer en herklassifiseer het, kan afbreek." (Beeld, 21 Maart 2015) Oor die omgewingsbewustheidsrigting wat Inniebos se fees in 2009 ingeslaan het: “Ons huil groen, ons lag groen. Ons wil ’n saadjie plant om mense te laat besef dat elkeen ’n rol kan speel om toe te sien dat die aarde bly voortbestaan.” (Beeld, 2 Julie 2009) “Ek dra nie vrese in my om oor die toekoms van u of my taal of die ander tale solank as ons dit vrylik praat, daarin dig, skryf en vernuwe nie.” (LitNet) "Dit is belangrik vir Suid-Afrika dat die land (in 1997) so 'n glansryke hoofrol by die Vlaamse boekebeurs speel. Suid-Afrika is 'n Afrika-land wat terselfdertyd sterk bande met Europa het, onder meer juis die taalverbintenis van Afrikaans met dié vasteland. Ons moet onsself nie toesluit nie; kontak met Europa gee Afrikaans die kans om te groei. Alhoewel dit oor die jare heen tot 'n ander taal omgegroei het, sou Afrikaans ook hier 'n vastrapplek kan vind. In Afrika het dit al baie gegroei, wat daartoe gelei het dat jy baie Afrikaanse woorde in Mosambiek teëkom." (Die Burger, 8 November 1997) Oor sy passie vir die digkuns: "Ek wou nog altyd dit wat ek sien en hoor neerskryf – dit is nie vir my ’n tydsgebonde of ’n plekgebonde passie nie. Dit is sowel ’n stokperdjie en ’n passie, en ook ’n manier van ontspan." (Versindaba) Oor sy liefde-/haatverhouding met Afrikaans aan Louis Esterhuizen: "Afrikaans is ’n taal van Afrika, maar dit is ongelukkig vir ’n tyd besmet deur apartheid. As ’n mens in die pragtige taal skryf, word jy soms herinner aan wie die taal as politieke voertuig probeer misbruik het. ’n Mens kan nie net met die bekende en gemaklike in jou lewe omgaan nie, soms moet jy deur ongemaklike omgang probeer verstaan hoe jou buurman dink en doen. Ek moet eerlik wees, daardie pynlikheid vervaag by die dag as ek om my kyk en sien hoe Afrikaansprekendes die nuwe Suid-Afrika omarm en skouer aan die wiel sit." (Versindaba) "Ek dra nie vrese in my om oor u taal of my taal of die ander tale solank ons dit vrylik praat, dig, skryf en vernuwe nie. Ons beweeg binne ’n agenda van gelykheid en verskeidenheid." (Toespraak voor die Akademie op 14 Junie 1995 en geneem uit Versindaba) Oor die invloed van Engels op al Suid-Afrika se inheemse tale: "Ons moet nie benoud of bedreig wees deur die natuurlike bevrugting en flirtasie tussen tale nie. Koloniale en ander invloede maak dit moontlik vir Afrikaans om eienaarskap in Soweto, Pietersburg, Marikana en Oudtshoorn te kry. Dit gee hom die suurstof van eienaarskap. Die taal moet ’n bietjie van ’n losgat wees, deur sy plaaslike en internasionale 'rondslaap' kry hy/sy karakter en wyer waarde en aanvaarbaarheid." (Versindaba) “Ek skryf gedigte. Nie vir geld nie. Uit liéfde. Want om gedigte te skryf is uit liefde vir die taal Afrikaans. Mense vra: ‘Hoekom Afrikaans?’ Want ek is lief vir die taal!" (Die Burger, 11 September 2009) Wat is sy ideale in die politiek? “My grootste ideaal is dat dinge moet werk. Dit moet werk vir álle Suid-Afrikaners – wit, swart, meerderheid of minderheid. Die toekoms van dié land behoort aan ál hierdie mense; nie aan sómmige van hierdie mense nie. Ons moet ernstig wees met nasiebou en versoening, soos wat Mandela dit voor ons gebring het. My ideaal is nie om ’n minister te wees of president te wees nie, maar om seker te maak dat dinge werk, jy verstaan? Dis waarom ... tydens die verkiesing was ek órals, maar ek het (sedertdien) teruggetrek. Dit is baie doelbewus, om die ouens wat nou in die kabinet is kans te gee om dinge te doen. Maar ek sit daar in die party, as tesourier ook, om seker te maak die dinge werk in die party. Ons hou hierdie ouens verantwoordelik vir wat hulle moet doen vir die gemeenskap. Dit is soos op ’n plaas. Ons hou die leisels vas. As jy ploeg, moet jy die lyn hou. Jy moenie kronkelloop nie. Ons moet seker maak die ouens doen wat hulle belowe het hulle gaan doen. Dís ons plig; dié van ons wat buite die regering staan. Ek is deel van daardie ‘ons’ wat nie regering is nie.” (Die Burger, 11 September 2009) Een van Mathews Phosa se gunstelinggedigte: Dis my grond Dis my grond Dis my grond |
Gebore en getoë
Nakedi Mathews Phosa is op 1 September 1952 in Mbombela, ’n township buite Nelspruit in Mpumalanga, gebore as een van ses kinders. Sy ma-hulle stuur hom as jong kind na Potgietersrus om sy oupa se “walking stick” te word en ’n deeglike opvoeding in die plattelandse lewe te kry. Sy pa, Paul, was ’n onderwyser wat daarop aangedring het dat daar geen snobisme by sy kinders mag wees nie. Hy was ook deeltydse boer en skrynwerker. Sy ma, Reshoketjoe, was ’n verpleegster. Die gesin was getroue lede van die Lutherse Kerk en veral sy ma het ’n groot invloed op sy politieke loopbaan gehad.
In 1966 slaag hy standerd 6 aan die Tshaerane Primêre Skool in Carlsruhe in die Potgietersrus-distrik. Hy voltooi sy skoolloopbaan in Acornhoek naby Bosbokrand aan die Hoërskool Maripi (Orhovelani High School in Thulamahashe). Hier is 80 persent van sy studies in Afrikaans en hy slaag sy landbouwetenskap met onderskeiding en met die hoogste punte in Suid-Afrika en Namibië. Sy onderwyser, mnr Marais, speel ’n groot rol in die jong Mathews se lewe, veral wat sy gevoel teenoor Afrikaans betref. As sestienjarige skryf hy sy eerste gedig in sy moedertaal, Pedi, en word dit in die skooljaarblad gepubliseer.
In 1970, toe hy in standerd 9 is, neem Mathews die eerste keer aan ’n protesoptog deel. Die Afrikaanse skoolhoof het gereël dat die skoolkoor twee maal moet optree – een maal voor die wit ouers en een maal voor die swart ouers, sonder dat daar enige wit kinders in die skool is. Die hele program misluk, aangesien ’n klomp lede van die koor wegbly en op die betrokke aand met plakkate teen die program betoog.
Phosa het in 2009 op Versindaba aan Louis Esterhuizen vertel dat sy kinderjare gelukkig was "oor ek graag wou leer en wonderlike leermeesters gehad het. My ouma het ’n leiers- en moedersrol in my lewe gespeel, weer eens binne die begrip van uitgebreide familie. Sy het my ook die dieper waarde en dissipline van hard werk en 'huiswerk' geleer. Jy kan net vorentoe beweeg as jy jou huiswerk gedoen het en jou feite ken en memoriseer."
Verdere studie en werk
Na matriek gaan studeer Mathews BProc aan die Universiteit van die Noorde, waar hy in 1975 as prokureur kwalifiseer. Hy skryf in vir sy LLB-graad en in 1977 slaag hy dit met ’n onderskeiding in handelsreg. Hy voltooi sy leerlingkontrak met welslae en in 1981 open hy sy eie regspraktyk in Nelspruit (die eerste swart prokureursfirma in daardie dorp), waar hy tot vandag nog gesetel is. In 1977 trou hy met Pinky, ’n maatskaplike werkster.
In ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger van 11 September 2009 vertel Phosa van ’n voorval tydens ’n Afrikaweek aan die Universiteit van die Noorde (ook bekend as Turfloop): "Afrikaweek het aan studente met verskillende talente die geleentheid gegee om na vore te kom en te sê: ‘Ek kan drama vir jou wys. Ek kan sing.’ Toe sê ek vir die ouens: ‘Ek wil my gedigte kom lees.’
“Die saal was vol. Dit was ’77. Ná die ontploffing oor Afrikaans. Ek staan daar. Die saal is vól by Turfloop. Studente wat militant is. Swartmag ... Black Consciousness ... very anti-white. Hè? Ek staan daar. Ek begin nou ’n gedig in Afrikaans lees: ‘’n Ja-baas’. Dit is ’n gedig oor leiers van die destydse ‘selfregerende gebiede’.
“Die hele saal het ontplof! Mense het met trane in die oë gesit daar. Toe begin ek die ander een lees ... en die ander een lees. Daar was chaos van opgewondenheid. Nié háát nie!
“En daarna het daar nie ’n geleentheid by Turfloop verbygegaan waar gedigte gelees word waar hulle nie vir my gevra het om te kom lees nie. En hulle het geweet dis in Afrikaans. En as ek nie op die agenda was nie, het hulle begin skreeu: ‘Ja-baas! Ja-baas! Ja-baas!’”
In 1985 word Mathews gedwing om in ballingskap te gaan as gevolg van moorddreigemente teen hom weens sy betrokkenheid by die ANC en MK. Hy ontvang sy militêre opleiding in die destydse Oos-Duitsland. In 1986 keer hy terug na Suidelike Afrika as bevelvoerder van MK in Mosambiek, waarvandaan operasies in die Oos-Transvaal beheer is. In Mosambiek kom sy kennis van Afrikaans goed te pas deurdat hy Afrikaans aan inligtings- en veiligheidsoffisiere van Frelimo moes leer. Hulle gebruik handboeke wat by Van Schaik Boekwinkel in Pretoria gekoop is en na Mosambiek gesmokkel is. Gedurende dié tyd het hy sy vrou, Pinky, en hul oudste kind net drie weke gesien. Daarna is nog twee kinders gebore. In 2005 was Pinky die een wat in die politiek gestaan het as speaker van Mpumalanga se wetgewer.
Mathews word in 1990 aangewys as ’n permanente lid van die ANC se onderhandelingspanne tydens die Groote Schuur- en Pretoria-minuut, sowel as die Kodesa-werkgroepe. Na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in Suid-Afrika word hy aangewys as die premier van Mpumalanga, ’n posisie wat hy beklee tot April 1999 toe hy vervang is. Hy bly wel aan as ANC-LP. In Julie 1999 verlaat hy die parlement vir die private sektor. In Desember 2007 keer hy terug na die politieke arena met sy aanstelling as tesourier-generaal van die ANC.
In 1994 word Mathews Phosa as Internasionale Man van die Jaar genomineer deur Cambridge (UK) Biographical Studies en in 1995 ontvang hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Boston in Amerika.
Matthews, ’n geesdriftige bokser en karateka, skryf al gedigte vandat hy 17 is en sy gedigte verskyn in publikasies soos New Classic, Staffrider, San Francisco Chronicle, Ophir en Standpunte.
In 1996 verskyn sy eerste digbundel, met die titel Deur die oog van ’n naald, waarin versoening een van die deurlopende temas is. Baie van die gedigte is geskryf terwyl hy in sy ampsmotor op pad was – soms sommer agterop sigaretdosies. Mathews raak skoon liries oor die invloed wat Afrikaans op hom het. “Dit is die taal waarin ek geleer het van die geskiedenis, die land en die berge en die riviere van die wêreld.” Afrikaans is vir hom soos ’n tweede moedertaal. (Rapport, 16 Augustus 1998)
Ná die verskyning van Deur die oog van ’n naald het Mathews aan Gawie Keyser gesê: "Die gedigte stop nie. Dié in Deur die oog van 'n naald was twintig jaar oud. Ek was twintig jaar oud, en die poësie het soveel verset in gehad. Maar 'n mens moet met die tyd saamgaan. Die eerste bundel het 'n spesifieke doel gehad: Waarvandaan kom ons, waarnatoe gaan ons? Die tweede bundel moet die nuwe periode weerspieël: nasiebou, versoening, blomme, gordyne, liefde, mooi meisies, mooi manne ... wat sal ek sê? Plante?" (Die Burger, 8 November 1997)
Oor Deur die oog van ’n naald skryf TT Cloete in sy resensie in Beeld van 7 Oktober 1996: "As ek ’n samevattende frase moet kies vir die gedigte in Mathews Phosa se bundel Deur die oog van 'n naald, sal ek dit beskryf as gedigte met 'talle tonge', wat ook die titel van die eerste gedig is. Daarmee wil ek nie sê dat dit ’n digbundel met ’n groot verskeidenheid is nie, maar dat daar binne die beperkte bestek van die bundel ’n belangrike perspektiwiese wisseling plaasvind.
"Party van die gedigte kon byvoorbeeld amper ewe goed vanuit die Afrikaner se gesigspunt gesien gewees het. Dit is so in 'ons het ons land verlaat', een van die beste gedigte. Dit is hierdie soort omkeerbaarheid wat ek bedoel, en ook ander omgekeerdes, wat mens teenkom in sekere spieëlfrases:
ons het die land besit voor dit ons besit het
dit was ons land honderde jare
voor ons syne was, was dit ons s'nons het dié en daardie beskuldig
terwyl ek en jy die skuldiges was (...)
"Soos ons kan verwag, bevat die bundel ook gedigte van die verwyt. Die verwyte is eg, mild soms, ander kere weer direk, en die egtheid en direktheid daarvan is soms meer ontoereikend as die digterlike krag en kwaliteit daarvan. (...) So is ook 'Wat het met daardie vrou gebeur?' ’n egte dokument van onmenslikheid, maar meer onmenslik as digterlik. Baie gedigte steun nog te veel op die onthutsende waarvan hulle vertel.
"Die bundel is ook nie sonder karikature of ligte satire nie ('’n Ja- baas'), maar ook hier steun die gedig meestal nog te veel op iets buite die gedig self.
"Vir my is die beste kwaliteite van die gedigte hulle veeltongigheid, hulle meervoud van gedaantes, en dan veral is die beste gedigte dié wat ’n digterlike eenvoud en direktheid het, pretensieloos, ook sonder die pretensie van patos en medelye. Dit is gedigte soos 'Moenie vrees nie', wat ek ’n essensiële gedig sal noem, tooiloos en raak gesê. Daar is nie baie van hierdie soort gedigte nie, maar dié wat daar is, is goed. Heelwat gedigte het hierdie soort tooiloosheid, maar kom net nie op die peil van die goeie vers nie, dit bly nog teveel belydenis, lyding en lydsaamheid.
"Gedigte het baie waardes, sosiale, sosiologiese, politieke en baie ander. Die duursaamste hiervan is egter hulle onafhanklike, selfstandige waarde, maar dit het ook ’n waarde dat Phosa in Afrikaans skryf, in ’n tyd van onsekerheid vir ons taal, en dit is belangrik dat hy met sy debuut ’n duidelike verwagting geskep het dat hy ’n bydrae tot ons klein literatuur kan lewer. Een van die meervoud tonge van hierdie gedigte is hulle egte Afrikaanse tong, soos dit ook blyk uit die paar kort prosastukke wat
die gedigte voorafgaan en waarvan daar ’n baie beminlike en versoenende stem uitgaan."
Na die bekendstelling van Deur die oog van ’n naald het Ampie Coetzee gesê dat die poësie in die bundel "suiwer, direkte, eerlike strydpoësie" is wat op dieselfde vlak is as die verse van digters soos Jan FE Cilliers en Totius.
"Dit is dié soort poësie wat mense gehelp om deur die stryd te kom, maar ongelukkig nooit eintlik in Afrikaans die lig gesien het nie. Ek moet Tafelberg hiermee geluk wens hoewel ek dit teensinnig doen weens hul houding in die verlede.
"Tafelberg het as dié vervaardigers van die kanon nooit eintlik in struggle-poësie belang gestel nie. Ek hoop hulle sal verder gaan en die ander poësie van die stryd opspoor en uitgee as húl deel van versoening. Phosa maak ’n belangrike bydrae tot versoening wanneer hy skryf: 'Elke taal in ons land moet nou as geneesmiddel aangewend word sodat ons die kleiner kompartemente waarin ons ons laat klassifiseer en herklassifiseer het, kan afbreek.'
"Hy het ’n gawe met woorde wat in frases uitkom soos: 'Wanneer ek byvoorbeeld met die boere praat, praat ek met hulle Afrikaans, want ek weet dit is die kanaal waardeur hulle die wolke sien opsteek, die omgeploegde grond ruik en om uitkoms bid.’
"Die gedigte is, soos mnr Phosa, binne die politiek en daarom eenvoudig en kort en kragtig. Jy kry woorde wat 'klap soos ’n sweep', woorde wat 'diep keep en laat bloei', woorde wat praat van doodmaak en vernedering en woorde wat satiriseer en kritiseer. Jy kry ook woorde van hartseer en verlange. Die gedigte ondermyn die gevestigde Afrikaanse poëtiese kanon en kan Afrikaanse poësie in ’n nuwe rigting stuur."
In 2009 is Deur die oog van ’n naald heruitgegee met ’n voorwoord wat vir Louis Esterhuizen baie waarde tot die bundel voeg. Daar is 19 nuwe verse ingesluit wat almal geskryf is gedurende die bewind van Thabo Mbeki, asook ’n afdeling onder die titel "Beskouings" wat bestaan uit aanvullende artikels en wat vir Esterhuizen die bundel "kontekstualiseer". Die besluit om die bundel met die bykomende inhoud uit te gee, was nie Phosa se idee nie, maar was die gevolg van gesprekke tussen die persone wat almal saam aan die heruitgawe gewerk het: Corina van der Spoel, Pieter Rootman, Charles Fryer, Hannes van Zyl en andere. "Dit het ook as ’t ware my politieke fase gemeng met my struggle-gedigte," verduidelik Phosa aan Esterhuizen op Versindaba.
Hy vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 11 September 2009) dat hy die heruitgawe se titel wou verander het na Wéér deur die oog van ’n naald: "Óns nasie is amper soos iemand wat deur die oog van ’n naald gegaan het. Van die groot geweld en álles wat gebeur het voor ’94. En op 27 April het die nuwe son opgekom; die nuwe toekoms; die nuwe nasie wat gebore is. Niemand het dit verwag nie. So dis ’n miracle.
“En daarna het ons hierdie leiers gehad, Mandela en De Klerk, wat ons gelei het vir die eerste vyf jaar op die basis van nasiebou, versoening en al daai goed wat aantreklik was vir die hele wêreld en vir die meeste van ons as Suid-Afrikaners.
“En dan kom daai era van Mbeki waar dinge uitmekaar begin val. Waar mense weer na mekaar begin kyk as wit en swart. ’n Ding wat Madiba probeer vernietig en verwyder het, het teruggekom – polarisasie. Dit het baie moeilikheid geskep in die volk – wit en swart ... nuwe spanning. Mense het in daardie tyd weer die land in groot getalle verlaat. ’n Groot verlies van breinkrag en vingerwysery het weer begin.”
Een van die gedigte wat Phosa in daardie jare geskryf het, is “’n Baadjie met ’n Gaatjie”. Die eerste strofes lui so:
Jou nuwe baadjie
is vol gaatjies.Dis vigs-bullets
omkoop-kolletjies.
“Toe kom ’n tyd waar hy vir die mense in sy eie party gesê het: ‘Lóóp. Jy’s nie goed vir ons nie en jy’s nie goed vir die land nie.’”
Gedurende daardie tyd het Mbeki ook vir Phosa, Tokyo Sexwale en Cyril Ramaphosa van sameswering beskuldig en Phosa noem dit "net één manifestasie van die negatiwiteit van die tyd ... ’n laer vlak van debat. Ja, dit was baie seer ... ook vir die familie en kinders. Nie net vir mý kinders en familie nie, maar ook vir Tokyo se kinders en familie; Cyril se kinders en familie.”
En daarna het die volgende era aangebreek. “Jy sien weer ou Mandela se gesig op televisie en in nuusgebeure. Die wêreldleiers kom hom weer sien. Jy hoor meer van nasiebou; van versoening; van handevat. Dis asof ons wéér deur daardie oog van ’n naald gaan. Ons herontdek die goeie waardes van ons nasie. Wat sal ons bymekaar bring? Daar is (pres Jacob) Zuma met al die moeilike geskiedenis van sy persoonlike lewe wat vir Piet Mulder sê: ‘Kom werk saam met my.’”
Iets wat Louis Esterhuizen opgeval het in Mathews Phosa se toespraak "Afrikaans as landstaal" voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (op 14 Junie 1995 en opgeneem in die heruitgawe van sy bundel), is die toespeling op Jan FE Celliers se gedig “Dis al”, asook Totius se “Vergewe en vergeet”, en die toepassing op die struggle wat Phosa daarin gevind het. Phosa het "Dis al" in die toespraak “’n revolusionêre gedig genoem wat die ontsettende eensaamheid van die stryd teen apartheid … roerend uitbeeld”. Esterhuizen wou weet of dit die doel van hierdie opmerking was om die "universele toepasbaarheid van poësie" uit te beeld.
Phosa se antwoord hierop was: "Nee, nie regtig nie – die wonder van die skryfkuns is dat die vertolking daarvan dikwels meer diepte het as die intensie. Ek probeer net daarop wys dat wit en swart saam revolusies kon en kan lei, en dat vreedsame opstand deur die woord ’n historiese verskynsel is. Afrikaners het verskeie kere in opstand gekom, teen kolonialisme en teen armoede: ek bewonder hulle daarvoor, en probeer lesse daaruit leer."
In die heruitgawe van Deur die oog van ’n naald is daar ook ’n artikel opgeneem getiteld "Van hofmaak tot huwelik in die politiek" en daarin het Phosa die volgende geskryf: "Want almal soek nie ewe suiwer na die lig nie. Sommige soek slu vonke wat die vure van konflik sal aanblaas. Ons speel nie almal dieselfde spel nie, ons is nie heldersiende genoeg om die verskuilde agenda betyds te vind en te vernietig nie. Ons rûe is nie altyd beskerm teen die aanvalle van die pen en die swaard nie.” Ook enkele reëls verder: “So kies elke mens sy lewe, verseker van sy dood.” Louis Esterhuizen het vir Phosa gesê dat daardie reëls hom nie net onrustig nie, maar ook droewig laat voel en hom gevra om daarop uit te brei.
Phosa se reaksie hierop was: "Politiek is nie vir sissies nie. Politiek is ook nie vir diegene wat dink dat daar ’n skeidsregter is wat die fluitjie blaas die oomblik as daar ’n oortreding is nie. Ek is gekant teen ’n benadering wat die politiek romantiseer of verafgod: dit word bedryf deur mense wie, soos ek en u, gebroke is. Die politiek is soos die lewe, soos die wiel draai is jy soms bo en soms onder, ’n mens vind soms die diepste geluk en die mees intense trauma in jou gevaarlike omgang met die politiek (as minnares)."
In 1997 ontvang Mathews ’n oorkonde van die ATKV vir die merkwaardige bydrae wat sy bundel gelewer het tot versoening in die nuwe Suid-Afrika. In 2005 word hy deur die ATKV aangewys as Afrikoon en in 1997 genooi om van sy poësie by ’n kultuurfees in Nederland en Brussel te gaan voorlees. Hy word ook gevra om die Antwerpse Boekebeurs in 1997 te open. Dit is die grootste boekemark in die Lae Lande en in dié jaar was Suid-Afrika die hooftema.
Tydens hierdie Boekenbeurs voor Vlaanderen het Phosa met Gawie Keyser gesels. En Keyser se eerste vraag was: "Wie het die Beurs geopen: die digter of die premier?" Hierop het Mathews Phosa onomwonde geantwoord: "Albei. Ek was eers digter voordat ek premier was. En ek sal altyd 'n digter bly, ook ná my premierskap."
Hy word na Praag genooi om van sy gedigte daar te gaan voorlees en is verstom oor die feit dat daar Pole is wat Afrikaans verstaan.
Phosa is senior vennoot van sy prokureursfirma in Nelspruit en beywer hy hom al meer vir die kunste. Tydens die Ukkasie-kunstefees in Londen in 2001 ontvang hy ’n eerbewys vir sy Afrikaanse poësie en vanaf 2004 is hy voorsitter van die feesdireksie van die InnieBos-kunstefees wat jaarliks in Nelspruit gehou word.
In 2001 is Deur die oog van ’n naald verwerk tot verhoogstuk wat by die KKNK op die planke gebring is. Die poësie en opstelle in die bundel word met gemoderniseerde Afrikaanse volksmusiek vervleg.
Na ’n termyn as visepresident van die Afrikaanse Handelsinstituut word Phosa in 2005 as president aangewys. Hy is ook die president van die Kamer van Handel en Nywerheid van Suid-Afrika (Kamsa). Hy word ook aangestel as derde beskermheer van Beeld se Kinderfonds saam met Kobus Wiese en Carike Keuzenkamp. Intussen skryf hy volstoom voort aan sy gedigte – in Afrikaans – en hoop hy om ’n tweede bundel Afrikaanse gedigte te publiseer. Hierdie verse is nie meer struggle-verse nie, maar lewer kommentaar op ons nuwe samelewing.
In 2006 is Phosa se aanstelling as besoekende professor aan die Universiteit van die Vrystaat vir drie jaar goedgekeur. Hy was nou betrokke by die opleiding van die UV-Bestuurskool se MBA-studente.
In 2006 het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument besluit om ’n jaarlikse lesingreeks te begin wat vernoem sou word na ’n vooraanstaande persoon in die Afrikaanse letterkunde wat ook die inklusiewe Afrikaanse gemeenskap erken. Daar is besluit om dit die Mathews Phosa-lesing te noem, omdat hy die eerste swart Suid-Afrikaner was wat ’n Afrikaanse digbundel gepubliseer het en nie skaam is om sy liefde vir Afrikaans te erken nie.
In 2006 lewer Phosa ’n toespraak oor Afrikaans tydens die bekendstelling van die voltooiingsfase van die WAT. In November 2007 is hy, saam met die premier van die Vrystaat, die hoofspreker tydens die beraad wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gereël het om te besin oor die toekoms van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein.
In 2014 is die Republiek van die Kongo se toekenning van verdienste (“order of merit”) aan Phosa toegeken. Hy het die toekenning by ’n seremonie in Brazzaville ontvang. Hierdie toekenning is in Februarie 1959 ingestel om staatshoofde en ander belangrike persone te eer vir uitstaande dienste wat aan die Republiek van die Kongo gelewer is. Unisa se hoof en visekanselier, Mandla Makhanya, het gesê dat almal by Unisa baie trots is op hierdie prestasie van Unisa se raad se voorsitter.
In Maart 2014 is Mathews Phosa, wat in sy jeug ’n bokser was, aangewys as erepresident van die Wêreldboksfederasie.
Phosa was in Maart 2015 een van die sprekers op ’n vergadering van leiers van Afrikaanse organisasies en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte in Kemptonpark. Sy hele toespraak was in Afrikaans en hy het gesê dat Afrikaans, wat vroeër die taal van die verdrukker was, herskep moet word as die taal van genesing. "Elke taal in ons land bly ’n roete, ’n kanaal, ’n uitsteek van die hand na genesing. Watter taal ons ook al praat en ongeag die ou-ou beelde wat Engels nog vir die Afrikaner in ’n seer uithoek van sy siel oproep, ongeag die wonde van Afrikaans as onderdrukkerstaal, die verlede is, deur die genade wat aan ons gebied is, verby.
“Elke taal moet nou as geneesmiddel aangewend word sodat ons die kleinlike kompartemente waarin ons ons laat klassifiseer en herklassifiseer het, kan afbreek. Ons moet trots wees op elkeen van ons tale sodat ons kan trots wees om Suid-Afrikaners te wees. Ek wil elke Suid-Afrikaner daarom aanmoedig om drietalig te wees. Kom ons leer behalwe ons huistaal twee ander tale sodat ons met trots kan sê dat ons deur die wonderlike sleutel van taal, deur die mag van die woord, deure kan oopsluit van huise wat voorheen vir ons geslote was.
“Kom ons respekteer mekaar, ons unieke tale en kultuur. ’n Mens wil amper sê dat ons die taal moet gebruik om die verlede kaalgat uit te trek, die goeie daaruit te haal en dan die hede daarmee te klee. Slegs dan kan ons die toekoms nadertrek, ongeag of ons Swati, Zoeloe, Engels of Afrikaans met mekaar praat of kultureel Afrikaners, Engelse, Zoeloes of andersins opgegroei het” (Beeld, 26 Maart 2015; berig van Llewellyn Prince).
Mathews Phosa se volgende digbundel verskyn in 2015 in Engels onder die titel Chants of freedom met die subtitel poems written in exile en is deur Penguin gepubliseer. Racine Edwards skryf dat die gedigte op geen onduidelike wyse nie Phosa se gevoelens van woede, teenkanting, frustrasie, skande, pyn en uiteindelike hoop teen die apartheidstelsel uitbeeld. Dit is liriese en sterk verse wat ’n insig in die psige van ’n vryheidsvegter bied wat nog nie vantevore ervaar is nie.
Phosa het op Classic FM aan Tamara LePine-Williams vertel hoekom dit so lank geneem het vir hierdie gedigte om gepubliseer te word. Hy het dit tussen 1985 en 1990 geskryf, maar omdat hy toe in ballingskap was, was sy fokus nie regtig om dit te publiseer nie, hoewel hy altyd geglo het dat dit sou gebeur. Toe hy huis toe kom, het hy nie sy eie tasse gepak nie en het hy nie geweet wat van die gedigte geword het. Die verse is onlangs, nadat hy aan sy biografie begin werk het, gevind. Hy het gedink dit was vir altyd verlore.
Tydens die bekendstelling van Chants of freedom by Wits het Muxe Nkondo gesê Phosa se verse en essays fokus op die digter se voortdurende oortuiging dat alle mense op respek en menswaardigheid kan aanspraak maak.
Nkondo het ’n keur uit Phosa se verse bespreek en gewys op die oortuigings wat deel vorm van die digter se politieke en sedelike lewe, insluitend die roerende gedig "Wie is ek". Nkondo het verder gesê: "The preoccupation with dignity, work and public action reveals in Mathews Phosa's sensibility a double endowment. There is an urge towards individuality, towards the realisation of the independent self; and there is an impulse to belong, to contribute to the public good."
Publikasies:
Publikasie |
Deur die oog van ’n naald |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624034990 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Chants of freedom: poems written in exile |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9781415207765 (sb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Penguin Books South Africa |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Keur van artikels oor Mathews Phosa beskikbaar op die internet
- Booysen, Vida: Afrikaans is net een van vele tale wat Phosa ken
- Botma, Gabriël: Los nou die skuldgevoel, sê digter
- Brümmer, Willemien: Nee-broer
- Coetzee, Gert:
- De Lange, Liezel: Phosa sê hy, ek en my struggle-vennote sal toi-toi vir Afrikaans
- De Nysschen, Linda:
- Esterhuizen, Louis: Die skerp punt van die spies: Mathews Phosa in gesprek met Louis Esterhuizen
- Hlongwane, Sipho: All you needed to know about Mathews Phosa (but never remembered to ask)
- Hoessit, sê Phosa, Afrikaans is "cool" en loslit
- Keyser, Gawie: Ons moet onsself nie toesluit
- La Vita, Murray:
- Louw, Maryna: Wit mense moenie die ANC vrees, sê Phosa
- Mathews Phosa
- Mathews Phosa
- Mhangwana, Thandee N'wa: Phosa at helm of new festival
- Nel, Carryn-Ann: Phosa klim weer terug in die kryt
- Nuwe daeraad breek aan vir Afrikaanse taal – Mandela
- Phosa erken kultuur van gulsigheid aan Britse, Europese sakelui
- Phosa, Mathews: Die poppe dans in Afrikaans
- SA has betrayed trust of international community – Phosa
- Sello, Sekola: Swart hupstoot vir Afrikaans!
- Timse, Tabelo: Phosa: What the butler "heard"
- Van der Westhuizen, Christi: Premier Phosa se Afrikaanse digbundel gou te koop
- Van Wyk, Pauli: Premier dagvaar Phosa oor aantygings
- Viljoen, Buks:
- Wyngaard, Heinrich: Mathews Phosa praat oor Afrikaans, Engels
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.