Daar is plek vir Deur die oog van 'n naald se stem

  • 0

Digter: Mathews Phosa
Titel: Deur die oog van ’n naald
ISBN: 9780624047506
Bladsye: 77
Formaat: Sagteband
Uitgewer: Tafelberg

Klik hier en koop jou eksemplaar van Deur die oog van ’n naald nou van Kalahari.net! 

 
I

’n Paar dekades gelede was dit hoogmode in Engels-departemente om ’n jong student ’n gedig te gee sonder die naam van die digter. Dan moes die arme inconnue lees en interpreteer, terwyl die professor met sy tweed-baadjie en pyp hooghartig toekyk hoe die arme stommeling die een flater na die ander begaan omdat die kodes misgelees is. Agterna, met diep rooi penstrepe, word die hele tradisie van John Donne dan verduidelik. Die kodes. Die tradisie.

Vandag sal niemand dit meer waag nie. Is there a text in this class? En op watter verre paaie het die resepsie-estetika ons nie gegooi nie. Van skrywer, na teks, na leser; waar ons vandag kyk na die triadiese wisselwerking en selfs embarasserende artikels moet lees oor JM Coetzee se dubbel-identiteit en die akademikus vir ons bely: maar ek is ook so aanmekaar gesit. Ek is ook Afrikaans en Engels. En die sogenaamde onskuldige, “skoon”, lesing van ’n teks is vir die meeste literature ’n blote illusie …

Is there a writer in this class? Of hoe nou gemaak met ’n digbundel waar die skrywer uitgestal word op die voorblad van die bundel Deur die oog van ’n naald?

Mathews Phosa sit netjies op die voorblad (nie agterblad nie) van sy bundel, wat oorspronklik in 1996 verskyn het en nou ’n herdruk beleef. Daar was destyds met die bekendstelling ’n groot party gegooi en ek dink al die politieke ikone was daar. Die opgewondenheid was groot: ’n swart man dig in Afrikaans. Boonop, ’n persoon met ’n politieke posisie. Die bevordering van Afrikaans! A, hoe fantasties.

 

II

Hoe benader ’n mens ’n bundel waaraan soveel hype kleef? Hoe maak ’n mens met ’n bundel wat met soveel krag en grootmoedigheid gelanseer word? En geskryf is met ’n hand-van-versoening?

En hoe gemaak met essays en praatjies voor jy die gedigte begin lees? Menings oor ras, taal, versoening.

Die digter bely immers op die agterblad dat hy selfs in die moeilikste dae in Afrikaans gedig het. Afrikaans is vir hom ’n moedertaal en hy is nege tale magtig. Verder is hy weens sy druk program ’n “sigaretdoos- en notulepapierdigter”. (Ondertussen het hy ophou rook, bely hy, en hierom skryf hy gedagtes op stukkies papier neer.) Agterop ’n sigaretdoos staan daar: “… een man se vryheid is nie die ander man se enslavement nie … apartheid moet stop vir almal … wit apartheid is so sleg soos swart apartheid”. Sy gedigte, lees ons verder, is ’n snelskrif waardeur diep verskuilde gevoelens tot uiting kom: vernedering, woede, verset, triomf, en uiteindelik verootmoediging in gebed.

Die hersiene uitgawe bevat vyftien nuwe gedigte wat spesiaal vir die bundel geskryf is. En as jy voel dat ’n mens hierdie bundel met ’n handskoen moet hanteer soos ons moes doen met reddelose swak politieke gedigte in die tagtigerjare, moenie verder lees nie. Niemand beoordeel ’n konsertpianis(te) se uitvoering aan die aantal ure wat gespandeer is om die stuk te bemeester nie. Net die gehalte van die uitvoering word beoordeel; en wanneer dit nie gebeur nie, met ’n David Helfgott byvoorbeeld, dan weet ons hoekom en waarom.

 

III
 
So begin die gedig “Afrika”:

Die einde van die see
is die begin van Afrika
en die begin van die see
is die einde van Afrika.

So eindig dit:

Afrika
die kontinent met haar eie wolke
die kombers wat hoop gee vir reën
’n Kontinent met sy eie son. (57)

 

IV

Gedigte (1971–1995) versus Gedigte (1997–2008) is al wat volgens hierdie leser opgeneem moes word. Twee perspektiewe op ons land. Breedweg ongeregtigheid, diskriminasie teenoor die nuwe ontnugtering van grypsugtigheid, geweld en armoede.

“Ek stoot trollies vir die miesies” (69) som dit op:

Die droom van vryheid
bly vaag en raak verder elke dag.

Phosa is woordgevoelig en soms sjarmeer hy die leser met ’n skerp waarneming. Daar is dan ook gedigte waarin hy die stemlose aan die woord stel en kritiese vrae stel oor die verydelde droom van vryheid, gelykheid en broederskap.

Poësie en politiek is selde bedmaats. In Afrikaans is en bly Adam Small die ongekroonde digterlike koning van die stem daarbuite, en Ronelda Kamfer se wrang-ironiese verse is eweneens ’n belangrike bydrae tot hierdie diskoers.

Beide digters ontgin hul idiolek én ideolek.

By Phosa is daar byvoorbeeld verse geskryf in ’n neutrale Afrikaans, en ’n mens wil uitroep: “but where’s the bloody horse?”!

 

Lulu kom huis toe

Ek sit op jou bed
in jou afwesigheid
Lulu, waar’s jy?

Ek hoor jy vlieg orals
sonder bestemming
Lulu, ek wag vir jou.

Jou kinders verlang na jou
lolliepops is nie meer goed genoeg nie
Lulu, hul soek vir jou

Lulu, kom terug
na jou huis
dis jou beskerming.

Kom omhels hulle
dié wat jou liefhet
daar’s niks beter as ons nie
Lulu, kom huis toe.

Kyk, ek dink nie William Empson se The Seven Types of Ambiguity sal hier kan help nie. Nog minder met “Dis my grond” (65), “waar die berge onroerend ontspan”.

 

V

In die postmodernisme word verskillende stylfigure en digbenaderings gehuisves. Daar is dus plek vir hierdie stem ook. Hier en daar is daar ’n sterk beeld of vers, soos die ironiese “Ek stoot trollies vir die miesies” (69) of die praatvers “Gister se klipgooiers” (63). En ja, die digkuns moet seker die grootpens, die kortnek, die vetnek, die holmol en ja-baas kan hanteer?

“Dink jy die Afrikaanse poësie het regstellende aksie nodig?” vra ’n Engelse kollega. En ek wonder so by myselwers wát daardie snooty Engelse dosent in die sewentigerjare van hierdie bundel sou gemaak het.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top