Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld deur Deon Maas: ’n lesersindruk

  • 0

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld
Deon Maas
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781868427581

Die grootste krag van Witboy in Afrika is die feit dat dit iets ongewoon is in Afrikaans. Daar is ’n onblusbare behoefte aan reisbeskrywings, nie net in Afrikaans nie, maar in alle tale. Dink maar ook byvoorbeeld aan die gewildheid van die boek Elders: My 1025 km te voet langs die Camino deur Erns Grundling (Queillerie 2017). Witboy in Berlyn is nie juis ’n boek wat as ’n tipiese reisbeskrywing sal kan resoneer nie. Daar is wel ’n hoofstuk waar die Maas-gesin na die Duitse platteland reis. In hierdie hoofstuk besoek Maas en sy vrou Veda onder meer ’n kasteel. Maar die grootste deel van die boek handel oor die gesin se hervestiging van Suid-Afrika na Berlyn.

Die boek lees lekker, vinnig en maklik. ’n Interessante element aan die boek is die feit dat Maas se eie voorouers self uit Berlyn na Suid-Afrika verhuis het. Dit gee ’n romantiese element aan die boek. Maas doen baie moeite om die geskiedenis van Berlyn en Duitsland te absorbeer en dit op ’n gemaklike manier weer te gee. In sy beskrywinge weerlê hy, getrou aan sy aard, baie stereotipes. Berlyn word geskets as ’n diverse stad met uiteenlopende kulture en ’n ryk geskiedenis. Musiek speel ’n belangrike rol in die lewe van Deon Maas, en kry ook baie aandag in hierdie boek.

Daar is ook ’n deel in die boek wat afspeel in Suid-Afrika, waar Maas moet terugkeer na sy geboorteland weens probleme rondom sy burgerskap. In hierdie hoofstuk beskryf hy weer interessante gewaarwordinge met sy terugkeer, soos die vervreemding met ou vriende. Hy moet uiteindelik ’n kursus in Duits loop en ’n sertifikaat behaal voordat die burokrasie, teen wie hy kwaai uitvaar, sy burgerskap goedkeur.

Al is Witboy in Berlyn nie ’n tipiese reisbeskrywing nie, is dit tog maar ’n soort reis – die reis van ’n Afrikaan na die vreemde wêreld wat Berlyn is. Dit is geskryf in keurige Afrikaans, maar dra onmiskenbaar die stempel van Deon Maas. Hy is nie die soort skrywer wat mense oor die algemeen neutraal laat nie. Dit kom na vore in hierdie boek en is ’n wins. Niemand wil tog ’n ensiklopedie lees nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top