Wit nasionaliste en moorde in aanbiddingsplekke

  • 14

Sommige weke kom die onderwerp vir my rubriek vinnig; die frase so geliefd van Afrikaanse skrywers: hulle kom meld hulself aan – daar is net een ooglopende ding om oor te skryf.

Ander weke, soos hierdie week, is daar soveel te kies en te keur dat keuse moeilik voel. Dink maar net: Eskom se hernude aanval op die nasionale Suid-Afrikaanse psige, die Amerikaanse kollegetoelatingskandaal, die ANC-verkiesingslys wat bekend gemaak is, die Christchurch-moskee-skietery. Op die oog af wyd uiteenlopende onderwerpe.

En tog nie.

Kyk fyn: hulle behoort almal tot dieselfde WhatsApp-groep. In elke geval, alhoewel die grade natuurlik verskil, is daar groepe wat hulself onverdiende voordele aanmatig ten koste van ander groepe.

In die Amerikaanse voorbeeld word ’n opvoeding aan ’n uitsoek-opvoedingsinstansie aangematig. Ek maak geen aannames oor die gehalte van die opvoeding nie. In hierdie rubriek gaan ek nie eens in op die meriete van akademiese instansies wat studente werf op grond van hulle gewaande atletiese prestasie eerder as hul akademiese prestasie nie. Dis moeiliker om intelligensie te fake. Wie word benadeel? Studente wat werklik op meriete verdien om daar te wees, maar nou agteruit gestoot word om plek te maak vir persone wat nie daar sou wees as hul ma en pa se sakke net bietjie vlakker was nie.

Met Eskom gaan dit ook oor geld en invloed. Daar is sekere dele van Kaapstad, hier rondom die parlementêre wonings, waar beurtkrag ongekend is. Al sit die res van die land in die donker, dáár is altyd kragtoevoer. Dit terwyl hul makkers met miljarde rande weg is en ons met nat steenkool agterlaat. Boonop betaal ons nou meer vir minder elektrisiteit.

En dan beland hulle op die ANC se verkiesingslys ... ’n Ruk terug het ek geskryf dat ek elke party se manifes deeglik gaan deurlees voor ek besluit of ek vir hulle gaan stem. Cyril se party het dit so pas maklik gemaak vir my. Enige party wat Bathabile Dlamini en daai kordaat pierewaaier wat al minister van finansies was, op hul lys het, het vir my als vertel van wat vir hulle belangrik is. My stem en my welvaart is nie op daai lys nie. Goed. Dan hou ek maar my kruisie vir ’n ander party.

Dan is daar Christchurch. ’n Gekoördineerde aanval op twee moskees, met skynbaar planne om nog ander aan te val. Karbomme. Gebruik van sosiale media om die aanvalle in reële tyd uit te saai, asof dit ’n videospeletjie is. Entertainment. ’n Oproep op ander regses om hulle op te sweep. Bragging regte, soos wanneer grootwildjagters een van die Groot 5 plattrek.

Vyftig lewens verlore, omdat ’n wit nasionalis nie kan saamleef met ander immigrante nie. Die ironie? Wittes is ook immigrante in Nieu-Seeland. Almal van hulle. Ongewenstes wat uit Engeland weggestuur is.

Maar wat is dit met wit rassiste en aanvalle tydens godsdienstige byeenkomste? Dis nie net ’n aanval op mense se lewens nie, dis ook ’n aanval op hul geloof. In hierdie geval Moslem-gelowiges, maar in aanvalle in die verlede ook sinagoges, Sikh-tempels, en kerke waar swart gelowiges byeenkom.

Aanbiddingsplekke is tradisioneel as veilige hawes beskou. Dink byvoorbeeld aan die onlangse rekordlange kerkdiens in Den Haag Nederland, waar vlugtelinge in ’n kerk gaan skuil het om te keer dat hulle gedeporteer word. Solank as wat daar ’n diens aan die gang is, was polisie in terme van hul wette verbied om in te gaan. Dus het die kerk vir 96 dae aaneen diens gehou, met 1 000 predikers en 12 000 besoekers. Dit in ’n nasie wat tradisioneel niegodsdienstig is. Kerke as veilige hawens.

Maar as wit rassiste hul sin kry, sal daar vir swart mense, Moslem- en Joodse gelowiges en enigeen wat nie wit en regs is nie, geen veilige hawe wees nie. Saambestaan is geen oorweging nie. Vir hulle is dit absolute onderdrukking of dood.

Die nuusberigte die afgelope paar dae het ’n subtiele rassistiese ondertoon gehad, selfs in sogenaamde liberale media. “Vyftig onskuldige Moslems”.  Die verborge implikasie? Moslems is nie onskuldig nie, net hierdie groep is. Daar word nooit verwys na “Onskuldige Christene” wanneer die aanval tydens ’n Christelike diens uitgevoer word nie. Ten spyte van die feit dat elke liewe aanval deur sogenaamde Christene uitgevoer was.

Sedert die Middeleeue is die allerverskriklikste wreedste dade in die naam van Christendom uitgevoer, maar daar word nooit aanvaar dat die geloof  fanatici oplewer nie – alle feitelike en geskiedkundige agtergrond ten spyt.

In Amerika is daar gemiddeld een gewelddadige skietvoorval per week waartydens meerdere slagoffers gedood word. In die oorgrote meerderheid van gevalle is die aanvallers wit Christene. Maar swart mense en Moslems word deur die regering as terroriste gebrandmerk.

Hier by ons is daar ook die afgelope twee, drie jaar ’n toename in aanvalle gemik op moskees en sinagoges. Glo ons regtig wit nasionalisme in Suid-Afrika het in 1994 ’n stille dood gesterf?

Die Christchurch-aanval is terloops ook die eerste, sover ek kan agterkom, waar die wit aanvaller as ’n terroris eerder as ’n sg “lone wolf” beskryf is. Vooruitgang van ’n soort, wat dadelik gekanselleer is deur die “onskuldige Moslems”-kommentaar.

Wat my maag in ’n knop laat saamtrek, is die wete dat daai skietery ander gaan inspireer om dieselfde te doen. En iewers gaan daar ’n slagoffer se kind of kleinkind of suster of broer besluit dat dit tyd geword het om terug te veg. En dan gaan een of ander nasionalis – nee, supremacist – besluit om wraak te neem.

Dis ’n bose kringloop, wat net gestop kan word wanneer mense mekaar se menswees sal erken. Probleem is, wit nasionaliste erken nie dat swart mense mense is nie. Dus, geen einde in sig nie. Behalwe algehele uitwissing. Annihilation.

Dít, dít maak my bang. Wanneer haat sterker weeg as liefde, wat bly oor?

Hoop. Hoop, wanneer kerke bereid is om hande te vat met ander gelowe om gelowiges te beskerm. Hoop, wanneer Jode gaan waghou by moskees. Hoop, wanneer Christene bid vir Moslems se beskerming. Hoop, vir die dag wanneer lede van ’n geloof nie outomaties verdag gemaak word omdat hulle glo nie. Hoop, vir die dag wanneer mense die moeite sal doen om mekaar te leer ken, en nie net aannames maak op grond van waninligting nie.

Hoop. Dis waaraan ek nou vashou.

  • 14

Kommentaar

  • Marietjie Luyt

    Hallo Bettina,
    Een groot wêreldbelangrike nuusberig het jy misgekyk: die optog deur een en 'n half miljoen jongmense in 121 lande op 15 Maart ten gunste van onmiddellike optrede teen klimaatsverandering.
    Dit was die jong Sweedse skoolmeisie, Greta Thunberg, wat die aansporing verskaf het. Sedert Augustus verlede jaar sit sy elke Vrydag voor die Sweedse Parlement met 'n plakkaat wat sê: Skoolstaking vir die klimaat. Greta het ondertussen by Davos opgetree, asook by die Klimaatsbeleg in Pole, waar sy die grootmense verkwalik dat hulle praat, maar niks doen nie.
    Volgens 'n onlangse VN-verslag het ons twaalf jaar om ons tot hernubare energiebronne te bekeer, en afstand te doen van die grootskeepse lugbesoedeling vanweë olie- en steenkoolenergiebronne. Anders is onomkeerbare aardverhitting ons voorland.
    Soos die jonge Greta vir die grootmense gesê het: "We want you to panic."

  • Ek veroordeel elke aanval wat een godsdienstige groep op 'n ander groep uitvoer, net omdat hulle leerstellings nie saamstem nie - hetsy hierdie aanval onder die vaandel van regse of linkse of "whatever" ander nasionalisme of ideologie uitgevoer is. Wat my egter hinder is dat die sinlose aanval van 'n sogenaamde wit nasionalistiese ekstremis aan die groot klok gehang word en almal kersies opsteek, terwyl 'n soortgelyke aanval deur Islamitiese radikales op 'n bus vol Koptiese Christene skaars die nuus haal. Dit word so in die verbygaan genoem en geen, maar geen debat word daaroor gevoer nie. WAT IS DIE VERSKIL?

  • My liewe dame. Ek is ook wit. Ek is sterk nasionalisties. Maak dit van my 'n outomatiese rassis/terroris wat geen godsdiens behalwe my eie erken en ander uitroei nie? Jou veralgemening is gruwelik. Indien jy nie nasionalisties is nie, wat soek jy dan nog in Suid Afrika? Of het jy bedoel slegs liberaliste is aanvaarbaar?

  • "Wanneer haat sterker weeg as liefde, wat bly oor?" Inderdaad. Maar ek wonder: in watter kamp bevind so 'n skrywer sigself? Die outeur praat van "elke liewe aanval" wat deur Christene uitgevoer is, dat daar "nooit aanvaar" word dat die Christene in die Middeleeue gruweldade gepleeg het nie, en wanneer kerke in Nederland bystand bied, is dit omdat dit 'n "tradisioneel nie-godsdienstige" land is (al gehoor van Calvinisme, dalk 'n idee waar dit vandaan kom?). As mens hierdie verwringings maar kon toeskryf aan onkunde, sou dit een ding wees, maar ek is bevrees hierdie was opsetlik gedoen om verdere polarisering te skep deur die kriminalisering van die Christendom (wat 'n baie meer algemene tendens is as wat die outeur voorhou, veral in die sg PC-kringe).

  • Gustaf Claassens

    Mens loop met jou hart op jou mou. Party meer as ander. Dit is ook duidelik hier te sien in wat Bettina sê en in die kommentaar. En die redes spruit voort uit persoonlike ervarings. Daardie ervarings hou verband met sosiaal maatskaplike omstandighede waarvan die mens deel was of is. Opinies word gevorm, baie substantief en ander uiters subjektief. En ja, veralgemening is baie keer die resultaat hiervan en dit geld alle kante toe ... ek sluit myself hierby in.
    Almal hier het 'n punt beet in wat hulle sê. Die klem verskuif net van individu tot individu. Sonder begrip (en gesprek) word verdelingslyne ongelukkig net duideliker getrek. Dis hoe dit was, hoe dit is en hoe dit ook vorentoe sal wees. Dis ons menslike natuur. Wanneer ons oor die dinge praat, roer dit die emosie. Of daar 'n oplossing is twyfel mens en die uitdaging lê waarskynlik in hoe mens jou emosie en optrede bestuur. Intussen moet ons praat, skryf en dinge van die hart af kry. Dis veel beter as om dit te verloor en te begin skiet soos die gekkeling in Christchurch waarna Bettina tereg op wys.
    (Wat sal help met so 'n gesprek is definisies oor wat as regs, verregs, radikaal, links, ekstreem, homofobies, rassisties en so meer bedoel word. Dit ten einde almal op dieselfde bladsy te bring want veralgemenings, fopnuus, etikette en propaganda vir eie doeleindes vind gans te maklik plaas.)

  • Gert Badenhorst

    Geagte Bettina,
    Kry mens ook swart nasionalistiese rassiste? Of bestaan hulle nie?
    En is sulke terroristiesedade teen Moslems meer boos as al die terreurdade teen Christene wat oral in die wêreld voorkom? Waar pas swart groepe soos EFF en BLF in die prentjie? Ek kry nie die indruk dat hulle gebedswake en omarming van witmense sal doen nie.
    Sal dit nie wonderlik wees as ons die dag in hierdie land gaan ophou om mekaar te blameer nie en begin om aktief na mekaar toe uit te reik om mekaar op te bou en by te staan? Help my om die fokus van die sosiale afstande en kollektiewe skuldtoewysing af weg te neem, en toenadering en versoening te bevorder deur wat ons skryf!

  • Elkarien Fourie
    Elkarien Fourie

    Bettina, vir iemand wat die voorreg van 'n rubriek op LitNet geniet, kyk jy darem te eenogig na die aanval op Moslems in Christchurch. Die geskiedenis van die Christendom is inderdaad bevlek met gruwels, maar Christenlande buig vandag agteroor om verdraagsaam te wees. Dink maar aan die Crusaders-rugbyspan, wat hulle naam wil verander om hulle te distansieer van die oorlogvoering van die kruisvaarders van ouds en die eerste minister van NZ wat haar solidariteit met Moslems gewys het met 'n hoofbedekking terwyl sy die aanval veroordeel het. Ek het gesien hoe 'n moskee in Brussels gebou word. Sal die bou van 'n kerk ooit in 'n fundamentalistiese Moslemland geduld word? Van die hedendaagse rekord van ekstremistiese Islam hoef ek jou nie te vertel nie. Vandag is daar meer aanvalle op Christene (dink maar aan Noord-Afrika) as andersom, maar jy fokus uitsluitlik op die enkele gevalle waar blanke malles die skuldiges was. Die skrywer van die berig het ooglopend nie bedoel Moslems is uit die staanspoor skuldig nie, maar as jy die berig nie so emosioneel gelees het nie, sou jy insien dat onskuldige "mense" bedoel is. Jy noem self die voorbeeld van Moslemvlugtelinge wat in 'n Nederlandse kerk beskerm is. En terloops, Nederland was beslis tradisioneel baie godsdienstig. En ja, ek is ook bang vir vergeldingsaanvalle deur heethoofdige Moslems op "onskuldige Christene". So kom ons begin in SA om mekaar met liefde en ewewigtigheid te bejeën en die pyn van die verlede nie toe te laat om ons gesonde oordeel te verwring nie.

  • francois williams

    Dis regtig eenvoudig, begin deur godsdiens te taks ... wanneer die wins weg is gaan die gat uit baie kerke val ...

  • Dankie Bettina, vir ‘n duidelike en objektiewe artikel geskryf met ‘n groot hart. Ek vind wat jy skryf bring my tot nadenke.

  • Hans Richardt

    My vraag bly, is dan net wittes nasionaliste? Waar sal al hierdie liberale denkers en politici dan Tradisionele leiers en inheemse bevolkings plaas, wie strewe om hul IDENTITEIT te behou en ook by VN erken word? Is dit goed om bv die inheemse bruines se IDENTITEIT met taal en kultuur te laat herleef, solank jy nie daaroor skryf of praat as nasionalisme nie?
    Die liberaliste wie geforseerde etniese amalgamasie beleid as liberalisme bevorder, vermei die onderwerp van sg politieke swart nasionalisme. Tog is dieselfde liberaliste besig met 'n verdelende beleid van patriotte vs "ons liberale"!
    Is daar regtig net Wit Nasionaliste in hierdie wêreld of is dit openlike liberale rassisme van staatsweë?

  • En die geagte rubriekskrywer rep geen woord oor:
    http://www1.cbn.com/cbnnews/cwn/2019/march/radical-muslims-murder-32-nigerian-christians-torch-church-in-brutal-attack
    Ook kan ek nie onthou of sy haar verontwaardiging uitgespreek het oor:
    https://www.christianitytoday.com/news/2018/may/indonesian-churches-family-suicide-bombers-terrorist-attack.html
    Geen regdenkende mens sal sigself vereenselwig met die gebeure in Christ Church nie. Tog bly dit opmerklik dat daar 'n groter ophef gemaak word van wanneer dit Moslemgelowiges raak en die gruweldade teenoor Christene dikwels nie eers die voorblad haal nie.
    Indien die statistieke vervat in https://www.christianitytoday.com/news/2018/january/top-50-christian-persecution-open-doors-world-watch-list.html,korrek is,
    dan:
    "Open Doors released today its 2018 World Watch List (WWL), an annual ranking of the 50 countries where it is most dangerous to follow Jesus. Approximately 215 million Christians now experience high, very high, or extreme levels of persecution; that means 1 in 12 Christians live where Christianity is “illegal, forbidden, or punished,” according to Open Doors researchers."
    Voeg daar by dat :ISIS Says It Was Behind Deadly Attack on Christians in Egypt, dan word dit duidelik die daar groter vervolging van Christene wêreldwyd is en dat Moslemgelowiges in baie lande die beskerming van regerings geniet, terwyl dieselfde nie van Christene gesê kan word nie.
    Beste Bettina moet dit nie sien as 'n aanval op jou persoonlik nie, maar dat ek eerlik van mening is dat jou skrywe oor die gebeure eensydig is omdat dit aanvalle op Christene verswyg.

  • Me Wyngaardt wat is die verskil tussen 'n wit en swart nasionalis, behalwe nou natuurlik die kleur?

  • Hans Richardt

    Deesdae is jy met sensuur verban as jybverregs en nasionalisme in 'n pos noem.
    Die verregse swart liberale is polities korrek deesdae ... maar buitelandse beleggers belê juis nie in SA agv sg liberale uitsprake gebaseer op etniese lyne nie, volgens WEF lank na Davos.

  • Hans Richardt

    BLF- en Mazibuye-partye nie gebaseer op swart nasionalisme nie? Bettina Wyngaardt moet weer besin. Daar is verskil tussen patriotisme en nasionalisme.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top