Winnie Rust, ’n huldeblyk

  • 1

Huldeblyk deur Amanda Swart

Na die eretoekenning wat Hugenote Hoërskool in Wellington op 11 Oktober 2024 postuum aan Winnie Rust, oudleerling van die skool, gemaak het, het dit ons gedagtes ver terug geneem na dae van intellektuele gesprekke, kuiers aan huis en Winnie wat met empatie na die hele dorp, en veral die dorp se vroue, omgesien het. Dit het my gemotiveer om die huldeblyk wat in die teenwoordigheid van haar kinders en haar man gelewer is, aan ’n breër publiek bekend te stel.

In 2017 verskyn daar ’n roman van Winnie, Katryn, postuum, wat die literêre wêreld opnuut daarvan bewus maak dat ons nooit weer iets deur hierdie skryfster van Wellington sal lees nie. Haar ontydige dood deur ’n wrede moord op 11 Mei 2016 ruk die dorp en die skrywerswêreld aan flarde.

Gradeplegtigheid

Wilhelmina van der Merwe kom uit ’n skrywersfamilie. Haar pa, CP van der Merwe, was eers Afrikaans-onderwyser, toe opvoedkundige wat diep spore getrap het in veral Wellington se onderwyswêreld. Haar oom was die bekende skrywer Boerneef, en haar broer, Chris van der Merwe, is ’n baie bekende literator wat jare by die Universiteit van Kaapstad se Departement Afrikaans en Nederlands werksaam was (Terblanche 2016). Winnie het geen keuse gehad nie – dit was voorbestem dat sy sou skryf.

Winnie hou skool.

Sy was ses jaar oud toe haar ouers na Wellington getrek het. Winnie matrikuleer in 1956 as hoofmeisie van Hugenote Hoërskool en gaan daarna op Stellenbosch Afrikaans-Nederlands en Duits studeer, waarna sy gaan skool hou in die Kaap. In 1961 trou sy met Manie Rust, ’n mediese dokter, en vestig haar weer in Wellington (Terblanche 2016).

Trou met Manie Rust

Terblanche verwys vervolgens nie net na Winnie Rust se literêre bydraes nie, maar ook na die deurslaggewende rol wat Winnie in Wellington gespeel het. Sy was byvoorbeeld in 1965 die stigterslid van die Wellington Besprekingsgroep, nou die Gesprekskring, wat steeds bestaan. Winnie se hele idee was dat die lede self moes navorsing doen oor ’n onderwerp wat hul interesseer en dit dan met die ander kom deel. Dit sou almal se breine stimuleer en horisonne verbreed.

Op reis …

Gedurende haar leeftyd was sy ’n baie aktiewe deelnemer aan verskillende aktiwiteite in Wellington. Sy en haar man, Manie, was in 1975 stigterslede van die Wellington Museum en het deur die jare ’n baie aktiewe rol gespeel in al die projekte wat die museum aangepak het. Hulle was ook betrokke by die stigting van die Breytenbach Sentrum.

Tuis met die drie oudste kinders

Winnie het ’n rol gespeel in die dramavereniging, was lid van die Marturia-koor en was ook betrokke by Bybelstudiegroepe vir vroue op die dorp. In 2005 is sy en haar man aangewys as Wellingtonners van die Jaar. Hulle is vereer vir hul betrokkenheid en bydraes op verskillende terreine. ’n Duidelike teken van haar en haar man se onskatbare insette in die dorp.

Winnie as jong vrou

Voordat Winnie se werk waarvoor sy veral onthou sou wou word, Martha: ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford, in 2004 gepubliseer is, was sy al bekend vir baie ander publikasies. Terblanche (2016), lys die publikasies soos volg:

  • Twee destydse Bybelkorgidse (tans Bybel-Media): een vir tieners en een vir vroue.
  • Sy was medeskrywer van ’n rubriek in Kerkbode getiteld Stilhouplek, asook medeskrywer van die Post Scriptum-rubriek in die Paarl Post.
  • Vir Carpe Diem-uitgewers het Winnie deur die jare heelwat bydraes vir dagboeke vir vroue geskryf.
  • Twee van haar verhale wat in Literator verskyn het, naamlik “Queen Elizabeth” (1999) en “Trek aan jou klere, Boeta” (2001), is met die Litera-prys vir debuterende skrywers bekroon.
  • Deur die jare is baie van Winnie se kortverhale in Sarie gepubliseer, en in 1992 is “Die Maartblom” (onder haar nooiensvan, Van der Merwe) in Sarie se liefdestreffers opgeneem. “Lei, vriend’lik lig” is opgeneem in Die melkweg het ’n ster laat val wat saamgestel is deur Riana Scheepers, en “John” is opgeneem in Bloots, ’n bundel erotiese kortverhale (samestellers Peter van Noord en Karin Eloff) .
  • Deur haar baie nou betrokkenheid by die museum op Wellington was sy ook medewerker aan Bainskloof- en ander bergstories in 1999 wat deur die museum bemark is. Dit is ook in Engels vertaal.
  • Winnie het begin om verhaaltjies oor plaaslike persoonlikhede op te teken, en in 2003 het sy vir Charlotte Cupido gehelp om gebeure uit haar lewe saam te stel wat gepubliseer is as Vra na die ou paaie (2003). Sy was in Augustus 2004 ook die samesteller van Vrouedagstories, ’n dramatisering van die lewens van gewone vroue wat op Vrouedag met ’n groot mate van sukses in die Wellington Museum opgevoer is.
  • Winnie was deur die jare nie net verantwoordelik vir oorspronklike werk nie, maar het ook vertaal- en radiowerk gedoen, en in 2003 is twee reekse radiopraatjies onder die titel Die hartklop van God deur Lux Verbi uitgegee. Haar reisverslag oor ’n bootreis op die Franse kanaal, ’n Reis met ’n verskil, is in September 1995 oor die radio uitgesaai.
  • Winnie was een van die persone wat ’n aandeel gehad het in die stigting van die plaaslike Afrikaanse leeskring in 1994 en sy was ook aktief betrokke by ander poësie- en leeskringe. Ook was sy lid van die Afrikaanse Letterkundevereniging.
  • In 2003 werk sy saam met Herman Bailey aan ’n Lewe suid van Markstraat.

In 1997, op 58-jarige ouderdom, begin sy weer studeer en verwerf in 1998 haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands. In 2000 skryf sy haar meestersgraad met navorsing waarin die saad van toekomstige skryfwerk geplant is: "Limietberge. Die fiksionalisering van die kleingeskiedenisse van enkele vrouefigure van my dorp". Een afdeling van haar meestersgraad was kreatiewe skryfwerk en Martha, haar eerste boek, het ’n onderafdeling vir hierdie graad gevorm (Terblanche 2016).

In 2004 gee Hemel & See Boeke die reeds genoemde Martha: ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford uit. Dit was op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir 2005. Oor die agtergrond en ontstaan van Martha het Winnie vertel dat sy saam met ander mense gewerk het aan die optekening van die geskiedenis van Wellington voor 2000 en dat dit haar verantwoordelikheid was om die verhale van Wellington op te teken (Terblanche, 2016):

Met die opskryf van die verhale, kry ek ’n nuwe perspektief op my dorp, soos hy vroeër gelyk het: die strate, die mense, die geboue. Ek kyk op ’n nuwe manier na die berge. Ek kyk op ’n nuwe manier na my dorp, en die verlede word deel van my daaglikse bestaan. Die verlede word ’n wonderlike verruiming van dit wat jy is; dit begin as ‘t ware in die hede invloei en neem elke dag baie van jou gedagtes in beslag.

So ontmoet ek toe vir Martha. Martha was die dogter van ’n slaaf met die bynaam  "Queen" Rebecca, ’n eksentrieke straatkarakter van die laat 19de eeu. Waarskynlik het sy op Wellington skoolgegaan, aan een van die allereerste skole waar slawe onderrig gekry het in die Bovlei, distrik Wellington. Voor Martha se 33ste jaar het sy verskillende kinders by verskillende mans. Haar van word in die geslagsregisters opgegee as Solomons, seker die laaste van die baie mans voordat sy vir Harry Grey, die remittance-man ontmoet.

In 2011 verskyn ’n kortverhaalbundel, Margie van die Seminary en ander verhale. Ses vroue se verhale het oor Winnie se pad gekom en sy kon nie anders as om dit op te teken nie, en so is hierdie kortverhaalbundel gebore. Al die vrouekarakters in die bundel het ’n rol gespeel in die Seminary, wat deel is van Hugenote Hoërskool se ontstaansgeskiedenis. Sommige van die karakters het deur haar werk by die museum oor haar pad gekom en ander se verhale is deur hul familielede aan haar vertel. Die bundel begin by haar eie ma, Margie, se verhaal.

Die hele gesin

Terblanche verduidelik dat die vroue in die verhale van Margie van die Seminary die volgende persone is: Margie (haar ma, hoewel dele van die verhaal gefiksionaliseer is), Elizabeth Rolland, Emma Murray, Celestine Schoch, Abbie Ferguson en Louisa, ’n onderwyseres aan die Seminary. Al ses hierdie vroue was op een of ander manier aan die bekende Huguenot Seminary op Wellington verbonde.

Winnie en Manie met vakansie in Skopelos

Elizabeth Rolland was die oumagrootjie van Adrienne Joubert wat 40 jaar lank orrelis van die Moederkerk op Wellington was. Sy is in 1829 as sendeling deur dr Philip van die Londense Sendinggenootskap na Suid-Afrika gebring. Sy was met Samuel Rolland, ook ’n sendeling, getroud, en die lewens van sendingvroue het altyd vir Winnie gefassineer.

Winnie as moeder

Emma was met die bekende Andrew Murray getroud en deur briewe van Emma aan haar man wat in boeke opgeneem is, het Winnie ’n heel ander sy van Andrew Murray leer ken en kon sy ook die mens Emma Murray aan mense bekendstel.

Nog ’n gradeplegtigheid

Celestine Schoch was lid van ’n groep mense wat onder die charismatiese prediker Wouter Groenewoud vanuit Nederland na Suid-Afrika gebring is. Hulle het van 1868 tot 1872 op Wellington in die White House (later die eerste skool, die Seminary) gebly.

Winnie in later jare

Andrew Murray het in 1871 twee onderwyseresse uit Massachusetts in die VSA na Suid-Afrika gebring om sy skool op die grondslag van die Amerikaanse model te stig, en Abbie Ferguson was een van die twee.

Winnie as iemand wat omgee

Die laaste vrou in Margie van die Seminary is Louisa, ’n afgestudeerde onderwyseres van die Seminary.

In 2013 verskyn Winnie se volgende roman, Trek. Soos haar vorige twee boeke speel ook Trek meestal in Wellington af. “Ek het ’n hele kartonboks vol navorsing en herskryf en oorskryf. Mense dink altyd as jy ’n skrywer is, dan skryf jy ’n boek een keer en dan’s dit klaar. Dit werk nie so nie, dis ’n baie lang proses” (Terblanche 2016).

Lettie Büchner, wat haar goed geken het

Die agtergrond vir Trek is die gedwonge verskuiwings uit veral Fontein- en Hopestraat in Wellington. Die hoofkarakter in die verhaal is Miss Girlie, losweg geskoei is op Winnie se jare lange vriendin, Charlotte Cupido (Terblanche 2016).

Lorraine Kuun, leerkrag van Hugenote Hoërskool het die geleentheid waartydens Winnie Rust postuum tydens die skool se Stigtingsdag vereer is, gereël. Ook op die foto is Steven von Schlicht, 'n oudonderwyser (links) en Rust se dogter, Winnie Nel (regs).

Tydens 2008 se Woordfees is twee eenvrouvertonings wat deur tragiese gebeure geïnspireer is, tydens die Woordfees opgevoer. Die een het gehandel oor die moord op 7 Februarie 2005 op die letterkundige van die Universiteit van Kaapstad, Lizbe Smuts-Smith, wat in Wellington gewoon het, en haar buurvrou, Alexa Kirsten. ’n Venster vol son handel oor die verhaal van Kirsten wat vir Lizbe gaan help het, self aangerand is en vir dood agtergelaat is. Die stuk beeld Alexa se verhaal uit, en haar lang pad terug na gesond word, asook haar geloof en uiteindelike vergifnis (Terblanche 2016). Profeties van die moord op Winnie Rust self ...

Winnie Nel (Rust) en haar broer, Hugo Rust

In 2014 begin sy skryf aan ’n historiese roman, Katryn, met ’n manlike hoofkarakter. Blink Ben is een van die boere wat deur enting ’n manier vind om fillokseraweerstandige wingerd aan te plant, ’n ontwikkeling wat Wellington as die grootste stokkieskweker in die land gevestig het (Terblanche 2016). Dit is ook die oorsprong van die uitdrukking “stokkies draai” – wanneer kinders uit die skool gehou is sodat hulle met die stokkieskwekery kon help.

Johan van der Merwe, oudonderwyser, lees sy gedig wat hy vir Winnie geskryf het die dag van haar moord.

Hierdie boek was reeds persklaar toe Winnie Rust oorlede is. Sy het ’n brug gebou tussen al die mense in die dorp, die kloof tussen mense nouer gemaak. Sy het minder bevoorregte kinders met hul skoolgeld gehelp; sy het beurse geskenk; sy het geld gegee. Sy het haar lewe en liefde vir ander mense gegee. Daar word elke jaar ’n prys in haar naam aan die beste potensiële skrywer in Hugenote Hoërskool gegee.

Winnie was baie lief vir musiek. Die leerling Marshin Booysen speel GF Händel se “Mars vir trompet”. ’n Matriekleerder, Hyron Scheepers, het Rachmaninoff se “Prelude in C# mineur” uitgevoer.

In die proses van vergifnis en om haar lewe te eer, het haar kinders presies drie jaar na haar dood, op 11 Mei 2019, die Winnie Rust Stigting op Stellenbosch begin met Alexa Kirsten as spreker. Daar is gereeld ’n toekenning deur die museum aan voorheen benadeelde vroue wat bo hul omstandighede uitstyg. Daar is ’n skryfskool in haar naam begin (Reid 2019).

Winnie (Rust) Nel teken die sertifikaat namens die gesin. Hoofseun D’Niel Brink en hoofdogter Hazel Marais kyk toe.

Winnie, jy het ’n stem aan baie van die stemloses in hierdie dorp gegee, totdat jou eie stem skielik stil gemaak is. Laat ons toe om altyd jou stem te hoor deur dit wat jy vir ons nagelaat het.

Anna (Grietjie) Rust praat oor haar ma as antwoord op Swart se huldeblyk

Ek sluit af met ’n gedig wat deur Winnie Rust uit Nederlands vertaal is en wat sprekend is van haar liefde vir Wellington, sy mense, haar gesin en haar familie:

Een dag van morgen
Deur Hans Andreus

Wanneer ek môre doodgaan,
Vertel dan aan die bome
Hoe lief ek jou gehad het.
Vertel dit aan die wind
Wat in die bome klim
of uit die takke val
Hoe lief ek jou gehad het.
Vertel dit aan ’n kind
Wat jonk genoeg is om te begryp.
Vertel dit aan ’n dier
deur hom net aan te kyk.
Vertel dit aan die huise van steen,
Vertel dit aan die stad
Hoe lief ek jou gehad het

Maar sê dit aan geen mens.
Geen mens sal jou wil glo.
Geen mens sal dit kan glo:
Dat slegs maar ’n man, dat slegs maar ’n vrou,
Dat een mens ’n ander so lief kan hê soos ek vir jou. (Roos 2018)

Manie Rust saam met Anna en Winnie

Hugo, Manie, Winnie, Anna en Theo de Wit

Manie Rust saam met Anna, Winnie, Hugo en Theo de Wit, Anna se man

Winnie skuif die geraamde sertifikaat in die gleuf van die tyd.

Winnie Nel by die sertifikaat van Winnie Rust

Winnie Rust is deur haar alma mater, Hugenote Hoërskool, vir haar bydrae tot die letterkunde vereer.

Hazel Marais en D’Niel Brink gesels met Winnie Nel.

Die program van die geleentheid by die geraamde sertifikaat wat aan die gesin oorhandig is

Die verloop van die seremonie

Bronnelys

Reid, Helena. 2019. Bekendstelling van die Winnie Rust-stigting. Menings, LitNet. 6 November.

Roos, Riette. 2018. Gedig van die eeu: Een dag van morgen – Hans Andreus (In Afrikaans vertaal deur Winnie Rust). 22 Maart. https://rietteroos.wordpress.com/2018/03/22/gedig-van-die-eeu-een-dag-van-morgen-hans-andreus-in-afrikaans-vertaal-deur-winnie-rust.

Terblanche, Erika. 2016. Winnie Rust (1939–2016). ATKV LitNet-skrywersalbum. 7 Julie.

  • Foto’s van Winnie Rust en haar gesin – baie dankie aan haar dogter Anna (Grietjie) wat nou in Nederland woon.
Lees ook:

Winnie Rust (1939–2016)

  • 1

Kommentaar

  • My hart is stukkend. 'n Liewe mens en mede-Wellingtonner, groot vriendin van my peetma, Charlotte Cupido en eggenote van ons huisdokter, Manie Rust, toe ons in Fonteinstraat gewoon het, voor die uitsetting. Al haar boeke gelees. Te vroeg en wreed ontneem van ons. Ek mis haar en sal haar nooit vergeet nie. Liefdegroete uit Washington, DC.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top