Bekendstelling van die Winnie Rust-stigting

  • 0

Die Winnie Rust Stigting (WRS) is op 11 Mei 2019 by Stias in Stellenbosch bekendgestel, ongeveer ’n jaar nadat my ma se moordenaars tot lewenslange tronkstraf gevonnis is en presies drie jaar nadat sy vermoor is. Tydens ’n gesamentlike verklaring deur my en my man, Gordon, in die hooggeregshof in Kaapstad minute na vonnisoplegging toe die veroordeelde moordenaars vasgeketting uit die hof na hulle aanhoudingselle gelei word terwyl mediakameras intimiderend flits, verbind ons ons tot die totstandbring van ’n stigting. Vir ons moes die stigting herinneringe aan my ma lewend hou, maar ook weer ons geloof in ander herstel. Vir ons was die totstandbring van die stigting ’n hardkoppige weiering om op te hou glo in die potensiaal van ons medelandgenote, ’n simboliese verset teen die neerdrukkende geweldstatistieke van ons land. Ons het die verpletterende, afbrekende gevolge van geweldsmisdaad aan ons lywe gevoel: Dag na dag het ons in die hof geluister hoe my ma se moord beplan is, hoe sy gemartel is; en met verstomming het ons gestaar terwyl die Rhode- en De Zalze-hofsake soos ’n riller in dieselfde gebou afspeel en ons daagliks met moordenaars en slagoffers se families omgaan, verstom en verbyster oor die onwerklike en skrikwekkende wending wat ons lewens geneem het.

Vir ons was die bekendstelling van die Winnie Rust-stigting ’n simboliese, nuwe begin. Ons wou dit graag met ander deel en die trauma van die moord en lang hofsaak na die agtergrond skuif. Ons was gretig om die rol van passiewe slagoffers te verruil vir dié van bouers van ’n beter toekoms vir ander. Ons het geweet dit sou nie maklik wees nie, maar ons moes iewers begin.

My man, Gordon Reid (administrateur van die stigting), verwelkom die gaste.

Ek en my twee dogters, Emma en Lena, aan die woord.

Na al die hartseer was 11 Mei 2019 ’n blye dag. Daar was soveel om te vier en soveel goed om te onthou. Tydens sy openingstoespraak spreek Gordon die hoop uit dat ons ma se lewensverhaal nie op ’n sinlose, gewelddadige manier sou eindig nie, maar dat die einde van haar verhaal die begin van nuwe, hoopvolle geleenthede vir ander sou wees. Hoewel die meeste van die gaste my ma geken het, ken die begunstigdes van die stigting haar glad nie. My twee dogters, Emma en Helena jr, wys ’n skyfievertoning om ’n oorsig van hulle ouma se lewe te gee. Ook om te wys hoe haar lewe nie net met Wellington se geskiedenis verweefd is nie, maar ook met dié van Stellenbosch. En om aandag daarop te vestig dat die stigting se fokus op onderwys en opleiding ook sy oorsprong in hulle ouma se familiegeskiedenis en haar persoonlike belangstellings het – haar pa, CP van der Merwe, was ’n passievolle opvoeder, hoof van die Wellington Opleidingskollege, voorsitter van die destydse Onderwysersunie en skrywer van handboeke, en sy self was, buiten ’n skrywer, ook ’n natuurlike pedagoog en opgeleide onderwyseres.

Links: Skyfievertoning van Winnie Rust se lewe. Regs: Alexa (Fuff) Kirsten, die gasspreker, aan die woord.

Terwyl ons die bekendstelling van die stigting beplan het, het ek hard nagedink oor wie ons as gasspreker kon vra. Wie sou regtig die omstandighede van my ma se dood begryp en ten spyte van die skrikwekkende feite met hoop en humor kon praat? Daar was net een mens wat ek geken het wat ook in ’n moordsaak moes getuig. Veertien jaar gelede het ’n vrou wat ’n paar blokke van my ouers se huis in Wellington gewoon het, en ook ’n vriendin van die Rust-familie was, soos my ma en 28 ander mense tussen 2016 en 2017 ’n gewelddadige dood in Wellington gesterf. Hierdie vrou se naam was Lisbe Smuts, ’n lektrise van die Universiteit van Kaapstad. Toe sy aangerand is, is sy te hulp gesnel deur haar buurvrou, Alexa Kirsten. Alexa, of Fuff, soos ons haar ken, het ter nouer dood hierdie wreedaardige aanval oorleef. Na my ma se dood, en gedurende die hofsaak, was Alexa vir ons familie ’n groot bron van inspirasie en hoop. Sy het die ergste beleef en tog deur God se genade hoopvol by die ander kant uitgekom. Van my ma se laaste woorde: “Because I loved life, I know I will love death as well” (’n aanhaling van die digter Tagore) is op Fuff se graffitimuur, of “memory wall”, geskryf. Fuff se kunswerk van Christus se kruis het bo my ma se liggaam gehang toe sy oorlede is. My ma het ook ’n toneelstuk, ’n Venster vol son, oor Alexa en Lisbe se verhaal geskryf wat destyds by die Woordfees opgevoer is.

Tydens Alexa se toespraak, wat seker pynlik vir haar was om te lewer, praat sy oor die gebeure van 2005, toe sy 17 keer gesteek is: hoe sy kon voel hoe haar gees haar liggaam verlaat, hoe sy moes kies om weer te lewe, te leer kruip en dan om te stap, om weer ander te vertrou, te lag en weer met oorgawe te leef. Hoe sy moes leer om bitterheid te laat vaar en om onvergifnis wat jou gevange kan hou en soos lood aan jou bene kan hang, prys te gee. Sy vertel hoe sy deur haar eie skrikwekkende ervaring geleer het, hoe die goeie en positiewe uit ’n ondenkbare tragedie gebore kan word.

Links: Werner Cloete en twee van die leerders van Calling Academy buite Stellenbosch. Regs: Genevieve Zongolo lees haar gedig voor: “Let us carve for ourselves songs of freedom …”

Links: Christinah Mokalake, een van die stigting se begunstigdes. Regs: Keanu Tchebayou word geborg om buitemuurse kunsklasse by te woon.

Daarna kom die begunstigdes aan die woord. Van hulle het nog nooit voor mense opgetree nie en elkeen van hulle, hoewel soms onseker, praat met entoesiasme en trots oor die geleenthede wat die stigting vir hulle skep. Werner Cloete, ’n jong skoolhoof, en sy leerlinge praat oor die Calling Academy buite Stellenbosch wat hoëgehalte-onderwys aan seuns uit lae-inkomste-gemeenskappe bied en buiten die akademiese vaardighede waarmee hulle toegerus word, die seuns ook leer om eendag goeie pa’s vir hul kinders te wees. Keanu Tchebayou (17) wys trots sy kunswerke wat hy by die PJ Olivier Kunssentrum in Stellenbosch geteken het, en Christinah Mokalake, ’n jong ma, vertel opgewonde oor haar opleiding by die Sorbet Skoonheidsinstituut en hoe dit vir haar nuwe werksgeleenthede sal skep. Genevieve Zongolo van Kayamandi is ’n vurige regstudent wat haar eie poësie voordra: “Let us carve for ourselves songs of freedom, with pens as swords dripping with ink. Let us drop and unclench our fists of protest and demand to pick up our pens, open our books, slaying them with ink, drawing pictures in words …”

Christine Siebrits en Chris Pienaar praat oor die Wellington Museum se Winnie Rust-toekenning.

Buiten die Winnie Rust-stigting het ander inspirerende inisiatiewe uit my ma se dood voortgespruit: Christine Siebrits en Chris Pienaar van die Wellington Museum vertel van die Winnie Rust-toekenning wat jaarliks toegeken word aan ’n inspirerende vrou uit ’n benadeelde gemeenskap wat ten spyte van struikelblokke bo haar omstandighede uitstyg om ander te inspireer. Nominasies vir hierdie toekenning word tans ingewag en sluit binnekort. Dan is daar ook die Winnie Rust Skryfskool wat gekoppel is aan die Woordfees en jaarliks deur Douw Steyn en Frederick de Jager van The Talking Table, en bekende skrywers, in Stilbaai aangebied word.

Die Stellies-gemeenskapskoor onder leiding van Xander Kritzinger maak gereed om te sing.

Om die gebeure af sluit, sing Xander Kritzinger se Stellies-gemeenksapskoor Laurika Rauch se “Gang”: “Diep in die donker gang het ek na iets verlang. Ek het die wind hoor sing, lente sal liefde bring. Ek het die dag hoor kwyn, dis net die son wat nou verdwyn. En soos die aarde draai, sal ’n haan weer kraai …” En die trane vloei vrylik terwyl ons onthou hoeveel ons verloor het, maar ook aanhou hoop dat daar ’n nuwe dag vir ons, en vir ander wat ’n soortgelyke pad as ons loop, sal aanbreek.

Terwyl ek na die tyd met gaste gesels, word ek weer opnuut bewus van ander se persoonlike uitdagings en daaglikse stryd om oorlewing: Een bejaarde man was 22 jaar in die tronk en veg nou ’n verbete stryd teen longkanker; ’n ander vriendin het pas ontdek dat sy kanker het; nog ’n vriendin se pa is vermoor; en ’n ander se twee kinders ly aan kroniese, lewensbedreigende siektes. Ons almal gaan gebuk onder die las van pyn en lyding, maar in my ervaring is dit selde tevergeefs: Fuff het die gruwels van geweld ervaar en so die moeilike pad wat ek moes loop vir my voorberei en draagliker gemaak. En die ondenkbare wat ek en my gesin beleef het, rus ons nou toe om vir ander deure oop te maak. Al word ons deur haas ondraaglike omstandighede van alles gestroop, kan niemand ons beroof van die een eienskap wat aan ons menslikheid verleen nie: die vermoë om ander te help.

Besoek ons webwerf by www.winnierust.org vir meer besonderhede oor die stigting.

Die Afrikaanse weergawe is binnekort beskikbaar.

Links: My oudste suster, Anna Rust (regs), wat van Utrecht, Nederland, gereis het om die bekendstelling by te woon. Regs: My oudste dogter, Emma (links), en haar vriendin Chelsea Chapman bespreek die aand se program.

Sarah Oosthuizen verduidelik vir Chantall Baptiste meer omtrent die stigting.

Sue en Sean Farrell gesels met Sarah en Barend Oosthuizen (een van die stigting se trustees).

Gordon Reid (my man en administrateur van die stigting) gesels met Sean en Sue Farrell.

My jongste suster en my ma se naamgenoot, Winnie Nel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top