Samsa-masjien het by die 2014 Absa KKNK gedebuteer, waar dit ook ’n aantal Kanna-toekennings ontvang het vir beste akteur, beste aktrise en regie, sowel as die Herrie-prys vir kopverskuiwende werk.
Willem Anker, wat die teks saam met Jaco Bouwer gekonseptualiseer het, gesels met Naomi Meyer hieroor.

Willem, wat was eerste – die hoender, die eier of die insek? Het jy inspirasie uit Kafka ontvang en toe die teks geskryf, of was daar ’n impetus met ’n insek en toe onthou jy ook van Kafka se teks?
Samsa-masjien het definitief met die goggas begin. Ek en Jaco het sedert 2009 gepraat oor ’n moontlike stuk waar mens kan speel met hoe insekte swerm en skarrel en geraas maak. Dit was eers toe ons begin praat het oor hoe mense swerm en skarrel en geraas maak dat Kafka se gogga sy kop uitgesteek het.
Hou jy van insekte, of is jy bang vir hulle?
Mens kan baie leer by insekte. Hulle was lank voor ons hier en sal lank na ons weg is, nog hier wees. Hulle doen duidelik iets reg. Praat van die kroon van die skepping ...
Ek hou van die meeste van hulle, behalwe muskiete en miere en vlieë.
Gregor Samsa word gaandeweg ’n insek in jou teks. As jy kon kies, wat sou jy word?
Hopelik iets met ’n stert. Sterte is nuttig vir vlieë piets en boomklim.
Die toneelstuk is as vernuwende teater bekroon. Wat beteken dit vir jou om grensverskuiwende toneelstukke te skep – en is dit jou oogmerk?
Ek dink mens skryf toneel, soos enige ander genre, met die oogmerk om die storie op die beste wyse te vertel – om te vra wat die storie nodig het. Ek is bly oor die bekronings wat die stuk gekry het. Pryse help dat produksies verder kan reis. Die teks is in elk geval maar een onderdeel van teater. Om ’n toneelstuk te skep is ’n spansport. Sonder Jaco se ontwerp en regie, Pierre-Henri Wicomb se pragtige klankbaan, en natuurlik die wonderlike akteurs, sou Samsa-masjien net ’n hoop papiere wees, en sou dit nie eens die vismotte se spyskaart vernuwe nie.
Kruisbestuif jou werke mekaar? Het jy op dieselfde tyd byvoorbeeld aan Buys geskryf as aan Samsa-masjien?
Gedurende die Buys-skrywery het ek by tye nog geskaaf aan Samsa-masjien, maar die toneelstuk was klaar geskryf voor ek met die roman begin het. Ek verkies om een ding af te handel voor ek met ’n ander begin, maar die goed bloei maar seker altyd mekaar effe binne.
Die teks van Samsa-masjien was die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir drama.
Lees 'n onderhoud met Antoinette Kellerman oor Samsa-masjien.