Wilhelm Jordaan: Dié veertjie se lewe was van korte duur

  • 2

Nou, met die nuus van Wilhelm Jordaan se dood, wil jy die gans onmoontlike doen: hom en sy werk in ’n neutedop indruk en vertel só en só was hierdie man/professor/digter/rubriekskrywer. Wilhelm leen hom by die nagedagtenis nie tot die vlugtige opsomming van ’n kort memoriam nie. Daarvoor was daar te veel méns.

Sy rubrieke was maar een deel van hom, sy dit dan seker die bekendste. Hoe anders? Hulle het onder verskeie titels, en uiteindelik onder die opskrif “Van alle kante”, 38 jaar lank in Beeld verskyn en later ook in Volksblad en Die Burger – vanaf Junie 1987 totdat hy in Junie vanjaar, presies twee maande voor sy dood, ’n beroerte gehad het.

Sedertdien val die oog steeds Woensdag na Woensdag op daardie regaf kolom op Die Burger se middelblad waar die rubrieke die afgelope jare gestaan het; soek jy steeds na die onmisbare.

Dis ’n lang tyd vir een skrywer om ’n rubriek vol te hou, maar dan was Wilhelm enig in sy soort: die akademikus, die denker met ’n verwysingsraamwerk wat so wyd en diep gestrek het oor die kultuur, die letterkunde, die sosiologie, die sielkunde, die politiek, die religie, gebeure van die dag – die ganse lewe eintlik – dat ek met die hand op die hart kan sê dat ek nooit in die 38 jaar dat ek sy rubrieke gelees het, gedink het dis al weer dieselfde ou storie nie.

Nou kan ’n nuweling wat hom maar onlangs begin lees het, dalk beterweterig van ’n KI-bot in die agtergrond wil praat, maar hier is die ding: Wilhelm het hierdie kennis, idees en insig gehad lank, lank voordat KI selfs net ’n toekomsvermoede was. Van sy ouer rubrieke is in twee bundels gepubliseer onder die titels Van mense gepraat en Spitstyd, meer onlangs was daar Sondesemoer. ’n Mens wil hoop ’n uitgewer doen weer so met sy meer onlangse werk.

In die rubrieke was ’n skeppende skrywer aan die woord, spitsvondig soms, maar nooit nydig nie; sensitief, beredeneerd, gesaghebbend, dikwels vol humor. Stylvol. Soms was ’n rubriek amper liries, wat nie verbasend moet wees nie, want hier was meer as ’n oudjoernalis aan die skrywe (hy het sy loopbaan by Die Volksblad in Bloemfontein begin) – Wilhelm was ook ’n digter, van wie werk in onder meer Tydskrif vir Letterkunde en Gerrit Komrij se versamelbundels van Afrikaanse gedigte verskyn het en wie se debuutbundel, Digterby, goed ontvang is.

Ek het Wilhelm dekades gelede leer ken toe hy al as rubriekskrywer gevestig was en ek hom soms gevra het om ’n artikel oor sosiokulturele kwessies vir Rapport te skryf.

Ek het my dikwels verwonder aan die “verpakking” waarin dié groot intellek en groot gees gekom het. Ek glo nie in al die jare waarin ek met Wilhelm te doen gehad het, het hy ooit ’n woord geuiter oor hoe gereken hy internasionaal en nasionaal as akademikus was nie. Nooit het hy oor sy baie publikasies gepraat nie; nooit het hy my herinner aan al die instellings waarby hy betrokke was nie, van die Vaktaalburo se redaksiekomitee tot die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Hy was immer die gemaklike, gesellige, “gewone” mens. Hy kon op aanvraag oor enigiets dink en skryf, met gesag en met plesier en met ’n fyn oog vir wat in ons land se veranderende gemeenskap aan die gebeur was. En tot sy nimmereindigende eer sal dit strek dat hy in hierdie dae van klaagliedere om die braaivleisvuur oor verval en verglyding nooit self in ’n mineurtoon verval het nie.

Een van die onderwerpe waaroor Wilhelm dikwels met insig en respek gesaghebbend geskryf het, was godsdiens, of ’n mens moet liewer sê religie, teologiese kwessies. In sy rubrieke en in artikels in ander publikasies, onder meer in ’n boek oor die Nuwe Hervorming, het hy ver weg van konvensionele denke gehou. Om maar net enkele van die lang lys van sy artikels en rubrieke oor die onderwerp te noem: “Die gesprek tussen ateïste en gelowiges”, “Geloof maak nie onsin van wetenskap”, en “Geloof het te doen met die hoop dat God ‘iets’ is”. Normaalweg sou sulke onderwerpe maklik woedende debat ontlok het, maar ek kan my nie herinner dat dit ooit met een van Wilhelm se artikels gebeur het nie. Sy rustige argumentering het net ruimte vir respekvolle gesprek gelaat. Meer onlangs het hy soms nader aan die konvensionele Christelike teologie gekom, maar nooit ooit piëtisties of prekerig nie.

Die joernalistiek se verlies in die 1970’s was die akademie se wins. Wilhelm het ná matriek op Grey Kollege in Bloemfontein met ’n Nasionale Pers-beurs sy BA aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat behaal, maar ná ’n paar jaar en ’n draai in Stellenbosch het hy sy MA in sielkunde aan Unisa verwerf, waar hy van lektor tot departementshoof tot visedekaan van lettere en wysbegeerte gevorder het totdat hy in 1999 daar afgetree het. Tussendeur was hy ’n jaar lank ’n besoekende professor by die Johannes Wilhelmus Universität in Münster. Ná sy aftrede het hy nog draaie by die UJ en die UP gemaak. Hy was internasionaal ’n hoog aangeskrewe akademikus. In 2021 het die Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met die Stalsprys vir Sielkunde vereer.

Tussendeur het hy 15 vakwetenskaplike boeke en ’n duisternis artikels geskryf, maar tussen ons nie-akademiese geeste se boeke pryk steeds daardie lywige handboek Mens in konteks, wat vir sy eerstejaarstudente bedoel was en ’n onmisbare naslaanwerk op baie van ons lekeboekrakke is.

Dié boek het hy saam met sy oorlede vrou, Jackie, geskryf. Sy was ook ’n professor in sielkunde aan Unisa en hulle het mekaar in Bloemfontein ontmoet, toe sy ’n jong weduwee was, met twee klein kindertjies, Francois en Corinne Oosthuizen. Saam het hulle ook twee kinders gehad: Willem Jordaan, Die Burger se redakteur, en Margarethé Booysen.

Om Wilhelm en Jackie saam teen te kom, hetsy in hul pragtige huis in Waterkloof waar kuns en kultuur en boeke die agtergrond vir ’n ryke menswees en gesinslewe gevorm het, hetsy by boekvrystellings of lesings elders, was om “een van siel en een van sin” verpersoonlik te sien.

Jackie se gesondheid was in haar laaste jare baie swak, maar in die e-posse wat ons nog soms gewissel het, het ek Wilhelm nooit hoor kla oor die eise wat dit aan hom gestel het nie, het hy met deernis oor Jackie se lyding bly praat. ’n Paar jaar ná haar dood het hy ’n nuwe lewensmaat, Betsie van Niekerk, ’n skrywer en digter, ontmoet en was ’n mens, ook deur sy rubrieke, bewus van ’n nuwe lewensvreugde wat ’n nuwe liefde gebring het. So verwys hy ’n keer na Boerneef se berggans wat ’n veer laat val het en skryf toe: “... agterna bedink ek die veerligtheid van die liefde. Dit kom, soos Sheila Cussons in ’n ander verband skryf, wanneer jy dit nie verwag nie ... so dat die veertjie vir jou reg val en jy hom bêre en vashou.”

Helaas, dié veertjie se lewe was van korte duur, maar sy geskrewe nalatenskap sal nog lank met ons wees.

Lees ook:

Angus Buchan en sy Mighty Men: Wilhelm Jordaan reageer

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top