Wildlife, ’n filmresensie

  • 0

Draaiboek: Paul Dano en Zoe Kazan, gebaseer op die boek deur Richard Ford

Regie: Paul Dano

Akteurs: Carey Mulligan, Jake Gyllenhaal, Ed Oxenbould, Bill Camp

Paul Dano is een van die meer interessante akteurs wat Hollywood die afgelope dekade opgelewer het. Te midde van ’n klompie kleiner rolle het hy veral uitgestaan in Being Flynn (2012) teenoor Robert de Niro en in Paolo Sorrentino se besonderse Youth (2015). Wildlife is sy puik debuut as regisseur, met ’n knap draaiboek deur hom en sy lewensmaat, aktrise Zoe Kazan.

Die verhaal speel af in 1960 in kleindorpse Amerika, met ’n pa (Jake Gyllenhaal), ma (Carey Mulligan) en veertienjarige seun (Ed Oxenbould). Op die oog af is Jerry, Jeanette en Joe die perfekte gesinnetjie, maar reeds vanaf die openingstoneel broei spanning onder die oppervlak. Dis duidelik dat Jeanette, wat al op 19 getrou en ma geword het, ingeperk voel deur haar voorgeskrewe rol van onderdanige huisvrou. Jerry is ’n gawe man, maar in die tipies patriargale opset van die tyd neem hy alleen die besluite, maak nie saak wat haar opinie is nie. Wanneer Jerry sy werk verloor en aansluit by ’n span brandslaners, breek Jeanette uit en begin haar eie kop volg. Die vernietigende veldvuur wat in die berge van Montana woed, word ’n metafoor vir hul huwelik, terwyl Joe verskeur in die middel staan.

Iewers in die tienerjare is daar ’n tydperk of gebeurtenis wat die deurgang is na volwassenheid – en dit word gewoonlik gekenmerk deur ontnugtering. Wildlife, uit Joe se oogpunt vertel, is die aangrypende verslag van so ’n ontnugtering, uiteindelik saamgetrek in ’n besonder bevredigende slot. Die ander element wat hierdie film so treffend maak, is die uitstekende ensemble-spel, met die jong Ed Oxenbould wat nie ’n tree terugstaan vir sy meer ervare medespelers nie.    

Wildlife word hoog aanbeveel vir kykers wat hou van ’n stewige drama.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top