Wildernis van menslike belewenis in Die troebel tyd van Ingrid Winterbach

  • 0

Wildernis van menslike belewenis in Die troebel tyd van Ingrid Winterbach

Susan Meyer, Skool vir Taalonderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 16(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die troebel tyd skep ’n genuanseerde uitbeelding van depressie, ’n steeds gestigmatiseerde verskynsel in ons samelewing, ’n kritiese bewustheid van “andersheid” oftewel die afwyking van die sosiaal gekonstrueerde norm. Die roman beeld ook die voortgang ná depressie uit, geestelike oorlewing wat verbind word met belewings rondom walvisse en ontmoetings met hierdie diere wat die hooffiguur se lewe “in ’n beduidend ander koers stuur” (teksomslag). Die ondersoek vind plaas binne die teoretiese raamwerk van die derde golf in die ontwikkeling van die ekokritiek, en verloop in ooreenstemming met een van die sentrale oogmerke daarvan: die verkenning van verskillende aspekte van menslike ervaring vanuit ’n omgewingsoogpunt.

Die ondersoek is daarop gerig om te onthul hoe die dualistiese beskouing van menslike belewing teenoor “ander” of “periferale” lewensvorme in Die troebel tyd uitgedaag word. Hierdie tweeledige beskouing word vervang met ruimer idees in verband met die verskille wat die begrip menslik in sigself huisves. Die uitbeelding van Magrieta se “andersheid” is onder die soeklig. Aan die hand van Serenella Iovino se onderskeid tussen die verskillende terreine van “andersheid” binne die menslike belewingswêreld as teoretiese vertrekpunt word die uitbeelding van Magrieta se depressie as “wildernis van gees” ontleed en beskryf. Daar word vasgestel dat haar innerlike toestand van “wildernis” op bevrydende wyse in groter insig oor die aard van menswees uitmond en hoe dit gebeur: deur die prosesse van oopstelling vir en gefokuste aandag aan verskynsels uit die natuurwêreld, deur direkte en subjektiewe belewings daarvan. ’n Mistieke reis, waarin ontmoetings met walvisse die bakens op die pad is, lei tot begrip omtrent ’n wyer bestek van menswees, maar terselfdertyd ook omtrent die geringe plek van die mens. Die mens is bloot mede-aanwesige met alle lewensvorme in die gedeelde skeppingsgeheel; medereisiger met ander swerwers van menslike en niemenslike aard. 

Trefwoorde: “andersheid” as eienskap van die mens; depressie; Die troebel tyd; ekokritiek; Ingrid Winterbach

 

Abstract

Wilderness of human experience in Die troebel tyd (Ingrid Winterbach)

This study is presented within the theoretical framework of the third wave of ecocriticism which manifests by means of a new diversity of voices contributing to the understanding of humans’ relationship to the planet. According to Adamson and Slovic (2009:7) third-wave ecocriticism explores all facets of human experience from an environmental viewpoint. Serenella Iovino (2010:54) asks critical questions about the implications: What does ecocriticism mean if we include “all facets of human experience”? What is the role, or better, the scope of the human for ecocriticism? And how does ecocriticism deal with the multiplicity of human experience? In my ecocritical approach to Ingrid Winterbach’s Die troebel tyd (A turbid time) I want to subscribe to Iovino’s (2010:54) question: “How might the idea of Otherness (an Otherness more radical than the socially constructed one) play a role in this ‘discourse on the human’, an implicit – and yet essential – concept in ecological culture?”

Ecocriticism supports the premises of co-presence and interdependence with regard to the human and nonhuman rather than ideas about a demarcated duality. Iovino (2010:54) posits, “[W]e see reality as a system of co-existing entities, one that does not require, by principle, a hierarchical organization.” Die troebel tyd lends itself to an investigation into the replacement of the dualistic view of human experience versus “other” or “peripheral” life forms with broader ideas with regard to the differences the concept of human per se accommodates. 

In Die troebel tyd the nuanced portrayal of depression, a still stigmatised phenomenon in our society, creates critical awareness of “otherness” at a human level, that is, deviation from the socially constructed norm. I studied the novel to discover what could possibly be meant by the term human in third-wave ecocritics’ statement that ecocriticism aims to study varied human experiences. I wanted to uncover the differences inherent in the concept of human in this novel. I therefore focus on how the novel ties in with the ecocentric method which, according to Iovino (2010:55), entails “extending the reflection on the idea of ‘human’ beyond its socially constructed characterizations (as in the second wave ecocriticism), at the same time rethinking the concepts of ‘otherness’ not exclusively in relationship to non-human nature (as in the first wave ecocriticism)”. I share Iovino’s belief that by placing the focus not outside but inside the human being, ecocriticism can contribute to a critical reflection on “otherness”, taken as an attribute of the human.

Iovino (2010:55) argues as follows about human disability, which she dubs “islands of otherness inside the human world”: “Disability creates a ‘wilderness zone’ inside the civilized or ‘tame’ area of humanity-as-normality. By showing that the Other is not only nature (as the other-than-human), disability introduces a radical facture in the traditional taxonomy of the human subject. The human itself can become the Other, the human alien. Examining this ‘alien’ presence within the human is a way for ecocriticism to deconstruct the idea of humanity-qua-normality and to approach a more complex and inclusive type of humanism.” She differentiates between the different zones of “otherness”: she describes physical disability as “wilderness of the body”, mental illness as “wilderness of the mind” and mystical experiences as “wilderness of the ‘more than human’” (Iovino 2010:55).

This investigation is undertaken in two phases. First I attempt to analyse and describe the portrayal of the character Magrieta’s “wilderness of the mind” in Die troebel tyd. Secondly, I determine how her inner “wilderness” yields broader insight into the nature of humanness and how it occurs through the processes of openness to and focused attention on phenomena in the natural world through direct and subjective experiences of them. A mindset of sensitive co-presence in the enveloping sphere of life, rather than hierarchical positioning – in the sense of subordinating the nonhuman to humanity – forms the basis of Magrieta’s experiences.

Magrieta’s state of psychic imbalance places her beyond the bounds of social acceptability: in the eyes of society and her employer, she acts “wildly” – erroneously, irregularly, abnormally. From the first phase of the investigation the clear-cut symptoms and the complexity of depression, as well as modern societal situations and practices that contribute to a sick spirit in these times emerge. 

The second phase focuses on Magrieta’s inclusive attitude in respect of the nonhuman world and on suggestions of a larger, complex hierarchy of coexistence. In addition to the scientific knowledge she possesses as a zoologist, a mystical bond with whales develops. The mystical journey depicted is guided by encounters with whales as well as by the messages and symbols associated with them. A crucial moment in this journey is Magrieta’s experience of a washed-up whale on the beach of Jacobsbaai, and specifically of the dead eye in which she recognises something of her own dead emotional state. A process of mental illumination starts at this point. A nameless, possibly imaginary, woman becomes part of the mystical journey – a woman who embodies and discloses aspects of Magrieta herself and leads her to the discovery of a world of displaced persons of whom she had never wanted to take note before. An encounter with a jumping whale is the highlight of the mystical journey: the awe-inspiring animal with its glittering, lively eyes takes hold of her with a transforming power.

Contact with the divine in this revealed greatness of creation lifts Magrieta out of her inward-facing bondage – it has the opposite effect of outward-rippling empathy. Her experience of a bond with organisms that share the larger space of creation is extended to empathy with others who also share her human sphere of life. The exploration of the “wild” inner spaces of humanity and the attention to mystical bonds between different life forms lead the reader to the realisation of the impossibility to differentiate sharply between the concept of human and supposed opposite concepts like nonhuman.

Die troebel tyd makes a valuable contribution to the argument that “otherness” ought to be seen as part of humanity, no longer exclusively related to the nonhuman.

Keywords: depression; Die troebel tyd; ecocriticism; “otherness” as a human quality; Ingrid Winterbach

 

1. Inleiding en konteks

In 1984 debuteer Lettie Viljoen met Klaaglied vir Koos. Die leser betree die wêreld van ’n vertroebelde jong vrou wie se man deur die Suid-Afrikaanse Grensoorlog uit haar lewe weggeruk word, in die driftige openingsparagraaf: “Buite skop ek die tuinhek eers van binne af oop, dat hy ver verby sy normale swaai swáái, en toe skop ek hom van die ander kant af terug, dat sy skarniere ingee. […] Ek stamp my kind in die kar in. Ek slaan die deur toe. Ek rev die kar. Hier begin my relaas” (Viljoen 1984:1). 

Sowat drie dekades later verskyn Ingrid Winterbach se Die troebel tyd (2018) en word as wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd van 2018 aangewys. Die openingsparagrawe kleur die “troebel” toestand waarvan die titel praat op saaklike wyse in: Magrieta Prinsloo se lewe word tot stilstand gedwing deur “’n donkerte, ’n dodelike torpor” wat van haar besit neem (7).1 Die medikasie wat ’n psigiater voorskryf, lei tot ’n manies-destruktiewe periode. Sy vervreem haar man en vriende, vaar tierend onder haar kollegas in, verwoes eiehandig ’n belowende loopbaan as gerekende dierkundige en akademiese navorser van formaat. 

In die oeuvre van Ingrid Winterbach, wat aanvanklik onder die skrywersnaam Lettie Viljoen gepubliseer het, neem gemoedsgekweldheid en -“troebelheid” verskillende gestaltes aan; ’n spektrum van emosionele pynscenario’s en belewingsvorme van verlies, verdriet, trauma en verlange word in opeenvolgende publikasies uitgebeeld. (Meer hieroor in ’n volgende afdeling.) In Die troebel tyd is depressie herkenbaar – ’n geestesongesteldheid wat volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se beskrywing chronies of herhalend kan wees en wesentlike beperkings kan oplê aan ’n individu se vermoë om daaglikse verantwoordelikhede na te kom (World Health Organization s.j.a).

Die leser se ontmoeting met Magrieta en haar wetenskaplike kennis van die evolusieprosesse op aarde oor miljoene jare heen hou veel bekends in. Hannah in Belemmering (1990) was ’n paleontoloog, ’n ingewyde in die wetenskap omtrent fossiele, plante en diere. Die aandag aan die feitelike wêreld van ongewerwelde diere wat in Die troebel tyd opval, is wyd bekend in die Viljoen-/Winterbach-oeuvre. Reeds in Klaaglied vir Koos is daar die verteller se solidariteit met insekte, verbandhoudend met die proses van metamorfose wat die vrou self deurmaak om te kan “invoeg by die lotsbestemming van die land” (Viljoen 1984:9). Jansen (2016:1072) verwys na die “gelykstelling tussen mense en insekte” in verskillende latere werke – byvoorbeeld die gelykskakeling van Karolina met ’n sekere motsoort in Karolina Ferreira (1993) wat in die teken van psigiese transformasie staan, en na allerlei wesens wat in Landskap met vroue en slang (1996) transformeer: skoenlappers, motte en ruspes, asook reptiele soos die slang. In Belemmering is dit die metamorfose van die sywurm wat ’n betekenisvolle gegewe word, soos ook in Vlakwater (2015).

In Die troebel tyd is die affiniteit met ongewerweldes terug. Magrieta verklaar ’n “spesiale band met die wurm” (15); haar kundigheidsgebied word só in ’n werkonderhoud saamgevat: “Sy’t gewerk op die evolusionêre ontwikkeling van die filum Annelida uit die Ordovisium, die bloeityd van die ongewerweldes. Op die erdwurm, om presies te wees” (9). Viljoen (2018) merk op dat die roman Magrieta se bestudering van erdwurms, wat landdiere is maar ’n akwatiese verlede het, op byna poëtiese wyse plaas teenoor haar aangetrokkenheid tot walvisse wat in die see leef, maar aanvanklik wolfagtige landdiere was. 

Ter verdere kontekstualisering: Die gegewens omtrent Magrieta se morbiede belangstelling in Tibettaanse kuns, op die eerste bladsy van Die troebel tyd, is nie vreemd teen die agtergrond van beswaarde en gefolterde karakters in Winterbach se oeuvre nie. Genoemde gegewens, so vroeg in Die troebel tyd geplaas, konfronteer die leser dadelik met depressie op ’n akute skaal; met Magrieta se donker woede en onstabiliteit, grensend aan paranoia, wat haar tot dié donker Tibettaanse kunsvorm aangetrokke laat voel:

Die illustrasies van die terrible deities fassineer haar, met hulle angswekkende grynslagte, hulle drie oë, hulle veelvuldige arms, hulle linkervoet op die verbryselde skedel van die oorwonnenes, die krone en halsbande van skedels, die tromme van menslike vel, die halfskedels met bloed gevul. Hoe donkerder die beelde, hoe beter, hoe meer kan sy daarmee identifiseer. (7) 

Magrieta se situasie ná die verlies van ’n loopbaan wat sy passievol gevolg het, is ’n weerklank van Stefaans (Die benederyk, 2010) se geworstel met depressie, gekoppel aan sy dekades lange dwelmverslawing. Dit herinner ook aan Niek Steyn (Vlakwater) se gesukkel om ná ’n verbrokkelde verhouding en ’n tyd van verlies weer op dreef te kom. Die klank van verdriet en verlatenheid, in Die troebel tyd ’n uitvloeisel van die verlies van ’n soliede akademiese loopbaan en byna ook ’n huwelik, klink orals in die Viljoen-/Winterbach-oeuvre op. Dit is teenwoordig in Niggie (2002), waar bykans elke karakter ’n liggaamlike of geestelike letsel van die Anglo-Boereoorlog dra en met persoonlike trauma stoei; dis ewe sterk sigbaar in Die boek van toeval en toeverlaat (2006), wat Helena Verbloem se verhaal oor verlore liefde, verliese, afskeid en die dood vertel. In die roman manifesteer die tema van verlies onder andere in die diefstal van die skulpe wat so intiem verbonde is met Helena se geestelike welsyn. In Die troebel tyd word aansluiting hierby gevind in die gegewens van Magrieta se intense verlies en pynlike kastyding omdat sy haarself beroof het van ’n loopbaan wat ook die spil van haar geestelike welsyn was. Sy betreur dit wat gebeur het:

Sy’t ’n fout gemaak. Sy hoort […] op haar knieë […] op soek na fossiele uit die Middel-Kambrium. Sy hoort in haar eie laboratorium, in ’n wit jas, agter ’n mikroskoop. […] Haar lojaliteit lê by die erdwurm. Dít is haar roeping, dít is waar sy hoort. (22)

Hierdie rou belewing van verlies herinner ook sterk aan Karolina Ferreira en aan die verskillende vorme van verlies daarin: dié van die vaderfiguur en van erkenning deur hom, van geloof in liefde, van die vermoë om te vertrou, van ’n onvervulde jeug. Akademici se belangstelling in hierdie aspek van Winterbach se werk is duidelik uit ’n verskeidenheid gepubliseerde studies.2

’n Element van Winterbach se oeuvre wat egter nog nie aandag ontvang het nie, is die natuurgerigte inslag van verskeie van haar romans waarin natuurwetenskaplikes ’n rol as hoof- en newekarakters speel. ’n Ekokritiese ondersoekraamwerk sou verdere diepte aan die ontleding en bespreking van hierdie tekste kon verleen. Die ekokritiek se studieterrein is, kripties omskryf, enige kultuurproduk wat hom bemoei met die menslike verhouding met die fisiese (natuur)omgewing (Glotfelty 1996:xviii; Huggan en Tiffin 2010:12). Die troebel tyd, ’n teks waarin sensitiwiteit ten opsigte van natuurwesens en die natuuromgewing duidelik blyk, bring opnuut ’n bewustheid van die nodigheid dat ook deur ’n ekokritiese bril na Winterbach se oeuvre gekyk moet word. Met hierdie artikel word dus, vanuit ’n nuwe en waardevolle invalshoek, voortgebou op die ryk argief van navorsing oor haar werk wat reeds bestaan. 

In die volgende afdeling word die teoretiese vertrekpunte vir my studie, hoofsaaklik dié van die ekokritikus Serenella Iovino, bekendgestel.

 

2. Teoretiese uitgangspunte

Die troebel tyd bied ’n skerp omlyning van die simptome en kompleksiteite van “hekties, virulent bedruk” te wees (8). Die aard, omvang en die verwoestende gevolge daarvan word in meer as net Magrieta se eie lewe uitgebeeld. Verder lewer die roman ook kommentaar op die moderne samelewingsituasie en -praktyke wat bydra tot ’n toestand wat as ’n siek tydgees beskryf kan word. Dit beeld egter ook die voortgang ná depressie uit, die geestelike oorlewing wat moontlik is vanweë die aktivering van geesteskrag. Wat opvallend is ten opsigte van laasgenoemde is die eksplisiete verbintenis van geestelike oorlewing in die roman met die walvis op die boekomslag en met verskillende ontmoetings met hierdie diere wat Magrieta se lewe “in ’n beduidend ander koers stuur” (omslag).

Die idee van die niemenslike wat die mens en sy omstandighede “stuur” of beïnvloed, roep die begrip agentskap (agency/agentic power) uit die veld van die materiële ekokritiek op – ’n begrip wat die krag, beïnvloedingsmag of aktiewe inwerking van die niemenslike op die menslike suggereer.3 Die materiële ekokritiek skakel met die sogenaamde derde golf in die ontwikkeling van die ekokritiek,4 waarna Adamson en Slovic (2009:6) verwys as die nuwe verskeidenheid van stemme wat bydra tot die pogings om die mens se verhouding met ons planeet te begryp. Hierdie denkgolf is sowat ’n dekade gelede, in die 2009-someruitgawe van MELUS, aangekondig met verwysing na die swaai in die rigting van etniese globaliteit5 en na selfkritiese tendense, gerig op die verkenning van verskillende verhoudingsaspekte met betrekking tot die aardomgewing. Adamson en Slovic (2009:7) beweer dat hierdie derde ekokritiese golf gerig is op die verkenning van alle aspekte van menslike ervaring vanuit ’n omgewingsoogpunt.6

Serenella Iovino is geïnteresseerd in die praktiese implikasies van Adamson en Slovic se pas genoemde stelling. Iovino (2010:54) vra: Wat sou die ekokritiek se bedoeling wees wanneer alle aspekte van menslike ervaring as ondersoekterrein ingesluit word? Hoe kan die ekokritiek tot “redevoering oor die mens” bydra? Dan volg twee baie belangrike vrae, en dis hierdie kwessie wat ook my ekokritiese interpretasie van Die troebel tyd rig: Hoe hanteer die ekokritiek die menigvuldigheid van menslike ervaring? En hoe mag die idee van Andersheid (’n Andersheid meer radikaal as die sosiaal gestruktureerde norm) ’n rol speel in hierdie diskoers oor die mens, ’n implisiete – maar tog noodsaaklike – konsep op die gebied van ekologiese kultuur (Iovino 2010:54)?

Vorme van ongeskiktheid (“disability”), hetsy op liggaamlike of geestelike vlak, bied ’n uitdaging ten opsigte van vooropgestelde idees oor en konvensionele beskouings van menswees en “normaliteit” – meestal ongeag die sosiale konteks, kulturele verband of geloofsituasie (Oliver en Barnes 1998:14; Earle 2003; Iovino 2010:55). In Die troebel tyd skep die besonder genuanseerde stemgewing aan depressie, ’n steeds gestigmatiseerde verskynsel in ons samelewing,7 ’n kritiese bewustheid van “andersheid” (“otherness”) op menslike vlak, oftewel van afwyking van die sosiaal gekonstrueerde norm. Die roman herinner ons aan die politieke potensiaal van letterkunde wat in Calvino se The uses of literature so treffend uitgelig word. Calvino (1986:98) betoog dat letterkunde ’n stem gee aan wat ook al sonder ’n stem is; dit gee ’n naam aan dit wat tot dusver geen naam gehad het nie, veral aan dit wat deur die taal van die politiek uitgesluit word. Dit kan aspekte van die buite- of binnewêreld wees, of tendense wat in beide die individu en die samelewing onderdruk word. In aansluiting hierby kan Zapf (2002:62) se uitspraak oor die potensiaal van letterkunde gelees word, naamlik dat letterkunde wanbalanse en agterstande kan uitbeeld, asook teenstrydighede binne dominante sisteme, en so die (Westerse) kulturele diskoers kan oriënteer in die rigting van ’n herintegrasie van wat gemarginaliseer, verwaarloos, onderdruk en uitgeslote is.

Die wortels van die ekokritiek lê in die humanistiese beginsel van die verwerping van ideologiese standpunte van gesag. Iovino (2010:54) herinner ons dat ekokritiek vereenselwig met die humanisme se strewe na meer woorde om aan ’n breër en meer gevarieerde ervaring van die wêreld beslag te gee en om ’n meer inklusiewe, (mede)menslike basis vir ons begrip van die wêreld daar te stel. In my ekokritiese benadering tot Winterbach se roman sal ek juis ’n antwoord probeer vind op Iovino se vraag: Wat word met die term menslik bedoel in die verklaring dat die ekokritiek hom rig op die bestudering van gevarieerde menslike belewing?

Vertrek ’n mens vanaf die uitgangspunt dat die ekokritiek as ’n “inklusiewe kultuur van verskille” (Iovino 2010:54) verstaan wil word, sal die aandag eerstens gevestig moet wees op die verskille wat in die begrip menslik self opgesluit lê. Iovino (2010:55) verduidelik, in helder en presiese formulering, wat so ’n benaderingswyse sou behels:

This means extending the reflection on the idea of “human” beyond its socially constructed characterizations (as in the “second wave” ecocriticism), at the same time rethinking the concepts of “otherness” not exclusively in relationship to non-human nature (as in the “first wave” ecocriticism). By placing the focus not outside but inside the human being, ecocriticism can contribute to a critical reflection on humanism, in which the category of radical otherness, taken as an attribute of the human, plays a pivotal role.

Die stigma wat aan depressie gekoppel is, vorm die kern van die redenasie dat hierdie toestand, wat in Die troebel tyd deel van die sentrale verhaalgegewe vorm, as ’n vorm van “andersheid” beskou kan word, oftewel as ’n afwyking van die sosiaal gekonstrueerde norm. Die Wêreldgesondheidsorganisasie definieer stigma as “a mark of shame, disgrace or disapproval” en wys daarop dat stigma lei tot die verwerping van, diskriminasie teen en uitsluiting van ’n individu op verskillende samelewingsgebiede (World Health Organization s.j.a). Scrambler (1998:1054) beskryf ’n stigma as enige eienskap of versteuring (“disorder”) op grond waarvan ’n individu bestempel word as verskillend, op ’n onaanvaarbare vlak, van die “normale” mense met wie interaksie plaasvind. Dit is natuurlik belangrik om te onthou dat die vlak en tipe van stigma of diskriminasie beïnvloed word deur verskeie faktore, onder andere die aard van die spesifieke toestand, die ouderdom van die persoon en die kultuurgroep waarin die persoon hom/haar bevind. Stigma impliseer egter dat ’n individu onteenseglik “anders” is in die oë van dié wat die “stigmatisering” doen (Dudley 2000:449–500) en Scrambler 1998:1054).8

Magrieta se geestestoestand bevat ’n element van verwildering: “Sy droom van vuur, van kronkelende slange, van tierende storms, van mense van wie die vel afgetrek is” (8). Sy leef in ’n geestesomgewing wat al vyftien jaar as haar eie “normaliteit” aan haar bekend is; in die oë van die samelewing en haar werkgewer tree sy egter “wild” op: foutief, onreëlmatig, abnormaal. Hierdie psigiese onewewigtigheid of “wildheid” plaas haar buite die grense van sosiale aanvaarbaarheid: haar “kop (het) uitgehaak” (170).

Iovino (2010: 55) redeneer soos volg oor menslike ongesteldheid, wat sy “islands of otherness inside the human world”9 noem en wat die beste uit haar unieke bewoording begryp kan word:

Disability creates [...] a “wilderness zone” inside the civilized or “tame” area of humanity-as-normality. By showing that the Other is not only nature (as the other-than-human), disability introduces a radical facture in the traditional taxonomy of the human subject. The human itself can become the Other, the human alien. Examining this “alien” presence within the human is a way for ecocriticism to deconstruct the idea of humanity-qua-normality and to approach a more complex and inclusive type of humanism.

Iovino beskou dit as die taak van die ekokritiek om die fokus van die ondersoek na die binneruimte van die mens te verskuif, en om die begrip van andersheid as deel van die mens te ondersoek, nie langer as verbandhoudend met eksterne menslike-niemenslike-verhoudings nie. Sy redeneer dat die ondersoek na menslike ervarings vanuit ’n ekokritiese perspektief juis die ondersoek na die grense van menslikheid impliseer, die binne- en buitedimensies daarvan, en om verby die vasgestelde grense van die begrippe mensheid en menslik te beweeg (Iovino 2010:58). So ’n ingesteldheid impliseer die voorstelling van ’n kultuur waar die “menslike aard” nie meer as vanselfsprekend aanvaar word nie, maar voortdurend herontdek en herontwerp word (Iovino 2010:58).

Die uitbeelding van Magrieta se “andersheid” word in Die troebel tyd ondersoek as eienskap in die mens – daardie “otherness inside the human being” (Iovino 2010:55) – en nie eksklusief in verhouding tot niemenslike bestaan nie. Hierdie andersheid genereer egter ’n skakel met niemenslike lewensvorms. Die andersheid in Magrieta skep vervreemdende ervarings in samelewings- en kulturele verband – sy beland as ’n soort “uitgespoelde” buite die professionele en sosiale lewenstroom, onder die starende oë van verstomde mense. Dis ’n ervaring van vreemdheid of andersheid wat sy deel met die uitgespoelde walvis in Johannesbaai, die dier wat met verstomming bejeën word in al sy enormiteit en ontsagwekkendheid.

Iovino (2010:54) herinner ons daaraan dat die ekokritiek baie eksplisiet die dogma van asimmetriese dualismes en die geïmpliseerde skeiding tussen, onder andere, kultuur en natuur asook tussen mens en die niemenslike, ontken. Ekokritiek ondersteun die uitgangspunte van mede-aanwesigheid en onderlinge afhanklikheid ten opsigte van die menslike en niemenslike, in stede van ’n duidelik afgebakende tweeledigheid. Iovino benadruk egter dat hier geen simplistiese wêreldbeskouing rondom die idees van harmonie en balans gebou word nie; die begrip van tweeledigheid word eerder vervang met dié van kompleksiteit. Dit impliseer dat die werklikheid beskou word as ’n sisteem van entiteite wat saam en interaktief bestaan; ’n sisteem wat nie die beginsel van hiërargiese organisasie ondersteun nie (Iovino 2010:54).

Die dekonstruksie van die gelykstelling van “menslikheid” aan hiërargiese voorkeur in Die troebel tyd suggereer ’n groter, komplekse hiërargie van saambestaan. Aanvullend tot die wetenskaplike kennis wat Magrieta as soöloog het, ontstaan die byna mistieke verbintenis met walvisse in wie se teenwoordigheid sy wil uitroep dat sy van onkenbare dinge “kennis neem” (40). In afdeling 3.2 word die kwessie van die mistieke in hierdie roman bespreek.

Wanneer Iovino dit het oor die nodigheid van ’n herbesinning oor die begrip mens/menslik om weer aan die volle dinamiese kompleksiteit daarvan erkenning te gee, sluit sy aan by wat Jean-François Lyotard, een van die toonaangewende Europese filosowe oor die postmoderne toestand van die mens, oor die dilemma van die mens gesê het, naamlik dat die mens in ’n situasie van biologiese teenoor kulturele kwessies vasgevang sit. Lyotard (1991:81) noem dit die dilemma tussen die binne- en buitesituasies, tussen die gelyktydige toestande van “wild” en ook “beskaafd” te wees. Iovino (2010:58) bou voort op die argument oor die noodsaak van ’n wesentlike begripsuitbreiding ten opsigte van die bestek van menslike ervaring, juis om aan die lig te bring hoe problematies, wisselvallig en gevarieerd die aard van menswees is. Dit is by hierdie argument dat my romanontleding in die volgende afdeling sal aansluit. Die verskille wat in die begrip menslik opgesluit lê, sal verken word met spesifieke aandag aan die andersheid van Magrieta se belewing wat in Die troebel tyd uitgebeeld word.

Ek stel my ten doel om vas te stel hoe depressie as ’n ervaringsvorm van menslike andersheid (“human otherness”) in Die troebel tyd literêr gestalte vind, asook hoe die ervaring van andersheid in die karakter van Magrieta gekoppel word met ’n inklusiewe persoonlike ingesteldheid ten opsigte van die niemenslike wêreld. Ek ondersoek die vervanging van die dualistiese beskouing van menslike belewing teenoor “ander” of “periferale” lewensvorme in hierdie roman met ruimer idees in verband met die verskille wat die begrip menslik in sigself huisves. Sulke verskille in individuele belewing word dikwels, volgens Zapf (2002:62), onderdruk uit vrees vir uitsluiting of marginalisering op grond van die etikettering daarvan as tekortkoming, wanbalans of onvermoë in samelewings wat hierdie “andershede” nie akkommodeer nie.

Die ondersoek word in twee fases aangepak. Eers word gepoog om die uitbeelding van Magrieta se “wildernis van gees” in Die troebel tyd te ontleed en te beskryf; daarna word vasgestel hoe haar innerlike “wildernis” in groter insig in die aard van menswees uitmond en hoe dit gebeur: deur die prosesse van oopstelling vir en gefokuste aandag aan verskynsels in die natuurwêreld; deur direkte en subjektiewe belewings daarvan.

 

3. Mens en vis en “wildernis”

3.1 Wildernis van die gees

Die eerste terrein wat Iovino (2010:55) onderskei in haar beskrywing van andersheid binne die menslike belewingswêreld – oftewel die breuk ten opsigte van die konvensionele beskouing van die mens as “normaal” – is die “wildernis” op fisieke vlak, dus fisieke gestremdheid of gebrek. Die tweede “wildernis”-terrein is geestesongesteldheid, die sogenaamde wildernis van die gees (Iovino 2010:55). Magrieta Prinsloo bewoon hierdie geestesterrein in Die troebel tyd

Aan die einde van Magrieta se 14de jaar beleef sy dat haar liggaam teen haar draai (144); op 15 slaan die depressie met mening toe. Dit vervreem haar van haar bekende self. Ten spyte daarvan dat sy lief is vir vakke soos biologie, en “hou van goed in bottels”, besluit sy: “Sy haat skool. Skool is uitermate kak” (145). Sy raak ontslae van haar slak-labirint, van haar skulp- en klipversameling, van haar miertuin. Sy begin haar “arme, niksvermoedende pa” aanval; sy kritiseer hom, sy tart hom, sy treiter hom (145, 146). Sy is “eiesinnig, rebels en bedruk” (144); sy argumenteer met haar onderwysers; sy wil by die dominees slaap – sy het “nie ’n saak met God nie” (145). Depressie maak haar rasend ongedurig en skep ’n moeras van geestelike en emosionele chaos: “Sy wil enige plek wees behalwe hier, op hierdie plek, in hierdie skoolsaal, op hierdie ellendige Maandagoggend, in hierdie liggaam” (145).

Depressie ontneem Magrieta oor tyd heen van elke stukkie lewenskwaliteit en -waardering. Vir jare lank is sy soos iemand wat “op die bodem van ’n rivier loop, met haar hande onsiende voor haar uitgestrek”; toe sy “proestend na die oppervlak kom”, is dit met ’n kind aan die bors en ’n mislukte huwelik (147).

Mettertyd dryf die siekte, waarvoor sy nie doeltreffende behandeling vind nie, haar dieper in die wildernis van chaotiese ervarings in. Sy word “kwaad en huilerig tegelyk” wakker, voel heeldag “befoeterd en onbehaaglik”. “Sy wil nie by die huis wees nie en ook nie by die Buro nie, al hou sy so baie van (kollega) Isabel” (95). Sy tree impulsief en volgens haar onbetroubare emosies op; sy stap snags alleen deur die strate en sy dink: “Laat één, laat net één enkele siel dit wáág om aan haar te raak. Sy sal hulle onthoof en hulle liggaam in stukke kap” (8).

Tydens ’n belangrike navorsingsprojek bereik die situasie ’n krisis: “Toe gaan iets fout. Die Here weet. Toe ontspoor ek heeltemal” (143). Hierdie gebeure bring die wanhopige besef dat sy in die moeras aan die wegsak is; dat hierdie wildernis ’n kosbare deel van haarself, die loopbaan waarin sy uitmunt, ingesluk het. “Dit was my enigste verdomde lewe,” is haar slotsom (143).

Magrieta se “ontsporing” spruit uit ’n rampspoedige eksperiment met haar medikasie; sy is weke lank “in ligte laaie” as gevolg van “die elektriese lading van haar ooraktiewe sinapse” wat haar oordeelsvermoë ernstig belemmer:

Niemand moet haar aanvat nie. Daar styg ’n energie op wat [...] dreig om haar te verswelg. In plaas van apaties bedruk, soos die voorafgaande maande, is sy woedend bedruk. [...] Sy beledig haar departementshoof [...]; sy sê die departement waaraan sy verbonde is, in die openbaar sleg; sy beskuldig die assistente onder haar in die laboratorium van nalatigheid, dooierigheid en algemene onnoselheid. (7–8) 

Die effek van depressie op Magrieta se sosiale en gesinsverhoudings word in skreiende besonderhede uitgebeeld. Sy vervreem haar vriende deur haar uitgesproke kritiek op alles wat hulle sê en doen (8). Haar pa, “die persoon wat haar liefde vir wurms en insekte en honde – die ganse natuurlike wêreld trouens – aangewakker het” en haar gehelp het om ’n miertuin te bou, asook ’n doolhof vir haar slakke (75), word die teiken van meedoënlose treitering en kritiek, selfs in die teenwoordigheid van familie op besoek (146). Hy is “’n beskroomde man, nie selfgeldend nie”, en sy enigste verweer teen Magrieta is om hom van haar te onttrek. Hoe meer hy egter onttrek, hoe venyniger val sy hom aan (144). Vir Willem, die geesgenoot in haar tweede huwelik, sê sy: “Ek wil jou graag liefhê, [...] maar ek kan nie meer nie. Van my beste voornemens kom daar niks” (8).

Die impak wat depressie op die emosionele funksionering van ’n persoon het, word in die roman uitgelig. Magrieta beleef totale verlies aan belangstelling in aktiwiteite wat vroeër belangrik was: Daar was “níks, maar níks waarin sy haar kon verheug nie” (75). Sy stel geensins in sosiale interaksie belang nie – sy doen “nouliks meer die moeite om vriendelik te wees”; sy is “saaklik”; sy “doen wat sy moet” (101). Sy ploeter voort deur die wildernis van energie- en besluiteloosheid. Sy, wat ’n belangstelling in “die ganse natuurwêreld” het (75), verkies om nie meer te gaan stap nie. Hoewel sy die stilte saans in die huis nie kan verdra nie, wil sy nie die radio aanskakel nie. Sy wil ook nie na musiek luister nie, ”veral nie na haar heel gunstelingmusiek nie”. Sy het die vreemde gevoel dat musiek “die stilte geweld sal aandoen”, dat die stilte “iets is wat sy moet verduur” (102). Hierdie stilte en lusteloosheid “druk teen haar oordromme, dit druk op haar bors” (102).

Nog ’n aspek van depressie waarop die kollig fel in die roman val, is die kognitiewe aftakeling: die gebrek aan konsentrasievermoë, die onvermoë om besluite te neem. Magrieta se kop “haak uit” in ’n omgewing waar sy veronderstel is om uitstekend te kan funksioneer, “toe sy in ’n wit jas, voor ’n mikroskoop, in ’n laboratorium gesit het, die plek waar sy die meeste in haar element behoort te gewees het” (170). Ontslaan uit haar pos, is sy genoodsaak om ’n administratiewe pos by die Buro vir Voortgesette Onderwys te aanvaar en dit strook glad nie met haar persoonlike belangstelling nie. Sy besef later dat sy ’n poging moet aanwend om in die akademiese omgewing terug te kom, maar ’n groot besluiteloosheid het van haar besit geneem. “‘Ek weet nie,’ sê Magrieta vir Isabel, ‘ek weet waaragtig nie. Ek moet seker al hierdie maande by die Buro agter my sit en weer op my loopbaan begin fokus. Ek het seker nog nie hard genoeg aan alternatiewe gedink nie’” (143). Hierdie belewings van hopeloosheid en hulpeloosheid is pynlik; dit werk die verdere belewing van waardeloosheid in die hand, aangesien Magrieta weet dat sy as mens slegs in die navorsingswêreld wat vir haar om ongewerweldes draai, waarlik tereg kan kom: “Die wurm bly steeds haar ding, al het sy dit tydelik probeer afsweer” (15).

Magrieta beleef die onvermoë om na wense op psigiese en kognitiewe vlakke te funksioneer as “ontwortelend” (75). Angstigheid en gejaagdheid is deel van hierdie ontworteling en volg haar na die nuwe pos in die Buro. Daar word van haar verwag om agente (medewerkers) op vreemde plekke te ontmoet; wanneer die eerste van hierdie ontmoetings nie volgens plan verloop nie, verloor sy haar wankelende geesteskalmte, storm uit en raak deur die dorp aan die hardloop (14). Onsamehangende denke en paranoïese gedagtes vloei saam: die grysheid van ’n katedraal “dreig om haar in te haal”; daar is “iets gewelddadigs in die atmosfeer aan die broei”; die lug is ’n “verraderlike pienkgrys, met swaelgeel ondertone” (14). Sy spring uit die pad van ’n man in ’n rolstoel wat “tierend op haar afgepyl kom”, hoewel die veronderstelde bedreiging dan skadeloos om die hoek verdwyn (15). 

Terwyl die abnormale neiging om ander te wantrou reeds in haar tienerjare kop uitgesteek het – “Waarom staan haar moeder in die skaduwees?” (144) – neem dit nou ernstige afmetings aan. Angs en agterdog oor vervolging smelt saam en word geprojekteer op die onbenoemde karakters wat sy opdis:

Karakters wat in motors klim en iewers heen ry na plekke waar dinge met hulle gebeur [...]. Soos dat hulle deur ’n bekruiper agtervolg, of op straat aangeval of beroof word, of val en ’n besering opdoen. Of ’n oproep ontvang wat hulle lewens verander. Of agter die stuur van hulle motor begin hallusineer en nie verder kan ry nie. [...] Of dat ’n karakter, aan die einde van haar kragte, op die ingewing van die oomblik of selfs met voorbedagte rade, teen haar rasionele wete in, ’n daad pleeg wat [...] haar emosioneel gestrand of selfs onherroeplik ontheem laat. (26) 

Die geesteswoesteny van depressie soos Magrieta dit ervaar, staan afgeteken teen die verhale van ander karakters wat aan dieselfde toestand ly. Markus Potsdam, hoof van die Buro vir Voortgesette Onderwys, wil “uit sy eie lewe verdwyn” (81), net soos Magrieta “met pynlike intensiteit op enige ander plek (wil) wees as in haar eie vel” (75). Hy onttrek hom emosioneel aan die buitewêreld en sy kollegas, oorweeg dit om die see in te stap (158) en verdwyn uiteindelik vir ’n klompie weke na ’n psigiatriese inrigting. Met sy terugkeer loop hy hom vas in Magrieta se heftigheid, wat veel verraai van haar eie pyn met die aanskouing van sy toestand: “Waarom het jy nie iets gesê nie, Markus?! [...] Jy kon mos maar gesê het jy is depressed, jy wil ’n tyd lank weggaan. [...] Het jy een of ander belaglike idee gehad dat mens op jou eie moet suffer?!” Dis teenoor Magrieta dat Markus uiteindelik sy vele selfmoordpogings erken (169), asook die belewing dat “elkeen van die selle in my liggaam deurtrek (was) van die vrot van vergeefsheid” (160). Juis die oënskynlike verbetering van sy toestand besorg haar groot onrustigheid, aangesien sy weet dat selfdood dikwels spruit uit ’n fase waartydens depressielyers meer energie het (184).

Op Magrieta se staproete tussen die wingerdlande in haar omgewing ontmoet sy die vrou wat iewers naby ’n tent opgeslaan het – ’n naamlose vrou wat Magrieta se verdriet vergestalt en, volgens Hambidge (2018), dalk nie werklik bestaan nie en blote opgeefsel van Magrieta se fantasie is. Ten spyte van verskillende ontmoetings met hierdie vrou kan Magrieta telkens die dag ná hulle ontmoeting niks tussen die wingerd vind om te bevestig dat die vrou inderdaad daar wás en dat Magrieta nie dalk hallusineer nie (66). Die vrou verduidelik haar verblyf in die wingerd as ontvlugting aan die gemeenskap; sy “wil die stilte [...] opberg soos ’n by sy heuning” (56). Sy is daar omdat sy verlang om “terug te keer na ’n trae fetale bestaan”, om in ’n gat in die grond te kruip en ’n “ander soort lewe te lei – ’n anonieme, ondergrondse lewe” (58).

Die lewe waaraan die vrou probeer ontvlug, word beskryf as een in die hoogste rat, gekenmerk deur kitskommunikasie, die inligtingsontploffing wat haar oorweldig en ander bedreigende ervarings wat tegnologie gebring het. “‘My kop het so gekletter,’ sê die vrou, ‘ek het begin ly aan apokalips-fatigue’” (57). Sy beskryf vir Magrieta “al die einde van die tyd-scenario’s” wat die elektroniese media aan haar opdring en die uitwerking daarvan: “Bedags was daar ’n drukking in my kop en snags het my hart onbedaarlik geklop” (57). 

Die ervarings wat sy onder woorde probeer bring, rym met die resultate van navorsing waardeur ’n verband tussen groot hoeveelhede skermtyd (tyd voor elektroniese skerms deurgebring) en ’n afname in psigologiese welstand bevestig is (Twenge en Campbell 2018; Lissak 2018). Duidelike verbande is tussen sosiale-media-tamheid en depressie gevind (Mok, Sing, Jiang en See 2014; Dhir 2018). Dit is asof hierdie resultate weerklank vind wanneer die vrou in die wingerd vir Magrieta vertel dat sy tot “Facebook-selfmoord” beweeg is deur die begeerte om te ontsnap van “die konstante, narsistiese behoefte aan gratifikasie, so deeglik in stand gehou deur alles en almal waarmee ek my elke dag omring het en waarin ek myself afgespieël gesien het” (60). Sy skryf haar depressie toe aan totale oorweldiging deur die media en veral die sosiale media wat daagliks beelde van ander se suksesse en prestasies aan ons opdring. Die kern van die vrou se probleem lê in haar erkenning: “Kyk, ek is so te sê talentloos” (57). 

Hierdie vrou word gedwing om haar gemoedsongesteldheid in die oë te kyk. Sy bely: “Al wat verligting gebring het, was om dinge te koop, maar wat ek gekoop het, het my geen plesier verskaf nie. Wat kon die skoonheid van die natuur my skeel? Niks. Die berge? [...] Die manjifieke herfskleure? Wat kon iéts my skeel – my hart het gevoel soos iets wat lank op ’n ashoop gelê het ...” (57). Sy erken die greep wat tegnologie op haar gehad het: “Maar die moeilikste [...] was om my selfoon op te gee. [...] Dit was hél om my smartphone te laat gaan! [...] Dit was die laaste ding wat ek van my afgewerp het, [...] dit was soos ’n ledemaat, ’n prostese, wat ek vasmaak soggens en afhaal saans. [...] Dit was soos ’n naelstring, ’n lewenslyn wat my aan die wêreld gekoppel het” (55). Hier dwing die roman die leser se aandag verby die gegewe van geestesongesteldheid, byvoorbeeld geestelike afstomping en depressie soos waarvan die vrou getuig, tot by sekere kernoorsake vir ons siek tydsgees – die moderne mens se obsessiewe verkleefdheid aan tegnologie, en ander ongesonde leefstylpraktyke.

Die troebel tyd bied die leser ook ’n verrassende blik op die wil tot oorlewing en op Magrieta se behoefte om die troebelheid van haar eie gemoed die hoof te bied. Wat die leser bybly, meen Viljoen (2018), is nie net die onverskrokke uitbeelding van geestelike chaos nie, maar ook die wyse waarop Magrieta ’n lewensingrypende insinking oorleef en vóórtleef. 

Hierdie kwessie hou sterk verband met die ontmoetings met seediere (walvisse) en met Magrieta se belewenis van menslike-niemenslike-verbintenisse. In die volgende afdeling word die besonderhede omtrent haar subjektiewe en mistieke assosiasies met die niemenslike verken.

3.2 Wildernis van die “meer-as-menslike”: mistieke ervarings

Iovino (2010:55) verwys na mistieke ervarings as behorende tot die sfeer van die “meer-as-menslike”. Sy verwys na tekste waarin mistieke ervarings gekoppel is met ingrypende bevraagtekening van dit wat as die wesentlike asook die bestemming van die mens beskou word. Wat Iovino (2010:56) baie interessant vind, is wanneer die “innerlike wildernis” in verband gebring word met beelde uit die natuurwêreld, beelde aan die mens gekoppel by wyse van identifikasie, vergelyking of ander subjektiewe ervarings.

Verskeie studies oor die mistieke tendens in die Viljoen-/Winterbach-oeuvre het reeds verskyn.10 In die mees onlangse daarvan bied Barthel en Human (2017:28–30) ’n vaardige samevatting van hulle teoretiese ondersoek na die begrippe mistiek en mistieke ervaring. Hulle steun op Minnaar (2000:7) se omskrywing van mistiek as die direkte of onmiddellike ervaring van die goddelike: ’n bepaalde belewenis waarin en waardeur die menslike siel ’n oomblik van eenheid met God ervaar en beleef. Merkur (2015) wys daarop dat mistiek in die meer onlangse tye verstaan kan word as die ervaring van eenwording met ’n godheid, in watter gestalte ook al – met ander woorde die begrip word nie tot ’n enkele religieuse tradisie of praktyk beperk nie. Merkur beskou mistiek as die beoefening van religieuse ekstase, tydens afwisselende vlakke van bewustheid, wat saamhang met die ideologie, etiek en rituele wat daarmee verband hou.

Barthel en Human (2017:29) som die insigte van verskeie teoretici op en onderskei in hierdie proses drie universele kenmerke van mistiek. Eerstens hou mistiek verband met spiritualiteit en transformasie. Dit kan beskou word as ’n uitdrukking van die ingebore tendens van die menslike gees tot algehele harmonie met die transendentale orde, ongeag binne watter teologiese tradisie dit geskied. Mistieke insidente behels direkte ervarings wat buite taal en sintuiglike waarnemings val; dit is so direk en oorweldigend dat die mistikus die bestaan van ’n Absolute werklikheid nie betwyfel nie. Dit beïnvloed die mistikus in so ’n mate dat hy/sy getransformeer en veranderd gelaat word (Barthel en Human 2017:29). Tweedens beklemtoon Barthel en Human (2017:29) die eenstemmigheid onder teoretici dat ’n gevoel van verligting – waarmee illuminasie of verligting ten opsigte van die kognitiewe prosesse van intuïsie en begrip bedoel word – dikwels die doelwit of gevolg van mistieke belewenis is. Gevoel, intuïtiewe insig en belewings van ware essensie wat verder as die fisiese wêreld strek, word in die beskrywing van die begrip mistiek uitgelig. Laastens geld as kenmerk van die mistieke ervaring, ongeag die tradisie waarbinne dit beleef word, dat dit as ’n tipe soektog of reis kan word hetsy geografies, psigologies of emosioneel – wat op ’n spirituele verligting en transformasie of hervorming uitloop (Barthel en Human 2017:30).

Iets van die ingesteldheid van die mistikus is uit die staanspoor te vind in Magrieta se lewensingesteldheid van verwondering oor die groter-as-menslike, oor die onkenbare en onomvatbare, wat ’n toestand van geestesverrukking in haar skep. Haar navorsingsaandag bly oor jare heen onvermoeid en “stip gerig” op die “ondeurgrondbaarheid” van die Hadiese tydperk – die vroegste vormingstyd van die aarde (103) – en op die “miljarde jare wat dit vir die eerste multisellulêre organismes geneem het om te ontwikkel” (22). Sy sou baie graag die mirakelagtige ontstaan van die heel eerste eensellige organismes “uit die borrelende oersop” wou beleef het; sy sou die diversifikasie van lewensvorme in die geologiese tydperke wou sien ontvou het, en roep haar dié verskynsel op ekstatiese wyse voor die geestesoog: “[...] die alge, die mosse, die sponse, die jellievisse, korale, seeanemone, [...] die oopvou van die eerste varing, [...] die oomblik – oomblik! – toe die lobvinvisse die eerste halfgevormde ledemaat huiwerig aan wal gesit het” (103).

Selfs nadat sy tot ’n koersverandering in haar loopbaan genoodsaak is, probeer sy tydens besoeke aan medewerkers van die Buro in ander stede ook afsprake by natuurhistoriese museums inpas. Sy gaan by die igtiologiedepartement van ’n universiteit in die Oos-Kaap na ’n selakant kyk – twee maal – verwonderd oor hierdie voorbeeld van ’n lobvinvis uit ’n era 425 miljoen jaar gelede, hoewel sy daarvan bewus is dat die selakant nie tot die groep lobvinvisse behoort waaruit vierpotiges ontwikkel het nie. Sy weet: “By die mens en ander vierpotiges is die lobvinne aangepas om arms, bene en vlerke te vorm” (94). Haar verwondering oor die mens se evolusionêre skakels met vroeë lewensvorme oorheers haar ontmoetingsgesprek met Deneys Swiegers, die ingenieur wat die standaard van die Buro se wiskundemodule moet kontroleer. Die feite wat sy met hom deel, verraai ’n aanvoeling vir en bewustheid van ’n transendentale orde – ’n geestesbelewing van realiteite wat die grense van die mens se voorstellingsvermoë oorskry. Met ’n soort geestesvervoering praat sy oor fossiel Pikaia uit die Middel-Kambrium, eers as ’n wurm geklassifiseer en later as die eerste bekende voorbeeld van ’n gewerwelde: “As Pikaia nie die Burgess-uitdunning oorleef het nie, was óns nie hier nie – nie haai, voël of orangoetang nie” (70).

In hierdie konteks kan ook Magrieta se fassinasie met die Leviatan verklaar word – ’n primordiale seemonster, geassosieer met die walvis, wat op beide land en see kon leef en met die grens tussen die natuurlike en bonatuurlike geassosieer word (Pistorius 2013:504). Volgens die New World Encyclopedia is die leviatan ’n Bybelse seemonster waarna in die Ou Testament verwys word en wat in die Judaïsme en Christelike tradisies verskillend beskou word. Dit word gesien as ’n metafoor vir die omvang en mag van God se kreatiewe vermoëns, of as ’n demoniese monster. Magrieta se vriend Jakob verklaar die begrip leviatan aan haar vanuit die konteks van die Middeleeue, toe dit gesien is as ’n beeld van Satan wat God se skepsels probeer verorber het (45). Die begrip leviatan dra hedendaags steeds die konnotasie van die oorweldiging deur kragtige magte; dit word dikwels as generiese begrip gebruik vir enigiets groots en verterends of allesoorweldigend (New World Encyclopedia).

Op ’n dieptepunt in haar depressiewe toestand skep Magrieta ’n scenario rondom ’n onbenoemde karakter, “emosioneel gestrand” en “onherroeplik ontheem”, wat langs die see stap en op ’n uitgespoelde rob- of selfs walviskarkas afkom. Die res van hierdie toneel beeld iets uit van ’n ingrypende perspektiefverandering, ’n fokusverskuiwing vanaf die beleefde geestesellende in die rigting van ’n groter en sinvoller prentjie: “Hy staar dan in ongeloof na die enorme dier en – gekonfronteer met die dooie leviatan uit die diepsee – begryp iets omtrent homself as aardgebonde, tweebenige soogdier, asook sy plek in die orde van dinge” (26). Die dier herinner hierdie karakter aan die Bybelse leviatan; aan die onmoontlike, verbysterende situasie van Jona wat “drie dae in die buik van die grootste soogdier op aarde vertoef het” om iets van die onomvatbare Grootheid agter die skeppingsorde te begryp, asook van die mens se ondergeskikte plek en taak: “Daar was ’n opdrag om uit te voer, en uitvoer sal jy hom” (26). Die mens en die vis deel die skeppingsfeer; die onderwerping aan groter Gesag wat gesuggereer word deurdat die vis Jona ná drie dae uitspoeg, is ook die onderwerping waartoe die mens deur die gebeure gedwing word.

Die ontmoeting met die “leviatan uit die diepsee” (26) is die ontstaanspunt van ’n mistieke reis waarin ontmoetings met walvisse die bakens op die pad is. Op verskillende plekke sien Magrieta sketse van ’n klein, walvisagtige figuurtjie met ook trekke van ’n amebe – “’n soort piktogram wat sy nie kan ontsyfer nie” (30, 31). Hierdie skematiese voorstellings, waarin sy tegelyk met die skeppingseenvoud van enkelsellige organismes en die ontsagwekkendheid van die grootste dier op aarde gekonfronteer word, word simbool van ’n patroon van belewing wat in die daaropvolgende weke in Magrieta se lewe tot stand kom. Telkens staan die onbeduidende teenoor die ontsaglike; telkens is die onbeduidende Magrieta self, oftewel die mens. Sy word genooi om na die uitstalling van ’n walvisskelet te gaan kyk en “iets gebeur in haar keel” (185). Sy neem kennis van elke verbysterende stukkie besonderheid – veral die massiewe ribbekas, “soos die raamwerk van ’n boot”. Sy tel die ribbes, sy tel die werwels, sy tree die dier se lengte af en is oorweldig: “So verbysterend groot. Heeltemal nie meer op menslike skaal nie” (186). Sy erken met nugterheid en verering die plek van elke ding “in hierdie groot skema van dinge” (185).

Die dekonstruksie van die gelykstelling tussen “menslikheid” en “normaliteit” in Die troebel tyd wat in die vorige afdeling ondersoek is, skakel hier met idees uit die ekokritiese denkveld rondom die groter, komplekse hiërargie van saambestaan op die aarde. Soos ook reeds in afdeling 2 met verwysing na die teoretiese standpunte van Iovino (2010:54) gesê is, is hierdie idees nie gebore uit simplistiese beskouings van harmonie en balans nie, maar onderstreep die beginsel dat hiërargiese ordening nie ons siening van die wêreld behoort te rig nie. Die uitgangspunte van mede-aanwesigheid en onderlinge afhanklikheid word in ekokritiese denkkringe voorgestel, en word in hierdie roman deur Magrieta se belewings gerespekteer.

Die reis wat Magrieta in die belang van die Buro na Johannesbaai moet onderneem, is meer as bloot ’n geografiese reis. Dit geskied in raaiselagtige omstandighede: sy vind dit onverklaarbaar dat ’n medewerker met onbekende identiteit vir háár sal kontak (in plaas van andersom, soos gebruiklik) – en uiteindelik is daar geen ontmoeting nie, ook geen verduideliking oor hierdie persoon se skielike dood nie. Daar is iets ánderkant die logies verstaanbare aan die hele sending – dis asof dit deur onverklaarbare magte beskik word dat Magrieta haar dan skielik in die omgewing van die strand bevind waar sy ’n samedromming van mense opmerk. 

Hierdie mistieke reis het in die voorafgaande weke toenemend gewentel om die opduik van tekens, uit verskillende oorde, maar vir Magrieta in onverklaarbare samehang: die boodskappe agter openbaretoiletdeure, die uitnodigings om na die walvisskelet te kom kyk en om as beskermvrou vir die Vereniging vir die Bewaring van Walvisse op te tree (153), die WhatsApp-foto’s wat haar dogter vir haar stuur – sodat haar kollega Isabel op siniese wyse moet toegee hoe gelukkig Magrieta is “dat die universe so met jou [...] kommunikeer” (192). Op hierdie Weskusstrand word Magrieta totaal tot stilstand gedwing deur ’n gebeurtenis wat alle twyfel oor die mistieke aard daarvan uit die weg ruim: “Dis ’n teken. [...] Sy het vooraf waarskuwing ontvang” (42).

Roerloos in die vlak brandertjies lê ’n uitgespoelde walvis. Magrieta is “verbyster”, staar “met ontsag en verwondering” na die dooie dier (39). Sy stap, in totale ontroering, reg rondom hom. Sy beskou die vlekpatroon op die dier, “so onderskeidend soos vingerafdrukke” (39), en sy uitdrogende huid, normaalweg “met ’n ongewone glans [...], soos van geen ander dier nie”, moontlik aan olie-afskeiding toe te skryf (41). Met groot piëteit en versigtigheid waag sy dit om ’n hand op die reuseflank te lê. Haar ontmoeting met die “leviatan uit die diepte” is ’n bevestiging van ’n Absolute Realiteit wat die skeppingsplan en -wondere onderlê, daardie wêrelde van grootsheid waarvan die mens die omvang maar net kan vermoed. Sy stel haar voor: 

Tot onlangs moet hy nog veel meegemaak het van die wondere van die diepsee. Hy moet die arktiese seë verken het, en ook die warmer subtropiese waters. Hy moet monsteragtige visse op die seebodem gesien het. [...] Hy moet geweldige afstande afgelê het, hierdie uitbundige vis – die uitbundigste van ál die visse. (39–40) 

Magrieta bewe. Haar bene is lam, haar hart klop onstuimig, “komplekse reaksies het van haar besit geneem” (40). Sy word van die toneel weggelei, maar bly ure lank nog “los en vas en onsamehangend” oor die walvis praat – spesifiek oor sy oog, “so groot soos ’n pomelo”, maar “vandag geblus” (41). In daardie “melkerige, gebluste oog” het sy gekyk toe sy rondom die dier gestap het. Die “komplekse emosies” wat haar oorspoel het, sou méér as ontroering kon impliseer – volgens Lambrechts (2018) se interpretasie sou die kyk tot ín die dooie visoog die herkenning van haar eie, ellendige emosionele toestand kon behels. Hierdie verklaring sou ’n motivering kon bied vir Magrieta se ontsteltenis – sy is “grondig van stryk af” (43).

Jakob, die skrywersvriend wat Magrieta na Johannesbaai saamgenooi het, vertel vir haar dat die leviatan, en veral sy oë, volgens die Joodse literatuur oor “groot illuminating of verhelderende krag” sou beskik (45). Hierop reageer Magrieta instemmend en met groot oortuiging, want “sy het vandag iets daarvan ervaar in die teenwoordigheid van daardie uitgespoelde dier” (45). In dieselfde gesprek keer sy terug na haar intuïtiewe wete dat die verskyning van die dooie dier, soos al die voorafgaande “tekens”, bedoel is om iets aan haar te openbaar; “sy is seker dis meer as toeval” (46). Magrieta is ook hewig ontsteld omdat die dier weggesleep word – moontlik deels oor die onwaardige wyse waarop die “manjifieke dier” deur ’n stootskraper na die munisipale stortingsterrein geneem word, maar ook omdat die wegneem daarvan die vervaging van die boodskap wat sy so oorheersend belangrik ag, mag impliseer. “Binnekort word alle spore en tekens van die vis deur die inkomende gety uitgewis [...]. Dan is alle leidrade vernietig” (43).

Dit wat op die punt staan om op transendentale vlak aan haar gekommunikeer te word, gebeur egter eers op ’n tweede besoek aan Johannesbaai. Waar Magrieta een middag op ’n duin sit, beleef sy iets totaal oorweldigends, die aanskouing van iets goddeliks, sodat sy sukkel om taal daaraan te gee: 

Maar toe sy weer sien, gotweet, toe spring daar ’n ent dieper in die see, maar duidelik sigbaar, voor haar ongelowige oë, uit die water, sierlik en ekstaties, ’n reusewalvis hoog in die lug, hóóg! [...] En nie net een keer nie, maar weer ’n tweede keer! [...] 

Een oomblik dínk sy nog net aan ’n walvis, en die volgende oomblik openbaar die leviatan hom aan haar in sy volle, uitgelate glorie. Sy verblindende glansrykheid. (136)

Die aanskouing van die “verblindende glansrykheid” van die baleinwalvis word in Magrieta se gees verbind met Bybelse momente van direkte aanskouing van die Goddelike: “Sy moet dink aan Jona. Sy moet dink aan Moses en die brandende braambos” (136). Soos hierdie karakters is Magrieta tot in haar siel geruk deur die ontsagwekkendheid van die bevestiging omtrent die Absolute werklikheid van die Gans Grotere as die menslike bestaan. Sy val vorentoe op haar knieë in die sand, haar gees in religieuse ekstase, laggend in ongeloof: “Net vir haar oë het daardie dier uit die water gespring, homself laat sien” (136, my kursivering).

Die skakelende motiewe van oog, sien en laat sien is sleutels om die hoogtepunt in die mistieke reis, dié van die verligting op kognitiewe vlakke van waarneming en begrip, in Die troebel tyd te interpreteer. Wanneer die baleinwalvis triomfantelik uit die water spring, met die “volslae lieflikheid van daardie verskyning” (187), kyk Magrieta in die glansende oë van die lewende dier en begryp skielik die troebelheid van haar eie waarneming.

Reeds met Magrieta se eerste reaksie op die uitgespoelde dier – “Dis Jona se vis” (39) – is die skep van ’n intuïtiewe parallel sigbaar ten opsigte van die spirituele belewing van ’n soort ontwaking wat in sowel Jona as in haarself plaasvind. Daar is die roering van nuwe insigte, vir beide van hulle, in dramatiese ontmoetings met walvisse. “Sy dink aan Jona wat op die strand uitgespoel lê [...] met slym bedek, nuut soos ’n pasgeborene, sy oë knipperend teen die skerp sonlig” (40). In haar kop kon sy daardie middag “’n klein verskuiwing” voel, “soos twee tektoniese plate wat oormekaar skuif”. Dit bring, op dieselfde wyse as tydens ’n verskuiwing van die aardkors, ’n stuwing van onbekende kragte en van onidentifiseerbare insigte in haar teweeg: “Magrieta wil op haar knieë neerval en sê: ‘EK HET GEHOOR! EK NEEM KENNIS! EK SLAAN AG!’” (40).

Dis kort ná hierdie eerste besoek aan Johannesbaai dat Magrieta die vrou in die wingerd ontmoet, die een wat haar vertel dat haar gees al vir geruime tyd “in tumult en beroering” is en wat haar toevlug tot ’n absoluut vereenvoudigde lewe in ’n tent neem. “Ek wou nie die lewe opgee nie,” verduidelik die vrou, “ek wou die sélf opgee, die verskriklik veeleisende eie ek” (60). Terwyl die vrou die kompleksiteite van haar bestaan uiteensit, vind Magrieta dat sy begrypend op alles knik (54, 55). Sy knik toe die vrou die oorweldiging beskryf van ’n doodgewone mens deur talentvolle en presterende massas, seëvierend op sosiale media in die globale dwergwêreld. Sy knik in reaksie op die beeld van die wêreld vol tekens van ’n naderende apokalips – met inbegrepe daardie “klein persoonlike apokalips van die dreigende ouderdom” (57). Wanneer die vrou vertel hoe haar hond haar, in ’n verbeelde gesprek, gekonfronteer het oor haar “miserabele lewe” – “Dis jou enigste lewe, jou doos (58)” – besef Magrieta oorbluf: “Ek begryp” (58). 

Terwyl Magrieta luister, verhelder die prentjie van haar eie lewe. “Dit maak sin,” prewel sy (60). Met daaropvolgende ontmoetings verdiep die belewing van insig en assosiasie telkens: “Magrieta hoor haar in ontsetting aan, sy skrik vir die vrou se woorde” (61). Die ooreenkomste met haarself as mens en moeder, geneig tot “angsvallige bemoeienis” met werk en kind, is vir Magrieta skielik duidelik (61, 99). Sy word gedwing om van haar eie krisisse kennis te neem en op die toestand van haar eie gees ag te slaan. Wat ook baie duidelik is, is die wyse waarop haar pas afgelope ontmoeting met die natuurreus op Johannesbaai se strand ooreenstem met die vrou se verwondering en verering in die natuuromgewing waarin sy “tot rus” kon kom. Iets van Magrieta se eie ontsag lê in die vrou se beskrywing van “die grootse en goddelike berge, die weidse hemelruim, [...] die wolkeskouspel oordag, die diep geurigheid wat saans uit die aarde opstyg ...” (61) Uit die groot omringende natuurruimte en uit die diepte van die see kom die boodskap wat ’n “verskuiwing” in die brein teweegbring, en die relatiewe waarde van dinge bekend maak aan ’n vrou wie se lewe verdwyn het in haar pogings om ’n “verskriklik veeleisende ek” in die moderne beroepsomgewing te handhaaf en wat perspektief op die groter geheel verloor het.

Die vrou in die wingerd – as moontlike verbeeldingsproduk, alter ego of vergestalting van Magrieta se eie lewensellende – bring ’n dieper kyk ook na ander dinge as die self. Magrieta word bewus van die “swerwende groepies” met wie die vrou hierdie omgewing deel en van wie daar orals “spore en tekens” is: “’n uitgebrande vuurtjie hier, ’n hopie vomeersel daar, bloedkolle, menslike ekskrement, afgewerpte kledingstukke” (62). Op die rand van haar gees huiwer die herkenning van die “boodskap” wat deur dié spore en tekens – net soos dié rondom walvisse – gelaat word, en wat verband hou met die manier waarop die vrou na hierdie ontheemdes verwys: die “medemens” by wie sy ’n trui ruil vir brood (63), die “medesterflinge” wat haar skoene aanvaar in ruil vir iets om te eet (64). Hoewel Magrieta reeds intens en waarderend van die mens se medebestaan met ander lewensvorme bewus is, begin sy op versigtige wyse aandag skenk aan die wyer, ineengestrengelde werklikheid waarvan ook haar medemens deel is. “Waarvoor is ons hier?” vra Magrieta vir die vrou wanneer sy haar die laaste maal sien. “Tot nou toe het alles net oor my gegaan,” deel die vrou ’n stuk lewensperspektief. “Ek begin nou uitreik. Dis waarvoor ek en jy hier is” (65).

Buiten haar bewuswording van die “erbarmlikes” (62) in haar omgewing neem Magrieta op ’n eerlike wyse bestek op van intieme verhoudings waarin min tyd en energie belê is. Vir ’n eerste maal, terwyl haar man weg is om ’n siek moeder te ondersteun, dink sy aan sy bestendige teenwoordigheid, waarsonder sy voel “soos ’n dobberende blaar” (104). Sy dink met deernis aan sy “sagte nekvel” en “verweerde blik”, en dat sy hom byna kwyt was in die tyd “toe sy al haar skepe agter haar verbrand het” (104). Sy besef die belang daarvan om haarself “voortdurend te posisioneer ten opsigte van die erdwurm, die berge, en haar eggenoot” (105). 

Wanneer Magrieta vir Markus Potsdam se broer van die springende walvis vertel, herroep sy die dier se besonderse oë. Sy beskryf dit aan hom as “twee [...] poele met geheime onderwaterse plantlewe daarin” (137). Met die terugkeer ná hierdie tweede besoek aan Johannesbaai, op die staproete na die wingerde, is Magrieta se oë anders ingestel op die terrein waardeur sy al soveel kere beweeg het. Dis asof haar sigsintuig, soos dié van die walvis, haar in staat stel om wyer en voorheen “geheime”/“onderwaterse” dimensies waar te neem. Wanneer sy na die stukkie veld anderkant die skool kyk, is dit met nuwe aandag aan die tekens van bewoning: ’n drankbottel, ’n sigaretboksie, ’n kledingstuk of enkele skoen (151). Voorheen was dit ’n grotendeels afkeurende waarneming van ’n “hele omgewing [...] met rommel besaai” (24). Daar was ’n afstandelike en beskuldigende reaksie: “Sy weet nie wie hiervoor verantwoordelik is nie. Die leerlinge gooi sekerlik hulle tjipspakkies en lekkergoedpapiertjies hier neer.” Daar was geïrriteerde en afkeurende gedagtes: “Maar waar kom die stukke gebreekte plastiekpyp, stukke asbes, [...] gebreekte drankbottels, afgewerpte kledingstukke, haarkrullers vandaan?” (24). Meermale het sy bloot gedagteloos verby gestap na die wingerde (54, 56, 59).

Nou neem Magrieta die graffiti teen die skoolmure, waar sy so dikwels verbystap, op ’n dieper vlak waar – en met meer empatie as voorheen. Sy neem kennis van ’n samelewing waar armoede mense dwing tot ’n “ondergrondse lewe” met ’n geheime taal wat wemel van tekens dat kru seks die belewing van skoolkinders oorheers, soos in woorde en tekeninge teen die mure uitgekrap (177). Sy dink oor wat sy sien: oor die fyner besonderhede – “Waarom altyd net één skoen?” – en oor die skreiende onreg van “’n lewe onder die radar van die algemeen beskaafde middelklaslewe; so gans, gáns onder die radar van wit bevoorregting”. Die doodstil figuur van ’n sittende man anderkant die skooltjie word met meer as oppervlakkige aandag waargeneem; met intense oplettendheid probeer sy begryp waarom hy so roerloos sit. Hy moet een van dié wees wat “onder die radar beweeg”, maar haar gedagtes oor hom is anders as toe so ’n figuur voorheen net “een van hierdie swerwers” (24) was. Sy verstaan dat hierdie ’n mens met sy eie, unieke agtergrond en bestemming moet wees, een van diegene wat die vrou as ’n “medepelgrim” geëien het (178). 

Die aard van Magrieta se mistieke reis lê eerstens in die emosionele en spirituele intensiteit daarvan; tweedens lê dit in die transformerende krag waarmee ervarings van die goddelike en die skeppingsgrootsheid haar uit ’n negatiewe plek in haar lewe uitlig en haar na buite en weg van haar eie situasie van ellende laat fokus. 

Magrieta vind ’n ruspunt in die arms van haar man waar sy “gedagteloos tot stilstand” kan kom. Viljoen (2018) wys egter daarop dat die roman afsluit met die onheilspellende beeld van Magrieta en Willem in ’n omhelsing waarin sy agterkop rus in haar hand, “soos ’n halfskedel in een van die vier hande” van die destruktiewe Indiese godin Kali (192), met wie Magrieta ook in die begin van die roman (7) vergelyk is. Die “troebel tyd” kan dus momenteel besweer word, maar die bedreiging is altyd daar.

Die verwerwing van nuwe insigte as deel van die mistieke ervaring loop wel onteenseglik op ’n transformasie uit. Die inwaarts gekeerde “woedende bedruktheid” (8) het omgeskakel in uitkringende empatie. Die verbintenis, op kognitiewe en belewingsvlak, met organismes wat in alle tye die groter skeppingsruimte gedeel het, word uitgebrei na empatie met ander wat ook haar menslike lewensfeer deel. Die roman spel uit dat die mens nie in die waan van uitsonderlikheid of op sigself aangewese kan leef nie, selfs nie in die “soliede akademiese loopbaan” (9) wat Magrieta as onveranderlike lewenswerklikheid geag het nie. Die mens is, soos die erdwurm wat op land lewe maar nie die skakel met sy akwatiese voorouers verloor het nie, ’n “tweesydige dier” (150) – ook geanker aan bestaan op ’n dubbele vlak. Ons is enersyds medebewoners met alle lewensvorme van die groot geskapenheid; andersyds ook menslike medewesens op ’n pelgrimspad, waar almal uiteindelik swerwers is en “niks het nie, niks om te hou en niks om te verloor nie” (62). Miskien, dink Magrieta, is evolusionêre transformasie die voortgaande pad vir die mens, “miskien moet sy en haar volksgenote soos die eerste amfibiese lewensvorms terugkruip in die see, om daar van voor af in barmhartiger lewensvorms te evolueer” (113).

 

4. Ten slotte

Die uitbeelding van die “wildernis van gees” in Die troebel tyd is met verwysing na Magrieta se belewing van depressie ondersoek en beskryf, met die doel om die aandag op ’n bepaalde belewing van “andersheid” te vestig. Deur die skerp fokus op depressie en deur die gedetailleerde uitbeelding van disfunksionaliteit op emosionele, kognitiewe en psigiese vlakke word menslike andersheid in Die troebel tyd op geskakeerde wyse tematies ontgin. Hierdie andersheid op menslike vlak is verken om nuwe antwoorde te help vind op die vrae wat toenemend belangrik word binne die ekokritiese diskoers: Wat word met die begrip menslik bedoel? Wat is die spektrum van belewingsmoontlikhede buite die sosiaal opgerigte grense ten opsigte van menslike “normaliteit”? 

Die oopvlek van die chaotiese menslike binneruimtes in hierdie roman konfronteer die leser met die dilemma van innerlike wildernisterreine wat in sterk kontras met die sosiale norme van aanvaarbaarheid staan. Die troebel tyd word ’n waardevolle bydrae tot die argument dat andersheid as deel van die mens beskou behoort te word, nie langer as eksklusief verbandhoudend met die niemenslike nie. Die verkenning van die “wilde” binneruimtes van die mens lei ook tot die besef van die onmoontlikheid om skerp lyne tussen mens en teenoorgesteld gewaande begrippe soos niemenslik te trek. Die roman vestig ons aandag op mistieke verbintenisse tussen verskillende lewensvorme; besonderhede omtrent subjektiewe en mistieke assosiasies met die niemenslike is noukeurig verken. 

In ’n wêreld wat dikwels die meer-as-logiese weerspieël, is daar verskeie vlakke waarop dinge beleef en begryp kan word; die taal van die rasionalis mag nie genoeg wees om die kompleksiteit van menslike ervaring in voldoende terme uit te druk nie, sê Iovino (2010:57). Die troebel tyd demonstreer die potensiaal van letterkunde om uitdrukkingsmiddel vir die meer-as-“normale” ervaring te wees. Winterbach lê die idee van die werklikheid as ’n “inklusiewe kultuur van verskille” (Iovino 2010:550) besonder skerp vas. Die roman mag ons in staat stel om ons plek as medewesens eerder as opperwesens in die gedeelde skeppingsgeheel te begryp; dit mag ons aanspoor om, soos Magrieta, elke ander “medepelgrim” as “een van onsself” te eien en te akkommodeer (62, 178). Ons almal is op reis, slegs maar “swerwende groepies” (178) in die onkenbare veelvuldigheid van gedeelde bestaan.

 

Bibliografie

Adamson, J. en S. Slovic. 2009. The shoulders we stand on: an introduction to ethnicity and ecocriticism. MELUS, 34(2):5–24. 

Alaimo, S. 2008. Trans-corporeal feminism and the ethical space of nature. In Alaimo en Hekman (reds.) 2008.

Alaimo, S. en S. Hekman (reds.). 2008. Material feminisms. Bloomington en Indianapolis: Indiana University Press.

Barad, K. 2003. Posthumanist performativity: Toward an understanding of how matter comes to matter. Signs. Journal of Women in Culture and Society, 28(3):801–31.

Barney, L.J., K.M. Griffiths, H. Christensen en A.F. Jorm. 2009. Exploring the nature of stigmatising beliefs about depression and help-seeking: implications for reducing stigma. BMC Public Health, 9(61). https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC2654888 (22 November 2018 geraadpleeg). doi: 10.1186/1471-2458-9-61

Barthel, D. en T. Human. 2017. “Maniere van sien waarvan jy nog nie die vaagste benul het nie”: Mistiek in Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach. Stilet, 29(2):26–52.

Beyondblue. 2015. Beyondblue Information Paper: Stigma and discrimination associated with depression and anxiety. https://www.beyondblue.org.au/docs/default-source/policy-submissions/stigma-and-discrimination-associated-with-depression-and-anxiety.pdf (22 November 2018 geraadpleeg).

Buell, L. 2005. The future of environmental criticism: environmental crisis and literary imagination. Oxford: Blackwell.

Calvino, I. 1986. The uses of literature. San Diego, CA: Hartcourt Brace Jovanovich. 

Dhir, A. 2018. Online social media fatigue and psychological wellbeing – A study of compulsive use, fear of missing out, fatigue, anxiety and depression. International Journal of Information Management, Maart. https://www.researchgate.net/publication/323561727_Online_social_media_fatigue_and_psychological_wellbeing-A_study_of_compulsive_use_fear_of_missing_out_fatigue_anxiety_and_depression (18 Januarie 2019 geraadpleeg).

Dudley, J.R. 2000. Confronting stigma within the services system. Social Work, 45:449–55.

Earle, S. 2003. Disability and stigma: an unequal life. Speech & Language Therapy in Practice, 21–2. http://oro.open.ac.uk/12660/1/Disability_and_Stigma.pdf (28 November 2018 geraadpleeg). 

Foster, L. 2008. Om (somtyds) lig en aandagtig te reis: mistici in drie romans van Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach. Literator, 29(2):1–24.

Gersdorf, C. en S. Mayer (reds.). 2002. Nature in literature and cultural studies: transatlantic conversations on ecocriticism. Amsterdam en New York: Rodopi.

Glotfelty, C. 1996. Introduction: Literary studies in an age of environmental crisis. In Glotfelty en Fromm (reds.) 1996. 

Glotfelty, C. en H. Fromm (reds.). 1996. The ecocriticism reader: landmarks in literary ecology. Athene: University of Georgia. 

Hambidge, J. 2018. Resensie: Ingrid Winterbach – Die troebel tyd (2018). Beeld, 21 Oktober. http://joanhambidge.blogspot.com/2018/10/resensie-ingrid-winterbach-die-troebel.html (16 Januarie 2019 geraadpleeg).

Huggan, G. en H. Tiffin. 2010. Postcolonial ecocriticism: literature, animals, environment. New York: Routledge.

Human, T. 2008. “Ek kan nie my hand oopmaak en loslaat nie”: Verlies, verdriet en (kortstondige) verligting in Karolina Ferreira van Lettie Viljoen. Stilet, 20(1):82–105.

—. 2009. Om leeg te word soos ’n skulp: verlies en verganklikheid in Die boek van toeval en toeverlaat. LitNet Akademies, 6(1). https://www.litnet.co.za/om-leeg-te-word-soos-n-skulp-verlies-en-verganklikheid-in-die (22 Januarie 2019 geraadpleeg).

Iovino, S. 2010. The human alien. Otherness, humanism, and the future of ecocriticism. Ecozon@, 1(1):53–61.

Jansen, E. 2016. Ingrid Winterbach. In Van Coller (red.) 2016:1070–94. 

Lambrechts, M. 2018. Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach: ’n LitNet Akademies-resensie-essay. LitNet Akademies, 14 Desember. https://www.litnet.co.za/die-troebel-tyd-deur-ingrid-winterbach-n-litnet-akademies-resensie-essay (25 Januarie 2019 geraadpleeg).

Leviathan. S.j. New World Encyclopedia. http://www.newworldencyclopedia.org/entry/Leviathan (22 Januarie 2019 geraadpleeg).

Lissak, G. 2018. Adverse physiological and psychological effects of screen time on children and adolescents: literature review and case study. Environmental Research, Julie, ble. 149–57. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/29499467 (18 Januarie geraadpleeg).

Lyotard, J.F. 1991. The inhuman: reflections on time. Vertaal deur G. Benington en R. Bowlby. Stanford: Stanford University Press. https://www.iep.utm.edu/lyotard (22 Januarie 2018 geraadpleeg). 

McLeod, S.A. 2015. Psychological theories of depression. https://www.simplypsychology.org/depression.html (28 November 2018 geraadpleeg).

Merkur, D. 2015. Mysticism. Encyclopaedia Britannicahttps://www.britannica.com/topic/mysticism (23 Januarie geraadpleeg). 

Minnaar, C.L.J. 2000. ’n Filosofiese verantwoording van mistiek. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

Mok, W.T., R, Sing, X. Jiang en S.L. See. 2014. Investigation of social media on depression. 9th International Symposium on Chinese Spoken Language Processing (ISCSLP). https://ieeexplore.ieee.org/stamp/stamp.jsp?arnumber=6936690 (18 Januarie 2019 geraadpleeg).

Oliver, M. en C. Barnes. 1998. Disabled people and social policy: from exclusion to inclusion. Londen: Longman. 

Oppermann, S. 2011. The future of ecocriticism: present currents. In Oppermann, Ozdag, Oskan en Slovic (reds.) 2011:14–29.

Oppermann, S., U. Ozdag, N. Oskan en S. Slovic (reds.). 2011. The future of ecocriticism: new horizons. Newcastle upon Tyne: Cambridge Scholars.

Pistorius, H.G. 2013. Behemot en Leviatan as paradoksale simbole van God se beskerming en sorg vir die skepping. Journal for Semiotics, 22(2):502–21.

Reavley, N.J en A.F. Jorm. 2011. Stigmatizing attitudes towards people with mental disorders. Australian and New Zealand Journal of Psychiatry, 45:1086–93. https://journals.sagepub.com/doi/10.3109/00048674.2011.621061 (22 November 2018 geraadpleeg). https://doi.org/10.3109/00048674.2011.621061.

Scrambler, G. 1998. Stigma and disease: changing paradigms. Lancet, 352:1054–5.

Slovic, S. 2012. Editor’s note. ISLE Journal, 19(4):619–21. https://academic.oup.com/isle/article/19/4/619/708868 (19 November 2018 geraadpleeg). https://doi.org/10.1093/isle/iss132

Thornicroft, G., D. Rose, A. Kassam en N. Sartorius. 2007. Stigma: ignorance, prejudice or discrimination? The British Journal of Psychiatry, 190:192–3. https://www.cambridge.org/core/journals/the-british-journal-of-psychiatry/article/stigma-ignorance-prejudice-or-discrimination/E6F23CE48666A53C8E99870F0474E1AA (22 November 2018 geraadpleeg). https://doi.org/10.1192/bjp.bp.106.025791.

Twenge, J.M. en W.K. Campbell. 2018. Associations between screen time and lower psychological well-being among children and adolescents: Evidence from a population-based study. Preventive Medicine Reports, 12:271–83. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S2211335518301827 (18 Januarie 2019 geraadpleeg). 

Van Coller, H.P. (red.). 2016. Perspektief en profiel: Deel 3. Pretoria: Van Schaik.

Van Coller, H.P en C. van den Berg. 2009. Trauma, verlies en die semiotiese bewussyn in Karolina Ferreira en Niggie van Ingrid Winterbach. Stilet, 21(2):29–51. 

Van Schalkwyk, P.L. 1998. Die paradokse van koherensie in Karolina Ferreira (Lettie Viljoen) en Vincent (Willem Brakman). MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit. 

Viljoen, Lettie. 1984. Klaaglied vir Koos. Johannesburg: Taurus. 

Viljoen, Louise. 2018. Resensie: Ingrid Winterbach – Die troebel tyd. Rapport, 4 November. https://www.academia.edu/37701132/Resensie_Ingrid_Winterbach_Die_troebel_tyd_2018 (26 November 2018 geraadpleeg).

Winterbach, I. 2018. Die troebel tyd. Kaapstad: Human & Rousseau.

World Health Organization. s.j.a. Depression: definition. http://www.euro.who.int/en/health-topics/noncommunicable-diseases/pages/news/news/2012/10/depression-in-europe/depression-definition (26 Januarie 2019 geraadpleeg).

—. s.j.b. Stigma and discrimination. http://www.euro.who.int/en/health-topics/noncommunicable-diseases/mental-health/priority-areas/stigma-and-discrimination (26 Januarie 20019 geraadpleeg).

Zapf, H. 2002. The state of ecocriticism and the function of literature as cultural ecology. In Gersdorf en Mayer (reds.) 2002.

 

Eindnotas 

1 Verwysings na Winterbach se roman Die troebel tyd (2018) word van hier af deur slegs bladsyverwysings gedoen.

2 Thys Human publiseer twee artikels hieroor: “‘Ek kan nie my hand oopmaak en loslaat nie’: Verlies, verdriet en (kortstondige) verligting in Karolina Ferreira van Lettie Viljoen”, in 2008, en “Om leeg te word soos ’n skulp: verlies en verganklikheid in Die boek van toeval en toeverlaat” in 2009. Hennie van Coller en Chris van den Berg (2009) ondersoek ook hierdie tema in Winterbach se werk en publiseer hulle bevindings in “Trauma, verlies en die semiotiese bewussyn in Karolina Ferreira en Niggie van Ingrid Winterbach”.

3 Binne die raamwerk van die intellektuele denkrigting van die nuwe materialisme word vertrek vanaf die erkenning van die belangrikheid van die materieel tasbare werklikheid, wat interaktief op beide die menslike en die niemenslike wêreld inwerk (Barad 2003:803). As teoretiese uitgangspunt geld dat die natuur nie as ’n passiewe sosiale konstruksie beskou word nie, maar as ’n krag van beïnvloeding waardeur interaksie met en verandering van ander elemente teweeggebring word, ook van die mens (Alaimo en Hekman (reds.) 2008:7).

4 Teoretici wat die golfmetafoor gebruik, onderskei tussen vier internasionale golwe om die ontwikkeling in ekokritiese denke oor die afgelope drie dekades te karteer. Lawrence Buell, ’n prominente Amerikaanse ekokritikus, bied in The future of environmental criticism (2005) ’n bruikbare opsomming hiervan. Tydens die eerste golf, gewortel in die diep ekologie en gefokus op die wildernis en Anglo-Amerikaanse niefiksie, is mens en natuur as in teenstelling met mekaar beskou; die taak en gepaste reaksie van omgewingskritiek sou wees om die natuurlike omgewing teen die verwoesting van die mens en sy praktyke te beskerm. In die laat 1990’s ontstaan ’n tweede, meer internasionaal inklusiewe denkgolf, met ’n swaai na die stedelike ervaring en na menslike besorgdhede saam met ’n erkenning van omgewingsreg en aardreg. Die interafhanklikheid van mens en natuur vorm die uitgangspunt; alle tekstipes en genres word ingesluit (Buell 2005:21–2). Die derde golf, soos pas in afdeling 1 beskryf is, maak in 2012 plek vir ’n verdere ontwikkeling, deur Scot Slovic aangekondig in sy redakteursbrief in die herfsuitgawe van ISLE Journal, met sy opmerking dat die indringende toepassing van die nuwe materialisme se terminologie en denkwyse as’t ware tot die ontwikkeling van ’n nuwe, vierde golf gelei het (Slovic 2012:619).

5 Die nuwe fokus op etniese globaliteit binne die derde golf in die ekokritiek moet reg geïnterpreteer word: Terwyl etniese en nasionale besonderhede erken word, word etniese en nasionale grense ook getransendeer (Adamson en Slovic 2009:6).

6 Oppermann (2011:14) reageer met ’n nugter mate van kritiek op die stelling dat ekokritiese studies “alle aspekte van menslike ervaring” wil ondersoek; sy wys daarop dat geen studieveld alle fasette van menslike ervaring kan dek nie.

7 In navorsing word herhaaldelik, oor die verloop van tyd heen, tot die gevolgtrekking gekom dat die meerderheid van persone met depressie en angsversteuring negatiewe etikettering ervaar met betrekking tot hulle diagnose en geestesgesondheidstoestand (Thornicroft, Rose, Kassam en Sartorius 2007; Barney, Griffiths, Christensen en Jorm 2009; Reavley en Jorm 2011). Die stigma wat aan depressie gekoppel is, dra by tot lyers se pynlike belewing van “andersheid”. McLeod (2015, my kursivering) beskryf depressie selfs as ’n geesteswanorde wat individue daarvan weerhou om ’n normale lewe te lei.

8 Daar is aanduidings dat die situasie ten opsigte van die stigmatisering van mense met depressie en ander geestesongesteldhede besig is om te verander. Uitgebreide navorsing waarna daar in Beyondblue (2015:30–5), die tydskrif van die Beyondblue Nasionale Depressiebewusmakingsinisiatief in Australië, verwys word, bevestig egter dat lyers aan hierdie toestand steeds met beduidende vlakke van stigmatisering te kampe het.

9 Iovino (2010) onderskei tussen die verskillende terreine van “andersheid” binne die menslike belewingswêreld deur die term wilderness te gebruik. Fisieke gestremdheid of gebrek noem sy “wilderness of the body”, geestesongesteldheid word “wilderness of the mind” genoem en mistieke ervarings staan bekend as “wilderness of the ‘more than human’” (2010:55).

10 Foster (2008:3) ondersoek die mistieke tendens wat sy in drie werke identifiseer, naamlik in Karolina Ferreira (1993), Landskap met vroue en slang (1996) en Buller se plan (1999). Van Schalkwyk (1998:131) gee ook aandag aan die proses van mistieke eenwording in Karolina Ferreira, en Barthel en Human (2017) ondersoek die verskillende vergestaltings van mistiek en mistieke ervaring in Die aanspraak van lewende wesens.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top