Wildekus deur Morné Malan, ’n lesersindruk

  • 0

Wildekus
Morné Malan
LAPA Uitgewers
9780639607474

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Die begrip kultus is skielik in die nuus. Dink maar aan die briljante reeks Devilsdorp en Erika Bornman se dapper boek Mission of malice.

Ek het dus Wildekus begin lees juis om te sien wat Morné Malan met die idee van ’n kultus doen. My opsomming? Dis ’n nodige boek, en een wat lekker lees.

Hoekom nodig?

Om te sê ’n boek is “nodig” maak nogal ’n sterk stelling, maar ek sal dit probeer regverdig.

So, kom ons sleep Plato by.

Plato het oor die tragedie die volgende gesê:

  • Die held moet iemand wees na wie die teaterganger kan opsien, anders gaan niemand spyt wees as hy tot ’n val kom nie.
  • Die held se swak punt moet egter ook duidelik wees, anders gaan niemand dink sy val is geloofwaardig nie.

Ander, slim mense sou ook kon praat van die jing en die jang wat albei teenwoordig moet wees in ’n goeie storie, en dit is wat Wildekus regkry. Die lede van die kultus word nie net as sleg beskryf nie. Die sogenaamde held in die storie is ’n bietjie van arrogante blikskottel wat self tot ’n val moet kom.

Binne ’n baie eenvoudige storielyn, wat ook lekker lees, kry Malan dit reg om ’n balans te hou.

Die storie

Adam is ’n beleggingsghoeroe en is stinkryk. Goue Porsche, enorme huis, alles. Maar sy dogter, Lea, wil nie met hom praat nie.

Lea bly by haar ma, wat baie godsdienstig is en glad nie glo in luukshede nie.

Adam en Lea het dus, hoe ouer Lea word, geen verhouding meer nie.

Dan sterf die ma en Adam probeer vir oulaas. Hy wil Lea op ’n vakansie neem. Lea stem in op een voorwaarde: Geen luukses nie; sy wil in die Oos-Kaap gaan kampeer.

Adam koop ’n tent vir Lea – wat haar woedend maak – en die twee van hulle ry al die pad uit Gauteng na die klein, armoedige vakansieplekkie wat sy gekies het.

Hulle slaan tent op in die verste hoek – ver van almal.

Die volgende oggend is daar ’n laer stokou karavane om hulle.

Die inwoners hou kerk, sing, speel trompet en doop mense in die see.

Adam is natuurlik briesend, maar Lea wil glad nie dat hy kla nie.

Die dag daarna is die karavane weg, maar Lea ook.

Nou sit Adam alleen in sy huis, met al sy geld, en sy dogter is skoonveld.

Sy gemoedstoestand verswak tot hy besluit om sy werk te los en voltyds te gaan soek.

In die Oos-Kaap tel hy weer die groep se spore op en hy wat Adam is, besluit om by Die Lewende Vlees aan te sluit. Hy wil weet wat werklik daar aangaan; ook wil hy weet of y dogter daar is. Meer nog: As Lea daar is, kan hy haar uit die kloue van hierdie mense red?

Lees self. Ek gaan niks meer verklap nie. Die verhaal is spannend en interessant.

Arrogante vertellersoog, simpatieke kurator van perspektiewe

Adam is ’n arrogante bliksem. Langs die braaivleisvuur sou hy vergelyk word met dinge wat onder broeke weggesteek word.

In sy arrogansie sien hy net die sleg in die arm gelowiges wat met hulle flenterkaravane deur die land reis. Die leser ervaar hulle dus as agterlik en sukkelend.

Arm is hulle wel. Dis nie ’n kultus waar die leiers lenings van groot geld aan ’n gesinstrust kan gee en dit dan per ongeluk afskryf nie – lees Bornman as jy meer daaroor wil hoor.

Nee, hierdie ouens is almal arm.

Maar wat van die leier in die hoofhuis – daar waar niemand behalwe die binnekring mag ingaan nie?

Malan, wat spog met ’n PhD in Engelse letterkunde, balanseer egter die erg kritiese oog van Adam deur ook vertellers van binne Die Lewende Vlees aan die woord te stel. Wat meer is, soos Adam al hoe meer betrokke raak by die groep, sien hy ook die mooi raak onder die armoede en die leuens, en juis omdat hy die mooi sien, maak dit die geheelbeeld soveel meer geloofwaardig.

Wanneer is ’n kultus ’n kultus, of nie?

’n Mens moet versigtig met die woord kultus omgaan.

In breë trekke sou ek egter dié twee goed noem:

  • Mense wat hulself sonder vrae deur ander laat lei
  • En die voortdurende vrees dat die wêreld buite die groep jou in die steek sal laat.

Die tweede punt is belangrik, want kultusleiers maak gewoonlik seker dat vrees ’n belangrike deel van elke dag se boodskap is.

Kultusse kan groot of klein wees. Daar word soms na Noord-Korea as ’n kultus, in plaas van ’n land, verwys. Nazi-Duitsland was ongetwyfeld een enorme kultus en apartheid natuurlik ook.

Apartheid was ’n uiters effektiewe kultus. Ons is deur die skool en die kerk geleer om swart mense en kommunisme te vrees. Ons moes maagdelik wees en binne die stelsel trou en kinders kry wat ons moet opfoeter om binne die stelsel te bly. Hoekom? Slegte mense gaan hel toe. Vrees. Kommuniste gaan ons land oorneem. Vrees. Swartes is kommuniste. Vrees.

Ons was daar. Enige afwyking, enige vrae, en jy word die koue lewe buite die laer as alternatief voorgehou.

Talle mense sê enige vorm van godsdiens is gelyk aan ’n kultus. Daar stem ek nie mee saam nie.

Die liberale, ekumeniese godsdiensbouings negeer die hemel en die hel, neem so die vrees heeltemal weg en vra aktief vrae oor hoe om die wêreld ’n beter plek te maak.

Talle meer konserwatiewe godsdienste wat nog ’n skakeling met ’n onsigbare wese het, maak dikwels plek vir die sorg van minder bevoorregtes, en sal mense toelaat om buite die geloofsgemeenskap te dink en te sosialiseer.

Sulke groepe kan ek glad nie met kultusse vergelyk nie.

Dat godsdienste egter deeglik vir kultusvorming gebruik kán word, dit is ongelukkig ook waar.

Morné Malan kry dit reg om vrae te vra oor Die Lewende Vlees, maar toon ook aan hoe hulle sorg vir mense wat andersins nooit iewers sou kon tuis wees nie. Is Die Lewende Vlees goed of sleg? Lees gerus self.

Reëls

“Jy moet staan in jou ry! Jy moet jou hare kort sny!”

Oukei, jongmense sal nie die interteks ken nie, maar Johannes Kerkorrel was ’n salwing vir dié van ons wat die sotlike reëls op skool verpes het.

Ek is tans besig om meer te lees oor die Trappiste, ’n Katolieke orde wat aan die einde van die 19de eeu baie noodsaaklike ontwikkelingswerk in KwaZulu-Natal gedoen het. Die belangrikste deel van ’n Trappis se lewe was stilte. En reëls. Elke uur van elke dag is georden. In daardie sekere wete dat jy nooit hoef te dink oor wat jy volgende moes doen nie, kon jy nader aan God kom.

Dit het vir baie mense gewerk. Toe begin die monnike sendingstasies bou, plase aanlê, melkboederye en koringmeulens bedryf, skole stig ... En skielik is die wonderlike werk wat hulle vir die gemeenskap wou doen, in stryd met die reëls.

Fassinerende probleme het toe ontstaan.

Die Trappis-gemeenskap in KwaZulu-Natal het ontsettend baie geld gehad, al het hulle self in totale armoede geleef.

Die Lewende Vlees in Morné Malan se Wildekus is egter gewoon brandarm, maar hulle motto is: “Vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” Niemand wat daar opdaag, word weggewys nie.

Ter opsomming

Morné Malan se Wildekus gaan dalk nie die kortlyste van ons groot pryse haal nie, maar dit sal jammer wees as die boek gewoon wegraak.

Ek het dit gelees weens my eie belangstelling in godsdienstige ordes en was aangenaam verras. Die roman lees lekker. Dit is ’n oulike storie.

’n Mens sou kon vra of die name, soos Adam en Lea, nie dalk effens te goed gekies is nie, maar die arrogante manier waarop Adam, met al sy intertekstuele bagasie, neersien op die sukkelaars, maak sy eie insig in hulle ware doen en late soveel meer geloofwaardig.

Ek het Wildekus geniet en wil mooi vra: Moenie die fout maak om die einde te lees voor jy begin nie. Jy wil die einde as einde beleef. Dit is wonderlik en gepas.

Lees die boek. Veral as jy van karavane hou. Ek is bly ek het.

Lees ook:

Mission of malice by Erika Bornman: A reader impression

In gesprek met Jana Marx oor rekordslaner Devilsdorp

Devilsdorp: Mystery and suspense cleverly maintained

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top