Wie was St Valentyn nou eintlik?

  • 0

Meer as sjokolade? (Bron: Izak de Vries)

Valentynsdag is sekerlik een van die mees gekommersialiseerde vierings van ons tyd, maar tog bly dit heerlik om een dag lank te vergeet van ons daaglikse stres en met oorgawe op die liefde te fokus. Maar wie was die man na wie hierdie dag van liefde vernoem is, en hoekom vier ons dit juis op 14 Februarie?

Die Katolieke Kerk erken minstens drie heiliges met die naam Valentino of Valentinus (wat in Latyns waardig, sterk of magtig beteken), en al drie word beskou as martelare. Een legende handel oor 'n priester met die naam Valentino wat in die derde eeu in Rome gewoon het. Keiser Claudius II het destyds besluit om huwelike onwettig te verklaar omdat enkellopende mans glo beter soldate maak. Dit het Valentino so ontstig dat hy jong paartjies in die geheim in die huwelik bevestig het. Toe Claudius hiervan uitvind, het hy opdrag gegee dat die goeie priester tereggestel moes word.  Volgens 'n ander legende is Valentino na Claudius se opdrag eers 'n ruk lank in 'n edelman se huis aangehou, waar hy dié se dogter van blindheid genees het. Voor sy kop op 14 Februarie 270 vC afgekap is, het hy vir haar ‘n brief geskryf en dit onderteken met “Van jou Valentino”.  Volgens ander legendes het Valentino Christene help ontsnap uit die verskriklike Roomse marteltronke, en was die heilige na wie Valentynsdag vernoem is, eintlik ene Biskop Terni van Rome, wat ook die keiserlike opdrag geïgnoreer het en paartjies in die geheim getrou het. Daar was uiteindelik so 'n groot deurmekaarspul rondom die ware identiteit van St Valentinus dat die Katolieke Kerk in 1969 opdrag gegee het dat hy nie meer as 'n heilige gehuldig mag word nie, hoewel sy naam steeds op die kerk se lys van heilige martelare is.

Wanneer 'n mens oor St Valentyn begin navorsing doen, kom jy op verstommende feite af. En jy kry die arme oorlede heilige skoon jammer vir alles wat mense verwag hy moet beskerm en voorkom. Hy word nie net beskou as die beskermheilige vir verliefdes, verloofdes en gelukkige huwelike nie, maar is ook die beskermheilige teen epilepsie, die plaag en floutes. Tussendeur moet hy boonop ook spesiale beskerming verleen aan byeboere en reisigers. Interessant genoeg is daar minstens 12 St Valentyns op die Rooms-Katolieke Kerk se amptelike lys – onder hulle ook 'n vrou, St Valentina, 'n maagd wat in die jaar 308 in Palestina gesterf het.

In die Basilica van Santa Maria in Cosmedin, Rome (Bron: Wikipedia)

Dat die wêreld al eeue lank honger is vir liefde, en hou van "n mooi romantiese storie, blyk uit die (grieselrige) feit dat die arme St Valentyn se skedel – weliswaar met vars blomme versier – in die Basilica van Santa Maria in Cosmedin, Rome uitgestal word. Nog stukke van sy skelet word ten toon gestel in die Tsjeggiese Republiek, Ierland, Skotland, Engeland en Frankryk.  

Al verskil historici oor wie en wat die werklike St Valentyn nou eintlik was, staan een ding soos 'n paal bo water: al die weergawes skep 'n prentjie van 'n romantiese, heldhaftige siel met 'n sagte hart wat bereid was om alles te gee vir die liefde – presies nes die ideale held in liefdesverhale deur die eeue! Wie beter om as inspirasie te dien vir 'n dag waarop miljoene mense wêreldwyd die liefde vier?

St. Valentyn kniel in oodmoed, deur David Teniers III (Bron: Wikipedia)

Maar hoekom vier ons Valentynsdag spesifiek op 14 Februarie? Een verklaring is dat die Christelike kerk die paganistiese vrugbaarheidsfees Lupercelia (opgedra aan Faunus, die Romeinse god van landbou, en Romulus en Remus, die stigters van die Romeinse Ryk) wat op 14 Februarie gevier is, in iets meer Christelik wou omskep. Lupercelia was 'n uitvloeisel van die Romeinse reinigingsritueel Februa, wat op die 15e Februarie gehou is. Die idee dat 'n bok en 'n hond geoffer moes word, klink darem net te grillerig om die liefde te vier, maar tog was dit presies wat tydens die fees gebeur het. Maar daar was darem ook 'n romantiese aspek: al die ongetroude vroue van elke dorp het daardie dag hul name neergeskryf en in 'n groot kruik gegooi. Die hubare mans van die dorp moes dan 'n naam trek, en vir die volgende 365 dae was die twee dan 'n paartjie. Dit het tot baie huwelike gelei.

Maar met die opkoms van die Christendom het die owerhede gevoel daar is darem te veel bloed betrokke by Lupercelia, en Pous Gelasius het 14 Februarie teen die einde van die vyfde eeu amptelik as St Valentynsdag verklaar.

'n Ander verklaring vir die feit dat ons Valentynsdag juis op 14 Februarie vier, kom uit 'n gedig van die middeleeuse digter Geoffrey Chaucer getiteld Parliament of Fowls (circa 1375). Die reël “For this was on Seynt Valentyne’s Day, when every bird cometh ther to choose his mate” [sic]. (Daar is in die Middeleeue geglo dat voëls se paarseisoen amptelik op 14 Februarie begin.)

Al verskil historici sterk oor die presies waar Valentynsdag nou eintlik vandaan kom, laat hierdie dag elke jaar die kasregisters wêreldwyd klingel. Dis die een dag ‘n jaar waarop jy nie noodwendig net ‘n geliefde wat jy reeds het, bederf nie. Jy het as’t ware die hele wêreld se toestemming om die geliefde wat jy begéér, se hart te probeer steel met liefdesgeskenke en romantiese gebare – niemand gaan jou skeef aankyk op Valentynsdag nie.

Hoewel Valentynsdag-groete reeds in die Middeleeue gewild was na Chaucer se gedig, het die gee van geskrewe Valentynsdagboodskappies eers na 1400 nC gewild geword. Die oudste Valentynsboodskap waarvan historici weet, is 'n gediggie deur Charles, die graaf van Orleans. Hy het dit in 1415 geskryf vir sy vrou terwyl hy in die Tower of London aangehou is na die Slag van Agincourt. Hy gebruik die woord “Valentine” verskeie kere in die briefie, en skryf ook hy is siek van die liefde. (Ongelukkig is sy vrou dood voordat sy brief haar bereik het.)

 'n Paar jaar later het Koning Henry V selfs 'n skrywer, ene John Lydgate, gehuur om 'n Valentynsdagboodskap vir Catherine van Valois te stuur.

William Shakespeare, wie se Romeo en Juliet steeds die inspirasie vir talle liefdesverhale is, het ook in sy werk na Valentynsdag verwys. In Hamlet, wat in ongeveer 1600 geskryf is, sing Ophelia die volgende vir die koning: “To-morrow is Saint Valentine's day/ All in the morning betime/ And I a maid at your window/ To be your Valentine.” Hierdie vers verwys na die bygeloof dat die eerste vrou wat 'n man op St Valentynsdag sien, sy ware liefde is.

In die 17e eeu het al hoe meer Britte begin om Valentynsdag te vier. Daar was nog nie iets soos gedrukte kaartjies nie, maar handgemaakte kaartjies was algemeen. Dit is per hand onder voordeure ingestoot, natuurlik onder groot geheimhouding . En as jy gesukkel het om die regte woorde te vind, was daar gedrukte gidse met gepaste versies wat jy net so kon kopieer om jou geliefde se hart te steel.

Die oudste Valentynskaartjie waarvan ons weet, is deel van 'n uitstalling in die York Castle Museum in York, Engeland. Dis in 1797 gedruk en met die hand ingekleur, want kleurdrukwerk het nog nie bestaan nie. Die prent bevat ingewikkelde blompatrone, Kupido's en duiwe en het 'n kantagtige voorkoms. Daar is 'n versie al om die rand geskryf wat lui: Since on this ever Happy day, All Nature's full of Love and Play. Yet harmless still if my design,'Tis but to be your Valentine.

Die oudste Valentynskaartjie? (Bron: York Museums Trust/Scrapbook.com)

Teen die middel van die 18e eeu was die uitruil van handgeskrewe briefies en klein geskenkies algemeen.  Teen 1900 was gedrukte kaartjies volop in Brittanje – 'n handige manier om jou liefde uit te druk in ‘n era waarin mense nie juis aangemoedig is om oor hul emosies te praat nie. In 1835 is ongeveer 60 000 Valentynsdagkaartjies per pos gestuur. Vyf jaar later, toe posgeld goedkoper gemaak is (die era van die sogenaamde “penny post”) het die syfer gegroei na 400 000.

'n Handgemaakte koevert vir 'n Valentynsboodskap, circa 1850 (Bron: Scrapbook.com)

Aan die ander kant van die oseaan het Amerikaners ook iewers in die vroeë 1700's begin om handgeskrewe Valentynsboodskappe vir geliefdes te gee. Esther A Howland het egter al in die 1840's 'n gaping in die mark gesien vir  massavervaardigde Valentynskeppings. Howland, wie se pa ‘n skryfbehoeftewinkel in Massachusets besit het, word gesien as die “Moeder van Amerikaanse Valentynskaartjies”. Haar skeppings van kant, linte en kleurvolle prente, is “scrap” genoem (dink waarvan die term “scrapbooking” later afgelei is. Op die kruin van haar gewildheid het Howland in 'n stadium meer as $100 000 se handgemaakte Valentynsdagkaartjies verkoop – sy het 'n produksielyn van plaaslike vroue gehad wat help kaartjies maak het. Later het sy selfs 'n fabriek begin wat die eerste gedrukte Valentynskaartjies in die VSA vervaardig het.  

'n Tipiese Esther Howland-kaartjie (Bron: Wikipedia)

Hallmark, 'n wêreldleier op die gebied van groetekaartjies, het hul eerste Valentynskaartjies in 1913 verkoop. Vandag is dit "n multimiljoendollar-bedryf. Statistiek deur die Greeting Card Association toon dat daar jaarliks wêreldwyd meer Valentynsdagkaartjies verkoop word as Kerskaartjies – na raming meer as 150 miljoen kaartjies per jaar.

(Bronne: www.history.com; www.scrapbook.com)


LAPA Uitgewers vier elke maand die liefde met ons Romanza-reeks.


Huis van geheime

Malene Breytenbach

SuperRomanza

9780799391626

R225,00

Mona begin ’n splinternuwe lewe met die skep van ’n gastehuis wat spesifiek op skrywers gemik is. Vir haar is dit nuut en opwindend, want haar afgelope huwelik het haar broos gelaat. Nou staan sy weer op haar eie bene.

Mona kry met skrywers van alle soorte te doen, sommige aspirerend, ander so bekend dat hulle werk in verskeie tale vertaal word. Tydens die Woordfees op Stellenbosch is daar veral een bekende skrywer wat die vroue op hol het. Sonder dat sy wil, besef Mona dat sy teenwoordigheid haar allesbehalwe onaangeraak laat.

Nugter en verstandig weet sy dat iemand wat ander vroue ook laat swymel, moeilikheid kan beteken. Dit gebeur wel. Van die mededingende vroue vind uit hoe die wind waai en word haar vyande.

Mona se eksman gun haar boonop geen geluk nie en kort voor lank word haar eienaarskap van die huis, haar nuwe lewe, bevraagteken. So ontvou Huis van geheime in ’n verhaal met talle spanningselemente en allerhande verrassende wendings.

Lesers sal baie hou van Mona en die suksesvolle skrywer wat haar so onverhoeds betrap. Dié twee is nie bloot aantreklik nie; hulle is albei hoogs intelligent en talentvol.

Malene Breytenbach is nie verniet een van die talle Romanza-skrywers wat met ’n PhD spog nie. Gewoonlik is sulke inligting van min nut vir ’n leser, maar in hierdie geval skryf Breytenbach vanuit die maag van die Afrikaanse letterkundige Establishment, en sy doen dit trots onder die Romanza-vaandel. Breytenbach en haar man het albei aan die US gedoseer en was van meet af aan betrokke by die US Woordfees. Sy het al meer as vyftig romanses geskryf, bo en behalwe die literêre verhale wat ook al uit haar pen gekom het.

Haar vorige boek met die universiteit as agtergrond, Die professor en die beterweter, is op Goodreads geklassifiseer in die jy-waag-dit-nie-om-neergesit-te-word-nie-kategorie.

Hoekom dan nie? Die maand van die liefde is ook mos daar vir mense wat hulle brein kan gebruik, nie waar nie? LAPA is skaamteloos trots op ons Romanza-aanbod. Almal is welkom.


Onweerstaanbare passie

Marijke Greeff

Romanza-Omnibus

9780799391657

R225,00

Marijke Greeff is ’n gekwalifiseerde bibliotekaris wat begin skryf het toe sy nie meer in ’n biblioteek kon werk nie. Haar werk is bekend om die vurige liefdestonele, onweerstaanbare helde, sterk heldinne en die interessante kinkels in die storielyne. Dit is mos wat ’n mens van LAPA verwag in die maand van die Liefde, nie waar nie?

Marijke het al verskeie romanses geskryf en is reeds met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon.

Onweerstaanbare passie is ’n samestelling van drie van haar vorige Romanzas.

’n Ongewone meisie: Toe Juli Baxter se biologiese pa haar as lyfwag vir Zack huur, beskou sy dit as bloot ’n opdrag. Sy kom egter gou agter sy het haar lelik misgis. Wie haat Zack genoeg om hom te wil vermoor? Wat is die betekenis van die wit angeliere wat telkens voor ’n aanslag op sy lewe by Zack afgelewer word? Die spanning – ook tussen Zack en Juli – bereik ’n hoogtepunt toe Zack die moordenaar uitlok, maar byna self in sy eie strik trap. Juli oortree natuurlik elke reël van professionaliteit wanneer sy voor Jack se manlike sjarme swig.

Soleil en die sakeman: Soleil het van kleins af ’n heldeverering vir Jason gekoester, sedert haar ma as huishoudster in sy pa se diens getree het. Sy is skaars agtien toe sy die passie in hulle verhouding ontdek. Kort daarna verdwyn Jason – waarheen, weet nugter alleen. Nou, twaalf jaar later, het sy haar mediese studie voltooi en Jason is terug. Soleil kan nie eens teenoor haarself erken met hoeveel drif sy hierdie man liefhet nie. ’n Ander kant van Jason word egter ook nou duidelik: dié van ’n berekende sakeman. Van haar droom om ’n kliniek vir minderbevoorregtes te heropen wil hy niks weet nie. Is sy aandrang op ’n skynverlowing ook deel van sy sakemansvernuf?

Formuleliefde: Jarod Hunter speel nie met sy mededingers en vyande nie. Hy word nie verniet Die Jagter genoem nie. Dié Formule Een-wêreldkampioen ver­pes die media, en Catherine is juis ’n joernalis – met die opdrag om sy verlede oop te krap en sappige brokkies aan haar lesers op te dis. Jarod weet nie sy is ’n verslaggewer nie en laat haar onder valse voorwendsels naby hom toe. Ná sy vrou se geheim­sin­nige motorongeluk steur hy hom nie aan vroue nie, maar Cat kan hy nie weer­staan nie; totdat hy agterkom dat sy ’n lid van die media is en hy die intiemste besonder­hede oor homself op haar koerant se voorblad lees.


Sterlig en soene

Thea Holland

9780799391473

R90,00

Antjie is lief vir Tom, maar trou? Nee, dankie. Die huwelik is ’n strik waarin jy trap! Maak sy ’n fout toe sy die troue weer uitstel? Sy het dit immers voorheen al gedoen, toe het Tom haar vergewe.

Thea Holland woon by die see en haar belangstellings strek so wyd soos die hemelruim. Die lewe is vir haar ’n geskenk waarvoor ’n mens nooit dankbaar genoeg kan wees nie.


Lank, donker en gevaarlik

Madelie Human

9780799391534

R90,00

’n Verhouding, so kort op die hakke van die verbreking van haar verlowing, is vir Lizma ondenkbaar, maar vertel dit nou vir haar ongehoorsame hart; veral as Joe Schoeman net naby haar kom.

Madelie Human het voltyds begin skryf nadat sy die onderwys verlaat het. Om romanses te skryf is iets is wat sy nog altyd graag wou doen.


Die spel van liefde

Corné van Rooyen

9780799391503

R90,00

Tot Izette se ontsteltenis is die nuwe, sexy prokureur niemand anders as haar eksman nie. Gelukkig is haar gevoelens vir Markus iets van die verlede, maar sy soene saai steeds verwoesting in haar hart.

Corné van Rooyen was nog altyd baie lief vir lees en het van kleintyd al haar eie stories geskryf met die droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg.


Blomme vir Melissa

Ciska Olivier

9780799392197

R90,00

Eers los Nico Roussow haar met ’n gebroke hart en nou verwag hy ’n tweede kans. Wel, nie weer nie. Melissa dink sy het ’n goeie houvas op haar hart, maar dit luister nie en voor sy weet, dompel sy haarself van voor af in die verderf.

Ciska Olivier is ’n plaaskind van Namibië wat in haar eie wêreld van lees en skryf geleef het totdat sy haar eie storieboekheld ontmoet het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top