Wie stileer vir Pickard Henn?

  • 3

Dís die vraag wat die dringendste by my aanklop toe ek gister 'n kiekie van dié alle-kennis-in-pag-hebbende pastoor in die oggendblaaie teëkom.

Kyk net die haredos: onderlangs is dit skonerig geskeer en bo sampioen dit geil uit. Die baard is pure hipster-sjiek. So sag soos 'n kussing.

Sy torso word deur 'n blougeruite hemp bedek, gewoonlik die uniform van 'n bedrewe houtkapper of die sivvie-drag van 'n hokkiespeelster.

Die koeëlronde klinknael-in-die-oor span natuurlik die kroon en vat die idiomatiese koek.

As 'n mens se nuuskierigheid dán eers geprik is en jy jou skrede spoedig na die kerkman se Facebook-blad wend, is dit sy houding wat so mooitjies uitstaan. Telkens neig sy kop skewerig sydelings of teepot sy hand-en-gewrig na 'n punt toe – om 'n punt te maak.

Maar dié pastoortjie is mos van ons kerk se mense, 'n Henn onder die hane, dink jy dan so stilletjies en skuldig by jouselwers.

Totdat jy die protestasies lees wat hy na berig word ruimskoots predik. By skole, voor rye beïnvloedbare skoolgangers. En dit op die basis – soos hy dit op 'n styfgespande T-hemp rugbaar maak – dat dit vir hom heeldag en aldag net Jesus is.

Jesus, meen 'n mens, sal in sy graf tol as hy bewus word van wat pastoor Henn alles in Sý naam doen en sê.

Die koerante berig dat 'n leerling van die Hoërskool De Kuilen, waar die pastoor verlede week op die verhoog was, aan die radiodiens Cape Talk gesê het dat Henn te vertelle had dat diegene wat aan die LGBTI-gemeenskap behoort of wat selfmoord oorweeg 'n eenrigtingkaartjie op die trein hel toe het.

In Henn se eie woorde, het hy by daardie geleentheid ook gesê die "enigste mense wat buite die huwelik slaap, is prostitute”. En op etlike videogrepe op sy Facebook-blad, verlustig Henn hom in wonderwerke wat hy telkens fasiliteer: skielik neem 'n gebed wat die Heilige Gees oproep die pyn in 'n petroljoggie of 'n kelner se arm weg.

Daarop kraai Henn: "Joe, joe, joe, die Heilige Gees is amazing … !”

Dat skooltyd gebruik word om op 'n ewewigtige wyse vir leerders aan die ideë van godsdiens en godsdiensvryheid bekend te stel, is wat my betref heel verdedigbaar.

Maar dis iets gans anders as 'n skool 'n platform bied aan iemand om 'n baie spesifieke manier van omgaan met die Christelike geloof te verkondig. Dít is niks anders as 'n vergryp nie.

Dat daardie aanslag boonop 'n duidelike verwringing is, maak dit nog erger. Ook dat Henn self sodoende soos 'n sangoma, wie se praktyke hy verwerp, optree.

Die dawerende ironie is dat dit juis súlke predikers is wat die kompleksiteit van die Christelike geloof tot T-hempslagspreuke reduseer, wat die boodskap wat dit verkondig groot skade berokken. Wat die idee van religie fundamentaliseer en verskraal.

Die Bybel word sodoende tot 'n band raakvat-aanhalings en -aforismes verminder – en die Christelike geloof tot 'n bevoorregte vorm van hocus pocus. As God so rojaal elke armpyn wegvat wat in die pastoor se dampkring opduik, wat van al die lyding wat oogluikend toegelaat word, ook onder ander wat bid?

Die onhoudbaarheid van die pastoor se verwronge boodskap is net dít: onhoudbaar.

Weet pastoor Henn dan ook nie van die navorsing wat die Amerikaanse teoloog Ed Oxford tans doen en wat in 2020 in Forging a Sacred Weapon: How the Bible Became Anti-Gay, sy boek saam met Kathy Baldock, sal verskyn nie?

Hulle sal aantoon dat die oorspronklike Griekse woord arsenokoitai eers in 1946 die Amerikaanse Revised Standard Version-vertaling (RSV) van die Bybel as homoseksueel binnegesluip het. In Duits is daardie woord van so vroeg as Martin Luther se vertaling van 1534 tot in 1983 as knabenschander weergegee: Knaben dui op 'n seun en schander is 'n molesteerder. In 1983 het die Amerikaanse maatskappy Biblica vir 'n nuwe Duitse vertaling betaal – en siedaar.

In kort: taal is allermins neutraal of waardevry. Dit word vertaal en uitgelê deur mense wat die vooroordele van hul tyd geïnternaliseer het.

As 'n bepaalde uitleg boonop op 'n T-hemp pas, is dit waarskynlik te betwyfel.

Maak die pastoor sy toehoorders van al hierdie tekstuele en kontekstuele kompleksiteit bewus?

Benadruk hy boonop die ware revolusionêre figuur van Jesus Christus, wat hom allereers met die uitgeworpenes en die ter-gronde-gegaandes geassosieer het? Bespreek hy die bevrydingsteologie en die teoretiese werk oor Moeder God?

Spreek hy die Christelik-etiese vrae rondom die verbruikerskultuur en die ekologie aan?

Nee, die pastoor blyk eenvoudig die Bybel as 'n prisma aan te wend waardeur hy die patriargale samelewing waarvan hy deel is probeer regverdig en bestendig.

Die gemoeidheid van die hedendaagse opwindingskerke – soos ek hulle noem – met seks en sosiale kwessies, deurgaans deur 'n konserwatiewe, Amerikaans-beglaasde bril, is niks anders nie as mans wat hul wankelende staanplek op die kruin van die skepping probeer beskerm.

Dit hoort nie in skole nie. Leerders moet beslis nie daaraan blootgestel word nie. Die Hoërskool De Kuilen en kie het heelwat om te verduidelik.

Natuurlik behoort 'n mens se seksuele voorkeur en gender-identiteit irrelevant te wees as dit by geloofsake kom.

Ironies is dit juis pastoor Henn se klaarblyklike beheptheid met dié dinge wat 'n mens noop om hom – en sy stilering – ook van nader te beskou.

  • 3

Kommentaar

  • Weet die Henn dat Jesus nooit 'n woord gerep het oor homoseksualisme nie? Was blykbaar nie vir Hom 'n issue nie. Paulus, die ongetroude, alleenlopende, saam-met-jong-ongetroude-mans-toerende-doring-in-die-vlees man en mensemoordenaar, het wel sy mond die meeste uitgespoel oor gaywees, vroue en die huwelik. Net so onhoudbaar soos Henn, sou ek sê.

  • Uitstekende artikel wat almal behoort te lees. Skole wat sulke pastore 'n platform gee, behoort aangekla te word.

  • Het die mense wat so kommentaar lewer en berigte skryf sy preek by die skool geluister? Indien hulle het sal hulle weer moet gaan luister of vir my sê waar hy gepraat het oor homoseskualiteit? Indien ek mis gehoor het, vergewe my asb? Indien nie, stel ek voor julle maak die saak reg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top