Wie se Afrikaans? Ommietafel by die Afrikaanse Taalmuseum

  • 15

As jy Afrikaans is, is daar drie goed wat jy nét in Afrikaans kan doen: bid, vloek en sing. So het die avontuurskrywer C Johan Bakkes Afrikaans opgesom toe hy verlede Vrydagaand ’n heildronk op Afrikaans ingestel het tydens die Ommietafel-gesprek in die Paarl. Die tema was: “Wie se Afrikaans?”

Die geleentheid by die Afrikaanse Taalmuseum was om drie verjaarsdae vir Afrikaans te vier: Afrikaans amptelik 90, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument 40 en die Vriende van Afrikaans 21 jaar oud!

ommietafel

Nico Koopman

Op die verhoog was ’n lappieskombers bekende Afrikaanses wat gedagtes gewissel het oor die vraag “Wie se Afrikaans?”: Ena Jansen, HemelBesem, Karien Brits en Nico Koopman. Die gespreksleier, Johan van Lill, het die gaste aan die praat gekry oor wie se Afrikaans dit is.

Afrikaans het uit ’n wye verskeidenheid van bronne ontwikkel. Sy wortels lê oor drie kontinente versprei, naamlik Europa, Asië en Afrika. Vrydagaand se viering van Afrikaans het die taal se diversiteit sigbaar en hoorbaar weerspieël. Dit het die gehoor herinner aan die woorde van Breyten Breytenbach: “Ons is 'n bastervolk met 'n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so.”

In sy onkonvensionele reisboek ’n Seisoen in die Paradys skryf Breytenbach: “Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig. En om dit te kon doen, moes ons ons gewaande stamidentiteit stol. Ons moes áfkamp, bekamp, verkramp. Ons moes ons andersheid verskans en terselfdertyd behou wat ons verower het. Ons het van ons andersheid die norm, die standaard gemaak – en die ideaal ... Ons het mure gebou. Nie stede nie, maar stadsmure ... en ons het die begrip van suiwerheid begin aanhang. Dit is apartheid ...”

Johan van Lill

Baie van daardie mure wat Afrikaanse mense dekades lank in kampe verdeel het, is Vrydagaand afgebreek toe daar prontuit om die tafel gepraat is oor wie se Afrikaans.

Die gesprek het plaasgevind ’n katspoegie van die vertrek in die huis van Gideon Malherbe waar agt mense die Genootskap van Regte Afrikaners presies 140 jaar gelede om ’n stinkhouttafel gestig het.

Dis ’n korrekte vraag hierdie – wie se Afrikaans? – het  die teoloog en waarnemende viserektor van die Universiteit Stellenbosch, Nico Koopman, gesê.

Moenie Afrikaans verabsoluteer nie, het hy gepleit. Tale behoort aan mense. Mense behoort nie aan tale nie.

Koopman glo soos Breytenbach dat Afrikaans se toekoms mooi is as dit besit word deur mense met ’n maksimalistiese identiteit van hibriditeit, van verbasterdheid. Sy verstaan van hibriditeit beteken dat mense van verskillende agtergronde naby mekaar leef, dat hulle met mekaar meng, dat hulle kommunale simpatie, empatie en interpatie ontwikkel, dat hulle met poreuse velle leef, velle wat osmose moontlik maak, dat hulle nie onveranderd gelaat word deur hul lewe in nabyheid aan mekaar nie.

Hierdie hibridiese saambestaan beteken dan dat ek soos volg kan praat oor my identiteit, het hy gesê: “Ek is ’n bruin mens, maar vanweë my saambestaan met my swart, wit en Indiër-broers en -susters is ek meer as bruin; ek is ’n man, maar vanweë my noue saamleef met vroue en my pogings om deur hul brille te probeer kyk, is ek meer as ’n man; ek is heteroseksueel, maar vanweë my identifisering met my LGBTI- broers en -susters, is ek meer as heteroseksueel; ek is ’n Christen, maar vanweë my lewenslange saamstap met my broers en susters van ander godsdienstige en sekulêre tradisies is ek meer as Christen; ek is Suid-Afrikaner, maar vanweë my noue saamleef met my broers en susters in ander Afrika-lande, en op ander kontinente, is ek meer as Suid-Afrikaner, is ek ’n hibridiese, maksimalistiese kosmopolitaan! Ja, ek is meer!”

Ena Jansen

Ena Jansen, wat die leerstoel vir Suid-Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland beklee, het gesê sy het nooit gedink sy sou eendag hier in die skadu van die Taalmonument op ’n podium sit waar daar so bevrydend oor Afrikaans gepraat word nie. Sy doen dit veral vir haar pa wat ’n jarelange lid van die Vriende van Afrikaans is.

Sy het afgewyk van haar voorbereide toespraak in antwoord op die heildronk wat deur Johan C Bakkes op Afrikaans ingestel is en waarin hy gesê het: daar is drie dinge wat ’n mens nét in jou moedertaal kan doen: bid, vloek en sing. Vir Ena was dit belangrik om hieraan toe te voeg: protesteer.

As linkse Stellenbosse student het sy die groot Taalmonument vir Afrikaans met skeptisisme langs die Paarlrots sien verrys. Tydens die apartheidsjare was sy baie sterk teen apartheid gekant en teen baie dinge wat in die naam van Afrikaans gebeur het. Dis hoekom sy destyds lank nie teruggekom het Suid-Afrika toe nadat sy haar studie aan die Universiteit van Utrecht voltooi het nie.Totdat sy ’n pos by Wits gekry het waar sy ’n aktiewe bydrae in die politiek kon lewer op die voorpunt van Afrikaanse protes toe daar nog min mense was wat in Afrikaans geprotesteer het in bewegings soos die End Conscription Campaign en die Black Sash. Van die ECC is ’n spesiale Afrikaanse afdeling gestig. Met mense soos Max du Preez, Marlene van Niekerk en Irna van Zyl het hulle ook ’n beweging met die naam Afrikaanse Demokrate gestig. Die sogenaamde Melville Susters het saam met Ralph Rabie, wat toe nog nie Kerkorrel was nie, ’n Afrikaanse kabaretvertoning teen die verbod op die ECC in Hillbrow opgevoer.

Vrydagaand het Ena ook gewys op die historiese beginpunt van Koopman se verwysing na die hibriditeit van Afrikaans. Sy het vertel van die aand in Januarie 1973 toe Breyten sy toespraak met die beroemde woorde "Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal" aan die Universiteit van Kaapstad gelewer het tydens die Sestigerweek. Sy was destyds tydelik joernalis by Die Burger en het heelweek langs Rykie van Reenen aan die perstafel gesit en Breyten se bastertaal-storie daardie nag nog vir Die Burger se voorblad sit en uittik onder die alsiende oog van Piet Cillié.

Sy het ook vertel van die groot belangstelling wat daar in Nederland en Vlaandere vir Afrikaans is en verwys na die woorde "Bly kalm en praat Afrikaans" op die webwerf van die Universiteit van Gent se Sentrum vir Afrikaans.

 

HemelBesem

Soos knettervuur uit die loop van ’n outomatiese masjiengeweer, so knetter die woorde sekuur en doelgerig uit die mond van Simon Witbooi, beter bekend as HemelBesem, wanneer hy in Afrikaans kletsrym. Solank jongmense soos hy Afrikaans praat, sal die taal nie doodgaan nie. HemelBesem het die gehoor behoorlik uit sy hande laat eet met een van sy Afrikaanse hip-hop-lirieke.

Hy het ook hulde gebring aan die bydrae wat mense soos Karen Zoid en Francois van Coke gelewer het om Afrikaans lewend te hou. “Met Afrikaanse hip-hop en rock het hulle reggekry wat boeke nie kon doen nie, omdat hulle ’n crazy impak gemaak het op plekke waar mens nie sou verwag om die taal te praat nie.”

Karien Brits van die ATKV het gesê daar word dikwels so baie gepraat oor wie se Afrikaans dit is dat mens maklik vergeet dit is een van die tale wat ook in Soweto gepraat word. Die uitdaging vir Afrikaanse mense is om nie net na binne te kommunikeer nie, maar ook na buite. Die uitdaging is om die “ons” en “my” in Afrikaans groter te maak sodat dit tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans insluit. “Ons veg baie keer so onder mekaar oor wie se Afrikaans dit is dat ons vergeet wat buite ons aangaan.”

Karien Brits

Tydens vraetyd het die gaste in al die verskillende dialekte van die taal opgewonde saamgesels oor Afrikaans. Die skrywer, sangeres en kultuuraktivis Janine “Blaq Pearl” van Rooy het haar kommer oor Afrikaans met die gaste gedeel. Sy het gepleit dat Afrikaans se Kaapse dialek die nodige respek en erkenning kry wat dit verdien. “Ons is ’n bastertaal en proud daarop,” het sy met verwysing na Breyten en Koopman se woorde gesê.

Eintlik het Isabeau Botha, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se bemarkingsbestuurder, en haar span, wat die geleentheid moontlik gemaak het, self die vraag “wie se Afrikaans?” beantwoord: dit is álmal s’n. 

“Ek voel nou so goed ek is sommer lus en spring in die lug en bly daar,” het Michael le Cordeur, ’n direkteur van die Afrikaanse Taalraad, ten slotte na 'n kwinkslag van HemelBesem verwys.

ommietafel15.1

Ena Jansen, HemelBesem, Karien Brits, Johan van Lill

ommietafel15.2

Ommietafel eet almal saam.

ommietafel15.3

Verskeie Voortrekkers het die geleentheid bygewoon.

ommietafel15.4

Amanda de Stadler en Danny Titus

ommietafel15.5

Michael le Cordeur en sy ouers

ommietafel15.6

Johan van Lill, Ena Jansen, Karien Brits, Nico Koopman, HemelBesem en Jack Louw

ommietafel15.7

Jack Louw

ommietafel15.8

Margaret Bakkes

ommietafel15.9

Johan Bakkes

ommietafel15.15

Janine van Rooy, beter bekend as Blaq Pearl

ommietafel15.16

DA-LP Anchen Dreyer, wat vertel hoe Afrikaans tog spontaan in parlementêre komitees gebruik word.

ommietafel15.17

Amanda de Stadler

ommietafel15.18

Isabeau Botha

ommietafel15.19

Agter: Amira Clayton, Amanda de Stadler, Jack Louw, Johan van Lill, Hemelbesem, Isabeau Botha Voor: Ena Jansen, Danny Titus, Karien Brits, Nico Koopman

 

Teks: Jean Oosthuizen
Foto's: Izak de Vries

  • 15

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek is 'n voorstander van Standaardafrikaans en stry by elke moontlike geleentheid vir die voortbestaan van my moedertaal. Dit is veral belangrik dat Afrikaans teen verdringing deur Engels verskans moet word. 'n Mengeltaal soos Kaaps is sekerlik nie die aangewese medium hiervoor nie. Ek sou hoogs ontuis by hierdie byeenkoms gevoel het.

  • Beste Johannes Comestor,
    Net soos jy stry vir die voortbestaan van jou moedertaal, Standaardafrikaans, net so sal 'n man soos Adam Small stry vir die voorbestaan van sy moedertaal, Kaaps. Net soos jy van die hoogte af neersien op Kaaps wat jy as mengeltaal beskou, net so is daar neergesien op die kombuistaal wat later Standaardafrikaans geword het. Daar word nog neergesien op Afrikaans, veral deur jou mede-Afrikaanssprekendes. Heelwat Afrikaanssprekendes hier in Natal verseg om Afrikaans te praat. "Dit klink dan so kommin," het iemand my by latere navraag gesê.
    Groete,
    Angus

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Angus, jy het die saak aan die stert beet. Ek gun Adam Small sy Kaaps en enige ander mens sy taalvariëteit. Ek sien nie op sulke variëteite neer nie. Die punt is dat 'n mengeltaal wat so baie Engels soos Kaaps bevat, anders as Standaardafrikaans, nie gebruik kan word om Afrikaans teen verdringing deur Engels te beskerm nie. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het presies daardie variëteit vir bevordering en propagering uitgesoek wat hy ten alle koste moes vermy het. Grondliggend aan hierdie strategie is daar mode-politiek en nie die nastrewing van die heil van Afrikaans nie.

  • Ek pleit vir Standaardafrikaans, vir gebruik deur die media en op skole en ander instellings. Natuurlik is daar plek vir dialekte, maar wat moet iemand wat in Gauteng bly met Kaapsafrikaans maak? Dit kan atmosfeer aan 'n streekroman gee, maar dit behoort nie as amptelik erken te word nie, net so min as wat Cockney in die Oxford Dictionary tuis is, of Amsterdams in Van Dale.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Mary,dankie vir jou ondersteuning. Daar word feitlik nooit 'n lansie gebreek vir die sinvolheid van Standaardafrikaans nie. By die "Taaldag", nie Afrikaansdag nie, van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het Nico Koopman gepleit vir die hibridisering van Afrikaans, bv die verkaapsing daarvan soos in Son-Afrikaans, of soos in 7de Laan. Wat nie gedoen word nie, is om te pleit vir die hibridisering van Engels. Jou verwysing na Cockney is 'n goeie voorbeeld van die nie-erkenning van 'n onverdienstelike soort Engels. Daar was so min insig by diegene wat die byeenkoms in die Paarl bygewoon het dat daar blykbaar geen kritiek gelewer is op die hope dwaasheid wat daar verkondig is nie.

  • Beste Johannes Comestor,
    Dit is eintlik jy wat taal aan die stert beet het. Die mens gebruik taal om te kommunikeer. Nou hoe wil jy Afrikaans nogal verskans? Wil jy dit in 'n glaskas hou, bewaak deur taalprofessore, onderwysers en patriotte? Hoe gaan jy mense verbied om oa Engelse woorde te gebruik as hulle Afrikaans praat? Jy het 'n Big Brother nodig met spesiale apparaat om 'n vorm van Newspeak op mense af te dwing. Oortreders bevind hulle in die geel kamertjie. Afrikaans bestaan naas Engels hier in Suid-Afrika, en hulle beïnvloed mekaar, soos alle tale maar maak, en dis 'n voldonge feit. Niemand kan iets daaraan doen sonder om skade aan te rig nie.
    Aan Mary Sadler net die volgende storie. Ek het so pas by 'n tuisnywerheid 'n melktert gekoop. Die eienaars is Engelssprekend en die outjie wat hulle agter die toonbank uithelp, is Afrikaanssprekend. Ek weet dit want ek ken sy hele gesin baie goed. Ek het hom in Afrikaans aangespreek, en hy het my in Engels geantwoord. Dis 'n voorbeeld van iemand wat Afrikaanssprekend is en verseg om Afrikaans te praat. Dan wil ek ook weet waarom Kaaps nie as "amptelik" erken kan word nie? Afrikaans is dan as "amptelik" erken, en dit is net so 'n mengeltaal as enige ander taal.
    Groete,
    Angus

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Angus, dit lyk vir my asof jy ten alle koste 'n gesprek wil voer, terwyl ek eintlik ongeneë is om deel te hê aan die soort gesprek wat jy verlang. Ek probeer nie om mengeltaal te verbied nie. Wat ek wel verlang, is dat Afrikaansinstansies eerder beter as vrotter Afrikaans bevorder. Dat tale mekaar beïnvloed, word nie betwis nie. Dus ook nie dat geen taal op absolute suiwerheid aanspraak kan maak nie. Maar dit is 'n feit dat Afrikaans baie meer deur onnodige Engelse woorde besoedel word as andersom. Dit word doelbewus gedoen en dikwels is daar 'n verskuilde politieke agenda. Dit is 'n onderdeel van die diskreditering van Afrikaners; 'n voortsetting van die verguising soos vergestalt deur bv die WVK. Kaaps vier Engelsbesoedeling en dra by tot die afskaling en moontlike uiteindelike ondergang van Afrikaans. Enige Afrikaansinstansie behoort eerder Standaardafrikaans as Kaaps te bevorder.

  • Avatar
    Jean Oosthuizen

    Johannes Comestor jy lê woorde in Nico Koopman se mond. Hy het nie tydens die geleentheid gepleit vir die “verkaapsing” van Afrikaans soos in "Son-Afrikaans" nie. Allermins. Hy het trouens glad nie eers daarna verwys nie. Hy het wel verwys na die oorsprong van Afrikaans en dat hy as Afrikaanstalige meer as net Afrikaans is vanweë die hibridiese herkoms van Afrikaans. Dit is duidelik dat jy nie die byeenkoms bygewoon het nie want as jy het sou jy ook kennis gedra het van Koopman se ernstige pleidooi oor behoorlike spelling ens van Afrikaans. Om diegene wat die geleentheid bygewoon het van ʼn gebrek aan insig te beskuldig terwyl jy self woorde in van die sprekers se mond lê is onbillik.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Jean Oosthuizen verkwalik my dat ek durf skryf op grond van berigte pleks van, soos hy, die byeenkoms by te woon. Met sy beskuldiging dat ek vir Nico Koopman woorde in die mond lê, dien hy terselfdertyd politieke korrektheid. Koopman laat hom reeds jare lank uit oor Afrikaans, Kaaps en hibriditeit. Google gerus sy naam plus Kaaps en hibriditeit. Daar is onder meer verwysings na wat hy by hierdie einste byeenkoms in die Paarl gesê het, bv dat Afrikaansvariëteite nie net bestaan nie, maar gelykwaardig is. Hy het ook verwys na die beangste, minimalistiese suiweres, wat hy gekontrasteer het met sy gunstelinge, die maksimalistiese hidriedes. Die verwysing na Son-Afrikaans is my voorbeeld van wat hy met hibridiese Afrikaans bedoel. Op die internet kan Koopman se lof vir Adam Small opgespoor word; Small wat al daarop geroem het dat hy die vader van Kaaps is. Let ook daarop dat Koopman in Engels en daarby in die Tydskrif vir Letterkunde in Engels oor Small skryf. Koopman het ook sy intreerede aan die Universiteit Stellenbosch in Engels gelewer. Ek het rede om sy lojaliteit jeens Afrikaans te bevraagteken. Ook of die Afrikaanse Taalmuseum en -monument hom as spreker behoort te nooi. Ook of Oosthuizen wys handel deur iemand met 'n Afrikaansrekord soos die van Koopman te beskerm.

  • Avatar
    Jean Oosthuizen

    Johannes ek dink dit is goed om gesprek te voer oor Afrikaans en ek verkwalik geensins jou deelname aan die gesprek nie en verwelkom dit. Dit is tog sekerlik nie te betwyfel dat daar in Afrikaans, net soos enige ander taal, taalvariëteite bestaan nie. Ek glo nie dit is nodig om die een teenoor die ander af te speel nie. Ek dink jy verstaan Koopman verkeerd met wat hy as hibridiese Afrikaans bedoel maar dit is nie punt nie. Die wortels van Afrikaans is tog duidelik hibridies.
    Gaan stap maar deur die Taalmuseum in die Paarl: Die hoofuitstalling in een van die vertrekke is ʼn elektroniese wêreldkaart wat illustreer hoe die herkoms van Afrikaans na drie kontinente, nl Europa, Afrika en Asië, teruggevoer kan word. ʼn Sirkelvormige banier dui aan watter bydraes deur verskillende kulturele groepe tot die ontwikkeling van Afrikaans gemaak is, en toon hoe die eerste variëteite van die taal versprei het.
    Drie verskillende variëteite van vroeë Afrikaans het gedurende die 18de eeu ontstaan, nl Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans. Kaapse Afrikaans is hoofsaaklik deur die slawegemeenskap en hulle afstammelinge gepraat, en sluit Maleisiese en Arabiese woorde in. Dit word steeds in die Wes-Kaap gepraat en is verreweg die oudste variëteit van Afrikaans.
    Oranjerivierafrikaans is deur die vroeë koloniste in die noordwestelike binneland gepraat. Die Khoi-tale het ʼn rol gespeel in die vorming van hierdie variëteit van Afrikaans wat die oorsprong van Namakwaland-Afrikaans en Griekwa-Afrikaans is. Oosgrensafrikaans is gepraat deur die Vryburgers wat aanvanklik na die oosgrens van die Kaapkolonie gemigreer en later die binneland ingetrek het om die Boererepublieke te vorm. Hierdie variëteit word beskou as die oorsprong van Standaardafrikaans.
    Wanneer ʼn taal gebruik word deur ʼn groep mense wat uit verskillende subgroepe bestaan, gebeur dit dikwels dat die spreektaal van die groep as geheel aansienlik wissel. Dit staan bekend as taalvariëteit of groepstaal. (Bron: Afrikaanse Taalmuseum)
    Kom ons waardeer en respekteer liewer hierdie variëteite as om die een teenoor die ander af te speel. Dit is in belang van Afrikaans om dit te doen en doen geen afbreuk aan die variëteit van enige groep nie en ook nie aan die standaardgebruik van Afrikaans as akademiese of skryftaal nie.
    Die nuwe HAT se redakteur Jana Luther stel dit so in ʼn onlangse onderhoud met LitNet:
    "In die HAT Taalgids skryf Tom McLachlan oor Standaardafrikaans: “Geen natuurlike taal is in alle opsigte ’n eensoortige ding wat in alle omstandighede deur alle moedertaalsprekers op dieselfde manier gebruik word nie. Daar is verskillende vorme van die betrokke taal, wat variëteite genoem word. Die variëteite is die vorme van die taal wat byvoorbeeld in sekere streke gebruik word, of deur sekere groepe, of in sekere omstandighede en so meer. Een van die variëteite van gestandaardiseerde tale is die sogenaamde standaardvariëteit.
    “Dit geld ook Afrikaans: Die standaardvariëteit word Standaardafrikaans genoem, maar daar is ook talle nie-standaardvariëteite. Daar is byvoorbeeld gebruikersgroepvariëteite soos Tienerafrikaans, Griekwa-afrikaans of Vissermansafrikaans, of streeksvariëteite soos Weskusafrikaans, Kaapse Afrikaans (Kaaps) of Namakwalandse Afrikaans, of gebruiksvariëteite soos Skryftaalafrikaans, Radioafrikaans, en so meer.
    “Standaardafrikaans behoort nie aan, of is nie die variëteit van, enige bepaalde groep of streek nie. Eenvoudig gestel is dit die variëteit wat die grootste mate van standaardisering toon, deur die grootste moontlike groep van Afrikaanssprekendes verstaan word, die minste verraai waarvandaan of uit watter groep die gebruiker kom en die beste geskik is vir sekere min of meer formele situasies of omstandighede. Standaardafrikaans (of die standaardvariëteit van ’n ander taal) sal ’n mens tipies aantref in byvoorbeeld handboeke, lesings, toesprake, die howe, standaardwoordeboeke, hoofstroomkoerante, wetgewing, werksonderhoude en so meer. Daarteenoor kan ’n mens die taal wat gemoedelik tussen vriende of gelykes in informele omstandighede gebruik word, geselstaal of omgangstaal noem.
    “Standaardafrikaans is nie ‘beter’ of ‘meer korrek’ as ’n ander variëteit nie, want elke variëteit vervul die rol waarvoor hy ontstaan het. ’n Mens kan egter wel sê dat een variëteit in bepaalde situasies meer geskik of gepas is as ’n ander. In byvoorbeeld ’n brief aan jou werkgewer of ’n aansoek om ’n betrekking of ’n wetenskaplike artikel is die standaardvariëteit meer gepas as die taal wat jy gebruik om op die sosiale media met jou vriende te gesels, of as jy saam met vriende by die sportveld is of vleis braai.”

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Jean,dit is goed dat jy so 'n lang en daarby wesenlik korrekte uiteensetting van die saak gegee het. Hoewel ek glad nie volleerd of volmaak is nie, is daar niks in jou laaste skrywe wat nuwe inligting aan my verskaf het nie. Dit bring my terug by my heel eerste skrywe hierbo: dat Afrikaans teen die bedreiging van Engels beskerm moet word en dat Kaaps vir hierdie doel nie 'n geskikte medium is nie. In hierdie konteks is alle Afrikaansvariëteite nie ewe goed oftewel gelykwaardig nie. Afrikaansinstansies moet die mode-politiek los en hulle beywer vir wat taalkundig sinvol bydra tot die oorlewing van Afrikaans. Daarom kan hulle gerus pogings begin aanwend om suiwerder Afrikaans te bevorder. Die gehalte van die Afrikaans wat 'n mens daagliks moet aanhoor, is gewoon 'n skande. Dit word daagliks ook al hoe duideliker dat Afrikaans in skole en aan al die eens Afrikaanse universiteite besig is om onder te gaan. Daarom ontstig dit my as in die Paarl 'n byeenkoms plaasvind waartydens almal sielsgelukkig oor Afrikaans lyk terwyl 'n hanetree daarvandaan die magte van die bose besig is om Afrikaans aan die US en aan Elsenburg te vernietig. Afrikaansinstansie het 'n heilige plig om tot die taalstryd toe te tree pleks van te swyg en jolifikasie te hou.

  • Die bogenoemde debat is die rede hoekom ek nie meer 'n moer omgee vir Afrikaans nie. Dit is so onsinnig.

  • Flint, in 'n debat is daar teenstrydige opvattings en afhangend van wat die vertrekpunt is - byvoorbeeld die behoud van die reënwoud, of Afrikaans, of die heuningby, of lewensgehalte - is van daardie opvattings nader aan reg en die doel is om te bepaal watter. Om dus die stelling te maak dat die debat oor die reënwoud jou nie 'n moer laat omgee oor die reënwoud nie (of Afrikaans in hierdie geval) is sinneloos.

  • Avatar
    Theresa Papenfus

    Ek dink dis opwindend en wonderlik en bevrydend. 'n Baie goeie dag en inspuiting vir Afrikaans in al sy vorme en style. Doen so voort.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top