Ena Jansen se toespraak by Ommietafel by die Afrikaanse Taalmuseum

  • 1
ommietafel15.11

Ena Jansen (foto: Izak de Vries)

Op 14 Augustus 2015 is 'n geleentheid by die Afrikaanse Taalmuseum aangebied om drie verjaarsdae vir Afrikaans te vier: Afrikaans amptelik 90, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument 40 en die Vriende van Afrikaans 21 jaar oud. Ena Jansen deel haar toespraak by hierdie geleentheid met LitNet.

Taalmonument – 14 Augustus 2015

Terwyl ek vanaand wou rock in my taal, soos Amanda Strydom sing, sal ek eerder moet klou aan my kruk en die rock en amok en lawaai oorlaat aan HemelBesem.

Baie dankie aan Amanda de Stadler en almal wat vanaand gereël het; vir die uitnodiging om hier te wees. Nooit het ek vermoed dat ek by die Taalmonument sou praat nie – ’n plek wat ek as linkse student op Stellenbosch met groot skeptisisme sien verrys het – ondanks die feit dat my hele lewe in die teken staan van leef en werk in Afrikaans. Vanaf die jare toe my Bolandse ouma Myburgh vir my en my tweelingsussie Christine Smit ons eerste geskrewe Afrikaanse woordjies in die mond gelê het met opskrifte in haar fotoalbum as sou ons gesê het as prille kleuters: “Kyk, ons 6 uur bottels!”; “My eerste stappies en dit nogal op my eerste verjaardag!”; “Ai, wat is dit lekker by die Strand!”; “Kyk vir ons saam met Meisie by ons Darling-stomp!”

In die destydse Natal, waar my pa predikant was, en ons byderwetse ma ’n speech & drama-juffrou in die klein dorpies, en later in Durban, waar ons gewoon het, was ek op ’n gemengde Afrikaans-Engels-medium laerskool, en later op Port Natal Hoërskool, destyds een van die beste Afrikaanse skole in die land.

Dat ons op Stellenbosch sou kom studeer, was vanselfsprekend, selfs al het ’n mens daai dae op ’n Saterdagmiddag op die Oranje-sneltrein geklim in Durban en eers Maandag laatoggend ná oorklim op Wellington in Stellenbosch aangekom.

Ek was assistent in die Departement Afrikaans en Nederlands, een van die blouoog-nooiens van Dirk Opperman en WEG Louw, en het voor ek in Nederland gaan studeer het en tien jaar lank daar sou bly (1974–1984), ’n paar wonderlike maande by Die Burger deurgebring. ’n Hoogtepunt was toe ek tydens die hele Sestiger-week by UK aan die perstafel langs Rykie van Reenen gesit het – nooit sal ek die plesier vergeet toe Breyten ná sy “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal”-toespraak sy uitgetikte toespraak vir mý aangee, oor die skouer van die politieke verslaggewer wat Die Burger spesiaal op daardie aand na die Universiteit van Kaapstad se lesingsaal gestuur het nie. Met so ’n ou Burger-Volksie het ek tog veilig om die De Waalrylaan-draaie in Keeromstraat uitgekom en uitasem die voorbladberig getik terwyl Piet Cillié kort-kort op sy pantoffels kom kyk het hoe ver ek is.

Maar goed. Amanda het my genooi om veral ’n buitelandse perspektief op Afrikaans te gee.

Die afgelope 15 jaar is ek behalwe dosent aan die VU ook hoogleraar in Afrikaanse taal en letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam – ‘n pos wat baie Suid-Afrikaners as die NP Van Wyk Louw-leerstoel beskryf, omdat hy daar professor was tussen 1950 en 1958. Louw was die eerste bekleder van die leerstoel na die Tweede Wêreldoorlog – voor hom was net die Nederlander Gerrit Besselaar professor toe die leerstoel in 1933 ingestel is. Die energieke Elizabeth Conradie, oorspronklik van Wellington, was tydelik ná hom ‘n lektor totdat sy op baie vroeë leeftyd oorlede is.

In Louw se dae het talle Suid-Afrikaners, soos Elize Botha, Ernst Lindenberg, Philip Grobler en Theuns Cloete, in Amsterdam gaan studeer en by hom gepromoveer. Merwe Scholtz, nog ’n Amsterdam-promovendus, het Louw vir enkele jare opgevolg in die 1960’s. Die doodskiet van 69 van die 19 000 mense wat op 21 Maart 1960 teen paswette by Sharpeville geprotesteer het, was die begin van die kulturele verwydering tussen Nederland en Suid-Afrika, één van die oorsake van die muishondstatus van Afrikaans in die Lae Lande vir talle dekades. Die opstande in 1976 in Soweto en elders was die finale strooi.

Dat die Amsterdamse leerstoel in 2002 heringestel is, en dat ek my intreerede in 2003 kon hou, was ’n mylpaal vir Afrikaans in die buiteland. Meer as Louw probeer ek die afgelope 15 jaar soveel moontlik voorgraadse studente vir my semester lange kursusse interesseer. Omdat Nederlanders Afrikaans dikwels Suid-Afrikaans noem, en my posbeskrywing die woord “Zuid-Afrikaans” bevat, het ek die gaping gevat en kies wel soveel moontlik Afrikaanse boeke vir my kursusse, maar om die veelkantigheid van perspektiewe op die komplekse Suid-Afrikaanse wêreld te gee, lees ons ook Engelstalige boeke deur wit én uiteraard swart skrywers. Want dít was die doelstelling wat ek tydens my intreerede uitgespreek het, in teenstelling met Elizabeth Conradie, wat veral die “Hollands-Afrikaanse ziel” wou propageer het:

Voor mij, in dit postapartheid en postkoloniale tijdperk, is zo’n begrenzing onhoudbaar. Een zo groot mogelijke diversiteit van zielen, kleuren en talen wil ik betrekken bij mijn onderwijs en onderzoek van Zuid-Afrikaanse literatuur.

My aanpak is om elke jaar ’n bepaalde tema sentraal te stel: bv landskap, of stad, of die migrasiegeskiedenis en expat-literatuur, of die verwantskap tussen geskiedenis en letterkunde: met aansprekende titels vir die reekse, soos “Tot siens Kaapstad” (’n gedig van Breyten), “O wye en droewe land” (’n versreël van Louw) of “Want ons is van gister” (vir die geskiedenisreeks). Elke jaar het ek meer as 20, soms tot 30, studente van sowel die VU as die UvA en soms ander universiteite wat die kursusse bywoon en daarmee krediete vir hulle graadkursusse verdien. Wanneer ek volgende jaar uittree, sal daar byna 500 Nederlandse studente wees wat op dié manier ’n wye en intensiewe kennis opgedoen het van die Suid-Afrikaanse konteks en tekste waarin dit uitgedruk word. My promovendi is veral Nederlanders, maar ook ’n uitstekende Russiese vrou, Ksenia Robbe, wat oor moederskap in die Suid-Afrikaanse letterkunde gepromoveer het. Ook Suid-Afrikaners kom soms Amsterdam toe. Ek is byvoorbeeld baie trots daarop dat die jong Hertzogprys-wenner Tertius Kapp by my sy proefskrif aan die skryf is.

Ek is beslis nie die enigste dosent in Suid-Afrikaanse letterkunde in Europa nie. In Pole word baie belangrike werk deur Jerzy Koch en ander dosente gedoen. In Gent is danksy die breë belangstelling van sowel taalkunde- en letterkunde- as sosiologiedosente ’n Suid-Afrikaanse Studiesentrum opgerig. Op hulle webwerf pryk die wuiwende landsvlag met daarby die woorde: “Bly kalm en praat Afrikaans”. Danksy skakeling wat veral deur Wannie Carstens tydens sy termyn as Akademievoorsitter gedryf is, het ’n Internasionale Vereniging vir Afrikaanse Letterkunde tot stand gekom – op dié manier kan kennis oor en weer uitgewissel word tussen al die buitelandse departemente wat met Afrikaanse letterkunde besig is. Al gaan dit soms opdraand by Suid-Afrikaanse universiteite, gaan dit uitstekend met Afrikaans in die buiteland. En ek kan nie anders nie as om vanuit my Amsterdamse perspektief te sê hoe uiters vreemd dit in die buiteland oorkom dat Stellenbosch hom steeds meer in ’n hoek dryf met so ’n verontskuldigende taalbeleid.

Ek het my praatjie begin met ’n stukkie familiegeskiedenis oor die fotoalbum waarin my ouma Tibbie Myburgh vir my en my tweelingsussie ons eerste Afrikaanse woordjies in die mond gelê het. Hierdie jaar het ek by Protea Boekhuis ’n boek gepubliseer met die titel Soos familie. Dit gaan nie oor my eie familie nie, maar oor huisbediendes, stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste, vroue oor wie Elsa Joubert in haar storie “Agterplaas” skryf: “Sy is soos ’n suster vir my, maar ek ken haar nie.” Soos familie is ’n dikke boek; dis my manier om te rock in my taal. Die geskiedenis van slawerny tot die migrasie stede toe word bespreek. En veral ook baie soorte tekste: van die Maasdorp-boeke, tot Minnie Postma se rubrieke oor haar bediendes in die 1950’s, tot Riana Scheepers se Katrina-stories, tot Koos Kombuis se liedjie Kytie en Ronelda Kamfer se weerwoord oor haar Antie Katie. Die mees onlangse teks is Antjie Krog se reeks “bediendepraatjies”. Hopelik sal Soos familie in Engels vertaal word, maar, soos wat ek in die inleiding skryf, dit was vir my belangrik om juis hierdie boek in Afrikaans te skryf en deur Afrikaanse mense te laat lees. Want dit gaan oor ’n instelling wat alle Suid-Afrikaners tot in die hart raak. Dat Jean Meiring die boek in sy resensie ‘n “monument” noem en afsluit met die paragrafie: “Oor monnemente gepraat, dank die gode daar’s nog nie wérklik sprake van die laaste Afrikaanse boek nie”, het hy my baie bly gemaak. Hy verwys natuurlik tegelykertyd na Peter Blum, die buitelander gebore in Triëst, tot Karel Schoeman, die kleinseun van Nederlandse migrante. Ek is dit so naby die Taalmonument vanaand roerend eens met Meiring: laat ons Afrikaans bly skryf én lees, én daarin rock, amok maak én lawaai. En bowendien aksies steun soos van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal: ek wil daarom uiteindelik doen wat ek my al ’n tydjie voorgeneem het: ’n woord borg – die woordjie ABBA.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dit is die standaardmanier waarop mense hulle deesdae aanvaarbaar probeer maak, selfs in die konteks van Afrikaans: deur te roem op hulle politieke linksheid. Laat elkeen maar sy politiek ooreenkomstig sy mate van insig vier, maar ek sou graag wou hê dat Afrikaans in hierdie proses nie skade ly nie. Die oud-Matie Jansen verwys afkeurend na die "verontskuldigende taalbeleid" van die US. Sy skaar haar klaarblyklik aan die kant van Open Stellenbosch. Met haar sydelingse opmerking bevorder sy klaarblyklik nie Afrikaans nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top