
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Jagspinnekop
Skrywer: Erla Diedericks
ISBN: 9781779860668
Uitgewer: LAPA
Op ’n dating app lieg almal seker maar ’n bietjie: ’n foto van drie jaar gelede of twee sentimeter by jou lengte, ’n huwelik wat skielik “ingewikkeld” geword het en ’n lewe wat op ’n skerm netjieser lyk as jou kombuis op ’n Dinsdagaand.
In Erla Diedericks se Jagspinnekop is dit juis hierdie klein verskille tussen wie ons is en wie ons voorgee om te wees wat gevaarlik raak.
Smooch is ’n gewilde platform vir mense wat iets – of iemand – soek. Daar kan jy flirt, fantaseer en jouself in jou eie woorde herskryf. Maar wanneer vroue uit Kaapstad se voorstede vermoor en in velde gevind word, elkeen met dieselfde grillerige kenteken, begin dit lyk asof iemand die platform vir iets anders gebruik. Die media doop hom die Jagspinnekop. Profileerder Suzette Fourie vermoed dat sy jagtog lank voor die moord begin – tussen profielfoto’s en private boodskappe.
Dit is ’n besonder goeie vertrekpunt vir ’n spanningsroman, maar Diedericks is slim genoeg om nie bloot Tinder-met-’n-reeksmoordenaar daarvan te maak nie. Die interessantste deel van Jagspinnekop is die onsekerheid wat rondom identiteit ontstaan. Op Smooch is byna almal besig om iets van hulself te verswyg, aan te dik of mooier te maak. Die vraag is dus nie net wie die moordenaar is nie. Dit word toenemend: Wie van hierdie mense bestaan werklik soos hulle hulself aanbied? Dáár begin die boek lekker onder ’n mens se vel inklim.
’n Spinnekop wag in ’n web; Diedericks se Jagspinnekop wag op die web. Maar sy druk gelukkig nie die beeld tot vervelens toe nie. Die digitale wêreld word eenvoudig die plek waar mense hul eensaamheid, begeertes en ongelukkigheid aan vreemdelinge beskikbaar stel. ’n Moordenaar hoef nie meer ure lank iemand se huis dop te hou om iets van haar lewe te weet nie. Mense vertel hom self.
Dit maak die vroue in die roman ook interessanter as blote toekomstige slagoffers. Hulle soek aandag, seks, geselskap, ’n uitweg of miskien net die gevoel dat iemand hulle nog raaksien. Diedericks moraliseer nie daaroor nie. Sy verstaan dat dit juis die alledaagsheid daarvan is wat die gevaar laat werk.
Suzette moet hierdie wêreld binnegaan om die Jagspinnekop te vind, en dié besluit gee die roman sy beste spanning. Elke nuwe profiel kan niks wees nie. Of alles. Elke gesprek kan ’n leidraad bevat. Of iemand kan bloot lieg, omdat mense lieg wanneer hulle graag as begeerlik wil voorkom.
Diedericks plant haar verdagtes en leidrade met genoeg selfvertroue dat ek meer as een keer gedink het ek het die storie uitgesorteer, net om kort daarna weer iemand anders skeef aan te kyk. Die spanning lê in die onbetroubaarheid van amper elke ontmoeting.
Lesers van Bonsaimeisies sal iets herken van Diedericks se belangstelling in mense wat ander wil beheer. In dáárdie roman is meisies gebuig en gevorm soos bonsaiboompies. Hiér is die metode moderner en op ’n manier selfs meer ontstellend: Die Jagspinnekop hoef nie eers ’n identiteit vir sy slagoffers te skep nie. Hulle het reeds self een vir hulself aanlyn geskep.
Jagspinnekop is daarom vir my ’n besonder geslaagde spanningsroman. Dit lees vinnig, maar die ongemak bly langer as die raaisel. Want wanneer die moordenaar uiteindelik sy masker verloor, bly ’n ander vraag oor: Hoeveel van die mense met wie ons elke dag op ’n skerm praat, ken ons eintlik? En hoeveel van ónsself wys ons werklik vir hulle?


