Jagspinnekop deur Erla Diedericks: ’n lesersindruk

  • 1

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Jagspinnekop
Skrywer: Erla Diedericks

ISBN: 9781779860668
Uitgewer: LAPA

...
Hier by hoofstuk 40 rond trek ek die laaste naam op my lys dood en voeg ’n nuwe naam by. Die leidraad wat aanleiding daartoe gee, is fyn verweef in die teks en mens kan dit maklik miskyk.
...

Toe ek die voorblad die eerste keer sien, kon ek net nie vatplek kry aan daardie spinnekop nie – selfs al is dit nie ’n regte een nie. Ek gril my tot in ’n ander bloedgroep in vir spinnekoppe! Maar met ’n titel soos Jagspinnekop kan daar nie juis iets anders op die voorblad wees nie, nè?

Suzette Fourie is ’n digitale-intelligensiespesialis en mede-eienaar van ’n maatskappy Unlock. Hulle hanteer misdaadintel en los sodoende onder ander kubermisdaadsake op. Hulle volg die elektroniese spoor van wat mense op die internet doen, hulle e-posse en WhatsApps met hul rekenaars en selfone. Soms help hulle ook met die vang van ander misdadigers soos reeksmoordenaars.

Daar is ’n reeksmoordenaar los en die gemene deler tussen die slagoffers is dat almal van hulle op Smooch, die aanlyn maatsoekplatform, was. In die media staan hy bekend as die Jagspinnekop. Die vermoorde vroue word in ’n veld gevind. Elkeen gemerk met die grillerige kenteken van die moordenaar. Volgens naasbestaandes was die eerste vier slagoffers almal op Smooch. Smooch is ’n gewilde platform vir mense op soek na ... meer. Daar kan jy wees net wie jy wil. Sê net wat jy wil. Flankeer met wie jy wil. Fantasieë beleef terwyl jy alleen is ... net met ’n verleidelike stem in jou ore.

Suzette weet nou die Jagspinnekop se jagveld is Smooch. Nou moet sy net ’n voet in die deur kry deur ’n slagoffer se profiel. Tot dusver is elke slagoffer se foon gesluit met ’n wagwoord wat geen naasbestaande ken nie. Daar is net een manier vir Suzette om die slagoffer te ontmasker. Sy skep vir haar ’n profiel op Smooch en sy begin gesels.

Ons ontmoet ook haar vennoot Gary Osterer, kaptein Adriaan Nel en Steven Wicks. Hulle is almal op een of ander manier betrokke by die ondersoek. Steven Wicks is ’n nuwe profileerder, nadat die vorige profileerder Marius vermoor is.

Ons ontmoet ook vir Marinda, ’n ongelukkig getroude vrou, en haar vriendin Anmari, ’n weduwee wat nou twee jaar na haar man se dood weer gereed is vir liefde. Louw Lourens is Anmari se nuwe liefde wat sy op Smooch ontmoet het. Marinda se man Petrus dink natuurlik dis hopeloos te gou vir Anmari om nou weer liefde te soek. Vir die eerste keer in jare stem Marinda en Petrus saam oor iets: Louw laat gevaar klokkies by albei lui. Louw is nie wie hy voorgee om te wees nie en Anmari kry ’n wrede skok. Marinda is ook op Smooch, natuurlik sonder Petrus se medewete – en ook nie eerlik nie.

Diedericks skryf so dat jy fyn tussen die lyne moet lees. Sy los leidrade en as jy nie wakker is nie, gaan jy dit miskyk. Soos altyd wanneer ek ’n boek lees, maak ek notas vir myself waar ek my eie verdagtelys begin opstel. Dit verander konstant deur die lees van die boek. Hier by hoofstuk 40 rond trek ek die laaste naam op my lys dood en voeg ’n nuwe naam by. Die leidraad wat aanleiding daartoe gee, is fyn verweef in die teks en mens kan dit maklik miskyk. Ek glo ook ek het vroeër al ’n paar leidrade gemis. En toe is ek vir die eerste keer in jare reg!

Maar helaas, dis nog nie die einde nie. Daar is nog 10 hoofstukke oor!

Ek gesels bietjie met Erla

Erla is bekend vir ’n aweregse blik op die lewe, wat duidelik spreek uit haar rubrieke op Netwerk24. Sy het ook ’n manier om totaal eerlik oor ’n onderwerp te skryf wat ander nie sommer sal waag nie. Erla is ’n gevestigde skrywer van Afrikaanse spanningsfiksie en het haarself oor en oor bewys met titels soos Salemstraat, Swyg en Bonsaimeisies. Met die lees van elkeen word ek net meer en meer bewus van hoeveel beter haar nuutste boek as die vorige een is.

Sy gee erkenning aan die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans wat vir haar die geleentheid gebied het om ’n groot gedeelte van die manuskrip tydens haar residensiële verblyf in KwaNojoli te voltooi.

Sy het met ’n idee vir haar manuskrip by KwaNojoli opgedaag, maar op die eerste dag dit heeltemal verander en begin skryf van ’n nul woordtelling af. Sy het van Maandag tot Vrydag 2 000 woorde per dag geskryf, naweke gerus en is na drie weke met ’n halwe manuskrip van 30 000 woorde terug huis toe.

Haar storie-idees kom altyd van ware gebeure af en het begin by die Talhotblond-moordsaak, waarby Thomas Montgomery, Mary Shieler en Brian Barrett betrokke was. Thomas Montgomery was ’n 46-jarige man wat verlief geraak het op Jessi, die aanlyn persona geskep deur Mary Shieler. Soos hulle aanlyn verhouding groei, kom hy agter dat Jessi ook met sy 22-jarige kollega Brian Barrett gesels. Hy is verpletter. In sy jaloesie en woede skiet hy Barrett dood.

Alison Botha se storie het haar ook baie geraak en die paroolvrylating van haar aanvallers sonder haar medewete skep ook ’n spanningslyn in Jagspinnekop.

Wanneer julle Jagspinnekop lees, sal julle sien hoe dit werk – ’n ware gebeurtenis spark ’n storie, maar die uitkoms is soms redelik verwyder van die ware verhaal. Maar elke storie moet êrens begin.

Terug by KwaNojoli – dit was vir Erla lekker om net te kon konsentreer op die skryfproses. Die feit dat hulle ’n voltydse sjef gehad het wat vir hulle die heerlikste etes gekook het en geen skoonmaakwerk nie, het net daai ekstra las weggeneem sodat skryf eerste prioriteit kon wees.

Sy het ’n reusagtige slaapkamer gehad met ’n uitsig oor ’n bergreeks en het vroegoggend en laataand heerlik daar geskryf. Bedags het sy voor die kaggel langs die kombuis geskryf en geluister na die sjef se Spotify-speellys.

Oor my vraag aan Erla of die skrywers enigsins idees uitgeruil of gebrainstorm het, sê sy: “Nee, glad nie. Die meeste ander skrywers was digters. Ek en die ander misdaadskrywer van Noorweë het soms gesels oor skryf, maar ons roetine, werkpatroon en inhoud het hemelsbreed van mekaar verskil.” Sy sê ook: “Ek het gevind dat die meer vloeiende Xhosa-taal wat ek elke dag gehoor het en die digters se vloeiende manier hoe hulle hulself uitdruk, het wel ’n indruk op my gemaak. Daar is dele in Jagspinnekop wat meer liries en ritmies is as in my vorige boeke.”

Verder sê sy die doel van die residensie is nie om by mekaar te leer soos met die Brussel na Karoo-residensie nie. Dit is ’n Pen Dit Neer-residensie wat eerder daargestel is vir skrywers wat nie tyd het om te skryf nie. Die klem is op die skryfwerk en almal wat deel was van die residensie, is ook reeds gevestigde skrywers.

Ek het die lees van Jagspinnekop baie geniet en dit was vir my lekker dat die sielkundige aspek daarin nie so blatant op die voorgrond was soos met van haar vorige boeke nie – dit was wel daar. Ek het ook gehou van die interludes wat Erla ingevoeg het. Dit dra beslis by tot die spanning ... veral die laaste een.

Erla dra Jagspinnekop op aan die sjef Gilbert; terwyl sy haar siel gevoed het met skryfwerk, het hy haar liggaam gevoed met die heerlikste disse. Dit was die ideale sinergie.

’n Onomwonde JA! Koop gerus Jagspinnekop aanlyn by Graffiti Boeke – hulle bied ’n 20% aan op boeke vir Augustusmaand ter viering van Koop ’n Afrikaanse Boek-dag op 14 Augustus 2026.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top