Why we kill: ’n onderhoud met Karl Kemp

  • 0

Foto: Penguin Random House SA

Titel: Why we kill, mob justice and the new vigilantism in South Africa
Skrywer: Karl Kemp
ISBN: 9781776390458
Uitgewer: Penguin

Kom ons begin by die titel: Why we kill. Die “we” sluit ons almal in. Sommige mense sou wou dat jy “they” gebruik. Hoekom die inklusiewe “we”?

Dis dalk “they” wat “kill” maar dis “we” wat dit goedkeur, wat genot put daaruit. En waarom dan nou nie? Die strate loop vol met bloed.

Ek meen nie daar is ’n duidelike kousale verband tussen aanmoediging en die daad nie, maar wel ’n tipe morele of geestelike assosiasie. Soos ek in die boek skryf, ek dink baie van ons hoop eintlik ons kry een aand die kans om ’n inbreker dood te skiet. Veral as mens lees oor ’n Hannah Cornelius of Bokgabo Poo. ’n Sentrale vraagstuk in die boek: Is die land se misdaadkrisis op so ’n punt dat ons onsself kan kwalik neem dat ons vigilantes ondersteun? ’n Besonder linkse kennis van my het nou die dag vir my genoem hy dink daaraan om ’n wapen te koop – ondenkbaar ’n paar jaar gelede.

Ek weet eintlik nie hoe baie Afrikaners uitdruklik wil afstand doen van gewelddadige vigilantisme nie; hulle is waarskynlik in die minderheid, maar dit hang seker af van in watter kringe jy beweeg. Buitendien is dit ’n ope geheim dat daar heelwat boere is wat self vigilante speel op hul plase, en baie van hulle kan mens ook nie juis kwalik neem nie.

Ek wou nie predikant speel in die boek en vir almal vertel hoe moreel afkeurbaar vigilantisme is nie. Dis nie die doel met die titel nie, om vinger te wys nie. Dit sou vreeslik saai wees. Die doel met die titel was om objektief daarop te wys dat die meeste van ons hiermee verbind is, maar nie om ’n morele uitspraak te lewer nie.

Jy het in Alexandra township gaan krap en het veral gaan kyk na Dudula, daardie amorfe, ondefinieerbare groep wat sake in eie hande geneem het. Waarom was hulle vir jou belangrik?

Dudula was destyds vir my die beste voorbeeld van die “new vigilantism” waaroor ek skryf. Op papier was hulle nie net gekant teen misdaad nie – spesifiek onwettige immigrasie – maar ook teen wanorde en chaos oor die algemeen (societal breakdown).

Hul doelwit was dus nie slegs om misdaad teen te werk, soos wat die stereotipiese vigilante doen nie, maar ook in ’n mate om die samelewing se reëls te skryf en af te dwing weens die staat se versuim om die mas op te kom. Dit was breër as net DIY-polisiewerk. Dit is amper ’n soort eggo van groepe soos AfriForum of Outa – verwyt die staat en doen self iets in jou gemeenskap.

Alex Dudula het hulself juis beskryf as ’n gemeenskapsprojek: rommel van die strate af, werk vir jongmense, en dies meer. Ek wou graag weet hoe lyk ’n militante gemeenskapsprojek.

In werklikheid het Dudula – en veral Alex Dudula – nie so gewerk nie. Maar die idee dat hulle dalk kón, was vir my onweerstaanbaar. Daar is ’n tipe selfdoenhouding aan vigilantisme waarvan ek hou. Dat die wit middelklas se klagtes – wanorde en predatoriese misdaad byvoorbeeld – begin oorvleuel met die klagtes van dié wat die swaarste trek onder die staat se wanfunksionering was ook aangrypend. Ek wou self gaan sien.

En ek buit enige verskoning uit om in Alex te gaan rondkrap. Dit is by verre die interessantste township in Suid-Afrika en daar is so ongelooflik baie potensiaal om die plek op te knap en te omskep in ’n voorbeeld van hoe mens voormalige swart gebiede uit armoede en verleptheid kan lig. As jy die vullis, plakkers en armoede van Alex se gesig afvee, sou jy feitlik net nog ’n deel van Joburg se ou suburbs sien. Dis nou in teenstelling met meer kunsmatige townships soos Khayelitsha in die Kaap. Minstens een lid van Alex Dudula het beslis so ’n visie gehad: van ’n skoon, fraaie, funksionerende Alexandra.

Jy gaan ook in die Venda-streek krap. Daar kyk jy na die geskiedenis van hekse wat doodgemaak word. En jy betrek die rol wat “Big Men” speel in hierdie sterftes. Waarom is dit so ’n belangrike fokus in die boek?

“Big Men” en die kultuur rondom sulke ouens is Suid-Afrika se nommer 1-probleem. Kortsigtige, selfsugtige kroeks en boelies wat vir hulself ryke van geldgierigheid skep deur middel van politiese invloed. (Die Engelse woord venality is dalk beter as geldgierigheid.)

Daardie houding is wat dienslewering stuit, wat toenemende sluipmoorde veroorsaak, wat mense magteloos laat voel. Dis veral duidelik in die platteland, soos Venda. Ons sien nou weer die nagevolge van die VBS-debakel in die nuus, wat juis in Venda uitgebrei het. Die netwerk van korrupsie was geskoei op Venda-identiteit en invloedryke rolspelers in Venda-gemeenskappe, van kerke tot politici tot die koning.

Dis veral daardie magteloosheid wat ek gedink het dalk kan lei tot vigilantisme. Dis egter hoe ek persoonlik voel wat my die woedendste maak: dat ek niks kan doen aan hierdie varke nie – ek as individu moet met my hande in my hare sit en lees hoe hulle die land verniel. Ja, dit speel ’n rol, maar in daai spesifieke gevallestudie in die boek (wat in Elim afspeel) was dit net ’n klein deel van die storie. Dit blyk dat blote bloeddorstigheid eerder die primêre motivering was. Die Big Man in daai geval was ’n duistere figuur en ek kon die gerugte nie bevestig met die tyd en bronne tot my beskikking nie.

Dus was dit ’n fokus, want dit was my idee: Mense is kwaad, want hulle voel magteloos. Ek was egter nie heeltemal reg nie – nie wat die Elim- en Nzhelele-gevallestudies betref nie.

Die heksejagte is vanselfsprekend. Dit is die klassieke vorm van “mob justice”, wêreldwyd – van Miller se Crucible tot Robert Eggers se The witch. Al verskil is, ons sit nog met letterlike voorbeelde daarvan in moderne Suid-Afrika. Die geskiedenis daarvan in Venda is uiters boeiend, amper ’n boek op sy eie werd. ’n Mens kan nie oor mob justice in Suid-Afrika skryf en nie daaraan raak nie, al staan dit effens apart.

Bygesê, die mutimoordaspek daarvan is juis nog ’n voorbeeld wat ek gebruik om die leser uit te daag: Sou jy nie ook iemand wat jou kind probeer ontvoer met jou eie twee hande wil vermoor nie? Ek sou. Ongetwyfeld. Dan daarná die eksistensiële vrae wat my handeling opper, aanspreek.

Telkens, vrees ek, is daar ’n dreuning in jou vertellings: Die gewone mense het tot aksie oorgegaan want die polisie het nie. Is dit ’n geldige opmerking?

Ja en nee.

Die Alex-geval illustreer juis hoe die polisie inderdaad hul werk doen en die gemeenskap desondanks nie tevrede is daarmee nie. Die polisie in Alex het heelwat hulpbronne; die polisiestasie staan nog; die bevelvoerder is bevoeg. Sy het persoonlik opgedaag om klagtes aan te hoor en ondersoek in te stel toe Dudula die gemeenskap aanval. Met ander woorde: Die polisie is nie juis uitnemend in Alex nie, maar hulle het nog nie heeltemal moed opgegee nie. Dis nie asof daar niks is nie.

Tog het die gemeenskap die optrede as onvoldoende bestempel. Waarom? My gevolgtrekking was dat dit te doen het met finansiële vergoeding en ’n kultuur van “eer”, feitlik maar so eenvoudig soos die emosies en motivering wat by ’n kroegbakleiery ter sprake is.

Daarteenoor sit mens met ’n Zandspruit-geval, waar dit ongetwyfeld te doen het met die polisie wat nie teenwoordig is nie, of dalk selfs met die misdadigers saamwerk.

Waarom Zandspruit nie genoeg hulpbronne kry nie, is weer ’n ander kwessie. Die polisie kan eenvoudig nie hulpbronne bestee aan krotbuurte wat nie in die stadsbeplanningbegroting sit nie. Dit spreek van oorbevolking en die krisis van “rural-to-urban migration” wat die staat óf mis kyk óf ignoreer.

Hoe dit ook al sy, in Zandspruit was dit nou die klassieke geval, die “received knowledge”: As die polisie nie sal nie, dan sal ons self. Watter geval die mees verteenwoordigend is van mob justice en vigilantisme in Suid-Afrika, kan ek nie bepaal nie. My gevoel is dat daar meer Zandspruit-tipe gevalle is as dié in Alex, maar ook beslis dat die Alex-gevallestudie nie juis ’n uitskieter is nie.

Jy het nie veel ooghare vir Bheki Cele nie?

Ek dink ek het hom regverdig hanteer in die boek – dit wat verband hou met sy funksies as politiese hoof van die polisie het ek objektief benader. In daai opsig is dit onvermydelik dat hy aan bewind was toe ons deur daai massamoordwarrelwind is in 2022. Die Krugersdorp-groepverkragting by die mynskag was vir my besonder hartverskeurend, barbaars. Daai tyd na die lockdowns was verstommend gewelddadig in Suid-Afrika. En dit is die objektiewe waarheid: Die polisie onder Cele kon nie daardie goed voorkom of opvolg nie.

Maar ek wys ook in die boek hierop, op sterkte van navorsers soos Antony Altbeker se werk: Die polisie werk misdaad dalk teen, maar hulle veroorsaak nie gruwelike dade soos die verkragtings nie.

Daar is wel aspekte van Cele se persoonlikheid, voorkoms, optrede, wat my besonder irriteer. Dit is uiters subjektief en ek staan pa daarvoor indien dit hier en daar oorgespoel het in die teks. Maar ek vra jou: Moet alle skryfwerk nou gereinig wees en soos ’n nuusberig of akademiese tesis klink? Dis vir my bra vervelig. Wat is die teenoorgestelde van hierdie stoïsynse gier wat nou die wêreld oorheers? Ek dink Suid-Afrikaners moet meer skree op mekaar, ’n bietjie die gif uitkry, maar nie op sosiale media nie, en die wapens moet eers in kluise toegesluit wees.

En tog sê jy dat baie polisielede eintlik hulle beste doen, is ek reg?

Miskien nie “baie” nie. Die data en statistiek is soms onweerlegbaar. Maar sommiges wel.

Mens lees ook tog nou en dan in die nuus van suksesverhale. Drug busts veral – mens kry die gevoel wie ook al in beheer is daarvan by die polisie, weet wat hulle doen. Ons het ook dié jaar heelwat gehoor van skietgevegte waartydens die polisie gewelddadige rowers of bendelede afmaai. Baie Suid-Afrikaners ag dit ook suksesverhale.

En daar is beslis dames en mans wat hul beste probeer wat die alledaagse polisiewerk betref, ondanks verkrummelde infrastruktuur, ’n giftige politikse werksomgewing, die feit dat hulle self moet brandstof koop vir werksvoertuie, en so meer.

Ek verwys maar weer na die bevelvoerder in Alex: ’n bevoegde vrou wat op die oog af als reg doen, haar bes doen in ’n omgewing so onstuimig en bloedig soos Alex. Ek dink egter, ongelukkig, dat Suid-Afrika se sosiale toestand uitnemendheid en vernuwing vereis eerder as net bevoegde mense. Veral in ’n plek soos Alex.

Dit is interessant om te sien hoe jy soms aanhalings van die sosiale media in jou boek plaas. ’n Deel van my werk is om die sosiale media dop te hou en kommentare na te gaan. Ek ril soms as ek sien wat Afrikaanssprekende mense skryf. Wat is jou siening?

Sosiale media is grotendeels waarvan ek afgelei het hoe wydverspreid ondersteuning vir vigilantisme is. Daar is ongelukkig nie ’n Afrobarometer-opname of so om die kwessie te bepaal nie. Dit is nie ’n eksakte wetenskap nie, daarom het dit belangrik gevoel om direkte aanhalings te gebruik. Ook ’n bietjie die teks op te breek, iets anders te probeer.

Ek glo daar’s baie keyboard warriors wat nie so fanaties of kru sou wees as jy hulle in persoon hul mening vra nie. Sosiale media – veral die oues soos Facebook en X – is óf ’n hiperrealiteit óf ’n totale leuen. Het jy al gelees van die “Dead internet”-teorie? Die ding kom in as jy braai of in ’n kroeg sit en mense herhaal presies die tipe kommentaar wat ander op YouTube-video’s lewer van boewe wat doodgeskiet word, of aan die brand gesteek word, of met klippe bestook word. Dan weet jy daar steek iets in.

Op bladsy 289 sê jy: “South Africa is suffering from what an analyst in the early 2000s called ‘an excess of democracy’.” Wat kan gewone mense, soos ek, doen om seker te maak ons almal verstaan die waarde van ons demokrasie?

Dis seker maar die eeue oue storie: Mens kan nie demokrasie eet nie. Oor en oor het die geskiedenis geleer dat mense hul burgerregte inruil sodra hulle voel daar’s sekuriteit en sekerheid te kry by die alternatief. Die patroon is al so gevestig, mens wonder of dit enigsins omgekeer kan word.

’n Paar bladsye vroeër praat jy van finansiële vergoeding aan slagoffers van geweld. Sal dit help om vigilantes te stuit as daar meer sodanige vergoeding is?

Ek dink beslis so, ja. Ten minste waar diefstal, of intergemeenskap- of interfamilierusies ter sprake is. En dit sal daarbenewens geweldig baie van die kleiner strafsake oplos, aanklaers meer tyd gee om te fokus op groter sake, minder kleinskaalse sosiale konflik uit die baan ruim, dat die tronke dalk nie so uit hul nate uit bars nie. Ek dink egter nie dit sal help waar mens met ’n Zandspruit-geval sit nie.

Ek skryf juis in die boek oor hoe mense in Suid-Afrika en elders in Afrika die howe nie eintlik sien as arbiters nie, maar eerder as wapens teen die persone wat hulle grief. (Daar is baie oortuigende navorsing in dié verband. Lesers kan dit opswot in my boek se bibliografie as hulle verder wil gaan lees.) Dit wil sê: Geregtigheid is nie dat iemand in die tronk sit of dat almal sien hoe ’n vonnis opgelê word nie; geregtigheid is dat ek in die status quo ante geplaas word, dat ek as slagoffer vergoed word.

Maar dit sal noodsaak dat mens siviele reg met strafreg meng, wat ongekend is in ons stelsel. Om so ’n sisteem op die been te bring sal bitter ingewikkeld wees en ’n flinke, hardwerkende en vernuwende staatsdiens vereis – wat ons nie het nie en nie binnekort gaan hê nie. En dit sal ook grotendeels afhang van wat verskillende mense ag as “siviele misdaad” en “strafregtelike misdaad”. Ek kry klaar hoofpyn.

Ek dink egter mens moet darem kyk na hoe so ’n stelsel sou kon werk, dalk ’n proef van stapel te stuur op klein skaal. Dis nie nou die tyd om konserwatief te wees nie.

Jou vorige boek, Promised land, was ook nie juis ’n borrelgom-leeservaring nie. Why we kill diep delf in die gruwels van ons gemeenskap. Hoe bly jy heel tydens die navorsing en die skryf van hierdie boeke?

Ek ken bitter min Suid-Afrikaners wat nie effens stukkend is nie – weet nie eens hoe dit sou lyk om “heel” te wees nie. Iemand het nou die dag vir my vertel sy dink die hele land ly aan lae-graad PTSD. My Europese pelle sit altyd oopmond as ek lag oor toe hulle my met ’n mes beroof het in Jozi ’n paar jaar gelede. Dis nie normaal nie, jy weet dit, maar wat kan mens doen?

Ek luister maar bands soos Iron Monkey en Eyehategod en kyk romcoms wat my vrou uitkies. Soms bel ek my ma; sy’s dalk die minste mal Suid-Afrikaner wat ek ken.

Ek dink baie aan Suid-Afrikaners wat elke dag ly, blootgestel is aan geweld en gruweldade, eerder as ’n toerisskrywer wat inpop vir ’n dag, hul vergryp aan drank en dwelms. Dan begin die kringloop van voor af. Sien byvoorbeeld die verhaal van Steven in my boek. Daar’s geen uitweg vir daai ou nie. En waarom anders het ons ’n krisis met geweld teen vroue? Ek wys in die boek, en beter navorsers as ek beaam dit: Ons moordsyfer bestaan amper hoofsaaklik uit interpersoonlike geweld. Amper die helfte van ons aanrandings en moorde word nie gepleeg deur boewe wat ons as prooi ag nie – dis ons, in kroeë, in ons woonplekke, in die verkeer. Suid-Afrika is stukkend. Wat kan die polisie dan doen aan ’n land se vrot siel? Hel, die polisie se siel is ook vrot.

Jy het ’n meestersgraad in internasionale reg en het ’n ruk lank by die Internasionale Strafhof gewerk. Maak dit die ondersoeke vir hierdie soort boek, wat soms ’n bietjie lees soos ’n getuieverslag, makliker? Vertel asseblief meer?

Ag, dit was ’n internskap, nie ’n pos met ’n salaris nie. Ek het egter heelwat geleer daar van bronontleding en wat hulle noem “crime pattern recognition” – nuttige goed. Die evaluering van bronne was nuttig met by voorbeeld die Elim-geval, waar ek met baie hoorsê te doen gehad het en slegs met een ooggetuie kon praat. Dan moet jy staat maak op video’s en foto’s wat in die gemeenskap in omloop is; en om daardie materiaal te verifieer is moeilik.

Die Internasionale Strafhof is egter baie afgesonder van die situasies wat die hof ondersoek. Jy sit maar voor die rekenaar en werk deur witness statements en databasisse. Jy ry op jou fiets van ’n netjiese bachelor flat na ’n netjiese gebou en kyk op ’n skerm na foto’s van massagrafte in Burundi.

Ek het juis by die Franschhoek-fees met ’n gesiene ondersoeker gesels en vir hom verduidelik ek voel nie ek weet ooit wat ek doen as ek dinge ondersoek nie; ek is maar net nuuskierig, bereid om lank met mense te gesels, en effens dom of naïef. En hy’t gesê mens het nie veel meer as dit nodig om ’n goeie ondersoeker te wees nie. Ek hoop van harte hy’s reg.

Lees ook:

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Karl Kemp

Review of Promised land by Karl Kemp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top