Wetenskapfiksiekompetisie: wenners aangekondig!

  • 0

LitNet Akademies Kuberklas het in 2012 die grootste en eerste wetenskapfiksie-kompetisie vir hoërskoolleerders in Afrikaans aangebied. Leerders van graad 10 tot 12 het stapels inskrywings gestuur. (Lees al die inskrywings hier.)

 

Die beoordelaars, Lauren Beukes, Koos Kombuis, Fanie Viljoen, Elzette Steenkamp en Dirk Laurie, is skrywers, navorsers en kundiges op die gebied van spekulatiewe of wetenskapfiksie. Hulle het pas drie wenners aangewys:

Eerste plek: Trudie Coetzee, Afrikaans Hoër Meisieskool

 

"Ek is ’n graad 11-leerder en het nog altyd 'n voorliefde gehad vir taal, veral Afrikaans. Ek het nog altyd gehou van lees en skryf en ek geniet dit veral om kortverhale te skryf. Ek was baie opgewonde toe ek hoor van die wetenskapfiksie-kompetisie en het baie genot daaruit geput om ’n storie te skryf wat op die toekoms gebaseer is. Ek hoop om altyd my passie vir taal te koester en nooit op te hou skryf nie."

Lees "Kloon" hier.

Tweede plek: Emlyn Allwright, Bloemhof

 

"Ek is Emlyn Allwright, en ek is sestien jaar oud. My groot liefdes is diere en die natuur, visuele kuns, musiekmaak, skryfkuns en sommer lekker kampeer in die buitelug. My lewe word meestal bestuur deur my honde, my pen en papier, my kitaar en klavier, en soms, as ek gelukkig is, myself. Ek debatteer graag informeel (enige plek, enige tyd!) en as ek regtig niks anders het om te doen nie, doen ek my huiswerk."

Lees "Papie" hier.

Derde plek: Stephan Bester, Curro Heuwelkruin

"Ek is al van kleins af goed met woorde en stories vertel. Alhoewel ek daardie “talent” gebruik het om my soms – die meeste van die tyd – uit die moeilikheid te kry, was ek nog altyd seker ek sou dit ten minste eendag kon gebruik vir iets nuttigs. Ek is eintlik eers van Julie af ’n Curro Heuwelkruin-leerder , maar ek dink ek het die regte besluit geneem, anders sou ek nooit hierdie kans gekry het nie. Wel, ek het nooit gedink dat ek só ver kon kom met skryf nie. Ek het in my lewe menigte pogings aangewend om kortverhale en selfs ’n boek te skryf, maar, ja, dinge werk nie altyd uit soos wat ’n mens beplan nie. Alles gebeur egter om ’n rede."

Lees "Eksperiment AL1: ALONe" hier.

 

Wat sê die beoordelaars?

Lauren Beukes:

"Kloon": A chilling take on eternal life through cloning. It questions who we are beyond photocopied biologies and what gives us meaning. The ending inevitably echoes the beginning in a devastating way.

"Papie": Feels like the start of something. An intriguing idea about language and revolution that needs to be carried further. The writer opens up a lot of interesting questions, but the answers are AWOL and the story reads like a set-up for more.

Koos Kombuis:

"Kloon": ‘n Baie interessante idee word omskep as verhaal. Die spanning is voelbaar en die spanningslyn word goed volgehou, hoewel dit soms bederf word deur te lang verduidelikings. Die einde sou kon baat by meer “punch”.

"Papie": Verrassende storie, hoogs oorspronklik, vol geloofwaardige emosie, ‘n einde wat mens laat nadink, en onkonvensionele idees. Kultureel subversief en heerlik ondermynend. Die verbeelde toekoms-“gadgets” is goed uitgedink en realisties uitgebeeld, en die leser word vinnig ingetrek. Onvergeetlik. 

"ALONe": Die storie begin briljant, maar verval baie vinnig in voorspelbaarheid en verveling. Die skrywer het dalk goeie idees, maar moet meer lees om uit te vind wat ‘n storie werklik ‘n storie maak.

Fanie Viljoen:

"Kloon": Met die intrapslag skep die skrywer al spanning en vandaar ontvou die verhaal in ’n slim storielyn wat die tema van kloning op ’n vars manier aanbied. Die knal-einde span die kroon op hierdie wenverhaal.

 

"Papie": Lewendige dialoog maak hierdie verhaal interessant. Dis ook ’n verhaal van idees – futuristies in die sin dat nuwe tegnologie opduik in die vorm van ’n ekstra vel, en vir almal wat bang is dat Afrikaans sal uitsterf, bied die skrywer die moontlikheid aan dat Afrikaans in die toekoms as ’n geheime taal gebruik kan word onder rebelle. Skerp!

"ALONe": ’n Paar goed laat hierdie verhaal uitstaan. Eerstens het dit ’n slim titel, en dan, anders as ander verhale, het hierdie een ’n ek-verteller. Dit bring die gebeure nader aan die leser. Laastens hou ek van die tema van die bevryding wat volg uit die knoop in die storie se stert.

Hartlik geluk aan die wenners!

Kyk watter lekker pryse wen hulle.

Klik hier vir nog inligting oor hierdie kompetisie.

Geborg deur:

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top