Wenners van LAPA se Jeugromankompetisie 2017 aangewys

  • 0

Die wenners van LAPA se Jeugromankompetisie vir 2017 is pas bekend gemaak, en aanhangers van dié genre kan uitsien na drie uitsonderlike wenverhale wat later vanjaar die rakke gaan tref. Twee gesoute gunstelinge en ’n opwindende nuwe stem wat deur die ATKV-Skryfskool geslyp is; dit maak drie wenverhale wat jong lesers se asem gaan wegslaan.

Die eerste plek gaan vanjaar aan Jan Vermeulen vir Oopmond, die verhaal van Madelaine Taaibosch wat sewe maande ná haar hartoorplanting begin vermoed die nuwe hart wat in haar borskas klop, is ’n gebroke hart. Hoewel die dokters haar verseker daar is niks met die skenkerhart verkeerd nie, begin sy vreemde dinge sien – dinge uit die verlede en in die toekoms. Die skrywer vervleg verskillende intriges meesterlik in ’n storie wat wys hoe harte mekaar selfs oor eeue heen kan vind. Vermeulen was ook in 2015 die wenner van hierdie kompetisie met Asem, en is voorheen al twee maal met die Sanlamprys (goud in 2000 en silwer in 2017), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-kinderboektoekenning bekroon. In Maart verskyn Vermeulen se krimi, Die vyfde Aspoester, ook by LAPA.

In die tweede plek is Zelda Bezuidenhout met haar debuut-jeugverhaal, As mens geluk kon eet, ’n heerlike grootwordverhaal vol deernis en humor oor Arnelia wat in haar graadnegejaar vasbeslote is om ’n nuwe begin by haar nuwe skool te maak. Ondanks ’n wankelrige begin maak sy kort voor lank nuwe vriende saam met wie sy ’n kostrok by die skool begin, sy kry die hoofrol in die skool se musical, verloor haar hart op ’n ou met ’n skewe James Franco-glimlag, en vind meer uit oor haar afwesige pa. Die beoordelaars noem hierdie opwindende debuutroman ’n “eerlike, vars, onopgesmukte storie wat jou telkens hardop laat lag”.

Bezuidenhout is van Parys, in die Vrystaat, maar sy het in 2017 ingeskryf by die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes Universiteit te Potchefstroom. Sy vertel self:

Die Skryfskool was vir my ’n persoonlike waterskeiding. Dit was net vyf dae lank, maar ek het soveel gesoute en beginnerskrywers met hope talent daar ontmoet. Ek het nie net geleer hoe die skryfproses werk nie, maar ook hoe die uitgewersbedryf in Suid-Afrika aanmekaarsit. Om die teekan, kon ek skouers skuur met mense soos Prof. Hans du Plessis, kinderboek-grootgees Prof. Franci Greyling, gesoute joernalis/skrywer Carla van der Spuy en die broer-en-suster skrywers Fanie Viljoen en Cecilia Steyn. Fanie het een of twee werksessies met ons groepie van vier aspirant-jeugboekskrywers gelei. Aan die einde van die week, het ek van sy boeke gekoop en gevra of hy vir my iets voorin sal skryf. In sy boek Pleisters vir die Dooies het hy vir my hierdie woorde geskryf: “Jy gaan beslis publiseer.”  Ek het besluit om hom te glo en het eenvoudig aangehou skryf aan die werk wat ek vir die Skryfskool gestuur het. Twee maande later was dit ’n boek, en dis hoe As mens geluk kon eet die lig gesien het. Deur dit in te skryf vir ’n kompetisie, wou ek eintlik net seker maak iemand lees dit voordat dit later op ’n “slush pile” begin ontbind. Ek het nie in my wildste drome gedink ek sal ’n prys daarmee wen nie.

Nanette van Rooyen palm vanjaar die derde plek in met haar jeugroman Die sewentiende veer, ’n delikate verhaal oor twee tieners wie se lewens verstrengel raak. Aan die een kant is daar Lara wat in haar vrye tyd by ’n tatoeëersalon werk, uit ’n ietwat disfunksionele gesin kom, en wonder oor die pa wat sy nooit gehad het nie. Aan die ander kant is daar Alex wat uit ’n kinderhuis kom, ’n vreemde fassinasie met uile het en lyk asof hy Lara agtervolg. Die keerpunt in die verhaal is sestien hartroerende briewe wat Lara in ’n ou hoededoos op haar ma se kas ontdek en wat haar op ’n ontdekkingstog na haar verlede lei. As skrywer het Van Rooyen geen bekendstelling nodig nie. Sy het in 2011 die LAPA Jeugromankompetisie gewen met Ek was hier, haar kortverhaaldebuut Om te vlerk (2002) is met die RAU-Mardene Marais-prys bekroon, en sy is die skrywer van verskeie kinderboeke asook die volwasse roman Chinchilla.

***

Die LAPA Jeugromankompetisie is vanjaar vir die derde keer aangebied en met ’n fantastiese oes van 90 inskrywings moes die beoordelaars hul storie deeglik ken. Prysgeld van altesaam R50 000 was vanjaar op die spel: R25 00 vir die eerste plek, R15 000 vir die tweede plek en R10 000 vir die derde plek. Die drie wenverhale word later vanjaar deur LAPA gepubliseer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top