
Die Suidoosterfees 2026 skep van 29 April tot 3 Mei ’n veilige hawe in die Moederstad waar kuns, kultuur en gerief saamvloei. Vanjaar se feestema, Tuiste, gaan nie net oor die verhoog nie – dit gaan ook oor hoe feesgangers hulself geborge voel terwyl hulle die beste van die plaaslike kunstewêreld ervaar. Van ’n gratis pendeldiens tot warm sop op ’n koel herfsaand, is elke besonderheid deurdink om jou feeservaring so aangenaam moontlik te maak.
Beweeg gemaklik met die gratis pendeldiens
Die fees se gratis pendeldiens is vanjaar se hoogtepunt van gerief. Die diens vervoer feesgangers tussen verskillende venues op die feesterrein, sodat jy moeiteloos van een vertoning na die volgende kan beweeg sonder om oor parkering of afstande te bekommer. Herfsweer in die Kaap kan onvoorspelbaar wees, so hierdie diens verseker dat jy veilig en droog by jou volgende bestemming aankom. Volledige inligting is op suidoosterfees.com beskikbaar.
Meer feesvenues as ooit
Die Suidoosterfees sprei vanjaar sy sambreel groter uit met ’n verskeidenheid ruimtes regoor die stad – elkeen ’n unieke kamer in ons groter feeshuis. In die hart van die stad word die meeste produksies in die ikoniese Kunstekaap-sentrum aangebied, asook in die Kaapstad-Burgersentrum en in die Media24-gebou: POP24 Studio en Nasdak – alles binne stapafstand van mekaar.
Feesproduksies word ook aangebied op die Universiteit van Kaapstad se Hiddingh-kampus waar twee feeslokale is: P4 en die Little Theatre. By die Waterfront Teaterskool word The Lane en die Galloway-teater omskep in intieme speelruimtes waar nuwe werk en vars stemme tuis voel. Verskeie venues van Iziko Museums in die middestad word ook ingespan, en Theatre Arts in Observatory verwelkom onafhanklike teater en kreatiewe energie.
Verblyf naby die aksie
Die Capetonian Hotel, die fees se amptelike verblyfvennoot, bied spesiale kortings aan feesgangers wat die kodewoord SOF gebruik. Geleë binne loopafstand van die Kunstekaap-sentrum, maak hierdie opsie dit maklik om jou kamer ’n tweede tuiste te maak terwyl jy die fees geniet. Kontak enquiries@capetonian.co.za, skakel 021 405 5670, of besoek capetonian.co.za vir meer inligting. Vir diegene wat van verder af kom, bied LIFT (lift.co.za), die fees se vlugvennoot, ’n gerieflike reis na die Kaap.
Parkering sonder kopkrap
Veilige parkering is beskikbaar in die Kaapstad-Burgersentrum se kelderparkeerarea, met toegang via Jan Smutsstraat. Parkering is beskikbaar Maandae tot Vrydae van 17:00 tot 23:00, en Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae tydens vertoningstye. Die tarief is R45,00, en slegs debiet- en kredietkaartbetalings word aanvaar. Besoek artscape.co.za/paid-parking-for-artscape-theatre/ vir meer besonderhede.
Kos en kuier vir elke smaak
Herfs in Kaapstad beteken dikwels koue aande, en daar is niks beter as warm kos en gesellige geselskap tussen vertonings nie. Of dit nou ’n warm sop op ’n winderige aand of iets ligters vir ’n mooier dag is, die fees se Leefstyl-afdeling het iets vir elke smaak.
Veel om gratis te beleef en geniet
Sommige van die fees se produksies is heeltemal gratis – kyk noukeurig in die program watter vertonings jy sonder koste kan bywoon. Let wel: van die gratis produksies moet soms vooraf per e-pos of deur Webtickets bespreek word, so maak seker jy kry betyds ’n sitplek.
Jou feesgids vir ’n vlot ervaring
Die gedrukte feesgids se programbeskrywings is in Afrikaans, terwyl die volledige program in Afrikaans en Engels op suidoosterfees.com beskikbaar is met besonderhede oor tye, plekke en besprekings. ’n Chronologiese dagprogram agter in die gids help jou om vinnig te sien wat wanneer gebeur, met bladsynommers wat jou direk na volledige beskrywings lei. Die feeskaart in die programboekie of op die webwerf wys presies waar elke venue is, sodat jy altyd weet waar jy moet wees.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of deur Artscape Box Office by 021 421 7695 te skakel. As daar enige veranderinge aan programme of tye is, sal Webtickets jou kontak as jy reeds kaartjies bespreek het. Hou die webwerf dop vir die mees onlangse opdaterings. Vir algemene feesnavrae, skakel 021 406 2450, of besoek suidoosterfees.com.
Suidoosterfees 2026 maak dit maklik om jou deelname aan die kreatiewe feeswêreld te geniet – want ’n tuiste is nie net ’n plek nie, dit is ook die gevoel dat alles versorg is sodat jy kan fokus op wat regtig saak maak: die kuns, die stories, en die oomblikke wat jou verryk.

Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, Kunstekaap en dotsure.co.za. Smile FM is die fees se amptelike radiostasie.

