Wenners aangekondig: Wie's bang vir Virginia Woolf? by die Fugard

  • 0

 

 

 

wiesbangweggee650

 

Die wenners van die kaartjies is: Marike van der Watt en Neil Basson. Baie geluk!

LitNet gee in samewerking met Saartjie Botha en die Fugard Teater twee stelle dubbelkaartjies - vier kaartjies - vir die 8ste Augustus 2015 se vertoning van Wie's bang vir Virginia Woolf? by die Fugard Teater in Kaapstad weg. Om in aanmerking te kom, stuur 'n e-pos voor die 31ste Julie aan [email protected] met die opskrif Wie's bang vir Virginia Woolf?. In die e-pos moet jou naam en kontaktelefoonnommer aangedui word. Die kaartjies is slegs beskikbaar vir die vertoning op 8 Augustus en kan nie vir 'n ander datum uitgeruil word nie. Twee lesers kan kaartjies wen: een dubbelkaartjie elk. Hieronder is nog besonderhede van die vertoning.

Saartjie Botha en die Fugard Teater bied met trots die Afrikaanse vertaling van Edward Albee se veelbekroonde drama van Who’s Afraid of Virginia Woolf? aan. Die skreeusnaakse, maar gitswart, donker woorde-oorlog is op die planke vanaf 28 Julie in die hoofteater vir ’n kort speelvak tot 8 Augustus.

’n Ougetroude professor en sy vrou, George en Martha, nooi ’n pasgetroude, pasaangestelde jong professor en sy vrou vir ’n loopdop ná ’n fakulteitsfunksie. ’n Nag van waansin volg: die niksvermoedende nuwelinge word in die bestek van ’n paar uur deur vernedering, frustrasie en manipulasie heeltemal ontredderd gelaat. Dit word ’n nag waarin pretensie en voorgee brutaal ontmasker word, en ’n huweliksbootjie op die rotse afstuur. George en Martha ontsien geen moeite om mekaar verbaal te vermorsel en kreatiewe maniere te vind om mekaar te uitoorlê nie.

Who’s Afraid of Virginia Woolf? is vir die eerste maal op Broadway opgevoer in 1962 en word bekroon met ’n Tony Toekenning sowel as die New York Drama Critics’ Circle prys vir beste nuwe stuk. Dit is destyds beskou as “a brilliant original work of art”, en die tallose suksesvolle produksies die afgelope halwe eeu bevestig dat die stuk niks van sy impak verloor het nie. Dramaturg Edward Albee het reeds die Pulitzer Prys vir drama drie keer gewen. Hy kry dit ook vir Virginia Woolf, maar ná klagtes oor die godslastering en losse sedes in die stuk word die prys herroep. Van Albee se bekendste werke sluit in The Zoo Story, The American Dream en The Goat, or Who is Sylvia maar Virginia Woolf bly sy bekendste werk, ondermeer danksy Mike Nichols se klassieke 1966 filmweergawe met Elizabeth Taylor en Richard Burton.

In Saartjie Botha se Afrikaanse vertaling “Wie is bang vir Virginia Woolf? is Marius Weyers te sien in die rol van George en Sandra Prinsloo as Martha. Wessel Pretorius en Greta Pietersen speel die jong, niks-vermoedende paartjie Nick en Honey. Christiaan Olwagen, vanjaar se Standard Bank Jong Kunstenaar vir Teater by die Nasionale Kunstefees op Grahamstad, is die regisseur. Olwagen is reeds veelbekroon, onder andere vir sy eietydse, grensverskuiwende aanslag in die Die Seemeeu, en die semi-biografiese Dogma. Hy word bygestaan deur ’n sterk produksiespan: Birrie le Roux (kostuums), Jaco Bouwer (stel), Wolf Britz (beligtingsontwerp) and Charl-Johan Lingenfelder (klankbaan).

Wie’s bang vir Virginia Woolf? is vanaf 28 Julie tot 8 Augustus by Die Furgard Teater te sien. Maandag tot Vrydag om 19:30 en Saterdag om 16:00. Die ouderdomsbeperking is 14 jaar. Die looptyd van 150 minute sluit ’n 20 minute pouse in. Engelse onderskrifte word voorsien.

Kaartjies vir Wie’s bang vir Virginia Woolf? beloop R100 – R180 en is te koop by Computicket of by Die Fugard Teater se kaartjieskantoor by 021 461 4554. Gewone afslagtariewe geld vir Vriende van die Fugard, studente, blokbeprekings vir 10 of meer, asook pensioenarisse.

NOG INLIGTING

Wie’s bang vir Virginia Woolf?

Deur Edward Albee

In Afrikaans vertaal deur Saartjie Botha

Met Engelse onderskrifte

Regisseur Christiaan Olwagen

Rolverdeling: Marius Weyers (George), Sandra Prinsloo (Martha), Wessel Pretorius (Nick), Greta Pietersen(Honey)

Produksiespan: Birrie le Roux (Kostuums), Jeanne Steenkamp (Verhoogbestuur), Jaco Bouwer (Stelontwerp), Wolf Britz (Beligtingsontwerp), Charl-Johan Lingenfelder (Klankbaan)

Die Fugard Teater, Caledonstraat, op die hoek van Buitenkantstraat, Distik Ses.

Tel 021 461 4554

Datums: Daagliks vanaf 28 Julie tot 8 Augustus. Geen vertonings op Sondae.

Tye: Maandag - Vrydag om 19:30, Saterdag om 16:00

Looptyd 150 min, pouse ingesluit

Geen onder 14 (T)

Kaartjieprys: R100-R180

Lees ook 'n onderhoud met Sandra Prinsloo oor Wie's bang vir Virginia Woolf?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top