Sandra Prinsloo is nie bang vir Virginia Woolf nie

  • 0

wiesbang1

Wie's bang vir Virginia Woolf? Sandra Prinsloo vertel vir Naomi Meyer hoe sy moet toneel speel teenoor iemand wat sy amper so goed ken soos 'n huweliksmaat.

Sandra, jy en Marius Weyers speel so gereeld teenoor mekaar – voel jy nie omtrent al of julle mekaar so goed ken soos ‘n getroude egpaar – maar as akteurs – nie?

Ek en Marius het ‘n breek van 28 jaar gehad voordat ons onlangs weer saam begin speel het. Dit was egter vir my asof ons as akteurs net weer kon optel waar ons 28 jaar gelede opgehou het. Dis heerlik om teenoor iemand te speel wat jy so goed ken, vir wie jy soveel respek het en wie jy 100 persent op die verhoog of voor die kameras kan vertrou! So ja, mens kan dit seker vergelyk met ‘n getroude egpaar!

Dit voel vir my of julle al ‘n paar keer rolle vertolk het waar julle teenoor mekaar moet speel as ‘n verbitterde man en vrou in ‘n jare lange verhouding. Noudat julle in die wêreldbekende Wie’s bang vir Virginia Woolf? speel: wat is vir julle anders en uniek aan hierdie toneelstuk as mens dit vergelyk met enige van julle ander, onlangse rolle?

Ons het al soveel verskillende verhoudings vertolk teenoor mekaar, maar nog nooit iets soos Wie's bang vir Virginia Woolf? nie. Hier kom die lang messe uit en verskeur Martha en George mekaar behoorlik. Dit is ‘n Walpurgisnacht wat hulle albei tot die uiterste dryf. In Vir ewig en altyd, waarin ek en Marius ook ‘n egpaar speel, is dit ‘n heel ander verhouding. Hier vind ons twee mense wat gemaklik bymekaar is, wat baie liefde deel en al word hulle gekonfronteer deur die keuse van genadedood wat botsende emosies ontketen, is die liefde en ondersteuning altyd daar. In Wie's bang het ons te doen met twee mense wat mekaar eintlik nie meer kan verduur nie, wat wrede speletjies speel en ‘n fantasiewêreld betree wat bitter gevaarlik is. Ek dink daar is tog liefde, maar dis ‘n teleurgestelde, verwronge liefde wat in bloedige skermutseling oorgaan en in ‘n “moord” eindig. Die sg moord is dan ook die finale daad van George om iets te probeer red van die verhouding, om ‘n fantasiewêreld te verpletter waarin Martha vasgekolk is. Ons het ook onlangs ‘n fliek, Twee grade van moord, gedoen waarin ons weer ‘n egpaar speel en waar dit weer oor genadedood handel. Hierdie is weer ‘n warm, lyflike verhouding tot dinge skeefloop. Dis heeltemal anders as die toneelstuk, maar betree ook nooit die George-en-Martha-terrein nie.

Het julle twee meer pret en grappighede as julle nie op die verhoog is nie as wanneer julle – as akteurs – moet rusie maak? Enige persoonlike staaltjies wat julle bereid is om met ons lesers te deel?

Ons lag heerlik saam en vir mekaar, veral in repetisies waar dinge maar skeef kan loop as dit by woorde leer kom!

Wat is vir jou die grootste uitdaging van hierdie spesifieke rol in Virginia Woolf?

Martha le eintlik baie ver van my as persoon en ek moes wyd gaan soek na haar drif, woede, wreedheid, kruheid, vulgariteit en ongebalanseerdheid. Sy is nie juis "the girl next door" nie. Dit was en bly ‘n geweldige uitdaging om in haar kop in te kruip en myself oor te gee aan al haar fasette. Fisies en emosioneel bly dit ook ‘n geweldige uitdaging.

En wat geniet jy die meeste van hierdie toneelstuk?

Ek geniet die ensemble-spel, vir Marius, Wessel en Greta en die feit dat ons op ‘n "roller coaster" klim en dat daar geen brieke is tot die heel einde nie. Verder is dit wonderlik om in ‘n produksie van die briljante regisseur Christiaan Olwagen te wees.

Hierdie toneelstuk is op die oomblik by die Vrystaat Kunstefees te sien en speel ook spoedig in Kaapstad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top