Wegholtreffer Die reuk van appels vier sy 100ste vertoning by die Fugardteater

  • 1

Na ’n suksesvolle nasionale toer en internasionale debuut, vier die wegholtreffer Die reuk van appels sy 100ste vertoning as deel van die volgende Kaapse speelvak. Die bekroonde toneelstuk is vanaf 23 Oktober 2018 tot 17 November 2018 op die planke by die Fugardteater se Studio. Dit word in Afrikaans aangebied met Engelse boskrifte.

Die reuk van appels is gegrond op die veelbekroonde 1993-debuutroman van die Suid-Afrikaanse skrywer, Mark Behr. Dit word aangebied deur Theatrerocket Produksies en is verwerk deur Johann Smith. Gideon Lombard  (...miskienThe ViewSpecial Thanks to Guests from AfarOrpheus in Africa, Suidooster) is in die eenmanvertoning te sien, met regie deur Lara Bye (YellowmanLondon RoadOscar en die Pienk TannieVaslav).

Sedert Die reuk van appels se debuut by die 2017 Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn het die produksie se gedugte span meer as 20 teaterpryse en -benoemings ingepalm. Dit sluit in Beste Akteur (KKNK) asook Beste Akteur in ’n Solo-produksie by al drie van die land se grootste teatertoekennings – die kykNET Fiësta’s, die Fleur du Cap-teatertoekennings en die Naledi-teatertoekennings (2018).

Regisseur Lara Bye is aangewys as Beste Regisseur by die kykNET Fiësta-toekennings, terwyl Johann Smith bekroon is met Beste Vertaling of Verwerking van ’n Bestaande Werk. Die produksie het ook die gesogte Beste Aanbieding vir die jaar verower. Die stuk vier sy ongelooflike 100ste vertoning op 3 November tydens die speelvak by die Fugardteater.

Die reuk van appels is ’n bildungsroman wat die verhaal vertel van Marnus Erasmus, die elfjarige seun van ’n generaal in die Suid-Afrikaanse Weermag. Dit beeld op meesterlike wyse die Afrikanermentaliteit in die laat sewentigerjare en vroeë tagtigerjare uit, asook die brutale gevolge van apartheid en die militansie in Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk.
 
Die roman en Engelse vertaling (The Smell of Apples), ook in 1993, is ’n grensverskuiwende werk wat Behr in die geledere van jong en talentvolle skrywers soos Etienne van Heerden en Koos Prinsloo opgeneem het (Tony Eprile, New York Times). Met sy voortydige dood op 27 November 2015 was Behr ’n professor in kreatiewe skryfwerk by die Rhodes College in Memphis, Tennessee. Danksy die gewildheid van die toneelstuk, het die uitgewers besluit om nog ’n oplaag van Die reuk van appels te druk. Dit is beskikbaar deur Queillerie, ’n druknaam in die stal van NB Uitgewers.
 
“Ons is oorweldig en diep getref deur die ongelooflike terugvoer deur beide kritici en gehoorlede, asook al die toekennings,” sê Johan van der Merwe, medevervaardiger van Theatrerocket Produksies. “Ons is verheug om hierdie kragtige, tydlose stuk weer na Kaapstad te bring vir ’n terugkeerseisoen by die Fugardteater se Studio.”

Verwerk deur Johann Smith, beligting deur Lara Bye en Kosie Smit met Gideon Lombard, self ’n talentvolle musikant wat verantwoordelik is vir die klankontwerp.

DIE REUK VAN APPELS het ’n ouderdomsbeperking van 16 met die verwysing SNTGV (Seks, Naaktheid, Taal, Geweld en Vooroordeel).

DIE REUK VAN APPELS word aangebied by die Fugardteater se Studio vanaf 23 Oktober tot 17 November, Dinsdae tot Saterdae om 8nm met ’n 3nm matinee-vertoning op Saterdae. Kaartjiepryse wissel van R130 tot R165 en kan direk by die Fugardteater gekoop word deur 021 461 4554 te skakel, of aanlyn by www.thefugard.com   

Besoek gerus die gesellige kroeg op die grondvloer voor en na die vertoning vir drankies en peuselhappies. Indien die weer saamspeel, loer dan ook in by ons dakkroeg vanwaar jy ’n fantastiese panoramiese uitsig van Kaapstad kan geniet. Vir 'n klein fooi is daar is veilige parkering reg oorkant die Fugardteater in Harrington Square.

  • 1

Kommentaar

  • Is Mark Behr oorlede? Het dit nie besef nie. Hierdie werk is dan 'n gawe eer aan sy skyfwerk. Hy het soveel potensiaal gehad, maar het toe gevlug toe die kombuis begin warm word. Na die vleispotte van Amerika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top