Wees gegroet, Mohammed Karaan

  • 0

Mohammed Karaan (Foto: Antonia Steyn | US Woordfees)

Beste Prof, jy was ’n yster! ’n Intellektueel van formaat, visionêre leier, briljante akademikus en méns-mens. Ons laaste gesprek op Woensdag, 9 Desember in die teenwoordigheid van Agri SA-president, Pierre Vercueil, was intens en diep.

Jou passie vir die landbousektor en jou toewyding om oplossings vir komplekse uitdagings soos grondhervorming te help vind, het soos ’n goue draad deur die gesprek geloop. En het ons gevul met hernude hoop en ywer om ook vanuit georganiseerde landbou volhoubare oplossings vir komplekse en emotiewe kwessies soos grondhervorming te vind.

Jou rol op soveel terreine het jy met een doel voor oë vervul, en dit was om Suid-Afrika en al sy mense se beste belange voorop te stel. Jy was ook nooit bang om die sweep in te lê en kritiek uit te spreek teenoor dinge wat in ons land verkeerd geloop het nie. Dankie dus vir jou openhartigheid, vriendelikheid, bedagsaamheid, wysheid, geduld en mensliewendheid. Dit sal ons altyd bybly.

Jou nalatenskap lê opgesluit in soveel instellings wat jy met oorgawe gedien het, en ook in die intellektuele kapitaal wat jy nagelaat het. ’n Herbesoek daarvan is nou meer as ooit nodig, veral op die landbouterrein wat so ’n kritieke rol speel. As ’n sektor is die landbou nie net verantwoordelik vir kosproduksie nie, maar speel dit veral ook ’n massiewe rol wat sosio-ekonomiese ontwikkeling betref. In dié verband het jy ’n leidende rol gespeel en dit mag nooit genegeer of verontagsaam word nie.

Aan sy naastes en familie, ons diepste medelye. Mag julle vertroosting vind in sy kosbare herinneringe en in sy nalatenskap wat as bron van inspirasie en hoop vir soveel gedien het.

Rus sag, Prof. Jy het die goeie stryd gestry.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top