Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Weersiens verby Emmaus
Skrywer: Kobie Lötter
ISBN: 978-1-0370-8380-8
UITGEWER: Ns. Skrywershuis
Enigeen wat Kobie Lötter se As stilte praat (Ns. Skrywershuis, 2024) gelees het, sal weet hoe geestelik verrykend en intellektueel verreikend sy skryfwerk is. Dis nie ’n kille, intellektuele uitdruk van wat werklik in die lewe saak maak nie, maar ’n persoonlik deurleefde reis wat beskryf word. In Weersiens verby Emmaus (Ns. Skrywershuis, 2025) trek die skrywer ons in die reis van die twee Emmaus-gangers se beleefde ontmoeting met die opgestane Christus in. Die fokus is op die liefde, soos Karl Rahner (1904–1984) se woorde op die agterplat aangehaal word: “Wanneer gebeure suiwer vervulling word, is die goddelike begin daarvan reeds ewige Liefde.”
In teenstelling met verhale oor Bybelse figure se kontak met Jesus, soos FA Venter se klassieke Man van Ciréne (1957), waar skrywers hulle verbeelding feitlik vrye teuels gee rondom ’n Bybelteks, is Lötter se doel duidelik om die leser geestelik te laat groei en groter insig te gee. Dit sou byvoorbeeld maklik gewees het om ’n naam vir Kleopas se mededissipel op die reis te versin, maar getrou aan die vers Lukas 24:13–35 word daar dwarsdeur na hom as naamloos verwys of hy word met ander benoemings omskryf, al is dit minder beeldend. Dit gaan dus hier nie eerstens om ’n romantisering van die gegewe nie, maar soos die inleiding dit stel: “[O]m die vertelling geloofwaardig diensbaar binne die raamwerk en boodskap van die kruisgebeure te besin en spieël” (bl xi).
Besinnend word die leser getref deur die skrywer se omvangryke teologiese kennis en insig.
Vanaf Adam deur Abel, Noag se ark, Melgisedek, Jakob se leer, Isak, Josef, Moses, die Pasgalam, manna, die hoëpriester, tabernakel, voorhangsel, versoendeksel, Sabbatdag, asielstede, rots in die woestyn, Dawid, Salomo, Jona en Israel word die verbande gelê om uit te wys hoe Jesus die voltooiing van die Skrif en profete is. Dit word telkens gestaaf met die tersaaklike aanhaling in skuinsdruk in die verhalende teks wanneer Jesus aan die Emmaus-gangers verduidelik wat die dieper betekenis van die Bybelse gebeure of persone is. “So kom die Skrif tot vervulling wat oor Jesus geskryf is, die ganse Skrif wat die Messias verwag en van Hom praat” (bl 12).
Die weergawe van die reis na Emmaus as spieël van die mens se eie geestelike reis na vervulling word klinkklaar gekonkretiseer met die handelinge en waarnemings van die twee reisende mense. Dit word aangebied in die teenwoordige tyd om groter onmiddellikheid daaraan te gee. “Kleopas klik vererg sy tong” as hy dink aan Pilatus wat sowaar sy hande in onskuld gewas het toe Jesus vernederd voor hom gestaan het. “Hy skerts opgeruimd terwyl hy sy watersakkie toeprop” (bl 53). Idiomatiese uitbreiding word ook treffend gebruik vir ’n ligter toon, soos wanneer Kleopas bang is die Vreemdeling gaan dink “hulle varkies loop snork-snork in Gádara rond” (bl 9). Die Jakob-verhaal met die “sopkinkel” laat hulle besef Esau se aardse denke het hom in die sop laat beland (bl 27). Ander Bybelse verwysings word ook treffend aangewend, soos met: “Die kruisdood van hulle Messias het hulle geloof en hoop in iets soos die opstanding tot in die tempel se fondamente geskud” (bl 11).
Deurlopende beelde soos dié van water, duif, wind, brood en voorhangsel/sluier bind die teks heg saam op die verhaalvlak met raak beskrywings, soos “die donker wolke se skuifelskaduwees” (bl 61).
Die hele doel van Kobie Lötter se teks is duidelik daarop gemik om die leser saam te neem op hierdie reis na Emmaus, wat paradoksaal “[t]og so naby en tog so ver ...” is (bl 4), sodat elkeen iets van die deurleefde misterie self kan ervaar. In teenstelling met die kopgeloof (bl 28), word ons gelei om soos Kleopas “tot ’n ingegewe slotsom” te kom: “[A]lles moet deur tyd en ewigheid op weg na vervulling een word met die reëlmaat van Ewige Orde” (bl 23). Die ingewing vir die leser spruit uit om in stilte ook deur oorpeins en oordenking van die gebeure tot insig gelei te word. “Die vaste vertroue van geloof gee misterie lewe om deel van vervulling, asook nog-nie-vervulling te wees” (bl 34). Soos Kleopas en sy dissipel-broeder, is die einddoel dat elke leser deurdrenk sal wees “in die salige lig van harte wat sien” (bl 67).
Weersiens verby Emmaus is ’n vertelling vanuit Lukas se Evangelieperspektief, ’n “mymerblik sandaalgespoor in stilte wat praat”. Die teks sal elkeen verryk, laat “saamstap in verrese Lig die ewige horison in” (bl 81) en is iets wat elke gelowige behoort te ervaar.
Lees ook:
Transformasies: Is Rumi ’n mistikus of "social media crack cocaine"?
Estelle Kruger in gesprek met Dietloff van der Berg oor sy bundel poësie en liefdesverse van Rumi