
Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)
Die rook van die braaivleisvure hang laag oor die buurt. Musiek blêr, kinders skaterlag, ouers ontspan met ’n bier of ’n glas wyn.
Op die N2 beweeg die voertuie teen ’n slakkepas. Hulle trek bote, karavane, sleepwaens met fietse en hier en daar selfs ’n perd of twee. Dis langnaweek, en almal kuier asof kuier uit die mode gaan. Boonop is dit Menseregtedag, en soos elke ander vakansiedag word dit as braaidag hanteer.
.........
Maar hierdie jaar voel dit nie vir my of daar veel fees gevier kan word op Menseregtedag nie.
..........
Maar hierdie jaar voel dit nie vir my of daar veel fees gevier kan word op Menseregtedag nie. Hoe kán ons, wanneer soveel mense daagliks van hulle basiese regte ontneem word? Oekraïne is vars in ons gedagtes, met oorlogsmisdade, verkragtings, ontvoerings en moorde wat daagliks plaasvind. Dis vars in ons gedagtes want ons land is besig om minder subtiel die kant van die aggressor te kies.
Maar skokkend soos wat die gebeure daar is, is dit nie uitsonderlik nie. In Palestina word huise platgestoot en geforseerde uitsettings is aan die orde van die dag. Net soos wat ons nie te lank gelede nie hier ervaar het. Mense word mediese dienste ontsê, hulle word reg op regsverteenwoordiging geweier, hulle reg op vryheid van spraak word misken. In Sirië is daar al vir ten minste die afgelope dekade siviele onrus en menseregtevergrype wat maak dat mense na ander lande vlug. In Afganistan word vroueregte daagliks verder ingeperk na iets wat onherkenbaar Middeleeus lyk. Vooruitgang in die meeste Arabiese lande se vroueregte geskied teen ’n slakkepas. En vryheid van spraak? Wat is dit?
Brittanje probeer hul armes nog verder in armoede dompel, en in die proses sommer ’n nuwe klas armes skep, solank die heel rykstes net ryker kan word. En die VSA is in ’n wedloop met hulself om te kyk watter hulle vinniger kan inperk: vroueregte, die regte van swart mense, of die regte van transgender mense.
Maar ons hoef nie eens verder as ons eie grense te kyk nie.
Net hierdie week nog het burgers van Lesotho en Zimbabwe in Robertson aanmekaar gespring oor plaaswerk. En dit klink al meer asof die Suid-Afrikaanse werkers wat hul werke op die plase verloor het, ook lus om in die losgemaal te duik. En natuurlik blaas ons politici die spanning aan om goedkoop politieke punte te probeer wen.
........
Ons het een van die mees progressiewe moderne grondwette in die wêreld. Ander lande gebruik ons grondwet as die goue standaard. Ons is vir ’n lang tyd gebruik as ’n voorbeeld, dié voorbeeld, van hoe onderhandelinge en wedersydse bereidwilligheid om toegewings te maak, ’n samelewing kan red.
............
Ons het een van die mees progressiewe moderne grondwette in die wêreld. Ander lande gebruik ons grondwet as die goue standaard. Ons is vir ’n lang tyd gebruik as ’n voorbeeld, dié voorbeeld, van hoe onderhandelinge en wedersydse bereidwilligheid om toegewings te maak, ’n samelewing kan red.
Ons Grondwet maak veral groot gewag van die reg op waardigheid. Dis ’n reg wat elke ander reg in die Menseregte-handves onderskraag. Hoe kan jy vryheid van spraak hê sonder dat jou waardigheid erken word? Hoe kan jy enige reg in die handves uitoefen sonder dat jy terselfdertyd jou waardigheid uitoefen?
Maar al meer en meer word ons waardigheid misken. Kyk byvoorbeeld na die nuwe Covid-regulasies wat opgestel word om in werking gestel te word sodra die ramptoestand opgehef word. Dit word onder ander wetgewing gedoen, sodat dieselfde magte as voorheen nou van parlementêre oorsig vrygestel word. Persone wat in isolasie geplaas moet word, moet bewys dat hulle ’n en suite-badkamer het, of alleen bly. Indien hulle nie kan nie, word hulle verplig om in staatsinstellings in isolasie te gaan. En ons weet hoe vrot daardie huisvesting die afgelope jaar was. Dit beteken in effek dat net die heel rykste mense in isolasie by hul eie huise kan gaan. Prakties beteken dit mense gaan hulself nie laat toets nie, uit vrees dat hulle in haglike staatsomstandighede gehuisves gaan word indien hulle positief toets.
Ons wag in spanning vir die volgende keer dat die elektrisiteit of die water ons verlaat, want daar bestaan nie meer so iets soos stabiele diensverskaffing nie.
Waar is die waardigheid hierin?
En dan klop ons regering, in ’n absoluut meesterlike vertolking van toondoof-uit-voeling-met-hul-mense-heerskappy, hulself op die skouer met elke Menseregtedag-viering.
Die realiteit? Daar is niks om te vier nie. Menseregtedag het ’n dag geword wanneer ons rou oor die sterfte van die reënboognasie.


Kommentaar
"En die VSA is in ’n wedloop met hulself om te kyk watter hulle vinniger kan inperk: vroueregte, die regte van swart mense, of die regte van transgender mense."
Dit sal gaaf wees as me. Wyngaard ons kan inlig oor watter regte van swart mense en trans mense in die VSA kwansuis ingeperk word.