Wat sê Bettina? Hongersnood in Gaza

  • 0

  • Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Ons hoor gereeld van nimmereindigende oorloë, veral in die Midde-Ooste, en meer gereeld as wat toevallig kan wees, is Israel ’n party tot so ’n oorlog.

Die volksmoord wat in Gaza aan die gang is, kan seer sekerlik onder nimmereindigende oorlog tel, alhoewel ek nie seker is dat oorlog meer die gepaste woord is om hier te gebruik nie. Uitwissing beslis. Heeltemal toevallig herinner Facebook my gister aan ’n inskrywing wat ek 11 jaar gelede gemaak het om kritiek uit te spreek teen Israel se ingrype in Gaza. Natuurlik is die konflik in Gaza en die Wesbank al vir veel langer aan die gang – amptelik minstens 75 jaar, nie-amptelik veel langer.

.......
Sedert die Israeli-regering kragdadig begin optree het in Oktober 2023, het ek my verwonder aan die feit dat hulle skynbaar nie baie besorg is oor die gyselaars wat hulle probeer red nie.
.......

Sedert die Israeli-regering kragdadig begin optree het in Oktober 2023, het ek my verwonder aan die feit dat hulle skynbaar nie baie besorg is oor die gyselaars wat hulle probeer red nie. Hoe, het ek gewonder, doen hulle verantwoording vir die bomme wat hulle gooi op dieselfde gebiede waar hulle vermoed gyselaars aangehou word? Ek het toe nog onder die naïewe indruk verkeer dat die weermag optree in pogings om die gyselaars vrygestel te kry. Sedertdien het ek van mening verander. Indien enige gyselaars bevry word, dan is dit ’n feestelike openbarebetrekkinge-geleentheid, maar dit sou toevallig wees, nie die doel van die militêre ingrype nie.

Al meer families van gyselaars begin dit ook besef, daarom dat daar soveel protesoptogte binne Israel is teen die militêre optrede van die staat. Natuurlik is dit nie onbekend dat Israel bereid is om hul soldate en ander prys te gee in ruil vir militêre voordele nie. Dit het selfs ’n naam: die Hannibal-direktief. Ten einde Gaza leeg te maak van Palestyne is dit vir Benjamin Netanyahu en sy genote aanvaarbaar dat ’n paar Joodse gyselaars ook moet sterf, selfs al sterf hulle aan die hand van Israeli-soldate.

.......
Die beelde van uitgeteerde kinders met opgeblase magies, vir so lank sinoniem met hongersnood in Afrika, is nou algemeen in Gaza. Dit terwyl hulp en kos slegs enkele kilometer weg beskikbaar is.
.......

Maar sedert Oktober 2023 het die aard van die konflik verander. Die afgelope maande word alle kos en ander humanitêre hulp verhoed om Gaza binne te gaan. In die enkele gevalle waar kos en medisyne wel toegelaat is, het Israeli-soldate losgebrand op die honger vroue en kinders wat kom kos soek het. Vele is gedood. Vele meer is besig om aan hongersnood dood te gaan. Die beelde van uitgeteerde kinders met opgeblase magies, vir so lank sinoniem met hongersnood in Afrika, is nou algemeen in Gaza. Dit terwyl hulp en kos slegs enkele kilometer weg beskikbaar is. Artikels wat mediese personeel aanhaal wat vertel hoedat hulle dalk een maaltyd in ’n paar dae kry om te eet, dokters wat vertel hoedat hulle flou val van die honger, verskyn in koerante wat poog om bewusmaking rondom hierdie kwessie te opper. Maar steeds luister feitlik niemand nie, totdat Hamas ’n beeld die wêreld instuur van ’n uitgehongerde gyselaar. Natuurlik. As geen kos die gebied binnegaan nie, is dit nie net Hamas-lede wat hongerly nie. Almal ly: Of hulle nou mediese personeel, pasiënte, kinders, oumas of gyselaars is, niemand kry kos nie.

Eers toe ’n uitgehongerde Jood se beeld die wêreld ingestuur word, begin die kritiek teen Israel in alle erns instroom. Die Suid-Afrikaanse regering het alreeds in 2024 geweet dat daar volksmoord in Israel aan die gang is, maar dit neem die res van die wêreld meer as ’n jaar langer om tot dieselfde gevolgtrekking te kom. 

Maar hoe lank gaan dit nog duur voordat enigiets gaan gebeur om Israel te stuit? Solank as wat Trump sy vriend Bibi ondersteun, finansieel en moreel, gaan die res van die wêreld se weersin nie veel impak hê nie. Net Trump se gretigheid om die Nobelprys vir vrede te kry, hoe onwaarskynlik dit ook al mag wees, kan hom beweeg om sy ondersteuning te onttrek.

Gaan dit gebeur? Soms is die waarheid vreemder as fiksie. Al wat ek kan hoop, is dat die waansin sal ophou en hulp toegelaat sal word, vir die Gaza-inwoners en die gyselaars. Enigiets anders, enigiets wat beteken dat hulp by die grens sit en nie toegelaat word nie, is nie waansin nie, dis boosheid.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Hoe vier hulle Eid in Gaza?

Wat sê Bettina? Kersfees in ’n oorlogsone

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Israel se gewelddadige nihilisme – van Gaza tot Iran

Sudan: the forgotten disaster eclipsing Gaza

Sex, power and control: The hidden crimes behind the Gaza genocide

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top