Wat is ’n land as haar moedertale nie erken word nie?

  • 2
  • Lees ook ’n gepubliseerde lesing deur wyle Neville Alexander, “Die oorlewing van die niedominante tale van Suid-Afrika

  •  Lees meer oor Nama en Afrikaans in die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, “Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920” (2010) deur Gerald Groenewald:

    “Alhoewel Afrikaans tot met die Duitse besetting merendeels die taal was wat vir hoë funksies gebruik is, het dit tog nie heeltemal die ander tale in Namibië verplaas in lae funksies nie. Nama het steeds die moedertaal van baie mense gebly, en is selfs in skole en kerke gebruik. Ten spyte hiervan was Afrikaans die taal met prestige en het die meeste Nama uiteindelik tweetalig geword.”

Op 21 Februarie celebrate of commemorate die wêreld Unesco Internasionale Moedertaaldag “to promote awareness of linguistic and cultural diversity” wat oor die jare verskeie temas gehad het, soos moedertaalonderrig en boeke vir moedertaalonderrig.

Maar wie weet tog dat hierdie dag sy wortels in die taalbeweging het in die voormalige Oos-Bengale (wat vandag bekendstaan as Bangladesj) – toe die destydse regering besluit dat het dat Oerdoe die amptelike taal sou word.

In defiance het politieke aktiviste en studente van die Universiteit van Dhaka op 21 Februarie 1952 ’n protes georganiseer. Op hierdie dag het die polisie toe talle studente doodgeskiet en na jare van konflik sou die regering in 1956 die Bengaalse taal amptelike status gee. (Wikipedia)

Nou wat beteken dit dan tog vir ons KhoeSanmense, ons tale? Ons wat steeds in ons moederland voel soos weeskinders, wie leeg, verlore, arm en wortelloos is?

As jy vir die meeste van ons KhoeSanmense hier in Suid-Afrika nou vra: “Wat is julle moedertaal?”, dan sal die meerderheid tog sê Afrikaans of Engels, en hoe dan te besef hoe ignorant ons is oor die feit dat vir duisende jare was dié nie tale wat hier in Suid-Afrika deur ons voorouers gepraat was nie.

Dat Afrikaans, wat eintlik ’n KhoeSantaal is, eers na 1875 die taal geword het wat sy vandag is, dat voor 1875 was die taal baie meer gekleurd, die taal het baie meer Khoekhoewoorde en klieks gehad, want dit was mos dan eintlik die taal waarin ons kon handel dryf met die koloniste.

Toe, na 1875 besluit die Genootskap vir Regte Afrikaners in Paarl toe om die taal te “standaardiseer”, wat eintlik beteken dat hulle amper alle traces van ons KhoeSan-invloede verwyder het en toe Duits en Nederlands in die taal inforseer het.

En vir ons as KhoeSan sal die “nuwe” gekoloniseerde Afrikaans wat ons nou praat (of wat hulle noem “proper Afrikaans”) (en tog is dit amazing om nou eers te sien hoe die different dialects van Afrikaans plek kry) altyd ’n taal van minagting, roof, hartseer en sacrifice sal wees.

Dat dit jou moeder is wat nou jou stiefma geword het. No offence aan al die amazing stiefma’s daar buite.

Jy sal altyd voel asof jy nie behoort nie, dat jy nie goed genoeg is nie, dat jy iets van jouself moet verander om aanvaar te word.

Ek het al opgelet wat gebeur as ek Afrikaans met “wit” mense praat. En “wit” sit ek tussen aanhalingstekens net omdat niemand behalwe ek glo dat wit, soos bruin, by mense nie bestaan nie, en dat ons tog maar net almal “different shades of brown” is.

Hoe ek conscious raak van my aksent, hoe my liggaam voel (hulle sê mos van trauma wat ons dra as die oppressed, so dit maak sin, want ons tonge was en is oppressed), hoe ek moet “code-switch”. Nou wat ek ouer is, is ek bewus daarvan, ek fight daarteen om nie te moet code-switch nie; ek fight teen die audio in my kop wat sê: “Denver, as jy nie nou só Afrikaans of Engels praat nie, gat hulle nie na jou luister nie.” Want nou is ek alright, maar ek voel steeds vir ons KhoeSan wat by daai punt is waar hulle onbewustelik hulle linguistic soul moet verkoop, want ons dink dis hoe mense dan na ons sal luister?

Tog was dit meer as net die woorde wat uit ons tonge weggevat was. 1875. Ons menswees was ook weggevat. En vandag kan jy orals gaan, veral op Saterdae, en kyk hoe ons KhoeSan communities van Hanover Park tot Paarl, tot Ceres, tot Clanwilliam, tot Graaff-Reinet, Port Elizabeth, Namakwaland, verwoes is, want ons sit met verwoeste tonge. Ons sit met verkragte tonge. Ons sit met tonge in trauma.

En wat gebeur tog as jou tong verkrag is, jou gedagtes is verkrag en jou aksies is verkrag, vasgevang en wreed? En hoekom is daar so baie verkragting en moord in ons KhoeSangemeenskappe, van KhoeSanmans wat KhoeSanvroue op die wreedaardigste maniere vermoor?

Iets het gebeur toe ons nie meer ons sielsopbouende tale kon praat nie. Ons siele was afgebreek.

Kan jy jouself nou indink dat jy nie jou eie taal kan praat nie, dat jy eintlik vermoor kan word of jou tong uitgesny kan hê. Dat jy moet kies tussen die bord kos en jou voorouers se tale en die veiligheid en voortbestaan van jou mense.

Daar is dié wat sê ek moet nie die woord “verkragting” so ligtelik gebruik nie, maar kyk na ons communities. Kan ons die pyn nog ignoreer?

Hoe hartseer dat ons nie die antwoorde het nie, of ons weet nie daar’s antwoorde wat gesoek moet word nie?

Dan word gesê dat elke taal, asook die uitspraak daarvan, ’n unspoken netwerk van kulturele waardes het wat shape hoe ons dink oor onsself, identiteit en ons verhoudings met ander (Reyhner 1995).

Ons het nie antwoorde nie. Ek het wel al ’n paar universiteite in Suid-Afrika gekontak. Wat doen hulle om ons KhoeSantale te bevorder? Moet ons dankbaar wees terwyl ons linguistic genocide, soos Ghi'lad Zuckermann dit noem, voortgaan? Kan ons wel sê dat ons KhoeSantale die antwoorde vir al die vrae het? Ek dink so. Suid-Afrika sal dus voortgaan om 'n seergemaakte land te wees, wie se seer by ons tonge begin het. En die jong Keetmanshoop-groep van Nama-afstammeling eis desperate om ons kultuur en taal te bevorder en te behou.

En die Nama-vrou wat vertel dat Namasprekendes weens die kompleksiteit van die taal meer intelligent is as baie ander groepe weens die taal, maar weens die historiese benadeling sukkel hulle ook maar.

Tog is ons onbewus hiervan, disconnected van ons eie taalgeskiedenis, want wie vertel ons dan dat ons tonge kan en moet die klieks maak, dat ons voorouers vir duisende jare tale gepraat het wat die koloniale sou noem lelik, afskuwelik, dat dit klink soos kalkoene wat verstik aan hulle eie spoeg, heidene wat hulle moet bekendstel aan hulle God.

Die eerste mense van die land wie tog na 23 lang jare van swoeg, sweet, baklei, steeds nie toegang tot ons eie (of te sê ons ware) moedertale het nie.

En jy vra jouself tog hoekom? Hoekom was/is dit so belangrik vir die koloniale, die apartheidsregering en die huidige regering om ons KhoeSantale te vermoor, maar die ander Ngunitale te laat voortbestaan?

Ons weg te hou van ons geboortereg, vir ons te deprive, want dit was natuurlik ons s’n? Wat in die taal maak hulle bang? Wat vrees hulle gat gebeur in ons as ons tog ons eie tale praat? Die taal wat met hart, siel en hele menswees gepraat word? Die taal wat gat toelaat dat jou voorouers van duisende jare gelede met jou kan praat? Is hulle bang vir wat ons voorouers vir ons gat sê?

Net die ander dag praat ons ook van die rotstekeninge wat regoor Suider-Afrika is. En dis nie net mooi prentjies nie. Dis teks op klip. Dis ’n visuele taal, boodskappe wat ons voorouers aan ons gelos het, want hulle het geweet dat eendag sal ons dit need. Dat hulle gat ons wil convince dat ons nooit bestaan het nie, dat ons nie bestaan nie, maar dat daai rotsteks sal met ons praat? Maar hoe as ons nie ons eie tale het nie? Sal ons nooit die teks kan verstaan nie? Al is daar die Rock Art Museum by Wits waar akademici probeer om sin te maak, waar hulle boeke skryf oor die teks, sal hulle dit nooit kan verstaan nie. Dis immers nie vir hulle om dit te verstaan nie.

Soos Robert N St Clair by ’n 1997-simposium oor "The invisible doors between cultures” gesê het: jou moedertaal is dan ook soos jou eie moedersmelk, want babas wat gevoed word op hul eie moedersmelk, wat nie vroeg op gekoopte babamelk is nie, is meer gesond, hulle kan baklei teen allerhande siektes, hulle verstandelike vermoë is baie beter. Waar hy ook sê dat dié wie hulle inheemse tale leer, sal dan kan baklei teen die siektes van die samelewing wat baie van ons KhoeSan lei om gangs te join en drugs en alkohol te misbruik. En is al wat KhoeSangemeenskap is nie wreed vasgevang in dit nie?

Al is my moeder van Graaff-Reinet (tog die plek se naam wat vir duisende jare deur die San en Khoekhoe bewoon was) en Afrikaans die taal is wat sy aan my oorgedra het, is Afrikaans dan my taal, maar was dit tog die taal wat deur haar ancestors gepraat was?

En terwyl ek ook dan die video’s van ouma Katriena Esau, een van die laaste sprekers van die N/uu-taal, kyk, sekerlik die oudste KhoeSantaal in Suid-Afrika wat binnekort gat uitsterf, wonder ek of my ouma, wat snaaks genoeg ook ouma Katrien was, ook die taal gepraat het wat sy met niemand kon praat nie? Kan dit explain hoekom sy so ’n ongelukkige mens was? Vir al die tye wat ouma Katrien kom kuier het, het sy nooit gelag nie?

Die stories wat hulle gehoor het van ons mense wie se tonge uitgesny was, wie net verdwyn het, wie dan nie kon werk kry nie, wat geslaan was omdat hulle ons tale gepraat het? Wie van dié wat nooit die Afrikaans kon leer of wou leer nie? Wat het van hulle geword? Waar’s die stories?

Ironies genoeg is daar die plek buite Graaff-Reinet wat die koloniale genoem het die Vallei van Desolation of Verlatenheid, en tog was dit nooit verlate nie. Die plek was nooit verlate nie. Ons mense het daar gebly. Mense met hul eie tale.

Die Inquas was volgens historiese rekords die rykste Khoekhoegroep wat die area bewoon het, ryk aan vee. ’n Mense wat steeds in Graaff-Reinet bly, maar in die wreedste armoede op die uithoeke van die plek leef. Soos iemand my eenkeer gesê het, hoekom sou al die royalty en hooggeplaastes dan nou die plek in die Karoo (karo beteken eintlik “uitgedroog en hard” in die Khoekhoetaal) hul huis noem?

Daar is wat die akademici ook noem intergenerational trauma. Die trauma wat van generasie na generasie oorgedra word.

Tongtrauma, trauma van verkragte gedagtes en verkragte aksies, want dis wat gebeur het toe ons verbied was om ons eie tale te praat. Kan jy jouself nou indink dat jy nie jou eie taal kan praat nie, dat jy eintlik vermoor kan word of jou tong uitgesny kan hê? Dat jy moet kies tussen die bord kos en jou voorouers se tale, of die veiligheid en voortbestaan van jou mense.

Aan dié wat sê ek moet nie “verkragting” so ligtelik gebruik nie, sê ek: maar dis tog nou wat in ons gemeenskappe gebeur. Ons het nie antwoorde nie, of ons weet nie daar moet gesoek word na die antwoorde nie.

Dan kyk ek die African Studies language sections hier by die universiteite in Suid-Afrika en ek vra myself hoekom bied nie een van die universiteite ’n KhoeSantaal aan nie? Kan hulle hulself ’n Afrikatale-departement noem as die eerste tale van Afrika en Suid-Afrika nie ’n prominente plek in hul departement het nie? Is dit ignorance of doelbewus dat die KhoeSantale nie deel is van die kurrikulum nie? En ek word herinner dat die panellist by die Afrikaanse Taalraad se taaldagviering twyfel of Nederlands ooit hier aan die Kaap gepraat was, en dat in 2017 die Department van Afrikaans en Nederlands nie dan Khoekhoe en Afrikaans word nie.

Ons weet tog nou dat Afrikaans gebore was deur Khoekhoe wat handel gedryf het met die verbygaande skepe, en toe die Khoekhoetaal moes meng met Duits en Nederlands, want die koloniale kon immers nooit een van die most complicated tale innie wêreld, ’n taal wat oor duisende jare ontwikkel is, praat nie.

Die Noord-Kaapse regering het nou weer ’n Khoekhoetaalprojek gelaunch by twee skole, maar moet ons dan nou dankbaar wees dat na 23 jaar ons tale steeds vir “gat gevat word”, dat ons linguistic genocide, soos dit deur Ghi’lad Zuckermann (wêreldbekende endangered language expert) genoem word, nie acknowledge word nie?

Het ons KhoeSantale dan nie die antwoorde vir die al die uitdagings in Suid-Afrika nie? Wie was immers die water conservationists in Suid-Afrika en watter taal was gebruik? Is dit nie hoekom regoor die wêreld – in Kanada, Australië, Nieu-Seeland, VSA, Venezuala ens waar inheemse gemeenskappe soos ons KhoeSan is – miljoene dollars invest word in die revival, reclamationen research van die inheemse tale, asook die impak van language loss en die trauma wat daarby gaan, maar in Suid-Afrika is daar nie een universiteit of navorsingsinstituut wat dit hul fokuspunt maak nie? Is die eerste nasie dan so onbelangrik? Weet hulle nie dat hulle tog ’n verantwoordelikheid het teenoor die mense wie se land so baie aan hulle gee, wie tog nog net allie pad //Khore //hare of hulle verwelkom het?

Soos iemand verlede jaar gevra het: Hoekom is die Eerste-nasie-tale, ons KhoeSantale, so belangrik, en dan besef jy dat Suid-Afrika is eintlik ’n seer nasie en daai seer het tog begin by ons tale? En hoe maak ons die nasie gesond? Ons begin weer by ons tale.

Jy kan nie meer die klanke van die eerste tale langer stilhou nie. Jy kan nie maak asof die tale nie al die tale wat nou gepraat word in Suid-Afrika op een of ander manier mekaar beïnvloed het nie. En wanner ons Internasionale Moedertaaldag vier, kan ons beslis sê dat ons KhoeSantale is die moeder van alle tale in Suid-Afrika.

As jy dus die woorde buxu (boegoe), daxa (dagga), kwaxa (kwagga), aitsa, aba, Kei //gamma (Keiskamma), Knysna, Prieska (piri beteken “bok” en prieska is “bok wat verlore geraak het), Hessequa (mense van die bome), Outeniqua (mense van die heuning), Namaqua (mense van die Namas), en baie meer waarvan ons onbewus is, hoor, dan om nie te vergeet dat die oorspronklike naam van Kaapstad was nie Kaapstad nie – dit het ook ’n naam in die Khoekhoetaal gehad: //Hui!Gaeb, en al plek waar die naam gesien kan word is by die Artscape. Ook Tafelberg se Khoekhoenaam is Huri ≠Oaxa: “waar die see uit die berge kom”.

Vorentoe is dit steeds moeilik, omdat daar amper niks staats- of groot maatskappye is wat ons KhoeSantale se reclamation of revival support nie.

Daar is geen funding bodies wat hulself beywer vir ons KhoeSantale-bevordering en -terugvat nie, maar die werk gaan nie stop nie.

Soos die indigenous man van Australië vir ons gesê het: as julle land nie wil hoor nie, as die land nie sy deel wil bydra tot die kawakawas of restourasie van ons mense nie, gat soek vir hulp elders.

Volgens (Reyhner 1995) is daar eintlik baie dinge wat gedoen moet word op verskillende vlakke, soos die beskikbaarheid van language immersion kampe waar KhoeSan vir periodes net die taal praat, die taalneste wat ontwikkel was deur die Maori in Nieu-Seeland, waar ouer sprekers van die taal vir babas die taal leer, die ontwikkeling van audio- en videomateriale, ens.

Hoe exciting tog dat ek besig is om nou R60 000 in te samel vir video’s, podcasts en online kursusse in die Khoekhoetaal, asook ons geskiedenis aan te bied, asook om language immersion kampe en Skype-sessies te ontwikkel.

R60 000 is beslis nie genoeg nie – dit is sekerlik net ’n druppel in die emmer – maar dit sal sowaar iets doen. Ook skryf ek nou aan kawakawas-teaterstuk,’n KhoeSan-multilingual teaterstuk oor die reclamation van KhoeSan spirituality en om deur teater ons mense bewus te maak van ons KhoeSantale.

Suid-Afrika soek antwoorde van wie die land is, wie was/is sy mense en wat was daai klanke wat hier was, maar meer belangrik need ons nou die kennis en leiding opgesluit in die tale.

Ons gat nou ons tale terugvat. Is dit dan nie die plig van elke Suid-Afrikaner om te baklei vir ons KhoeSantale nie? Gat ons almal dan nie baat by ons KhoeSantale nie? Ek dink so. Toa tama !khams ge, en in die Khoekhoetaal beteken dit “die stryd gaan voort”.

Verwysings

Reyhner, John. 1999. Maintaining and renewing native languages. Bilingual Research Journal, 19:2(279–304).

Wikipedia, International Mother Tongue Day, Language movement

Lees ook: 

  • 2

Kommentaar

  • Helize van Vuuren
    Helize van Vuuren

    "Dat Afrikaans, wat eintlik ’n KhoeSantaal is, eers na 1875 die taal geword het wat sy vandag is, dat voor 1875 was die taal baie meer gekleurd (...)".
    Ja, absoluut, Denver! In die kol ... en hoe min mense besef dit?
    Afrikaans was eintlik nog glad nie geskrewe nie (buiten een of twee geskrifte). Die Afrikaans van die San van die Noordwes-Kaap, die /Xam, is neergeskryf deur GR von Wielligh, uit hul monde gehoor en neergeskryf in sy stories vanaf 1870-1883, later van 1919 af eers gepubliseer. Pragtige sterk, konkrete uitdrukkings (nou weer in die historiese vorm, soos die eerste keer gepubliseer tussen 1919 en 1921, en so pas in 2017 uitgegee deur !kwa ttu en Mantis Books deur Neil Rusch en Chris Low van Vredendal se !kwa ttu-sentrum). Deur Eugene Marais neergeskryf in Dwaalstories (1927) uit die mond van die /Xegwi San en die Koranna van die destydse ZAR, later Transvaal, later Limpopo, ens.
    Plus, die feit dat Afrikaans eers 'n geskrewe taal geword het (vanaf 1876, in Die Patriot) nádat die sterwende /Xam San-taal deur Bleek en Lloyd al 'n dekade lank opgeteken was (vanaf 1870). En dat geskrewe Afrikaans se kernstroom van die begin af tot vandag intiem geput het en gevorm is uit opgeskrewe San-mites en narratiewe (vanaf Celliers, Marais, tot en met Opperman, Stockenström, Weideman, Petra Müller, Krog en Breytenbach).
    Oor vroeëre gesproke Afrikaans en latere geskrewe Afrikaans, laai A Necklace of springbok ears, wat die verhaal vertel, hier af:
    https://www.researchgate.net/publication/306012176_A_Necklace_of_Springbok_Ears_Xam_Orality-4/overview

  • Beste Denver Breda,
    As die KhoeSanmense eens op 'n tyd die KhoeSantaal gepraat het, en hulle praat nou soos jy hierbo skryf, dan is dit omdat hulle taal verander het onder invloed van ander tale soos Nederlands, Maleis-Portugees, Engels, ens. Daaraan kan niemand iets doen nie; dit is hoe alle tale maar evolueer. Interessantheidshalwe kan die KhoeSantaal weer bestudeer word, maar dis nie meer bruikbaar soos dit was toe dit nog die omgangstaal van mense was nie.
    Vergelyk dit maar met die verloop van Engels. Oorspronklik was dit Anglo-Saksies, en heeltemal onverstaanbaar vir die Engelssprekende. Onder Franse invloed het dit moderne Engels geword. Wat help dit nou as 'n Engelsman nou in opstand kom teen hierdie bleddie Engels wat hulle vandag praat en begin veg vir die terugkeer na Anglo-Saksies?
    Ons voorouers het Anglo-Saksies gepraat en ons gat nou ons Anglo-Saksies terugvat. Is dit dan nie die plig van elke Engelsman om te baklei vir ons Anglo-Saksiese tale nie? Ek dink so! acwellan scealc scëap pavani, wat ek nie mooi kan vertaal nie, want ek weet nie wat dit beteken nie. Sien, ek is Engelssprekend!
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top