Wat moet ons as literatore dan doen?

  • 0

Skets: Mohamed Hassan | Pixabay

...
Is daar dan enigsins ’n nut vir wat ons as literatore doen behalwe om die “betekenis” van gediggies vir skoolkinders te verduidelik?
...

Willie Burger se video oor sy eie reis met die letterkunde het vir Dewald Koen laat vra: Wat moet ons as literatore dan doen?

Burger het hom toe geantwoord.

LitNet deel hiermee die volledige gesprek met die twee literatore se toestemming en ons nooi ander akademici om hul menings aan ons te stuur.

 

Dewald Koen se vrae

’n Besonder interessante gesprek waarin u belangrike aspekte van die literatuurstudie aanraak, prof Burger.

Ek is een van daardie “epigone” wat “fasiele” goed in my proefskrif (die ekokritiek en gedigte) geskryf het waarvan u een van die eksaminatore was. Ek het u opinie jeens die ekokritiek as literêre teorie (in my eksamenverslag) ’n paar maal herlees en u het wel geldige opmerkings gemaak wat my tot diep nadenke gestem het. Ek stem 100% met u saam dat daar selde (indien ooit) iets “nuut” in die Afrikaanse letterkunde “ontdek”, “geskep” of nagevors word. Dit is maar ’n “reseppie” van “paint by numbers”. Dit is nie asof ons ’n geneesmiddel vir kanker ontdek of ’n oplossing vir hongersnood bied nie.

My vraag aan u as meer belese en ervare literator is egter: Wat moet ons as literatore dan doen? Wat is die “resep” wat ons moet volg? Wie besluit wat “reg” of “verkeerd” is? Ek verpes literêre teorie. As ek dit wil lees, kan ek die boek by die biblioteek gaan uitneem. Ek is in my hart en siel ’n New Critic. Ek glo in stiplees. Dit is die enigste nut wat ons vak het. Wat anders doen ’n student met Afrikaans III as om skool te hou en gedigte, prosa- en/of dramatekste vir leerders te ontsluit? (Dit is nie asof daar veel poste aan universiteite is nie, en die meeste Afrikaans-departemente se dae is getel.) Ek lag maar net as mense my vra waarom enige regdenkende mens geld en tyd spandeer om nagraads Afrikaans te studeer. Om wat mee te doen?

Maar soos u tereg sê: Hoe verduidelik ons dit aan iemand wat nie vertroud is met wat literatore doen of hoe ons tekste ontleed nie? Is daar dan enigsins ’n nut vir wat ons as literatore doen behalwe om die “betekenis” van gediggies vir skoolkinders te verduidelik?

 

Willie Burger se antwoord

Beste Dewald

Baie dankie vir jou kommentaar en die vrae wat jy vra. Ek is baie jammer as ek die indruk in die onderhoud gewek het dat ek dink niks nuuts word in die Afrikaanse letterkunde nagevors nie. Dit is nie wat ek wou sê nie. Wat ek eerder wou sê, is dat baie van die navorsing oor letterkunde (nie slegs in Afrikaans nie) vir my vervelige herhalings is. (En daarmee skaar ek my by ’n groeiende aantal stemme – ook internasionaal. Ek gaan hier verwys na onder meer Rita Felski, Bruno Latour, Richard Shusterman en Toril Moi.)

Ek hoop ook dat ek nie die indruk gewek het dat die vak literatuurstudie slegs stiplees as “nut” het met die doel om literêre tekste vir studente en leerders te ontsluit nie. As dit al was wat ons vak ons kon bied, sou ek ook so wanhopig gevoel het soos wat jy byna in jou tweede paragraaf klink.

Jou vrae oor watter “resep” gevolg moet word, wat “reg en verkeerd” sou wees en wie daaroor besluit, is eintlik tekens daarvan dat jy nie regtig literêre teorie verpes nie! Dit is juis die soort vrae waarmee literatuurteorie gemoeid is.

Ongelukkig moet ek jou teleurstel: Ek kan geen “resep” bied wat literatore moet volg nie. Maar ek is baie dankbaar daaroor! Sou dit nie ’n ontsettend vervelige bedryf gewees het as ons ’n bepaalde resep kon vasstel nie – volg hierdie stappe en dan kry jy die antwoorde waarna jy soek. As dit so was, het ek jou pessimisme gedeel, want gewapen met so ’n resep wat ek oor en oor moet benut, binne ’n veld waarin bepaalde hekwagters besluit wat reg en verkeerd is, wil nie ek of jy werk nie.

Ek wil breedweg twee antwoorde probeer bied. Nie antwoorde in die sin van finale waarhede en vaste gevolgtrekkings nie, maar moontlike maniere om te dink oor die probleem wat jy lug:

  • Literatuurondersoek en die “estetiese ervaring”
  • Literatuur en die breër “kultuurkritiese benadering”.

Ek begin met laasgenoemde.

Voortspruitend uit die poststrukturalisme en die Marxistiese benaderings staan die idee dat alle kennis gemáák is, sentraal, dat kennis binne ’n historiese en sosiale konteks ontstaan en dat dit daarom altyd met mag gemoeid is: Kennis is mag en mag bepaal hoe kennis geproduseer word. Teen hierdie agtergrond kan mens dus die roman of gedig lees as ’n “simptoom” van ’n groter sosiale en historiese verhaal – as mens dit goed lees, kan jy aflei wat hierdie groter verhaal is – ’n soort political unconscious. (Gun my twee kru voorbeelde. Dit kan natuurlik veel meer genuanseerd gedoen word – ek probeer maar net toelig: Jy sien in ’n ou Afrikaanse roman is daar geen swart karakters nie, of slegs ’n swart bediende wat skoonmakend in die agtergrond beweeg, en kan dan aflei dat die roman ’n “simptoom” is van ’n breër historiese moment waarin ’n wit Afrikaanse wêreldbeskouing swart mense eintlik heeltemal uitsluit. Of jy kan aandui dat vroue slegs in minderwaardige posisies uitgebeeld word in ’n spesifieke roman en dit as simptoom sien van ’n groter patriargale stelsel wat oorheersend in ’n bepaalde tyd is en wat die produksie van hierdie soort roman moontlik maak.)

Ons kan ook nagaan hoedat resensente in ’n bepaalde tyd oor tekste waardeoordele uitspreek (of nie) en op grond waarvan hulle dit doen en daaruit ’n groter afleiding maak oor die breër beskouings in die tydperk – oor kuns, oor sosiale aangeleenthede, oor geloof of klas of ras of geslag.

Of mens kan nagaan hoedat literatuurgeskiedenis geskryf is en die kanon saamgestel word – watter tekste ingesluit word en hoe die kanon later (om watter redes?) uitgebrei, verander word. Ons kan ondersoek wie gemoeid was met die kanonvorming en wie uitgesluit is van die prosesse.

In die studie van veral populêre kultuur is hierdie soort benaderings baie interessant. Aan die een kant kan populêre tekste ondersoek word as uitdrukkings van samelewingsnorme en -fantasieë (skurke word gevang; die ware liefde oorwin), en aan die ander kant kan dit ook ondersoek word om vas te stel hoedat dit veranderings in samelewingsnorme ondersteun – al meer flieks en boeke met ’n vrou of swart persoon as die held; uitbeeldings van gay pare.

...
Ek dink dit is ook noodsaaklik dat studente iets van hierdie kritiese ingesteldheid moet aanleer, dat hulle oplettend gemaak moet word – dalk selfs ’n bietjie agterdogtig.
...

Hierdie is haastige en oppervlakkige opmerkings, maar ek dink dit is enkele maniere waarop “teorie” nuttige gereedskap aan studente en skoliere bied om na hulle eie wêreld te kyk, om krities na hul eie opvattings te kyk. Ek dink dit is ook noodsaaklik dat studente iets van hierdie kritiese ingesteldheid moet aanleer, dat hulle oplettend gemaak moet word – dalk selfs ’n bietjie agterdogtig.

In die hande van sommige kritici word hierdie soort werk baie insiggewend gedoen. Maar die probleem is dat baie van hierdie kritiese benaderings later ontsettend voorspelbaar en vervelig word. En dit is hierteen dat ek beswaar het.

Die probleem is dat hierdie soort benaderings maklik tot ’n soort instrumentalisme (soos Attridge dit noem) kan lei. Die literêre teks word gelees in diens van ’n teorie wat uit ’n ander vakgebied oorgeneem word (filosofie/sosiologie/ekologie/ekonomie) en dan word die teks gereduseer tot ’n voorbeeld wat die teorie bevestig. Dikwels word dit ingespan om bepaalde kunswerke of skrywers te ontluister – dat mens tog net nie ’n sekere werk kan geniet of iets waarderends daaroor sê nie, want dan neem jy eintlik deel aan die uitsluiting waaraan die boek skuldig is. Rita Felski skryf iewers dat hierdie soort kritiese benadering dikwels van die standpunt uitgaan dat die kunswerk (gedig/roman/fliek/musiek) reeds by voorbaat skuldig is – ons taak is om vas te stel waaraan.

Brian Latour beskryf dit as die feëverhaal- of feitebenadering. Die feetjiebenadering kom daarop neer dat ons ons eie mag en idees (ons interpretasies, ons konsepte en beskrywings) op die wêreld projekteer en dan bepaal daardie projeksies ons weer (ons verdeel die gemeenskap byvoorbeeld in mans en vroue en projekteer betekenisse op die begrippe en dit bepaal hoe ons dan optree). Die taak van die kritikus is dan om bloot te lê hoe die mag wat ons aan hierdie konstruksies (wat ons self geskep het) toegeken het, nie inherent daaraan is nie, dat dit nie natuurlik is nie, maar gemáák (dit is net ons eie opvattings oor ras of klas of geslag of godsdiens en dit het vir ons feite geword in ons gemeenskap). Dit wat ons as feite beskou het, word deur die kritikus ontmasker as feëverhale. Die kritikus se taak is om die oë van die naïewe gelowiges oop te maak sodat hulle kan sien wat hulle eintlik bepaal: ekonomiese infrastruktuur, diskoersvelde, ras, klas, gender, evolusie, neurobiologie – enige iets wat as onweerspreekbare feit aanvaar word en waarvan die “gemaaktheid” onondersoek gelaat word.

Terwyl ek dus dink dat daar veel waarde kan lê in ’n kritiese benadering, is die gevaar dat dit kan verval in ’n blote ontmaskering van feëverhale terwyl die feite daaragter dan onondersoek gelaat word. Die ander probleem is natuurlik dat dit uiteindelik deur almal gebruik kan word – van die aanhangers van vergesogte samesweringsteorieë tot vurige kampvegters vir verset teen aardverwarming – en dat die een die ander se “feite” as feëverhale afmaak en dit uiteindelik baie moeilik word om sinvolle gesprek te voer.

 

Estetiese ervaring

Waarvoor ek ook pleit, is dat ons nie moet vergeet dat ons (wanneer ons spesifiek na letterkunde kyk) nie kan volstaan met slegs ’n kritiese ondersoek nie. Die punt is: Waarom is dit vir kritici belangrik om literêre tekste te bespreek (en die feëverhale te ontmasker)? Mens kan mos maar ook enige ander kultuurprodukte, advertensies, sepies, toesprake of joernalistiek so krities ondersoek. En dit word immers ook gedoen. Letterkunde word egter nie geskryf slegs om so krities ondersoek te word nie. Literêre tekste word deur baie lesers waardevol geag. Literêre tekste is natuurlik net sulke kultuurprodukte soos joernalistiek of advertensies of sepies of wat ook al. Maar dit is óók iets anders. En dit verdien om óók daarvoor gelees te word. Die rede waarom ek ’n duur roman bestel en opgewonde wag dat Amazon se pakkie moet opdaag, is nie dat ek kan kyk hoe idees van toksiese manlikheid daarin voorkom nie, of om te kyk hoe idees oor ras daarin gekonstrueer word nie. Ek bestel ’n boek en lees dit graag omdat ek daarvoor omgee, omdat dit iets aan my doen. Felski sê omdat ons iets daaraan heg. Ek dink aan Milan Kundera wat gesê het estetiese konsepte is altyd eksistensiële konsepte: Hulle help ons om iets van die lewe te verstaan. Kunswerke ondersoek aspekte van menslike bestaan wat nie op ander maniere ondersoek kan word nie.

Onmiddellik sê die kritici natuurlik dat dit naïef is om so te dink, dat hierdie beskouing onderlê word deur ’n bepaalde humanistiese/romantiese feëverhaal. Maar ek dink tóg ook Latoer het ’n punt beet as hy skryf: “The critic is not the one who debunks, but the one who assembles. The critic is not the one who lifts the rugs from under the feet of the naïve believers, but the one who offers the participants arenas in which to gather. The critic is not the one who alternates haphazardly between antifetishism and positivism like the drunk iconoclast drawn by Goya, but the one for whom, if something is constructed, then it means it is fragile and thus in great need of care and caution.”

Dit is ook belangrik om “met sorg en waaksaamheid” te kyk na die ervaring wat die lees van tekste bied. En ek sê nie dat die “estetiese ervaring” beperk is tot kunswerke nie (mens kan dit ook hê as jy na ’n sonsondergang kyk, of na Djokovic se handrug). “Estetiese ervaring” definieer ook nie kunswerke nie – ek kry geen ervaring by ’n swak boek nie. Maar daardie gevoel van verhoogde intensiteit en fokus wat jou emosioneel en kognitief en fisiek betrek en iets laat ervaar van ’n insig wat meer is as ’n blote interpretasie wat volg op ’n koue analise, as ’n semiotiese analise, is die eintlike rede waarom mense lees. Dit is immers op soek na sulke ervarings van verhoogde intensiteit waarom ons boeke lees – dit is wat ons in die eerste plek in die studieveld laat beland het, en dit is wat maak dat ons aanhou lees en opgewonde ’n nuwe boek oopmaak. Dit is die rede waarom ons vir mekaar sê: “Jy moet hierdie boek lees” of “Daardie skrywer is die moeite werd.” En dit is ook noodsaaklik dat ons hierdie opwinding met ons studente moet deel.

...
Toril Moi redeneer dat daar ’n groeiende gaping tussen Teorie en die Lewe is. Die ervaring van die leser (en van die gewone mens) word nie meer ernstig opgeneem deur Teorie nie.
...

Dit is belangrik dat ons nie die verband tussen die lewe en die tekste moet verloor nie (soos Kundera se idee oor estetiese konsepte aandui). Toril Moi redeneer dat daar ’n groeiende gaping tussen Teorie en die Lewe is. Die ervaring van die leser (en van die gewone mens) word nie meer ernstig opgeneem deur Teorie nie. Teorie veronderstel dat ervaring, individuele ervaring, onbelangrik is – selfs “verkeerd”, want my ervaring (van ’n kunswerk byvoorbeeld) is altyd ’n interpretasie. En daarom is my ervaring polities – want dit is ’n interpretasie uit ’n bepaalde hoek (eintlik vanuit ’n onuitgespelde teorie – ’n feëverhaal). Daarom moet ek nie my eie ervaring, my individuele belewenis,  ondersoek nie, maar die teorie, die feëverhaal, wat my interpretasie moontlik maak. En dit kan nie die hele verhaal wees nie, en dit kan nie al wees wat letterkunde-ondersoek moet doen nie. Die literêre teks gaan altyd oor ’n individuele ervaring – van hierdie karakter, hierdie skrywer, hierdie leser. In hierdie sin is letterkunde (en die ondersoek daarvan) nie ’n versugting na die algemene, die teorievorming nie, maar geïnteresseerd in die spesifieke. Literatuur is, so meen Moi, “dink deur voorbeeld”. Teorie neem die individuele ervaring weg, bring die oorweldigende van die spesifieke voorbeelde, van die individuele ervarings, onder groter patrone. En dit is hierteen dat ons as literatore moet waak.

Letterkunde sonder ’n subjektiewe, persoonlike effek het nie ’n belangstellende publiek nie. As ons elke kunswerk teen ’n groter teorie gaan plaas, as voorbeeld van ’n teorie voorhou, is dit vervelig en kan ons liewer net die teorieë self lees. Die roman oor die holocaust herinner ons dat dit nie gaan oor ses miljoen mense wat vermoor is nie, maar oor een … en nog een … en nog een … Te maklik word letterkunde teen die raamwerk van postkolonialisme gelees en word daar dan bloot aangedui hoedat uitgesluit en ingesluit word, met die gevolgtrekking dat die uitsluiting subtiel kan wees, en dat dit verkeerd is.

Ons kan ook nie bloot terugval op stiplees en die “ontsluiting” van tekste nie. Dit is om die hele persoonlike ervaring uit te haal en meer wetenskaplik te werk te gaan deur tekseienskappe te beskryf, en dit lei na ’n soort hermeneutiek sonder emosie, sonder ervaring, sodat lees bloot ’n soort optelsom word wat ’n rasionele interpretasie bied (wat ’n rekenaar ook kan doen). Wat die rekenaar egter (nog?) nie kan doen nie, is om eie ervaring teen die teks, die verhaal, te meet.

Op die oomblik dink ek hierdie is die rigting om te ondersoek. Daar is baie aanduidings hoe ons affek en emosie ’n rol speel in ons verstaansproses, en om bloot dit te betrek, maak al die leeservaring ryker as om bloot tekseienskappe te beskryf en te verbind soos wat dikwels in die growwer vorme van stiplees gedoen word.

Ek weet nie of ek jou vraag naastenby beantwoord nie. Maar laat ons dit liewer as gesprek aan die gang hou. In die aanhou praat is meer waarde as in finale antwoorde, of resepte.

Lees ook:

SteedsDink met LitNet Akademies: Willie Burger (deel 2 van 3)

Karoobrokkies, ’n literêre reis

SteedsDink met LitNet Akademies: Louise Viljoen (deel 2 van 3)

“’n Postkoloniale Umweltkas”: die vraag na ’n transnasionale poëtika in Afrikaans aan die hand van Marlene van Niekerk se Kaar

Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top