Karoobrokkies, ’n literêre reis

  • 7

Net buite Ladismith, op die Laingsburgpad, duik die rigtingwyser na Winkelplaas skielik aan die linkerkant op. Die bordjie bring ’n warm vertroudheid soos wat mens sou verwag van ’n padwyser na ’n geliefde plek. Maar dit is ’n plek waar ek nog nooit was nie en ek was tevore nie eens seker dat dié plek werklik bestaan nie. Ek het immers nog net in Abraham de Vries se kortverhale oor Winkelplaas gelees. Dit was nog altyd slegs ’n storieruimte vir my. Noudat ek dit as “regte plek” herken, kyk ek ’n bietjie rond en kan ook sommer Towerkop aan die ander kant van die pad identifiseer.

Literatuur se vermoë om ’n mens se belewenis van ’n bepaalde ruimte te kleur het ek tydens sestien dae se reis deur die Karoo herhaaldelik ervaar. Ek het die eerste nagte in Keimoes en Kakamas deurgebring. Daar langs die Gariep het my gedagtes herhaaldelik teruggevloei na William Dicey se Borderline – ’n hoogs onderskatte boek. Sy beskrywings van sy kanovaart van Orania tot Oranjemund word veel meer as ’n avontuurverhaal; dit word eintlik ’n geskiedenis van daardie streek – ’n Wilde Weste wat skuiling gebied het aan weggeloopte slawe, veroordeelde misdadigers, en die San-, Griekwa-, Nama- en Bastergemeenskappe wat deur die koloniale bewind aan die Kaap al verder noordwaarts gedwing is. Plekke soos Kanoneiland het my net weer aan daardie bloedige smeltkroes waaruit ons land se inwoners gebore is, herinner. Hierdie was egter onbeplande, onverwagte herinnerings aan Dicey se boek. Eintlik wou ons net na die Augrabies-waterval gaan kyk.

Met die oog op ons besoek aan Calvinia het ek egter doelbewus voorberei deur onder meer Schoeman se Verliesfontein te herlees. Die gedenksteen van Abraham Esau in die Calviniamuseum het my ontroer, maar ek het geweet dat die ontroering nie te danke was aan die gebreekte stukke klip met verweerde woorde van waardering vir Esau se lojaliteit teenoor “King and Country” daarop nie. Trouens, sulke uitdrukkings van nasionalisme laat my koud, of selfs wrewelrig. Ek is dit met Wilfred Owen eens: “My friend, you would not tell with such high zest / To children ardent for some desperate glory, / The old Lie: Dulce et decorum est / Pro patria mori.”

Nee, dit is waarskynlik nie hierdie stukke van die gebreekte gedenksteen (in sigself getuienis van hoe pogings om te bestendig en te onthou tóg maar verbrokkel) wat my roer nie, maar Esau se verhaal. En eintlik sy verhaal soos deur Karel Schoeman in Verliesfontein vertel. Die verskriklike geskiedenis van ’n man wat teen die Boere se kortstondige besetting van Kaapse dorpe in opstand gekom het, is nooit in die Boereoorloggeskiedenisse op skool aan ons voorgehou nie. Die Vrystaatse kommando het die dorp beset en vir Esau in hegtenis geneem omdat hy ’n leier in die bruin gemeenskap was wat hul lot eerder by die Britse magte as die Boeremagte wou ingooi. Hy is gemartel – en Schoeman kry dit reg om die marteling sonder regstreekse beskrywings slegs as weerklinkende gille diep op mens se goed af te druk. Uiteindelik, toe die Boerekommando voor ’n oprukkende Britse oormag die dorp moes ontruim, het die Boere hom summier tereggestel. Schoeman het die ontstellende gebeurtenis op verbysterende manier deur fiksie op my gemoed afgedruk. En juis omdat hy die naam verander het van Abraham Esau na Adam Balie en die plek nie Calvinia nie, maar die fiktiewe dorpie Verliesfontein gemaak het, het dit moontlik geword dat dié gebeurtenis kon staan vir elke dorp en elke vergryp:

’n Handjievol onduidelike aantekeninge, koerantberigte, foto's en feite kan ek onthou, en verder moet ek improviseer, in die sekerheid dat die gebeure van krygstyd nie beduidend van die een dorpie na die ander verskil het nie, Roggeveld, Hantam, Namakwaland of Boesmanland, Vanrhynsdorp of Victoria-Wes, Fouriesfontein, Fraserburg of Sutherland. Ek weet niks meer nie, of kan op die oomblik in elk geval niks meer as dit onthou nie, en uiteindelik is dit seker ook nie belangrik nie, ’n paar verkleurde koerantknipsels en twee of drie ou foto's van ’n leë straat, bome, ’n markplein; Victoria-Wes, Williston of Fouriesfontein. Wat maak dit ten slotte saak, en wie is daar ’n eeu later wat trouens nog weet of selfs sal omgee? Dit het alles uitruilbaar geword. (69–70)

Wat sou veroorsaak dat juis Verliesfontein se weergawe van hierdie skrikwekkende gebeurtenis so diep in my bly vassteek het? Ek het immers ook Johanita le Roux se roman Die dagstêrwals gelees waarin die marteldood van Abraham Esau beskryf word teen die agtergrond van opbouende Afrikanernasionalisme in die 20ste eeu. Dit is ook hier in Calvinia waar PJ Philander as skoolhoof hom teen baie vorme van diskriminasie vasgeloop het wat ook in sy roman Rebunie neerslag gevind het. In sy roman word parallelle gelê tussen Abraham Esau en die ervarings van ’n onderwyser, Kallie Carelse, wat gedurende die 1940’s “te veel oor wit mense te sê gehad het”. Rebunie het my daarvan bewus gemaak dat die berg buite Calvinia ’n uitgewerkte vulkaan is. In Die dagstêrwals, maar veral in Rebunie, “hoor” mens die stemme van Calvinia om jou klink, die stemme van plaaswerkers in die wye stofstrate wat op vragmotors dorp toe gebring is vir Kersinkopies, die stemme in die slaghuis en by die vulstasie.

Maar jy hoor nie veel van daardie stemme in die museum nie. Met die uitsondering van die gebreekte gedenksteen van Esau is die ruim, helder verligte vertrekke van die museum hoofsaaklik gevul met artefakte van ’n Boere- en Joodse bydrae tot die verlede. Selfs die effens verslete uitstalling oor die geskiedenis van skape word ruimskoots plek gegee. Vir die reisende “Mandela-uitstalling” moet die besoeker egter na ’n buitegebou gaan waar die uitstalpanele effens ingedruk in ’n skemerdonker kamer staanplek gekry het – want “niemand stel daarin belang nie, dis net vir die skoolkinders”. Skielik is Rebunie nie meer ’n boek oor hoe dit wás nie, oor ’n plek in ’n fiksiewêreld nie, dit is weer ’n vulkaan wat op uitbarsting wag. Is die rede waarom Verliesfontein soveel helderder in my gees gebly het, dalk dat Schoeman in ’n helderverligte kamer staan en Philander in ’n buitekamer?

Ek het Schoeman se Die wêreld van die digter ook herlees voor die besoek aan Sutherland. In aanloop tot ons besoek aan die dorp het ek saans hardop voorgelees uit Louw se Versamelde gedigte terwyl ons die sterre kon hoor ruis en byna kon pluk soos in Brink se Bidsprinkaan vertel word. Schoeman noem Sutherland “die wêreld van die digter”. “Die plek van die teleskoop,” noem wetenskaplikes die dorp. “Die koudste plek in Suid-Afrika,” volgens die weerburo. Vir die reis het ek spesiaal ’n kettie saamgeneem, want ek wou ook net een maal op die dorp en by die dorpsdam staan om ’n klip op in die donker te skiet, en om dan te luister – al word ek seer en dof – totdat die klip uit die donker in die donker water plof.

Karoo-dorp: someraand

Die laat-middag het room geword
en treine wat ver fluit
en ’n wit-bont klaas-skawagter
wat waghou op ’n kluit

en rook uit die lokasie rook
en by die dorpsdam sing
en mense in tennisbroekies loop
die donker skemer in

dóér op die nasionale pad
loop motortjies onhoorbaar, hoog;
Oum-Appie-Slagkraal se ou fiets
kom staan, vanself, moeg, voor die oog:

Tant’-Tolie-met-die-kanker kom
sit op die bordienghuis se stoep:
vanaand gaan hoor ons nog hoe sy
die Here en die uile roep.

Die laatmiddag was besig om room te word toe ek die dorpsdam nader. Ek was reeds vroeër die middag in die Louw-huis en in die kamer wat volgens ons gids deur Schoeman en JC Steyn aangedui is as die vertrek waarin die digter-broers Van Wyk en WEG Louw waarskynlik gebore is. Met drie flitsligte het ons die donker kamer betree en ligkolle oor ’n kas vol boeke, enkele foto’s teen die mure, foto’s op ’n lessenaar en twee beeldhouwerke in ’n vensterbank laat val, terwyl die ywerige gids ons oor Louw vertel.

“Beurtkrag?” wou ek by haar weet toe sy ons elkeen ’n flitslig by die Louw-huis se voordeur in die hand stop.

“Nee,” sug sy, “hulle betaal nie die rekening by die dorpsraad nie en nou het Eskom ons krag afgesny. Soms is daar ander mense op die raad wat ons goedgesind is en soms nie. So, partykeer is daar geld en ander kere nie.” Sy het al “by die Provinsie ook probeer”, maar daar is nie nou geld nie en hulle het “agter geraak”. Die Louw-huis is in die donker in die jaar waarin sy dood ’n halfeeu gelede gedenk word.

Ek kon die dorpsdam op Google Earth kry en het langs die teerpad stilgehou toe ek die wal in die skemer sien. Ek sien geen hek nie en kry twee heinings. Die drade is afgerem en ek tree sommer oor. Teen die stowwerige steilte van die grondwal soek ek na ’n ronderige klip of twee. Maar toe ek eenmaal op die wal staan, sien ek dat daar geen water is nie. En te oordeel aan die bossies en onkruid op die bodem, was daar al vir ’n geruime tyd geen water in die dorpsdam nie.

Nog eenmaal wil ek in die skemeraand
weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,
weer met my rek óp in die donker skiet,
en luister, en al word ek seer en dof,
hoe die klein klippie  ver weg in die riet
uit die donker in die donker water plof

(Nuwe Verse)

Ons gids het haar bes in die donker huis gedoen. Sy het ’n paar bladsye se aantekeninge, en blaai af en toe vervaard daarin rond. Sy sukkel om haar storie agtermekaar te kry – begin met WEG Louw, maar raak deurmekaar. Die een anekdote loop oor in die volgende en elkeen vervaag halfweg in die donker. Sy is self geïrriteerd met haar eie vergeet. Later vra sy my om “Karoo-dorp: someraand” voor te lees. Sy luister met toe oë na die bekende woorde in die donker. Ons bly ’n oomblik in die spookagtige donker staan toe die woorde uit die flitsligkol stil word.

Van die klipgebou wat eens Hoërskool Sutherland was, die alma mater van die digter, het slegs ’n murasie oorgebly na ’n brand. (Volgens ons Louw-huis-gids het “hulle” die brand doelbewus gestig.) Mense met tennisbroekies loop nie die skemer in nie; die tennisbane is verwaarloos.

’n Vriendin wat eens die dorp besoek het, het my vertel van Rykie Louw se kundige begeleiding deur die huis. Sy het ook vertel dat sy en die vrywillige gids (toe in ’n Eskom-verligte huis) gedigte vir mekaar voorgelees het en later saam in trane was. Sommige poësieliefhebbers het daardie vermoë om gedigte hardop te lees en tot trane gedryf te word. Ek wonder of dit tot ’n bepaalde era behoort het – daardie bewoënheid deur die mooi woord veroorsaak – en of dit slegs vir sekere mense beskore is om so diep deur woorde geraak te kan word. Ek wonder of daar nog jongmense is wat vir mekaar sal voorlees uit Louw se verse (of enige verse) en trane sal pink? Het dit behoort tot ’n era voor film en TV en internet en Instagram? Onlangs het Fanie Olivier ’n stuk op Versindaba geskryf oor hoe die woorde van Louw se gedigte en opstelle in die 1950’s en 1960’s ’n rigsnoer vir hom was, hom leer dink het, leer sien het. Maar kan daardie woorde vandag nog soveel beteken? Wat beteken daardie woorde nou? Wat beteken énige gedigte nou?

Ek skiet my klippies in die donker maar hoor geen plof nie.

Teen ’n muur in die voorkamer van die Louw-huis is daar geraamde uitgawes van ’n vroeëre digter uit Sutherland, volgens sommige historici die eerste digter in Afrikaans. Twee uitgawes van sy dun bundeltjie is hier geraam, een uit 1910 en ’n ander uit 1935. Maar oorspronklik is die gedigte in 1855 geskryf. Dertig Liederen, gerijmd door Daniel Christiaan Esterhuyse, Ouderling der Nederduitsch-Gereformeerde Kerk, te Sutherland voor zijne kinderen ter gedachtenis. Dit tref my dat die waardige ouderling probeer het om iets vir sy kinders na te laat. Die voorwoord is in die raam afgedruk:

Daar my lieve Kinderen hebt gy allen het werkje van uwen vader, bestaande in weinige Liederen. Ik laat voor elk uwer een drukken, neemt het en houdt het tot mijne nagedachtenis. Ik heb slechts een verzoek aan U allen, dat een elk syne houden sal zoolang als gy leeft, en nu en dan daarin lezen. Ik heb den Heer gebeden, dat Hy het aan U wil tot nutte maken op den eenen of de anderen tyd uws levens. En voorts, vreest god en houdt syne geboden, dat is de raad en wensch van Uwen Vader. DC Esterhuyse.

Miskien is dít uiteindelik al wat die pogings om dinge onder woorde te bring is – woorde wat soos ’n sakrament geneem kan word tot nagedagtenis, en met ’n gebed dat die skryfsels, verhale of verse op die een of ander manier in ander se lewens tot nut kan wees. Maar wat is die nut vir my lewe dat ek in elke plek herinner word aan iets wat iemand geskryf het?

Karel Schoeman het van die skamel gegewens rondom DC Esterhuyse een van die treffendste romans in Afrikaans gemaak. In Die uur van die engel word herhaaldelik beskryf hoedat mense probeer om oor ’n ervaring in hul lewens verslag te doen, om dit te beskryf, te verwoord en daaruit sin te maak, maar hoedat die woorde tekort skiet. Hul hoop is telkens dat die regte gebeurtenis deur die woorde sal fluister, maar die besef is dat die gebeurtenis self onvasvangbaar bly, onagterhaalbaar, vir altyd verlore. ’n Eenvoudige skaapwagter wat spottend Danie Versies genoem word, probeer in Die uur van die engel om in sy “verse”, geskoei op die psalms en gesange (sy enigste kennis van digkuns) uitdrukking te gee aan die ervaring wat hy gehad het van ’n engel wat helder oordag in die veld aan hom verskyn het. Hoewel hierdie versies, gemeet aan estetiese waardes van sy eie tyd, en ook dié van ons eeu, heeltemal waardeloos is, word ’n plaaslike leraar só daardeur aangegryp dat hy dit redigeer en op eie koste laat uitgee. Nog ’n geslag later laat ’n plaaslike onderwyser dit opnuut uitgee sonder die dominee se redigering. Albei van hulle word geraak deur die eenvoudige, clichégelaaide “gedigte” omdat hulle self ook al iets ervaar het van ’n soort diepe ontroering waaraan hulle probeer uitdrukking gee het, maar waarvoor woorde (en juis daarom begrip) hulle ontwyk. Die dominee worstel snags by kerslig deur swaar boeke om in ’n vreemde Nederlandse grammatika inspirerende woorde vir sy preke te vind. Die gemeente bly skynbaar onaangeraak deur sy woorde en verwag eerder seënwense op die vooruitstrewende lidmate se lewenswyse en bemoeienis met die insameling van geld vir ’n kerkorrel. Sy eie oorspronklike gevoel van geroepenheid tot Gods diens op ’n helder somermiddag vervaag in sy geheue en hy kan daardie ervaring van geroepenheid ook nie onder woorde bring nie. Daarom begryp hy iets van die skaapwagter se pogings. Die onderwyser is ’n gefrustreerde skrywer wat nie die dorp se geskiedenis onder woorde kon bring nie. Hulle is al twee, soos die skaapwagter, uitgeworpenes, op die rand van die samelewing. Almal van hulle, ook die latere besoeker aan die dorp wat ’n dokumentêre film oor die skaapwagterdigter wil maak, besef dat die verlede onvaspenbaar is. Maar dit beteken nie dat niks gebeur het nie.

En tóg, dink hy, nog altyd onwillig om hierdie slotsom te aanvaar en die poging gewonne te gee, tog het iets gebeur: in daardie donker huis waar die mense in ’n kring om die lig van die vetkers vergader het, in die stof en die hitte waarin die klippe dag na dag losgebeur, aangery en opgestapel word tot ’n muur, op die veld waar die skape uitbeweeg tussen die bossies, peuselend aan die karige gras, in die geleende woorde en frases van ’n vreemde taal, iewers in daardie ruimte, iewers binne daardie vaag aangeduide grense het daar tog iets gebeur, iets waarvan dominee Heyns en Jodocus de Lange elk op sy eie manier ewe goed bewus was, al het albei van hulle ook eweseer daarin gefaal in sy pogings om dit tot uitdrukking te bring, iets wat die jare en die afstand en die aarselende, ontoereikende woorde oorlewe het: die mens wat aangesteek word soos ’n kers en vuur vat, laaiend soos ’n vlam, die silwererts stralend soos vuur deur die ysterklip, die bossies van die veld deurstraal met die gloed van ’n verterende vuur terwyl die skape onverstoord verder wei. Iets het gebeur. (Schoeman 1995:38–9)

Die pad van Sutherland na Matjiesfontein loop deur ’n asemrowende landskap. Ons luister nie musiek in die kar nie. Die kronkelende pas se klankbaan word verskaf deur die oudioboekweergawe van Iain Read se debuutroman, I’m thinking of ending things. Om die skerp draaie in die pas volg ons die hoofkarakter deur die gange van ’n verlate skool, vlugtend voor ’n moontlike moordenaar, worstelend met die vraag na sin, na waarom ’n mens nie maar liewer alles moet beëindig nie. Vrae oor verhoudings tussen mense, na óf en hoé mense mekaar ooit regtig kan ken, ooit in ’n ander se gemoed en denke kan inkom en die wêreld verstaan soos dit vir ’n ander mens is, sonder om jou bloot in te dink in hoe dit vir jóú sou wees as jý in ’n ander mens se posisie was, maar regtig hoe dit vir iemand anders is.

Die voorlesing maak enkele kilometer voor Matjiesfontein klaar. Ons ry in stilte. Die stemming in die kar is tegelyk gedemp as gevolg van die ontstellende en bloedige slot van die roman en ook verwonderd oor die krag van woorde wat ’n mens so kan wegvoer, so kan roer, so gedagtes kan losmaak wat jy nie eens geweet het denkbaar is nie.

Matjiesfontein is vir my vir altyd gekleur deur Etienne van Heerden se Snaartjie Windvogel in In stede van die liefde. Dalk juis omdat die plek soos ’n filmstel voel, eerder as ’n “regte plek”, is dit maklik om te soek vir die plek waar Snaartjie die viool opgetel het, om in die hotel se voorportaal te luister of jy dalk musiek kan hoor. Van Heerden het later vir Snaartjie weg van hierdie temapark laat gaan, na ’n wrede werklikheid in Kaapstad, na Paternoster waar haar pad met dié van ’n klimtolspeler kruis en sy uiteindelik ’n kruisboogmoordenaar word. Maar dit is hier waar sy vandaan kom en waar haar gees nog hang. Van Heerden se biblioteek aan die einde van die wêreld waar eens waardevol-geagte kunsskatte en literatuur wat nie meer hoë agting in ons veranderende wêreld geniet nie, bewaar word, so vermoed ek skielik, sal dalk soos hierdie museumdorpie begin en soos die Louw-huis in Sutherland eindig.

Vir lees op Roete 62, en veral in die omgewing van Ladismith, het ek Abraham de Vries-bundels ingepak. Ek lees weer ’n paar Winkelplaasstories, maar fokus op my gunstelingbundels, Die nag van die clown en Tot verhaal kom. Op die vooraand van Kersfees het ek daar, aan die voet van Towerkop, weer die wonderlike Kersverhaal uit Tot verhaal kom, “Tussen gewone mense daardie aand”, gelees. Die openingsin weerklink anders as mens dit hier en hierdie tyd van die jaar lees: “Dit is die storie hierdie van ’n onbegryplike Oukersaand op ons dorp in die Klein-Karoo.” Die onbegryplike, die vrae wat deur die gebeurtenis oopgemaak is, kan net soos die vrae oor waarom ’n mens nie maar liewer alles moet beëindig nie in Iain Read se roman, die onagterhaalbare van ’n engel se verskyning, slegs deur ’n storie ondersoek word. Want soos die dubbelsinnige slotparagraaf in daardie verhaal aandui:

En die vrae het stories geword (…) En hoe wonderbaarliker die geheim geword het, hoe minder het ons gewonder oor die mense en al hoe meer oor wie dan die ander regisseur was wat óns in dié verhaal ingewerk het oor ’n God wat met sy skepsels deernis het? Wie het so goed geweet van ons diepste nood? Waar pas ons in? Ons almal? (79)

Op Kersdag is ons Hel toe. Die Hel in die Swartberge se Gamkaskloof. Die swartgebrande boomskelette en totale verwoesting van ’n groot deel van die kloof laat dit voel asof ons deur ’n postapokaliptiese landskap ry – juis soos aan die einde van André Brink se roman Duiwelskloof wanneer Flip Lochner voor die vuur uit vlug om uit die kloof te probeer ontsnap. Voorin die roman kompliseer Brink die verhouding tussen fiksie en werklikheid in die “Nota” wat lui:

Dit is waar dat die Duiwelskloof in hierdie roman nie sou bestaan het as Gamkaskloof se Hel nie daar was nie. Maar die verhouding tussen die twee is ingewikkeld. Dis moontlik dat Die Hel soos die Duiwelskloof sou kon gewees het as die buitewêreld nooit daartoe toegang gekry het nie. Maar eintlik is die verskil nog groter, want op stuk van sake lê Die Hel in die Swartberge, terwyl die Duiwelskloof, sy inwoners en sy geskiedenis uitsluitlik in hierdie boek bestaan.

Anderkant die afgebrande bome, op die ver punt van die doodstil en verlate kloof, heel op die einde van die pad, by Boplaas, vind ons egter die Paradys in ’n kliphuisie met ’n klein sitswembadjie en hoë koeltebome en groen grasperke, sonder internet of die gezoem van elektroniese apparate. In die donker kloof, waar die maan slegs kortstondig elke nag tussen die hoë berge aan weerskante kan verskyn, verskiet die sterre snags skouspelagtig. Iets van hierdie magiese paradys in die hel maak dit onmoontlik om die Duiwelskloof en die Gamkaskloof heeltemal uitmekaar te hou. Die geskiedenis van die Kloof wil maar nie in die roman bly nie. Soos Abraham Esau, soos Dicey se geskiedenis van Noord-Kaap, soos Kenhardt se polisiestasie, soos die “lokasie” in Louw se “Karoodorp: someraand” is daar te veel herinnerings aan al die vertellings en beskouings wat ’n versweë geskiedenis werklik maak.

Ons is na Prins Albert, in onlangse jare onder meer deur Eben Venter gewild gemaak, maar ek kon nie veel vat aan die dorpie kry nie. By die enigste oop koffieplek sit ons lank en wag op diens. Ek bestel ’n Americano en ’n skon. Ons wag lank vir die koffie. Die skon kom nie en kom nie. Mense rondom ons ontvang later hulle volledige Engelse ontbyte, maar die skon kom nie. Ek kyk rusteloos rond, ongeduldig, en sien vir Dana Snyman by ’n ander tafel sit.

Dana Snyman is die een ou wat regtig kan reis en met die mense in elke plek waar hy kom, kan kommunikeer en sinvolle stories daaruit maak. Sy ervarings is nie soos myne uit literêre tekste afkomstig nie. Mense praat met hom, vertel hulle stories vir hom, en dan kan hy die brokkies en flenters van mense se lewens tot stories maak wat mens laat voel jy verstaan iets meer van die wêreld, of wat mens ten minste bietjie deernis gee met almal om ons. Ek wens dikwels dat ek soos hy kon skryf. Toe ons enkele dae tevore deur Kenhardt gery het, het ek vir Gert die handyman ontmoet. Dadelik het ek besef daar lê ’n Dana-storie in hierdie ontmoeting. Ek het selfs probeer om Gert se storie te skryf, maar dit het te veel geklink soos ’n tweedehandse Dana-storie, en boonop kon ek nie soos hy iets daaruit maak wat die gevoel gee van ’n dieper insig in menslike bestaan in hierdie wye en droewe land nie. Dana sou weet hoe om Gert van Kenhardt se storie te vertel, hoe om dit te begin.

Vir my was die pad van Kakamas na Calvinia lank en die Karoolandskap was droog en aangrypend leeg. Ons het voor dou en dag begin om die ergste hitte te pypkan en mik na Kenhardt vir ’n laat ontbyt. Daardie dor landskap het my telkens laat dink aan die landskapbeskrywings van André Brink, wie se karakters telkens deur hierdie landskap moes worstel na die ander kant van die Gariep. Soos Philida. Maar veral aan daardie beskrywings van Cupido Kakkerlak se sendingreise op ’n donkiekar deur hierdie uitgedroogde landstreek. Ander skrywers het ook sendelinge deur hierdie bar landskap met hulle boodskap van ’n Europese god laat reis, soos Elsa Joubert se Missionaris. Hulle stig sendingstasies wat later dorpies word. Marinda van Zyl se Amraal het dié vestiging van sendingstasies nie van die Europese sendelinge se oogpunt nie, maar van die “sendingveld” se kant beskryf. Talle groepe Basters en Oorlams het sendelinge genooi om by hulle te kom vestig, bloot omdat hulle sodoende toegang tot vuurwapens en skoolonderrig vir hulle kinders kon bekom.

Enkele dae tevore is ons deur Kuruman, waar Moffat sy sendingstasie gevestig het en waarvandaan Livingstone op sy groot reise vertrek het. Uit die oogpunt van Cupido Kakkerlak in Bidsprinkaan is Moffat maar ’n onverkwiklike kêrel. Maar eintlik kom baie aspekte van die destydse sendingwerk nie meer so lofwaardig voor in ons tyd van dekolonialiseringsgesprekke nie. Wat mens ook laat dink aan Willem Anker se Buys, waarin Buys die mense waarsku om liewer die sendelinge dood te maak, want volgens hom kom die sendelinge eerste en dan word mense se name neergeskryf en dan neem die koloniale bestuur oor.

Byna elke Karoodorp het ’n kerktoring in die middel. Die dorpe het as sendingstasies of as afgestigte gemeentes ontstaan – en is in die geval van Calvinia selfs na Calvyn vernoem. Maar Kenhardt het nie uit godsdiens ontstaan nie. Dié dorp is eintlik ’n herinnering aan die gewelddadige botsing tussen koloniseerders en diegene wat voor hulle uitgedryf is na die ander kant van die Gariep. Kenhardt is as ’n polisiebuitepos vir vyftig berede polisiemanne gestig. Hul doel was om wit veeboere wat op plase in die omgewing kom vestig het, te beskerm teen diegene wat hulle tot oorkant die Gariep verdryf het.

Met die naderkom aan Kenhardt soek my reisgenoot, ten spyte van die gebrekkige internetverbinding, na die “top tien eetplekke” in Kenhardt. Sy vind net een. Ouma se Plek word deur vorige reisigers as dié plek op Kenhardt vir goeie koffie en melktert aanbeveel. Met ’n draai kry Google Maps ons daar, maar Ouma se Plek is toe. Die potte en bakke en ou gereedskap teen die mure getuig daarvan dat iemand moeite gedoen het om iets van ’n outentieke ervaring hier in die woestyn aan te bied. Maar nou is die hek gesluit, ’n handgeskrewe “Te koop”-bordjie skuins daarop.

Ons sien ’n advertensiebord wat koffie adverteer aan die oorkant van die straat. Daar is nie ander keuses nie. In die wye straat kan mens ’n U-draai onhaastig maak. Benewens die advertensiebordjie wat die beskikbaarheid van koffie en ontbyt aandui, is daar niks wat die gebou van ’n gewone huis onderskei nie. Musiek speel. Treffers uit die 1970’s. Met die intrapslag sien ek die musiek word verskaf deur ’n regte draaitafel. En die plaat is Springbok Treffers Volume 6. Teen die muur is daar ’n hele rak van sekerlik al die Springboktreffersplate. Die plaatsakkies is voos gevat. Daar is ook baie ander plate. Jim Reeves, Johnny Cash. Maar daar is geen mens nie. Ek roep na agter, dieper in die huis, en na ’n rukkie kom ’n gespanne vrou om die hoek. “Dis mos vandag die troue. Ons kan nie brekfis doen nie. Ons is te besig met die voorbereidings. Die resepsie is hier.” Ek vra of ons dalk net koffie kan kry en sy stem in. “Gewone koffie of cappuccino?” wil sy weet. Ek skep moed en vra vir cappuccino.

“Ja. Dis reg. Gaan sit solank daar op die stoep, julle kan nie inkom nie. Die troue gaan hier wees.”

“Dreams are ten a penny” klink effens verwronge uit die groot Tempest-luidsprekers.

Ek wil weet hoekom Ouma se Plek toe is.

“Die oom het mos in ’n doring getrap,” verduidelik sy. “En toe word dit mos gangreen en hy is toe weg. Ek sien maar net daar is nou ’n bordjie op die hek. Ek weet nie.”

Ons neem plaas op stoele gemaak uit ou motorbande. Die vloer is gepolitoer soos in ’n Dana-verhaal. Die maer dogtertjie wat die skinkbord bring, lyk verskrik en bewerig. Die “cappuccino’s” is van daardie wat mens uit sakkies skud en met kookwater meng. Die prys vir die twee is R54. My reisgenoot is ontsteld. Volgens haar kan mens ’n pak van tien van die soet poeierdrankies daarvoor koop. Die buitebandstoele wieg en kraak onder ons. Die doodstil straat voor ons bak stowwerig in die vroegoggendson. Ek verduidelik dat mens vir die ambiance betaal.

“Julle lag so lekker!” sê ’n man skielik hier by ons op die huis se stoep. “Vandag gaan dit nog wárm word!” Hy vee die sweet af. “Dis harde werk om al die ys aan te dra vir die troue.” Hy skud ’n sigaret uit ’n pakkie. “Van waar kom julle?” wil hy weet. “O, ek ken Johannesburg. Daar gewerk,” sê hy. Hy leun vooroor en kyk ondersoekend na ons. “Die Ben Schoeman. Ken julle hom?” Verbeel ek my ’n brandewynwalm? “Ek het hom gebou! Maar daar is te veel mense daar. Dis beter hier.”

Ek wil weet wat hy nou doen. Hy lig sy hande op. Aan die een hand skort ’n paar vingerlitte. Aan albei hande is eelte en littekens. “Weet jy watse ding is ’n handyman?” Hy buk weer so half uitdagend na ons kant. Dit is nie ’n retoriese vraag nie. Hy wag op ’n antwoord. As ek antwoord dat ek wel weet, kom hy regop, byna triomfantelik: “Nou jy kan sê dis ek daai!” Hy beduie na die stoeppilare voor ons. “Sien julle hierdie pilare? Ek het hulle gebou! Met hierdie hande. Ek doen alles hier.”

Ek kyk na die pilare. Hulle is nie ’n toonbeeld van vakmanskap nie.

“Ek kan werk. Ek het baie op hierdie dorp gebou. Die Katse-dam daar in Lesotho? Ek het hom gebou! Maar dis beter hier.”

Ek weet nie hoe om te reageer nie. Wat sou Dana doen? Maar gelukkig wag hy nie vir ’n opmerking van my kant af nie.

“Eintlik is dit vandag my verjaarsdag. Ek het vanoggend so paar kappies gemaak,” verduidelik hy. “Sulke kleintjies.” Hy beduie met twee stomp vingers hoe klein. “Maar vanaand gaan daardie bottel kak. En dan werk ek eers weer Maandag!”

Ek loer weer na Dana en wonder hoe ek hom kan vra om die storie op die regte manier te vertel sodat mens ’n insig daaruit kan put, maar dan kom die kelner met die nuus dat hulle nie skons het nie.

Teen die muur in ons gastehuis in Prins Albert is ’n kunswerk – soos jy kan verwag in ’n dorp wat bekend is vir sy kunsgalerye. Met die eerste oogopslag lyk dit soos ’n Delftbord wat teen ’n groot wit agtergrond aangebring en binne ’n wit raam geplaas is. Maar as mens nader kom, sien jy dit is nie ’n Delftbord nie, maar skerfies van verskeie Delftborde wat in die vorm van ’n ronde bord geplak is. Die brokkies is nie afkomstig van ’n enkele bord nie en die patrone sluit nie by mekaar aan soos dié van ’n bord wat in klein stukkies gebreek is en toe weer aanmekaargeplak is soos ’n legkaart nie. Dit is iets moois gemaak uit brokkies en skerfies. En die produk is nie iets wat heel en finaal is nie – daarvoor is die gapings tussen die skerfies te opvallend, en hulle herinner daaraan dat al die skerfies ook ánders gerangskik sou kon gewees het. Die bord is ook nie nou ’n swakker, leliker weergawe van ’n oorspronklike nie. Dit is iets heeltemal nuuts, gemaak uit stukkies. Dit is natuurlik geen Delftbord meer nie, maar die illusie van ’n Delftbord wat teen ’n groot wit agtergrond tot stand gebring is, nie reg in die middel daarvan nie, maar so bietjie bokant die middel, en ’n groot wit raam is daarrondom en glas bo-oor, met ’n lig daar bo teen die muur gemonteer wat daarop skyn. Met hierdie plasing word die illusie van die Delftbord ’n kunswerk.

Ons bespreek die kunswerk. My reisgenoot maak ook mosaïeke. “Jy weet,” sê sy nou, “my eks sou gesê het hierdie is nie kuns nie. Hy sou gesê het dit verg geen tegniese vaardigheid om hierdie te maak nie. Enigeen kan ’n klompie Delftborde neem en stukkend slaan en dan in ’n halfuur dit so bymekaarsit en plak. Hy het een keer vir my gesê: ‘Jy vat stukkies gebreekte glas en teëls en kak en dan spoeg en plak jy dit aanmekaar. Net soos jy jou gebreekte en stukkende lewe probeer aanmekaarplak.’”

Ek weet nie mooi wat om te sê nie en kry net iets uit wat klink soos een van die geykte spreekwoorde op ’n tafeldoek met windpompprentjies op: “Dalk is dit juis wat kuns is: Om uit die stukkies van ons lewens iets moois te maak?”

Onwillekeurig word ek weer aan Schoeman herinner. In Hierdie lewe en in Verliesfontein is daar telkens die herhalende motief van ’n verlede wat soos ’n legkaart saamgestel word – nooit ’n volledige, voltooide legkaart nie, maar ’n samevoeging van brokkies waaruit ’n verhaal gemaak word. Die ou vrou op haar sterfbed in Hierdie lewe probeer om van haar lewe sin te maak deur die stukkies van haar lewe wat sy kan onthou, saam te voeg:

Dis wat ek oorgehou het, en al wat vir my oorgebly het waar ek hier wakker lê in die donker, is om dit uit te soek, alleen, met geen hand om my te lei nie, geen fluisterstem in my oor. (…) Om die brokkies en klippies en skyfies, die lappies en draadjies en lintjies en briefies uit te soek en te rangskik, en uiteindelik daaruit die verhaal te kan lees waarvan ek al die jare deel uitgemaak het, swygend en waaksaam in die hoek of aan die rand van die geselskap, en om miskien ook te verstaan, en selfs te vergewe, al die onuitgesproke kwelling, verwyte en leed uitgewis, die laaste skuld gedelg. Om te onthou. (10)

Meiringspoort behou iets van ’n magiese ervaring, soos toe ek die eerste keer as kind in Langenhoven se Sonde met die bure daarmee kennis gemaak het. Hy het sy “strandhuis” – die omgeboude trem – daarheen laat sleep deur Herrie die olifant. Die tekens van vroeëre vloedskade herinner aan daardie beskrywing deur Langenhoven van ’n man wat tydens ’n oorstroming in die poort afspoel terwyl hy “Rule Britannia” sing. Herrie wou nog probeer om die man te red, maar dié beskonke man het te groot vir die olifant geskrik en die slurp ontduik en al singend afgespoel see toe. Herrie se naam is hier teen ’n rots uitgekrap – ’n daad waarvoor Langenhoven vandag vir vandalisme aangekla sou word. En tog staan Herrie, wat slegs in Sonde met die bure se fiksiewêreld bestaan het, nou as ’n tasbare werklikheid in ons wêreld. Sy doel was om te vermaak, om vir Langenhoven die kans te gee om Afrikaanse lesers te laat lees en lag oor sy sonde met die bure, en om ook sy insig in die menslike aard met ’n tong in die kies te deel.

Iewers langs die lang evolusiepad wat die paleontoloog later in Nieu-Bethesda sou verduidelik, het mense die vermoë ontwikkel om oor dinge te praat wat nie in hulle tasbare wêreld bestaan nie. Maar daardie dinge wat slegs in die verbeeldingswêreld bestaan, bepaal later handelinge in ons leefwêreld. Dit is ’n feit soos ’n olifant – vir duisende jare al maak mense oorlog teen mekaar of help mekaar om groot stede of ryke op te bou danksy stories wat hulle vertel oor dinge wat slegs in die verbeeldingswêreld bestaan: gode, volke, bendes; “verbeelde gemeenskappe” soos Benedict Anderson dit genoem het.

Na presies 31 jaar kon ek weer teen die rotse by die waterval opklouter en afspring in die diep poel en het weer lewenskrag voel bruis soos in die jong dienspligtige van destyds.

In De Rust het Jan van Tonder se verevrou my om elke draai ingewag, maar die armoede en swaarkry het die romantiek van die veer verwoes. Die wonder van ’n nuwe ekonomie, om olyfbome gebou, het my egter beïndruk. Iets wat ek dertig jaar gelede nie sou vermoed het nie, omdat ek toe self nog gedink het mens kook maar met sonneblomolie.

De Vries, Langenhoven en Van Tonder se woorde het my steeds vergesel deur Willowmore (al is dit streng gesproke nie meer hulle streek nie), en anekdotes uit Sue van Waard se Swartberg en sy mense het telkens in my gedagtes opgekom. Maar Graaff-Reinet en Cradock is weer Etienne van Heerden se wêreld. Daar van bo die berg langs die dorp, van waar mens uitkyk op die vallei van verlatenheid, het my afkyk na die dorp my laat dink aan Die swye van Mario Salviati, spesifiek daardie gedeelte in die roman toe die konstabel en die ouderlinge met koevoete en breekysters teen Berg Onwaarskynlik op is om die dowe beeldhouer se Madonnabeeld te gaan verwoes nadat die vorige aand in die konsistorie besluit is dat die beeld afgodery of kommunisme verteenwoordig en tot revolusie kan lei. En toe hulle uitasem bo by die beeld eers tot stilstand kom, kyk hulle af na hulle dorpie met sy ruitpatroon daar onder, wat so klein en onbenullig lyk teen die groot horison dat hulle uiteindelik onverrigter sake terugstrompel dorp toe met die besef dat die beeld onskadelik is. Die kunswerk het hulle uit hulle benoude konsistorie en dorpie gelok om hulle eie beperkte godsdiens en politiek teen die oneindige horison raak te sien. Die skoonheid van die Madonnabeeld het hulle van hulle eie benepe idees verlos.

Ek was baie bang dat Nieu-Bethesda ’n teleurstelling sou wees. ’n Kitsch-toeristelokval. Maar Fugard se Road to Mecca het die ervaring verruim. Ek word nie regtig geroer deur enige van die Uilhuis se beelde of figure en kleure nie. Daardie maer kamele met vreemde wyse manne op hulle rûe, die Jesus wat soos ’n alien lyk, kom bietjie primitief vir my voor. Nietemin is die brute, maniese motivering daaragter tóg waarneembaar. Maar ek wonder of dit juis Fugard se toneelstuk is wat my ’n eensame Helen Martins se pogings om verstaan te word, om vry te wees as kunstenaar en as mens, in hierdie beelde laat sien (en of die afwesigheid van Koos Malgas in sy toneelstuk my ook nie hom hier laat raaksien nie)? Die stryd teen die donker wat haar aangevuur het om al meer lig te probeer inbring met weerkaatsende fyngemaakte glas teen die mure is tóg treffend. Kuns as amulet teen die donker, teen wat die titel van Iain Read se roman suggereer: “I’m thinking of ending things”. Kuns as amulet teen die eensaamheid in ’n gemeenskap waarin die individu nie kan inpas nie.

Die rivierbedding in Nieu-Bethesda is ’n ryk bron van fossiele. Die lae en lae Karooklip met tekens van bestaan daarin vasgevang uit die tyd toe die Karoo nog ’n groot moeras was, selfs van vóór die dinosourusse se tyd, laat my verstand duisel. Skielik is die onbenulligheid van my eie paar ervarinkies, van “asem-in, asem-uit tjorts weg”, soos Treppie dit in Triomf verwoord het, vreesaanjaend. Vir ’n oomblik is die dertig jaar tussen my vorige sprong van die hoë rots in Meiringspoort in die donker water in ’n herinnering aan hoevéél mens vergeet, hoe góú mens vergeet, en self vergete raak. Al spat die water hóé hoog met die inplons, is die rimpels weg teen die tyd dat jy uitklim. Uiteindelik bly ’n stukkie verklipte been in modderlae agter. Sulke stukkies verklipte been, so demonstreer die paleontoloog by die Kitching-fossielsentrum, word met groot geduld uitgehaal. Die fossiele is skeefgedruk deur die groot gewig van die modderlae en verbrokkel deur die aardkorsbewegings, deur eeue en eeue se erosie. Maar hul sit die brokkies bymekaar, onderkaak en stertwerwel, klou en rib, en maak ’n verhaal oor hoe ons voorouers longe gekry het, hulle skubbe en druppels afgeskud en met vinne hulle voete op droë grond gevind het.

Ons lewens is so kort; in vergelyking met hierdie tydsverlope so klein. Die aarde in sy volle omvang kan in die gaping tussen Saturnus en sy ringe inpas, het die man in Sutherland gesê toe ons na Saturnus en Jupiter tegelyk deur sy teleskoop kon kyk. Om die twee planete gelyktydig in die oog van sy teleskoop te kon sien, is iets wat eers weer oor 800 jaar moontlik sal wees! Dié helder lig wat die twee planete aan die westerkim veroorsaak wanneer hulle vanuit ons aardse perspektief so naby aan mekaar is, word ook die Bethlehemster-verskynsel genoem, want mense wat na wetenskaplike verklarings vir Bybelgebeurtenisse soek, het aangevoer dat dit die helder lig moes gewees het wat die wyse manne uit die Ooste na Jesus se geboorte moes lok.

En so loop al die Kersverhale bymekaar, van Sutherland, na Makadas, na die Uilhuis. En almal probeer tot verhaal kom, probeer ’n storie vertel wat sin maak – van ons vandaankom uit alge en longvisse en amfibieë tot ons hierwees op ’n klein klipskippie in die ruim; van die voorreg van reise onderneem en boeke lees tot die oorlewingstryd van karwagte voor die Spar in Graaff Reinet wat in desperaatheid byna dreigend raak; van selfregverdiging wat selfs tot die summiere fusillering van ’n man in Calvinia kan lei, tot die opkommandeer van polisie om “veediewe” anderkant die Gariep te “straf”. Ons sit soos die paleontoloë met brokkies en probeer stories maak wat saamhang, want, soos Abraham de Vries eens geskryf het, “... soek iets in ons, omdat ons in stories dink, steeds na samehang”. Eintlik word ons begrip van alles steeds beperk deur ons storiedenke en deur ons eie sterflikheid. Ons begrip word beperk deur die talle stories wat ons politieke en lewensbeskoulike opvattings dermate na die volle waarheid laat lyk dat ons vergeet dat hulle stories is, dat hulle ook ánders vertel sou kon word en dat daar altyd ook ánder stories is wat in buitekamers en skemerte vertel word. (Weer eens Louw: “Ek kry op hierdie aarde soms ’n volte / my brein die kry die waan / dat ek, omdat ek altyd sirkel sien, / die sfeer self kan verstaan”). Ons herinneringe is bowendien uitgelewer aan die spanning tussen ons onbetroubare onthouvermoë en ons fantasieë en wensvervullende denke. Maar met die stukkies wat ons wel onthou (of waarvan ons ons dalk verbeel dat ons dit onthou, terwyl ons in gedagte hou dat hulle bloot brokkies is), kan ons probeer samehang gee op só manier dat dit die wêreld mooier maak, draagliker, leersamer, heler, sinvoller, ryker.

Mooier? Meer heel? Ons weet dat die rangskikking van brokkies – stukkies van skrywers se werk, skerfies ervarings, herinnerings, fantasieë, wense, beelde – met die hoop dat ons meer van onsself en van ons wêreld en van ander sal begryp, nie noodwendig iets moois sal wees nie. Ook weet ons dat die “mooie”, die skone, natuurlik nie noodwendig “mooi” is nie! Dit kan afskuwelik en skrikwekkend wees soos die verhaal van Abraham Esau, seer soos die eensaamheid van Helen Martin, droewig soos die ongeagte meisiekind op die rand van die geselskap, vol afstootlikhede soos Duiwelskloof. Maar dit word ’n meedeelbare verskrikking, ’n gedeelde verwarring, ’n greep op ’n wêreld.

Soos Delftskerfies kan al die brokkies ook weer op ander maniere gerangskik word, ook ander vorme gegee word. Met die wete dat met elke herrangskikking van die brokkies, die krake daartussen ook nuwe patrone sal aanneem en dat ander inligting in hierdie krake sal verdwyn. Elke vertelling vergeet van ander verhale, soos Helen Martins se storie weinig ruimte laat vir Koos Malgas, soos die uitstalling van ’n Lister-kragopwekker, Victoriaanse rokke, Joodse gebedsruimtes en vetstertskape weinig ruimte laat vir Mandela. Soos Flip Lochner in Duiwelskloof bloot nóg en nóg stories oor die verlede hoor, wat soms oorvleuel, mekaar dikwels weerspreek, onsaamvoegbaar tot ’n enkele geskiedenis.

Miskien probeer ek bloot stukkies van my eie stukkende lewe aanmekaarplak, maar dalk soek ek, soos DC Esterhuyse, na iets wat ter gedagtenis bly en wat vir lesers tot nut is in hulle lewens. Maar dit klink alte veel asof ek soos Langenhoven die volk wil opvoed, asof ek met “wysheid wil smokkel” soos Thomas Pavel minagtend skryf oor lesers wat literêre tekste vir lewenslesse raadpleeg. Want die literatuurwetenskap leer ons juis om die vrae waarmee ons literatuur benader, en die maniere waarop ons tot ons interpretasies kom, te ondersoek. Dit leer ons om agterdogtig te staan teenoor ons eie motiverings, ons interpretasies, om te soek na die groter storie wat elke kunswerk se bestaan en verstaan moontlik maak. Dit het ons geleer om vrae te vra soos hoekom ek in hierdie stuk hoofsaaklik na die werk van wit mans verwys. Hoekom is die oorsprong van Klipwerk-verse nie deur Louw erken nie? Waarom is die enigste bruin karakter in Langenhoven se Sonde met die bure ’n dronk man vir komiese effek? Hoekom is Koos Malgas nie ’n karakter in Fugard se drama nie? Hoeveel verwysings het ek in hierdie stuk gemaak na vroueskrywers, hoeveel na swart skrywers? Hoekom verwag ek dat literatuur iets moet bied – troos, begrip, inligting, heling? Is dit nie dalk belangriker om te vra hoeveel eksemplare van Verliesfontein verkoop het  nie? Het daar ooit meer as twintig mense die boek deurgelees?

Natuurlik bied hierdie soort vrae baie insigte, maak dit ons baie bewus van ons vooroordele, van ons eie denkraamwerke, van hoe ons instellings en agtergrond ons leesindrukke bepaal; en oor daardie kritiese insigte is ek dankbaar.

Tóg bly ek ook soek, bietjie soos die bewoë lesers van Louw se gedigte in die huis op Sutherland, maar droogoog, na woorde wat klink en blink, wat my raak en roer en wat betekenisvol voel; woorde wat die ervaring van ’n nuwe greep op die lewe bied, wat die opwinding bring van helder oomblikke waarin verrassende gewaarwordings uit vars kombinasies van ou brokkies ontstaan.

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Martha Pretorius

    Skitterende skryfwerk! Soos altyd open enige reis buite jou 'normale' omgewing nuwe insigte en belewenisse om jou menswees te slyp en dalk ook te louter. Wens ek kon 'n passasier wees op hierdie Karoo-reis!

  • Avatar
    Alta Engelbrecht

    Heerlike lees, Willie - baie dankie vir die geplaastheid van dié kosbare wêreld binne die literatuur. Ons bly elke jaar minstens twee dae oor in die Karoo voor ons die Kaap tref en telkens bring die Karoo die heel mooiste herinneringe... Ek het al die berghaan se veer gaan soek in Wuppertal, ook in Louw se huis oorgebly en Coenie geluister as die trein by Noupoort fluit. Daarom het ek elke woord geniet!

  • Avatar
    Anne-Ghrett Erasmus

    Dankie Willie! Wat is dit deesdae met die Karoo? Seker die oopte wat ons almal soek. Die weg van die virus.

  • Avatar
    Anne-Marie Mischke

    Dit is losweg een van die beste stukke skryfwerk op LitNet. Ooit. Ek bêre dit om weer en weer te lees.

  • Avatar
    Prof Ina Wolfaardt (née Gräbe)

    Interessant en 'voelbaar' werklik, Willie. Doe zoo voort. Ina Wolfaardt

  • Avatar
    Cornelis Potgieter

    Dis soos 'n "HUTSPOT". Soveel bestanddele en kosbare reuke en kleure en smake, laag op laag berei om 'n smaaksensasie en keurvoedsel vir Siel en Gees keurig op te dis. HOOGSTE LOUERE aan die fynproewerskok.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top