.......
Sedert 2017 word die eerste volle week van Desember gewy aan die viering van literatuur uit Afrika. Hierdie jaar is dit van 5 tot 11 Desember.
........
Sedert 2017 word die eerste volle week van Desember gewy aan die viering van literatuur uit Afrika. Hierdie jaar is dit van 5 tot 11 Desember.
Catalyst Press, ’n onafhanklike uitgewery in Kaapstad, het met hierdie inisiatief vorendag gekom, een wat ek natuurlik heelhartig ondersteun. Gaan kyk gerus op sosiale media. Die hutsmerke #ReadingAfrica, #OokinAfrikaans en #FundaNathi is oral te vinde. Die doel van hierdie veldtog is om bewusmaking van alle literatuur wat uit Afrika kom, te bevorder. Is daar ’n skrywer of boek wat jy reken meer aandag verdien as wat dit kry? Plaas dit op Facebook, Twitter, Instagram of enige ander sosiale-media-platform wat jy gebruik. Dis terselfdertyd ’n lekker manier om ander boekwurms idees te gee van wat om volgende te lees, of dalk selfs in ’n kerskous te stop.
Boonop reel Catalyst Press elke jaar ’n paar interessante boekbesprekings. Hierdie jaar is geen uitsondering nie. Die paneel waarna ek die meeste uitsien, kom op 10 Desember aan die woord: Gabeba Baderoon, Cheluchi Onyemelukwe, Sifton Anipare en Yewanda Omotose gaan in gesprek. ’n Meer formidabele groep skrywers kan ek my kwalik voorstel, en ek kan nie wag om te hoor met watter wyshede hulle vorendag kom nie.
......
’n Meer formidabele groep skrywers kan ek my kwalik voorstel, en ek kan nie wag om te hoor met watter wyshede hulle vorendag kom nie.
.......
Damon Galgut se The promise is natuurlik die Suid-Afrikaanse boek wat op almal se lippe is. Met reg ook – dis nie aldag dat ons ’n Booker-wenner uit eie bodem het nie. Ons het ook ’n fantastiese oes Afrikaanse boeke en skrywers gehad. Dink maar aan Ronelda Kamfer se Kompoun of Gerda Taljaard se Vier susters. Dan is daar Julian Jansen se treffende Seuns sonder pa’s.
........
’n Fenomeen wat spesifiek gedurende die grendeltyd ontstaan het, is die resepteboek van Ingrid Jones se Facebook-groep, Lockdown recipe storytelling book. Dis ‘n groep vir mense wat nie self resepte en stories plaas nie, maar dit graag lees.
.........
’n Fenomeen wat spesifiek gedurende die grendeltyd ontstaan het, is die resepteboek van Ingrid Jones se Facebook-groep, Lockdown recipe storytelling book. Dis ‘n groep vir mense wat nie self resepte en stories plaas nie, maar dit graag lees. Hierby moet ek stilstaan. Die heel beste resepteboeke gee nie net bestanddele en maniere om die bestanddele bymekaar te sit nie, dit vertel stories oor waar die resep vandaan kom. Ek bieg dadelik, ek het al resepteboeke gekoop omdat die kokke goeie storievertellers is. En die storievertellers in die Lockdown recipe-boek se verhale oor hul komvandaan laat ’n warm gloed om die hart. Disclaimer: Ek is ’n skaamtelose lurker op die Facebook-groep. Was dit nie vir hierdie groep nie, het ek Facebook seker lankal vaarwel toegeroep. Wanneer ek kyk na wat die groep al vermag het, besef ek dat dit nie meer net ’n Facebook-groep of reseptegroep is nie. Hierdie is ’n beweging wat nog lank gaan hou, en die resepteboek is maar net een manifestasie daarvan.
Maar terug na Catalyst Press. Hierdie uitgewery maak interessante keuses oor die tipe boeke wat hulle plaas. Ek het seker so ’n week of wat gelede een van hul fiksietitels gelees: Glynnis Hayward se Roads and bridges, wat die verhaal vertel van die Amerikaner Mandy Walker wat in Namibië en Suid-Afrika vrywilligerwerk doen. Tydens vakansie in Suid-Afrika gebruik sy ’n taxi. Die taxi gaan staan sonder petrol en Mandy en haar reisgenote moet vir ure op godsverlate vlakte wag terwyl die taxibestuurder met ’n fiets gaan petrol kry. Hierdie wagtydperk is die katalisator vir die gebeure wat later afspeel. Hayward pak onderwerpe soos rassisme, MIV/Vigs, die spanning tussen tradisonele kultuur en moderne lewe, aannemings van kinders uit Afrika deur buitelanders, rassegeweld en veel meer aan. Die materiaal het die potensiaal om waarlik ’n barshou te slaan. As Hayward een onderwerp gekies het en dit deeglik ontgin het, kon dit met gemak ’n boek van die jaar wees. Maar helaas, sy probeer te veel onderwerpe dek en skeep uiteindelik almal af. Dit bly egter steeds ’n interessante teks.
Watter boeke het jou geprikkel? Deel dit gerus op sosiale media onder die hutsmerke #ReadinginAfrica, #OokinAfrikaans en #FundaNathi.
Lees ook:
Join us for our fifth annual #ReadingAfrica Week celebration
Kommentaar
Pas Deon en Soyinka se nuutstes gekoop.