Wat jou skoene verklap

  • 4

Socially, shoes send a signal, a way of recognizing one type of person from another. Artists often wear shoes that are quite different from those worn by, say, engineers. Shoes can tell something about what we are like, sometimes even who we are aspiring to be, the persona we are trying out. The archetypal symbolism of the shoe goes back to ancient times, when shoes were a mark of authority: rulers had them, slaves didn’t.
– Clarissa Pinkola Estés

Clarissa Pinkola Estés, bekende Jungiaanse analis, kon dit nie beter gestel het nie. Iemand se skoenkeuse verklap heelwat van sy ouderdom, gender, inkomste, politieke sienings, verhoudings en sosiale status. En dit gaan oor meer as net die skoene: ook die toestand, kleur, gemak, styl en handelsmerk van die skoene speel ’n rol.

Skoene is ’n verteenwoordiging van die ego, of ’n projeksie van wat die draer graag wil wees.

Hoe sal ons ooit die 2002-skoendebakel tussen Steve Hofmeyr en Jan-Jan Joubert vergeet? Dit was selfs voorbladnuus. Wel, Hofmeyr het by die KKNK opgetree (dit was nog die dae toe hy nie van kunstefeeste verban was nie), en Joubert het ’n resensie oor sy show in die amptelike feesblaadjie, Krit, geskryf. Joubert het na die sanger se skoene, ’n paar Wehrmacht-stewels, as “hiperkak skoene” verwys. Nugter weet watter statement Steve met sy skoene wou maak, maar nie almal het van sy fascistiese trappers gehou nie. Tydens ’n onderonsie het Hofmeyr vir Joubert gekonfronteer, hom versoek om sy bril af te haal en gesmaal: “Want ek gaan jou moer.” (Dis darem meer bedagsaam as daardie ander regse Volksraadslid, Abel Malan, wat die Stellenbosse professor, Anton van Niekerk, met bril en al geklap het. Malan het nie van die “liberale snert” gehou wat die prof in Beeld kwytgeraak het nie.) Ewenwel, die verskrikte joernalis is teen ’n stalletjie vasgedruk – jy het net koffie, tee, melk en suiker sien spat. “Mý persvryheid is om jou kakebeen te breek,” het Hofmeyr hom toegesnou. In die proses het die eienaar van die stalletjie, Sandra Blom, se glasvaas (’n duur erfstuk) aan skerwe gespat.

“Nee, nee, Meneer, asseblief!” het Joubert gepleit, maar Hofmeyr het die skoppende joernalis, gekruisig teen die tafel, met ’n opgerolde koerant teen die bors en in die gesig geslaan. (Hmm, om iemand met ’n opgerolde koerant te slaan klink vir my na ekstreme onderdrukte aggressie. Hy kon hom net sowel met paper clips gegooi het.) Moenie kwaad word nie, liewe leser, dié is Afrikaanse kommin op sy beste! “Jou klein k***!” het Hofmeyr gegrom. “Julle kritiseer my nou al vir vier jaar – los my kinders en my skoene uit!”

In die agtergrond het Blom oor haar ouma se glasvaas, die erfstuk, bly neul.

Hofmeyr het die staleienaar R300 gegee vir die skade en verlies van haar vaas.

Nou, daar hét jy dit: Moenie ’n man se skoene beledig nie – jy beledig direk sy ego. Sielkundiges, van die ikoniese Estés tot die vertolkers van popsielkunde, is reg. Aan die Universiteit van Kansas is daar in 2012 ’n studie geloods waarin 63 deelnemers die persoonseienskappe van skoeneienaars moes raai. Hierdie vrywilligers was 90% in die kol en die resultate is in die Journal of Research gepubliseer.

In die 80’s was die aflê van die geloofsbelydenis en om aangeneem en voorgestel te word in die NG Kerk die Wet van Mede en Perse. Anders kan jy nie trou of begrawe word nie, is ons banggepraat. Die kinders van die vorige bedeling was bliksoldaatjies van die Staat en jy het nie teen die prikkels geskop nie – dus moes ek konformeer. So gesê, so gedaan. Ek het opgeruk na die Groot Geleentheid met my spognuwe outfit, handsak en blink slangvelskoene (dit is “hofskoene” genoem nav die hakke, en die skoene kon dalk strikkies op gehad het omdat Lady Di se voorkeure ’n astronomiese invloed op die modebedryf van die 80’s uitgeoefen het).

Dit het die vorige aand gereën en die grond was lekker sag. Ek het nog so aangestap met die beste waardige pose wat ’n 17-jarige meisie kan gooi toe ek iets klams onder my een sykous voel. Modder. Ek het omgeswaai en my twee hofskoene, verdwaas en halsstarrig, ’n paar treë terug in die reëngrond vasgesteek sien. Ek het uit my skoene uit geloop. Ek het grasieus teruggeglip en my twee nooitgedrade Calvinistiese knypers probeer optel, maar néé – die hakke het soos tentpenne in die grond vasgeslaan. Toe het ek geruk – jy het net garingwortels en erdwurms sien trek. Gegewe die weeksagte grond en die modderkoeke om die hakke het ek nie weer my skoene aangetrek nie, maar kasueel daarmee in my hand aangestap. Die kinders het geproes; ander het hulle gesigte weggedraai soos hulle lag, maar ek het met ’n uitdrukkinglose gesig bly stap na plaveisel en veiligheid en die warm klanke van ’n orrel binne-in die gebou.

Die slangvelskoene is al wat ek van die Groot Geleentheid onthou. In ’n sekere sin figureer skoene soos artefakte van herinnering.

Die simboliek rondom skoene is die speelveld van onder meer literêre kritici, antropoloë en kultuurhistorici. Byvoorbeeld, wat beteken Aspoestertjie se glasskoene regtig? Kenners meen dat die skoene dui op haar ware identiteit, rein persona, suiwer menswees en natuurlike skoonheid. En haar maagdelikheid. Die skoene simboliseer ook ’n paar (een skoen het by die paleis agtergebly en Aspoestertjie het die ander skoen bewaar). Toe die koninklike boodskappers al die vroue in die land vra om die verlore glasskoen aan te pas en dit nét vir Aspoestertjie pas, was dit duidelik dat sy uitgeknip (pasgemaak?) was vir die rol as prinses. Niemand anders kon haar skoene volstaan nie. En toe Aspoestertjie op haar beurt háár skoen by dié van die boodskappers s’n voeg, het sy en die prins as paartjie verenig.

Dis egter nie die enigste sprokie van Charles Perrault waarin skoene ’n rol speel nie. In “Die gestewelde kat” het die oorlede meulenaar se jongste seun op versoek van sy kat vir hom ’n paar stewels laat maak. Die slim en dinamiese kat het gestewel en gespoor die pad gevat en sy eienaar ryk gemaak. Die stewels staan as simbool van avontuurlus en ambisie. En natuurlik wemel die letterkunde van onthoubare anekdotes rondom skoene. In Angela’s ashes beskryf Frank McCourt hoe die seuns hom en sy boetie, Malachy, gespot het oor die haglike toestand van hulle skoene. Geld vir nuwe skoene was daar nie – en Frank se pa het ’n fietswiel se band gebruik om hulle skoene te las en nuut te versool. Die volgende oggend het die twee broers al hoppend en bonsend skool toe geloop, natuurlik onder luide applous en gelag van die ander seuns.

So, wat verklap jou skoenkeuse van jóú persoonlikheid?

Hoë hakke: Hoëhakskoene was ’n statussimbool, en adellikes soos Louis XVI het dit gedra. (Hoëhakskoene was in die eerste plek vir mans gemaak, maar het later ’n genderverandering ondergaan.) Vandag sal jy vroue in bestuursposisies aantref met classy hoë hakke, en dié werknemers straal ’n aura van glans en selfvertroue uit, of dit nou stiletto’s of pumps is. Vroue wat bv Jimmy Choo of Christian Louboutin dra (dié wat dit kan bekostig, let wel), is selfgeldend, hardwerkend, het ’n suiwer werksetiek en ’n sin vir die estetiese. Pumps met hemelhoë hakke word gedra deur vroue wat kompeterend en intimiderend is. (Mag en lengte is eintlik sinoniem. Om ’n paar sentimeter te graviteer voel vir my, as kort persoon, heel logies.) Die tweede assosiasie met hoë hakke is dié van vroulike seksualiteit. Jy kry stiletto’s wat promiskuïteit spel in skreeukleure en bling, soos die tipe skoene wat strippers dra.

Enkelstewels word gedra deur mense wat meer aggressief is. (Ek dink Steve het dit netjies geïllustreer.) Stewelliefhebbers is selfgeldend – stewels het ’n manlike vibe – en dié mense is nie tropdiere nie. Hulle weet wat hulle wil hê en is altyd gereed vir die volgende uitdaging. Gigi en Bella Hadid het met hulle voorliefde vir enkelstewels ’n nuwe modegier gevestig – van PEP-Stores tot Harrods adverteer nou ’n verskeidenheid damestewels. Dan kry jy ’n spesie skoendraers wat “werkstewels” verkies, bv Dr. Martens. Hierdie mense is verbasend analities en prakties, dink strategies, en dink vooruit.

Deurgeloopte, verweerde of selfs vuil skoene, bv plakkies, Crocs of tekkies, behoort aan liberale denkers. Hierdie mense is vrygeeste en het nie ’n handelsmerk of mode nodig om hulle te definieer nie. Ek het jare gelede by ’n universiteit talle akademici gesien wat skoene dra wat lyk of dit van die welsyn af kom.

Ou skoene wat in ’n baie goeie toestand is, of skoene wat ge-spit-en-polish vertoon, dui op iemand wat verhoudingsangs het. Óf baie konsensieus is. Dieselfde geld vir ’n persoon wat nét nuwe skoene dra.

Duur skoene behoort aan eienaars in ’n hoër inkomstegroep, maar in Suid-Afrika is dit nie altyd die geval nie. Arm mense sal byvoorbeeld lank spaar vir ’n paar duur skoene. Alledaagse, vervelige skoene behoort aan mense wat afsydig en rigied is. En praktiese en funksionele skoene word gedra deur mense wat toegeeflik en happy-go-lucky is, soos mens kan verwag. Ekstroverte hou van uitspattige skoene – maar nie altyd nie. Die muurblommetjie in die vertrek mag jou dalk met haar flambojante skoeisel verbaas.

Dan die verrassing: Flegmatiese en kalm mense dra ongemaklike skoene. Ja, Lady Gaga, met haar bisarre platforms en asembenemende hoë hakke, is eintlik heel Zen.

Dress shoes / Oxfords: So ’n draer is intelligent, volwasse en vol selfvertroue. Doelgerig. Dis ’n jack-of-all-trades wat ’n geselsie met enigeen kan aanknoop. Die persoon se voorkoms is belangriker as gemak – en om in kwaliteit te belê, is die wagwoord. Want hierdie skoene hou dekades. Die persoon morf sonder moeite tussen formeel en kasueel.

Gemakskoene (bv slip-ons): Dit gaan oor gemak en stylvolheid. Die skoene koördineer maklik met enige interessante uitrusting. Jy is deels intro-, deels ekstrovert en maak maklik vriende aan enige kant van die spektrum. Jy chill – jy wil nie te veel uitstaan nie en ook nie as vervelig beskou word nie. Jy is waarskynlik ’n entrepreneur of iemand wat sy passies najaag.

Veldskoene (chukkas): Hou jy van koffie en het jy ’n lang verbintenis met jou gunsteling- coffee shop? Jy is waarskynlik nomadies en het ’n wye kennis van ’n groot verskeidenheid onderwerpe (die University of Life ingesluit). Jy verkies om uit te staan bo die hoofstroom met jou indie-styl. En ja, jy’s altyd aan die beweeg, en baie kreatief.

Draf-/oefenskoene: Jy sal letterlik die ekstra myl vir jou doelwitte loop. Jongmense wat cool wil wees, verkies handelsmerke soos Vans, New Balance en Converse. Liewers dood as uit die mode! Draers van drafskoene is lief vir gim en athleisure is hul styl. Hierdie mense is mateloos gemotiveerd en propvol selfvertroue. En as jy ’n paar duur Jordans, Nikes of Adidas verkies, hou jy daarvan om ’n statement te maak. Jy’s veelsydig en energiek en verkies tydloosheid – jy kom met mense van alle ouderdomme oor die weg. Jy is lief vir reis en multitasking is jou tweede naam.

Wig- en klomphakke: Skoene met ’n fusie tussen styl en gemak – jy is seksie-modieus, dog plat op die aarde. Jy het ’n versorgende, liefdevolle geaardheid en hou van die buitelewe. Baie chefs en verpleegsters dra hierdie skoene. Jou warm aura trek mense na jou toe aan soos motte na kerslig.

Plat hakke: Jy werk jou alie af agter die skerms en is nederig, nie gepla oor erkenning nie. Gulhartig en vrygewig. Plathakdraers kan enige iets van plakkies tot ballerinaskoene sonder ’n hak verkies. Al is jy vriendelik en goedgeaard met ’n voorliefde vir gemak, is jy egter nie oop vir verandering nie.

Nou ja, geld koop nie altyd verskeidenheid of verbeeldingskrag nie. Koningin Elizabeth II dra al die afgelope 50 jaar dieselfde styl skoene (haar persoonlike styl, en die skoene word sorgvuldig vervaardig deur Anello & Davide). Hierdie (klassieke? of vervelige?) skoene word van kalfsleer gemaak en die bonkige hakke is presies twee en ’n kwart duim hoog. En let maar op: Ongeag die kleur van die koningin se uitrusting, haar skoene en handsak is meesal dieselfde kleur – swart. Haar persoonlike styl, weer eens. Geen verrassings hier nie – en geen magic van glasskoene wat net na middernag op die trap lê en wag nie.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Alice Hendriks-Boshoff

    Ek het my heerlik aan hierdie skoeisel verkneukel. Vir elke voorbeeld kon ek die beeld van 'n persoon, lewend of dood, oproep.
    Ek self? Gemak. Netjiese dienlikheid.
    Nou wil ek nie skerwe strooi in die sprokieparadys nie, maar daardie glasskoentjie was oorspronklik 'n pelspantoffeltjie. Iewers tydens die vertaling van die sprokie, het pels glas geword. Eersgenoemde was sekerlik veel gemakliker.
    Baie dankie vir die leesgenot, Nini.

  • Chris Marnewick SC
    Chris Marnewick SC

    O aarde!
    Hier is ek met my enkelstewels en Crocs, en my vrou met haar wig- en klomphakke. In my vrou se geval is die beskrywing akkuraaat, maar ek is nie so seker van myself nie.
    Aggressief, soos Steve? Miskien oor ek self soms lus voel om hom 'n paar klappe te gee. Definitief nie 'n tropdier nie, oukei. My Doc Martens beteken ek is analities en prakties. Ek hoop ek is, maar my Crocs, wat almal om my kritiseer? Liberale denker? Wat, wie? Ekke?
    (Beste artikel wat ek in 'n lang tyd gelees het.)

  • Avatar
    Estelle Neethling

    'n Heerlike, fassinerende stuk werk wat getuig van benydenswaardige mensekennis en waarnemingsvermoë.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top