Wat beteken die "nosel" van "onnosel"?

  • 1

Alfabetletters: Canva

Dié van ons wat senior burgers is, sal dalk Chris Blignault se treffer onthou: “O, die donkie. O, die donkie. Die donkie is ’n wonnerlike ding. Hy staan en dink waar die muishond stink. O, die donkie is ’n wonnerlike ding ...”

En dis toe my kleindogter vir my vra: “Oupa wat beteken nosel in Afrikaans?” en ek eers wou antwoord: “Nee, jou klein onnosel, daar is nie so ’n woord in Afrikaans nie” dat twee dinge my tref. Eerstens: Dis ’n bitter goeie vraag van ’n bitter slim meisiekind; en tweedens: Afrikaans is ’n wonderlike ding. Toe dink ek aan die wonnerlike donkie.

Wat sy agtergekom het, is dat daar ’n breuk is in die sisteem van reekse, byvoorbeeld moontlik : onmoontlik; gerieflik : ongerieflik in Afrikaans. Ons het in Afrikaans reekse (slim mense noem dit paradigmas) wat opposisies uitdruk. Ons gebruik on- met die betekenis van “nie” in sulke pare: gunstig : ongunstig; rustig : onrustig, en honderde meer.

Baie van die pare is adjektiewe: gepas : ongepas; gelowig : ongelowig; net: onnet; rein : onrein; dankbaar : ondankbaar, maar selfstandige naamwoorde kom ook voor, alhoewel baie minder: dank : ondank; deug : ondeug; skuld : onskuld. Hulle word dikwels afgelei tot adjektiewe, vgl onskuldig; ondankbaar.

Die sisteem werk egter nie volkome nie. Ons het byvoorbeeld dom : slim (nie onslim nie); siek : gesond (ongesond in ’n effens ander betekenis); mooi : lelik. Die on- werk eintlik woordbesparend, want jy hoef nie elke opposisie met aparte woorde uit te druk nie.

Semanties gesien is on- baie interessant. Alhoewel dit meestal geparafraseer kan word met nie, werk dit nie so in onnosel nie. Die on- in onnosel beteken nie “nie” nie.

Kom ons kyk of ons dit in groepe kan plaas.

On = nie

Die pare kom in netjiese opposisies voor.

Adjektiewe: aardig : onaardig rustig : onrustig; wys : onwys; aanpasbaar : onaanpasbaar; partydig : onpartydig; vergenoegd : onvergenoegd, ea. Dit is ’n groot kategorie hierdie. In honderde byvoeglike naamwoorde asook baie bywoorde vervul on- ’n ontkennende rol.

Selfstandige naamwoorde: skuld : onskuld; dank : ondank; deug : ondeug; wis : onwis (in die idioom). Ons stuit hier op ’n paar interessante pare: dier : ondier; ding : onding; gedierte : ongedierte; weer : onweer. Die on- is nie ’n ontkenning van die positiewe nie maar het ’n negatiewe (pejoratiewe) waarde van “sleg”.

Guur : onguur werk in verwysings na weersomstandighede ook so.

Dank : ondanks; gehoor : ongehoord is nogal vreemde afleidings. En gebruik staan teenoor onbruik, waar die afleidings van ’n onselfstandige stam bruik kom.

On- = nie, sonder die positiewe teenhanger

’n Kitsvoorbeeld is: onbeskof. *Beskof bestaan nie as ’n woord nie. Hierdie is ’n groot groep en hulle wissel van eenvoudige morfologiese strukture, bv ondeund, onooglik tot ingewikkelde afleidings, bv onverbiddelik, en samestellende afleidings soos ontoeskietlik.

.......
’n Kitsvoorbeeld is: onbeskof. *Beskof bestaan nie as ’n woord nie. Hierdie is ’n groot groep en hulle wissel van eenvoudige morfologiese strukture, bv ondeund, onooglik tot ingewikkelde afleidings, bv onverbiddelik, en samestellende afleidings soos ontoeskietlik.
.......

Daar is ook ’n klomp argaïese vorme: onberade, onbesweke, ontyd (maar ontydig), onverdrote, onvergolde, onverhole. Maar meer bekende voorbeelde is: onbedaarlik, onbederflik, onbegonne, onbekookte, onhebbelik, onooglik, onstigtelik, onstuimig, onsydig, ontroosbaar, onverbeterlik, onverhoeds. Daarby onverwyld, onvergeetlik, onvergeeflik, onverganglik.

Alhoewel ons die on-woorde negatief ervaar, is die semantiek soms moeilik uit te pluis. Kyk byvoorbeeld na onbedaarlik. Omdat *bedaarlik nie bestaan nie, is on- nie net ontkennend nie, maar voeg dit ’n semantiese nuanse by wat geparafraseer kan word met “sonder om te bedaar / op te hou”, maw ’n duratiewe semantiese aspek.

Kyk ook byvoorbeeld na die volgende sin: Jy het onverantwoordelik opgetree. On- beteken hier “nie”. Maar in ’n voorbeeld soos Ek is verantwoordelik daarvoor word on- nie in die opposisie gebruik nie. Ons sê nie: Ek is onverantwoordelik daarvoor nie. Onverantwoordelik het dus ook ’n stertjie aan betekenis bygekry.

Dat on- soms ’n negatiewe waarde tot ’n woord toevoeg, sien ons wanneer die ma vir haar seun sê: Jy is weer onmoontlik vandag! En wat van onhebbelik? Ek het nog nooit van ’n hebbelike kind gehoor nie, al wens ek alle kinders wil liewer hebbelik as onhebbelik wees. En afgesien van die negatiewe waarde is daar ook van intensivering sprake; vgl Die kind is gewoonlik soet, maar vandag is hy stout teenoor Die kind is gewoonlik soet maar vandag is hy onhebbelik, met ander woorde, baie/erg/verskriklik stout. In hierdie rytjie val ook woorde soos onnutsig.

Maar om terug te keer na *nosel. Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans gee die geskiedenis van die woord: uit Nederlands onnozel (al in Middelnederlands). Die tweede lid van onnozel, nl nozel, het in Middelnederlands “skadelik” beteken. Uit die afleiding ontwikkel die betekenis “onskuldig”, daarna “sagaardig” en daarna “sonder kennis van die wêreld” en dus “dom”. Die stam *-nosel, wat ons nie as selfstandige woord gebruik nie, beteken dus vandag “dom”. Die on- is dus eintlik net ’n versterking van dom.

........
“My liefste kind, jy kan maar dink jou oupa is nosel, maar hy is nie onnosel nie en definitief nie domonnosel nie!”
........

“My liefste kind, jy kan maar dink jou oupa is nosel, maar hy is nie onnosel nie en definitief nie domonnosel nie!”

Nee en nie

Wanneer ons met mekaar praat, is ja normaalweg die positiewe reaksie op ’n uiting of vraag en nee die negatiewe reaksie. “Gaan jy saam?” “Ja, ek gaan saam”. Of “Nee, ek gaan nie saam nie.”

In die artikel gaan ek nie verwys na die herkoms van die dubbele negatief of die bereik van die negatief in verskillende dele van sinne nie. Daaroor is al baie geskryf.

Dis egter fassinerend dat ons soms nee gebruik wanneer ons ja bedoel in gespreksituasies: “Gaan dit goed by die huis?” “Nee, baie goed dankie.”

Die volgende het ek onlangs gehoor: “Gaan dit darem goed met die gastehuis?” “Nee, ons vorder gelukkig baie fluks.”

In vertellings word nee dikwels as interjeksie gebruik. “Toe sien ek die leeu. En toe dink ek, nee, hy is te ver. Ek sal moet nader gaan.”

Nog interjeksies met nee: “Ag nee.” “Nee wat.” “O nee.”

Negatiewe sinne met positiewe betekenisse?

Klink dit paradoksaal? Dit is nie. Kom ons kyk.

Wat het jy nou weer aangevang, jou stouter! klink na ’n vraag, maar is definitief nie bedoel om inligting te verkry, wat die voorwaarde vir ’n egte vraag is, nie. Dit is ’n berisping of verwyt wat in die meeste gevalle nie ’n reaksie verwag nie. Dus, as ’n uiting in vraagvorm nie inligting soek nie, is dit nie ’n vraag nie, maar ’n ander taalhandeling.

Eintlik staan ’n mens verstom oor die moontlikhede (variasies) wat die Afrikaanse taal jou bied om ’n eenvoudige stukkie inhoud oor te dra. Nie net verskillende sinsvorme (sintaktiese moontlikhede) speel ’n belangrike rol nie, maar ook stemtoon en intonasie.

Elke keer wanneer ons ons monde gaan oopmaak, moet ons besluit wat die regte woorde vir die betrokke situasie en ons gespreksgenote gaan wees.

........
Elke keer wanneer ons ons monde gaan oopmaak, moet ons besluit wat die regte woorde vir die betrokke situasie en ons gespreksgenote gaan wees.
........

Bevele en opdragte het ten doel om die hoorder iets te laat doen. Bring die graaf hier! Hulle kan ook negatief wees. Moenie die deur oop los nie! Die Tien Gebooie is eintlik meestal verbiedinge: “Jy mag nie ...” Gebod 4 begin positief: “... om die Sabbat heilig te hou”, maar vervolg dan met verbiedinge. Gebod 5 is die enigste werklike positiewe gebod. “Eer jou vader en jou moeder ...” (Ek hoop die onhebbelike kinders luister Sondae goed hierna.)

Dit is veral die negatiewe vraagvorm wat interessant is.

Wanneer ’n werkgewer iets gedoen wil hê, kan hy/sy iemand beveel of ’n opdrag gee: “Juffrou, bring vir my die testament van Piet Nel.” Die sin is in die bevelsinsvorm en gee nie die juffrou ’n keuse nie. Die werkgewer kan egter die bevel versag dat dit soos ’n vriendelike versoek klink: Juffrou, wil jy nie vir my die testament van Piet Nel bring nie. Kyk nou net wat vang die werkgewer met die taal aan. Die bevelsin word eers gemodifiseer tot ’n vraagsin en dan tot ’n negatiewe vraagsin. Dit word dus ’n baie sagte, vriendelike versoek. As gevolg van die verskil in status (mag/gesag) moet die werknemer gehoor gee, maar nou voel sy darem nie dat sy gehiet en gebied word nie.

Met die outjie se vryery gaan dit nie te waffers nie. Sy vriend se raad is om sy meisie te komplimenteer deur vir haar iets moois te sê. Dié aand sê hy vir haar: “Jy weet Sarie, jy is darem nie so vet soos jou sussie nie.” Skimpe en insinuasies, al is dit in die negatiewe vorm, is beledigend: “Jy is nie meer so slank soos ’n jaar gelede nie.” “Niemand is nog dood van vriendelikheid nie.” “Jy moet nét nie rooi dra nie!” “Moet jy nie die AWS aanskaf nie?” Of verwyte in die negatiewe stelsinvorm: “Jy soen my nie meer nie!”1

Daarteenoor is hoflike uitings vriendelik, omdat hulle die hoorder in ag neem en hom/haar ’n keuse gee: “Wil jy nie sommer vir my lemoene saambring van die winkel af nie?” (hoflike versoek). “Sal hierdie kleur jou nie beter pas nie?” (hoflike suggestie). “Dink jy nie ons moet hierdie proses probeer nie?” (hoflike voorstel).

Hoflikheid dwing jou as’t ware om sekere dinge op sekere maniere te sê, veral as jy nie aanstoot wil gee nie en op goeie voet met die aangesprokene(s) wil bly.

Is daar totaal onhoflike situasies en dinge wat ons sê? Daar is!

In erg gereglementeerde situasies verwag jy geen hoflikheid nie, byvoorbeeld in die weermag wanneer bevele gegee word. Wanneer die sersant-majoor skree: “Aaandag!”, kan die troepie nie terugskree: “Jammer, Sammajoor, my toon jeuk nou, gee kans!” nie. ’n Bevel in die weermag is ’n bevel en moet uitgevoer word, want die “sammajoor” het in daardie situasie die mag en gesag om jou te straf indien jy dit nie doen nie. Die troepie het dus nie ’n keuse nie en word nie in ag geneem nie. Daar is nog ander onhoflike uitings, soos vloeke en vervloekings, maar ek laat hulle maar eers in die warmplek.

Wanneer ons iemand ’n keuse gee, noem ons dit keusehoflikheid. Kyk hoe modifiseer ons ons sinne om ander ’n keuse te gee. As ’n pa vir sy seun sê: “Maak toe die deur!” is dit ’n bevel in die bevelsinsvorm en laat dit die seun geen keuse nie. Maar met “Maak toe die deur, asseblief!” word die bevelsvorm versag deur asseblief en klink dit nou eerder soos ’n opdrag, wat ’n bietjie hofliker is.

As die pa nie so streng wil klink nie, kan hy dit verder modifiseer: “Sal jy die deur toemaak, asseblief.” Hy gebruik nou die vraagsinsvorm, en nou is dit nie meer ’n bevel of opdrag nie, maar ’n versoek.

“Wil jy nie vir ons die deur toemaak nie, asseblief?” Vraagvorm plus die negatief maak dit ’n nóg sagter/vriendeliker versoek.

“Sou jy nie vir ons die deur wou toemaak nie, asseblief?” Vraagvorm plus negatief plus verlede tyd maak dit so sag dat ons nou kan praat van ’n suggestie.

Deur versagting en indirektheid gee ons die hoorder al hoe meer ’n keuse – dit klink vriendeliker en neem die persoon in ag.

Bevel > Odrag > Versoek > Vriendelike versoek > Suggestie.

Onhoflik ... < Keuse > ... Uiters hoflik.

Elke keer as ons wil hê iemand moet iets doen, moet ons kies uit al die moontlikhede wat die taal bied. Ons doen dit onbewus, want wat hier geïllustreer word, is nie goed wat kinders op skool of selfs doelbewus by die huis geleer word nie. Die kies van watter vorm ook al is gebaseer op jou inherente kennis en ervaring van die sosiale en kulturele gespreksreëls van Afrikaans.

........
Jy ken dus baie meer reëls vir die gebruik van Afrikaans as dié wat vir jou geleer word!
........

Jy ken dus baie meer reëls vir die gebruik van Afrikaans as dié wat vir jou geleer word!

Is Afrikaans nie wonnerlik nie!


1 Baie ander voorbeelde van verskillende taalhandelinge word bespreek in Angelique van Niekerk se uitstekende hoofstuk “Pragmatiek” in WAM Carstens en N Bosman se Kontemporêre Afrikaanse taalkunde (Van Schaik, 1925).

Lees ook:

Verskoon my!

Ek is in my moer!

  • 1

Kommentaar

  • Hoogs interessant wanneer so deur Gert van Jaarsveld uitmekaargehaal. Knap stuk dink en verstaan. Taal is so 'n komplekse wetenskap wat eintlik onwetenskaplik bly. My vraag, dalk effens af van die spoor, is oor twee on-ne: 'onmiddellik' en 'onverbiddelik.' Indien op die oog af alles semanties gelyk is, waarom sou 'onmiddellik' twee l'e hê en 'onverbiddelik' net een. Dit nou nog afgesien van die interessanthede in die artikel/studiestuk wat beide in daardie groep is waar die tweede lid sonder die 'on' - 'middellik' en 'verbiddelik' - in Afrikaans onbruikbaar is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top