
Prent: Canva
Iemand het lank terug gesê voorsetsels is die kleingeld van ’n taal.
Hulle mag dalk almal klein en kort wees, bv op, af, in, uit, bo en onder, ens, maar hulle is beslis nie kleingeld nie. Hulle druk baie belangrike verhoudings uit en sonder hulle sou ons nie sinvol met mekaar kon kommunikeer nie.
Kyk nou maar vir op en af. Hulle suggereer letterlik ’n eendimensionele ruimtelike vertikale skaal na bo, boontoe en na onder, ondertoe.
“Hy klim teen die berg op.” “Hy klim teen die berg af.”
Maar sommer gou is ons by die figuurlike gebruik van dié woorde.
Die pryse gaan op. Die pryse gaan af. Die winkelier merk sy goedere op. Jy moet dit afmerk vir die verkoping. En rentekoerse en die brandstofpryse gaan gewoonlik meer op as af.
En dan kry ek die arme skoliere en studente so jammer as hulle punte af is en nie op nie.
In is net so interessant, indien nie interessanter nie. In druk uit dat die ding waarna ons verwys in ’n geslote ruimte of houer is.
“Die verf is in die blik” (binne-in, nie langs, bo, regs of links nie). Die voorwerp kan ook vormloos wees. “Prop die spons in die kussingsloop!” “Gooi die snippermandjie se goed in die vullissak.” En dit kan ook ruimtelike areas wees: “Ek woon in die stad, maar my neef bly in die Laeveld.” En as ’n vloeistof jou omring, is jy ook in. “Die kinders speel in die water.” “Sit die bord in die water om te week.” Of soos Eksodus 20:4 lui: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie” (Ou vertaling).
Maar daar is nog baie dinge waarin ons kan wees. En dan gebruik ons nie meer in letterlik nie, maar figuurlik.
“Ek is in die moeilikheid.” Met ander woorde ons konseptualiseer moeilikheid ook as ’n soort houer. Dit word goed geïllustreer met: “Hy is diep in die moeilikheid; ek weet nie hoe gaan hy daarúit kom nie.”
En moeilikheid het natuurlik baie sinonieme. Almal is nie so mooi nie, maar ons hoor hulle gereeld en hulle kleur ons gesprekke.
“Ek is in die sop/warmwater/gemors.”
En dan natuurlik die ander “houers” wat bostaande sterker uitdruk: “Ek is nou behoorlik in die k@k/str@nt.” En een ou het gesê: “Ek is nou so in die str@nt; dit moet net nie golfies maak nie.”
In word nou nie meer letterlik gebruik en geassosieer met ’n fisiese ruimte/houer nie, maar ons het beweeg vanaf die fisiese/letterlike gebruik na die assosiasie met toestande.
Nog erger is die ergerlike: “Ek is nou so die hel in”, waar die hel dalk nog geassosieer kan word met ’n ruimte/houer, maar dan kry jy ook die onlogiese “Ek is nou so die duiwel in.”
Daar is min uitdrukkings so vrugbaar en emosioneel gelaai soos sekere gebruike van moer.
........
“Jou moer!” “Hy is moertoe!” “Ek gaan jou ’n moerse klap gee!” “As ek daai moer in die hande kry ...!” “Vlieg in jou moer!” “Hy hardloop hom desmoers in die deur vas.”
........
“Jou moer!” “Hy is moertoe!” “Ek gaan jou ’n moerse klap gee!” “As ek daai moer in die hande kry ...!” “Vlieg in jou moer!” “Hy hardloop hom desmoers in die deur vas.”
Moer kan ook ’n intensief uitdruk: “Dis moer baie” of “Dis moer lekker.” Of partykeer word dit sommer verkort na: “Dit was moerse.”
Dis ook ’n veelsydige werkwoord. “Ek gaan jou moer!” Of: “Hoe maak jy moerkoffie? Jy gebruik kitskoffie en moer kookwater by.” Of party van ons maak moerkos – ons moer alles bymekaar.
Die dogtertjie hardloop by die rugbywedstryd al langs die lyn af. Haar pa is die losskakel van die tuisspan. Sodra hy die bal kry, skree sy: “Pappie! Pappie! Pappie!” En toe kry hy die bal teen die einde van die gelykop wedstryd en hy suiker doellyn toe. Meters voor die doellyn word hy gelak en in die grond in geboor. Die tuisskare staar in verslae stilte. Toe kom dit skril: “Moer hom, Pappie!” (’n Ware gebeurtenis soos aan my vertel deur ’n eertydse kollega, Alf Jenkinson.)
En dan is daar die mooi spel met homonieme in “Toe strip ek my moer!”
“Ek/die kar/die land ens ens. is in my/sy moer” is ’n soort unikum in Afrikaans. Moer in Nederlands het nie die negatiewe betekenisfasette wat Afrikaans het nie. Die naaste wat ek kon vasstel, is die kwetsende no moer in Surinaams; vgl J van Donselaar (1989), Woordenboek van het Surinaams-Nederlands, Muiderberg: “moer: no moer’ tw: krachtterm, geplaatst aan het eind van een zin. ’Ze was zo kras en je moest om het helemaal te ervaren een zakdoek boven op haar gezicht leggen, want die meid was lelijk no moer.’”
“Ek is nou so de moer in!” teenoor “Ek is in my moer!” vertoon ’n interessante perspektiefwisseling. Eersgenoemde dui op ’n emosie wat ek ervaar gewoonlik teenoor iemand of iets anders, terwyl laasgenoemde selfverwysing illustreer. “Ek is in my moer!” dui aan dat ek in ’n toestand verkeer wat regtig sleg is. Wat die voorbeeld uniek maak, is die feit dat moer hier nie geassosieer kan word met ’n letterlike ruimte of houer nie. Dit word eenvoudig figuurlik (metafories) met ’n toestand in verband gebring.
Wys jou net watter moerse bokspronge ons in Afrikaans kan maak!
Lees ook:


Kommentaar
Uitstekend.