US Woordfees 2016: Wanneer ryk en arm hande vat in Stellenbosch

  • 1

Min mense weet van die mooi inisiatief wat gelei word twee universiteitskoshuise op Stellenbosch om ’n langdurige en daadwerklike verskil te maak aan ’n arm, hoofsaaklik “bruin” buurt net buite die toenmalige “wit” dorp.

Die resultate is reeds sigbaar. Gaan jy na die US Woordfees, dan gaan jy direk baat vind hierby. ’n Mens sou dalk kon dink die US Woordfees as sodanig is die groot wenner, maar dit is te oppervlakkig, want die werklike wenners is die deelnemers aan hierdie mooi projek.

Die droë feite is eenvoudig. Die US Woordfees bars uit sy nate en veral ná die verlies van die Klein Libertas Teater móés Saartjie Botha en haar span nuwe ruimtes vind om die dramaproduksies te kon huisves.

Die Hoërskool Lückhoff in Idasvallei het ’n groot genoeg ruimte. Die dilemma is dat Idasvallei ’n arm buurt is en die skool self, ook die saal waarin die US Woordfees sy produksies wou aanbied, nie in ’n goeie toestand was nie.

Saartjie Botha het Jan Odendaal, beter bekend as Jan Boom, om hulp genader.

Jan vertel dat hy sy hele lewe lank daarna gestreef het om mense met mekaar te laat praat. “Noudat ek afgetree het, kan ek dit elke dag uitleef.”

Hy het twee oproepe gemaak: Een na Dagbreek manskoshuis en die ander na Sonop vrouekoshuis. Die primarias van elk, Charlie Fourie en Nita Henn, was dadelik aan boord. Gaan kyk maar vandag na die Hoërskool Lückhoff se geriewe. Die toilette is skoon en in ’n goeie toestand en die plek is nuut geverf.

Foto: Nita Henn

Dit is egter net die oppervlakte. Die ware verandering is nie aan die mure van die gebou nie, maar in die harte van die deelnemers gemaak.

Reeds ná die eerste besoek aan Idasvallei het ’n bevoorregte bruin student aan Jan gesê hy besef nou hoe geïsoleerd studente op Maties leef. Hy het geen benul van die leefwêreld van bruin inwoners van Idasvallei en Stellenbosch nie. Sy presiese woorde: "Studente leef in 'n absolute bubble en het geen benul hoe swaar sommige mense kry nie!”

Beide Dagbreek en Sonop se eerstejaars het gehelp om die badkamers en kombuis van Luckhoff se skoolsaal uit te verf en netjies te kry. Daarna het huiskomiteelede oor vier Saterdae heen die werk voltooi.

Foto: Jan Odendaal

Voorverlede naweek het die primaria van Dagbreek en Sonop en hul huiskomitees die nuwe leerderraad van Lückhoff by 'n leierskapskamp begelei. Hier is nuwe vriendskappe gesmee en skeppende idees is uitgeruil – na weerskante toe.

Foto: Jan Odendaal

Daar is egter meer: ’n Vredestuin is deur Dagbreek by die Hoërskool Lückhoff uitgelê in ’n poging om die Slag van Andringastraat 70 jaar gelede op sinvolle wyse te probeer skik. Hoewel daar reeds amptelik deur die bestuur van die universiteit om verskoning gevra is, bly dit vandag nog 'n skandvlek op die US se naam. Die studente voel dat slegs opregte saamdoenprojekte soos hierdie sal kan lei tot beter begrip en wedersydse respek.

Lees ook hier nog rondom die Slag van Andringastraat.

Op 2 Maart 2016 word nege bome van Vrede en Hoop deur die leerders, studente en ander rolspelers en belangstellendes by die Hoërskool Lückhoff geplant.

Almal is baie welkom van 10:00–11:00, dit is deel van die US Woordfeesprogram en staan bekend as Bome vir Woorde 3. Bywoning is gratis en die publiek sal van die rolspelers by hierdie geleentheid ontmoet.

Die projek stop egter nie hier nie. Die studente het reeds gesê hulle sien dit as die begin van ’n langtermynvennootskap. Wiskundeklasse en vele ander mentorprogramme word tans ondersoek.

Beide Charlie Fourie en Nita Henn voel sterk dat hulle reeds soveel gebaat het met die kontak met leerders van Lückhoff en dat hulle wil teruggee. Meer nog: Hulle wil hierdie projek ’n langtermyn, volhoubare projek maak sodat alle toekomstige inwoners van Dagbreek en Sonop hierby kan baat vind.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Adinda Vermaak

    Watter goedvoelstorie! Ek hoop baie (nee, alle) onderwysers en skoolhoofde lees dit en word daardeur ge1nspireer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top